Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Pansy shell


Nikki Lordan - 2008-10-07

Vroegoggend staan sy met haar vingers in die mis. Nie mis soos in koeimis nie, maar binne die misterie van druppels water. Só klein, dit bly gewigloos in die lug hang totdat die son dit uiteindelik, genadeloos, een vir een, wegskroei.

Elke oggend se storie. Solank sy buite is, lyk dit nie asof sy omgee waar sy is nie. En aan ander steur sy haar ook min. Verkieslik kaalvoet. Sodat spoelklippe haar voete kan kneus, sand die harde dele kan wegskuur en gras die sagte dele kan kielie. Sodat sy die planeet onder haar vervormde voete kan voel. Met haar neus in die lug, natuurlik. Nie omdat sy beterweterig is nie (wel, dalk 'n bietjie), maar eerder omdat sy op dié manier kan sien waar die horison die hemel en die aarde verdeel. Soms selfs aangenaam verras oor die slordige lyn wat die wind weer vanoggend getrek het.

Soggens is sy op haar stukke. Die neus 'n fraksie hoër, haar lippe effens weg van mekaar, haar wimpers sag op haar wange. Met die soom van haar rok in haar hand, hoog opgetrek teen aankomende branders, staan sy en wag.

Dit het ‘n paar oggende se nakyk en bekyk gevat om te besef waarvoor sy wag. Haar voete, opgestop met ‘n mengsel van limf, vet en dik are, word begrawe in die sand deur die eb en vloed van gety. Al wat oorbly is die pienk, misvormde toonnaels wat soos skulpe vanuit die sand vir haar loer. Vir 'n rukkie sal sy dan so bly staan, bypassende pienk vingernaels teen 'n afwesige bors gedruk. Die groteske skeur wat byna verdwyn in die pienk van haar wysvinger. Die arm, soos op aandag, verspot dik teen die res van haar lyf. Propvol limfweefsel wat botweg weier om pad te gee. Soos elke oggend is haar hare met 'n stortkappie bedek, die eweredige bulte onder die kappie verklap krullers, een vir een sorgvuldig in gedraai. Pienkes; hy kan net raai. Die oomblik wat haar voete heeltemal verdwyn, is dit tyd om te begin stap.

Wikkel-wikkel, sukkel-sukkel trek sy haar voete uit die swaar sand en stap aan. Die bont, swaar bene beweeg vinniger as wat jy sou verwag, die opgehewe blou en rooi are beweeg in 'n vrolike dans saam met die patrone op haar helder romp. Altyd kuitdiepte in die water, een hand gereed om die seldsame skulp te gryp sou dit onverwags verby spoel. Dan beweeg sy deur die water, met konsentrasie en pyn 'n stywe streep om haar mond. Net ‘n vae beduidenis van ‘n glimlag om die lipstiffiemond. Om dan, veel later, met 'n skoot vol skulpe die trap uit te klim.

Tot hy één oggend, soos elke oggend, op die verrotte houtbankie sit en die branders dophou, en sy hand lig.

"Mevrou, as ek mag vra ...?" Sy boude skuif versigtig na vore. As hy nie ‘n splinter in sy boud kry nie, stort die bankie dalk sommer vanself ineen.

Sy bekyk hom nuuskierig, vir ‘n oomblik selfs wantrouig. Sou sy hom, nie soos hy haar, elke dag raaksien nie?

Hy wag vir ‘n antwoord. ‘n Seemeeu wat al hoppende nader beweeg, herinner hom dat sy hom nog steeds, effens verveeld, dophou. Wagtend vir die vraag hy wat hy so graag sou wou vra.

"Wat is dit wat u elke oggend in die see soek?" vra hy met ‘n stem wat skielik vir albei snaaks klink. Sonder ‘n woord vou sy haar rokspante oop. Maar sonder om die hoop seldsame skulpe in haar skoot te sien, kyk hy vas teen haar hande. Die ligte lyne wat stories vertel. Skulpiepienk naels wat ten spyte van daaglikse versorging, die tekens van die tyd begin wys. ‘n Vel so dun, so fyn, hy sweer hy sien die broos bene wat motories onder die vel beweeg. Dis met moeite dat hy sy oë dwing na die skulpe wat sorgeloos teen die bont lap lê.

"Sommiges sal stukkend wees," sê sy dan, ‘n effense glimlag om haar lippe, "en party sal vir ewig geruïneer wees met 'n krakie oor die hart, maar dis die een of, as ek gelukkig is, die twee wat ek netnou volmaak uit my skoot sal lig, wat my telkens weer laat terugkeer." Sy beduie met haar oë hy moet een optel. Vir ‘n oomblik huiwer sy vingers, sy gedagtes verwonderd oor die skulpe, die stem, die ligpienk mond met die effense geel tande, wat die woorde vorm. Dan lig hy een skulp, amper teësinnig, uit haar skoot. Die blom, perfek gegraveer deur die natuur, om redes onbekend. Terwyl hy nog met die skulp in die hand skeef op die bankie bly sit, trek haar krom wysvinger ‘n lyn oor die middelpunt van die skulp, die blom.

"Weggesteek onder die sand, dís waar hy lewe. ‘n Organisme, eerder as ‘n skulp." Sy moes die verwarring oor sy gesien sien trek het, want sy glimlag sag en verduidelik verder. "Dis nie eintlik ‘n skulp nie. Dis ‘n organisme, perserig van kleur, wat deur die son en die sand uiteindelik tot ivoor verkleur word. Of eintlik geskuur word." Sy draai die skulp in sy hande om. "As't ware ‘n bisexual organisme," gaan sy voort, ‘n stoute glimlag om haar lippe. "Wat begin as ‘n man, maar later, seker uit wysheid, besluit om eerder ‘n fancy pantie aan te trek!"

Of dalk net die beste van albei wêrelde wil hê, dink hy terwyl sy praat. Asof dit so aan die mensdom kan wys dat om vrou of man te wees, dalk nie so belangrik is soos wat ons ons jare al wysmaak nie.

Sy kom regop, en hy hoor die pyn wat saggies oor haar lippe gly.

"Dis tog soveel meer fun." Kaalvoet staan sy voor hom. Die bont lappe weer versigtig toegevou. En met een hand op haar leë bors kyk sy oor die see. Ver verby die horison kyk sy, anderkant die oseaan. "Jy wil weet hoekom ek soek," gaan sy voort, sonder om na hom te kyk. "Ek soek. Want wie weet wanneer hulle eendag nie meer daar sal wees nie." ‘n Pienk glimlag om die lippe en ‘n vonkel in haar oog.