Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Rubrieke > Doktor Elsa

Oor pornografie in die Land van Toe Gordyne en Geslote Deure


Elsa Herbst - 2006-11-06

Toe ek 'n vriendin van my vra wat sy dink die verskil tussen pornografie en erotika is, was haar antwoord: “Nie veel nie; die een het 'n kunstige geurtjie terwyl die ander walglik en skokkend is. Al twee maak maar jags. Oor erotika voel die voyeur minder vuil of skuldig.” 'n Ander vriendin voel daar is 'n groot verskil: “Erotika kielie met 'n grashalm en pornografie bliksem met 'n lat ... dit maak jou siel dood.” My liewe gay vriend sê weer: “Erotika is boring en porn is hard core.”

Daar is harde en sagte pornografie. Nou is die vraag: Wat is “harde” en wat is “sagte” pornografie? Dui die term pornografie, hetsy hard of sag, nie aan dat die grens van erotiese seks oorskry word nie? Erotiese seks, selfs praktyke soos sadisme en sadomasochisme, is seks met wedersydse toestemming van die betrokke volwasse partye.

Uiteraard is kinderpornografie nie pornografie wat bestem is vir die kindermark nie. Dis nie iets soos kinderpartytjies wat spesiaal vir kinders gehou word nie. Dit is pornografie vir volwassenes wat hou van seks met kinders, ten koste van kinders.

Harde pornografie is grensloos; dit beeld smerige dade met enigiets en enigiemand uit – van diere tot kinders. En dis by hierdie grenspos waar jy jou paspoort tot smerigheid moet uitpluk, want nou betree jy die skemerwêreld agter Toe Gordyne en Geslote Deure!

In die Ryk der Toe Gordyne en Geslote Deure gaan dit rof, grof en onbeskof. Koning Porno kraai dat dit waai en koningin Porna hyg, sug en sweet asof sy nie genoeg kan kry nie. Maar kan dit ware plesier wees? Hierdie koningspaar is nie besig om mense vir die liefde van die saak te vermaak nie. Allermins! Hulle doen dit vir geld, dwelms en dergelike afhanklikhede. Die arme sotlike kykers lek hulle lippe af, vreet dit op en soek nog poeding ook. En dit alles agter Toe Gordyne en Geslote Deure, want hierdie is sake wat nie daglig verdra nie.

Die wellustige kykers raak opgewerk en gefrustreerd. En hoekom dan nie maar die daad by die beelde voeg waarna hulle so kwylend sit en staar nie? Goeie vraag. Hoekom nie?

Beste vriende, dís hoekom nie: pornografie voed verwronge fantasieë en is ver van die werklikheid verwyder. Die kernwoord van seks is aangenaam. Aangenaam beteken dat jy iets deel wat plesier verskaf, en wel met iemand van wie jy ten minste hou. As gevoelens en plesier nié 'n rol speel nie, stel jouself die vrae: Hoekom doen ek dit? en: Waarmee is ek besig? Dink mooi waarvoor jy toestemming gee en hoekom jy dit gee. Spyt kom te laat, al kom jy glad nie!

Pornografie is liefdeloos. Ons almal hoop om vroeër of later liefde te vind in ons lewe, en binne daardie milieu het pornografie geen plek nie. Pornografie is soos 'n derde persoon in die bed, 'n vyfde wiel aan die wa. Dit vernietig alle intimiteit en die moontlikheid om 'n gesonde, aangename seksuele verhouding te ontwikkel. Moenie vir 'n oomblik dink dat skoon seks 'n “saai-naai” is nie. Inteendeel, as passie betrokke is, word dit 'n tango van formaat. En onthou, it takes two to tango – no more and no less!

Jonge here, 'n boodskap spesiaal vir julle: Moenie idees kry by pornobeelde en dit as die norm beskou nie. Moet ook nie jou selfbeeld 'n onnodige knou gee deur die grootte van pornoperde se geslagsdele as die norm aanvaar nie. Wees verseker, dit is nie! Verder sal daardie meganiese, gevoellose dade 'n meisie soos 'n objek laat voel, haar verneder en verkleineer. Dit is onmenswaardig.

Let op die woord on-mens-waardig. Ek sê nie on-vrou-waardig nie. Jy as man is dit ook nie waardig nie.

Jonge dames, ook 'n boodskap spesiaal vir julle: Moenie verplig voel om toe te gee aan vernederende versoeke nie. Ons vroue (soos ek laas al op gehamer het, en sal bly hamer) het 'n lang geskiedenis van die minste wees. Ons weet nie altyd hoe om nee te sê nie, want ons is doodbang om 'n man se ego te krenk. Maar ha! Ons leer mos al doende, en ons doen nie meer geduldig, gedienstig en gedwee wat van ons verlang word nie. Ons ken die woord nee, en ons weet hoe om dit te spel. Gebrúik die ou woordjie. Dis makliker as wat jy dink, selfs al dink niemand dit is cool nie.

Volg my vriendin se wyse raad: laat jou kielie, maar laat jou nie slaan nie. As vrou wil jy deelneem en geniet, maar dit beteken nie “neem 'n deel van my en doen daarmee wat jy wil nie”!

Pornografie is verslawend. Mense raak obsessief en kan later nie meer daarsonder nie. Dit vertroebel jou psige en stomp jou emosioneel af. Net soos 'n junkie of 'n alkoholis bly jy altyd lus vir meer en sukkel jy om in die werklikheid te leef ...

Helaas, 'n feit soos 'n koei: pornografie is oorwegend manne se verslawing en vroue se nagmerrie.

My beste wense vir vlees en gees. Hou jou gordyne en deure oop en leef in die lig! En onthou daai lekker, fenomenale, passievolle tango!