Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Klein maar getrein!


Johann H Crafford - 2008-10-01

Dawid het vir Goliat gewys dat grootte nie saak maak nie. En Don Juan en Casanova het dit glo ook bewys! Nou het ‘n handjie vol passievolle garagiste-wynmakers besluit om te wys dat wanneer dit by passie vir wynmaak kom, grootte ook nie tel nie. Inteendeel!

Die Durbanville Boetiekwynvereniging (DBWA) het tot stand gekom nadat ‘n handjie vol entoesiastiese en passievolle wynmakers in die Durbanville-omgewing besluit het om kragte saam te snoer en hul uitsonderlike wyne aan die publiek bekend te stel en te bemark.

Met ‘n ma van drie as voorsitter, ‘n narkotiseur en Kaapse wynmeester, ‘n huisdokter, ‘n ywerige branderplankryer, ‘n energieke pilatus-instruktrise en ‘n gekwalifiseerde wynmaker in DBWA se geledere, dui alles daarop dat hierdie wyne nog groot en wyd vriende gaan maak.

Die lede van die DBWA is Karin de Villiers (Klein Roosboom - voorsitter), Nikie de Villiers en Natasha Diedericks (De Vallei - sekretaresse), Terèsa en Henk Rossouw (Russo Wines - tesourier), MJ de Wit en Estani Brand (Signal Gun), Lohra Pienaar (Eureka), Magdaleen Kroon (Westerdale), Pieter de Waal (Hermit on the Hill), Andrew Mellish (Welbeloond), Charl van Teijlingen (Domaine de Teijger), Francois Kritzinger (Vin de Francois), Riaan Oosthuizen (Nomada Wines) en André Brink (Phizante Kraal).

Die reeks wyne wat deur die lede van die DBWA gemaak word, fokus in die besonder op sauvignon blanc, shiraz, merlot, en Bordeaux- en Rhône-versnitte, en daar's selfs ‘n MCC-vonkelwyn. Die wyne is tans net by Kronendal beskikbaar, maar ander afsetpunte word in die vooruitsig gestel.