Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Balle en brênds


Hannes Steyn - 2008-09-30

“Toemaar my ou man, cheer up. Dit kon erger gewees het, jy weet,” paai Lizzie terwyl sy ’n denkbeeldige stoffie van die rusbank se leuning wegstof. “Die kinders geniet hulle gate uit. Veral Mercia.”

“Ja dit herinner my, ek is nog lank nie klaar met haar nie. Weet jy dat sy eers na twaalf hier ingesluip het? Hoekom het jy my nie wakker gemaak sodat ek haar kon vasvat nie?” kerm Paul terwyl hy begin rondvroetel vir sy pyp. “En wat's dit met die twee alweer so vroeg op straat?”

“My maggies Paul, dis ’n langnaweek. Gun tog nou die paar dae vir hulle … en hou op om so knorrig te wees. Hoekom geniet jy dit nie ook maar nie? Dis verniet jy weet?”

“Verniet? Die kamstige prys is besig om ons veel meer uit die sak te jaag as wat ons eerder by die huis gebly het. Selfs ‘n langnaweek na jou ma in Bloem sou goedkoper gewees het.”

“Ja toemaar, dit is nie nodig om weer vir Moeder die ding in te sleep nie. Sy het niks hiermee te doen nie. Dis jou skuld. Jy wou mos nie na my geluister het nie. Behoorlik aan daai doedie se lippe gehang toe sy die kompetisiekaartjie aan jou afgesmeer het.” Sy vryf ’n lok met haar vingers voor haar gesig weg en Paul weet dat dit ’n teken is dat sy aan die opwerk is. “En ... steek nou net daai stink ding op in hierdie plek, dan’s dit ek en jy! Jy weet van die reëls agter die deur.”

Hy maak of hy haar nie gehoor het nie, bestudeer die pyp in detail en steek dit in sy mond terwyl hy opstaan en stadig venster toe stap. Hy teug dat die dampe staan en stoot die venster oop.

“Wie was dit nogal wat soos ’n mal ding op en af gespring en die straat afgenael het toe hulle ons bel oor die prys? Plaas dat jy eerder die small print behoorlik gelees het. Kry eerder vir my ’n bier. En ’n glasie wyn vir jou.”

Sy staan op en pof die bank se kussing reg. Dit irriteer die hel uit hom uit, maar hy bly stil.
Die brosjure het veel meer kleurvol en vriendelik gelyk as wat hy nou hier sien. Dit het gespog van ’n see-uitsig, maar nagelaat om te noem dat jy op jou tone moet staan in die een hoekie van die stoep.

"Rustige omgewing" is in groot letters uitgeblaker, onthou hy terwyl hy vieserig kyk hoe ’n groep honde raserig en hangtongend ’n klein tefie die straat af volg.

Lizzie kom neurieënd by hom staan, vleg haar slanke arm om sy lyf en druk ’n blikkie in sy hand. Hy ken haar al so goed na amper twintig jaar dat hy nie hoef te raai oor wat gaan kom nie. “Ek sê jou wat. Geniet jou bier dan gaan doen ons bietjie inkopies. Die winter is om die draai en die kinders kort ’n paar kleertjies. Ek het hulle klaar op hul selfone gebel en hulle is op pad.” Sy gee hom ’n drukkie en wispel haar neus sy agternek in. Dit, tesame met die gedagte dat sy begroting alweer erg aangeval gaan word, gee hom ’n koue rilling en hy druk haar half irriterend weg.  

Sy is nie van stryk nie en wys opgewonde straat-af waar Mercia en Andrew aangedrentel kom.
Anders as gewoonlik lyk die twee nogal inskiklik met mekaar en hy raak onwillekeurig suspisieus. Hy is seker dat die drie reeds hard oor die foon gekonkel het.

Winkels! Vloekwoord nommer een in sy woordeskat, dink hy gekrenk en vat ’n lang raserige sluk.

Mercia gesels kliphard op haar selfoon. Hy merk bekommerd dat sy glads te aanloklik vertoon in haar eina-kortbroek en kleurvolle bloesie. Dit lyk nie of die lastige Aprilwindjie haar uitsteek-magie pla nie. Hy sal hard en duidelik met haar en haar ma moet praat, besluit Paul, maar hy weet dat hy nie veel gaan vermag nie.

Andrew is besig om met ’n tennisbal te mock-boul. Hy speel vir die skool se eerste span, al is hy maar net in graad tien. ’n Skewe glimlag vorm om Paul se mond as hy onthou hoe die onderwyser hom gekomplimenteer het oor die knaap se talente. "Maar u moet tog maar help sorg dat sy huiswerk op datum kom," het hy betekenisvol bygevoeg en die rooi ligte het begin flits in Paul se gedagtes. 

“Jissie Pa, het Pa gesien hoe daai spul reune daai arme foksie …!” roep Andrew opgewonde toe hy die trap opkom, maar sy ma maak hom gou stil.

“Ja, ja ons het gesien. Los dit nou maar. Jy is glads te jonk en … en moet jou sussie respekteer.”

“Guh! Respekteer? Pa moes haar gisteraand by die saal gesien het,” snip hy terwyl hy op ’n bank neerplons en die tennisbal teen die plafon gooi.

“Wat bedoel jy? En hou op met daai bal. Ek druk hom nou in waar jy hom nie kan uithaal nie! Mercia, kom hier, moenie weghardloop nie!” keer hy toe sy skuins-skuins kombuis toe probeer vlug.

“Aag Pa, Pa weet mos hoe Andrew kan oordryf. Ek ... ons het net bietjie gedans. Almal het.”

“Wat bedoel jy met 'almal'? Ek was nie eenkeer op die vloer nie. Ek was heeltyd onder op die strand. Brandbal gespeel.”

“Jy bedoel seker brandlip! Pa moes gesien het. Net sigaretkooltjies waar jy kyk. Gelyk soos ’n vuurvlieg-beachparty!”

Lizzie sien hoe Paul se mond op ’n tuit trek en tree vinnig tussenbeide. Sy weet dat haar seun glad nie in rook belangstel nie, want sy hou sy asem en sy klere knaend dop.

“Kom julle, stop nou maar die oor-en-weer-geblamerigheid. Julle pa het ingestem om ons vir inkopies te neem.” Sy gee Paul ’n dreigende kyk toe hy mik om teë te stribbel en stoot die twee die gang af kamer toe.

Sy gemoed op pad inkopiesentrum is besig om by die kilo te daal. Mercia dring skerp, amper aanvallend, daarop aan dat sy net ’n sekere "name brand" jeans sal dra, en dit net van die Teen-Scene winkel af. Hoe hy (met sarkastiese insette van Andrew se hoek af) ook al skerm oor die uitspattige pryse by daardie winkel en hoeveel goedkoper mens dieselfde kwaliteit elders kan koop, hoe meer stroppie raak sy.

Toe hulle stilhou in die parkeerterrein, kyk hy verlangend na die ry stalletjies waar klere, skoene, sigarette en wat ook al netjies uitgestal word. Sy oog vang iets en hy pluk sy dogter tot stilstand. “Kyk daar Mercia. Roxy-jeans! Uitverkoping. Net … net sestig rand. Ons kan ... ek sal vir jou sommer twee koop.”

“Is Pa mal? Ek dra nie Roxy's van enige ander plek as Teen-Scene nie! Pa moenie nou met my karring nie.” Sy pluk haar kop agteroor en tuur na haar ma vir bevestiging.

“Maar my meisie, dis dieselfde 'brand'. Sekerlik dieselfde kwaliteit ook. Jy moenie glo wat jou vriendinne jou als vertel van namaaksels nie,” probeer Lizzie skerm, maar Mercia is reeds kwaad verby.

“Ja Mercie, ou Dino sal nie eers weet waar dit gekoop is nie. Asseblief, help vir Pa. Hy probeer maar net om ons almal te akkommodeer,” werp Andrew nog ’n paar kole op die vuur.

“Ek sallie. Ek sallie dit dra as julle dit hier koop nie. Julle is almal lelik met my. En los jy vir Dino uit. Hy is niks van jou nie!” gil sy, pluk haar los en storm in die rigting van die sentrum.

’n Uur of wat later is die pynlike operasie verby. Mercia het haar sin gekry. Paul het gevoel om die smalende kassier ’n oorveeg te gee toe hy die broek netjies vou, vir Mercia knipoog en dit met amper sadistiese seremonie die dik Roxy-plastieksak indruk.
 
“Gaan sit julle daar by die Wimpy en bestel vir ons ’n burger en chips. Ek en Andrew gaan solank die goed in die kar sit.”

“Wimpy? Hoekom nie die ...?” wil Mercia weer tender, maar een kyk in haar pa se donker oë en sy sluk haar woorde gou-gou.

Sy kyk hulle agterna en merk gekrenk op hoe pa en seun met mekaar skerts en onderlangs terug na hulle kant loer.

By die huis aangekom gryp Mercia haar sakkie en verkas kamer toe. Sy roep van die kamer af dat die familie in ’n ry moet sit en wag vir die groot oomblik.

Lizzie is verbaas om te sien dat die twee onmiddellik instem en hoogdrawend langs mekaar neerplons.

Toe Mercia modelhinkende ingestap kom, moet Paul erken dat sy baie goed lyk.

“Stunning!” roep Andrew en sy oë pop amper uit.

Lizzie spring op en swaai haar dogter trots in die rondte.

“Baie goeie besluit, my meisie. Ek is bly jy het aangedring op Teen-Scene. Mens kan die kwaliteit myle ver sien,” babbel sy terwyl die ander twee buite toe verkas.

Paul maak seker dat hy buite hoorafstand is toe hy Andrew aan die arm pluk en in ’n lagbui dubbelvou.

“Het jy daai moffie se gevreet gesien toe ons die jeans terugneem en kla oor die vuil kol?”

“Ja maar ... maar ek glo nie Pa moes die ding so hard teen die grond gevryf het nie. Hoop net hulle kan die kol uitkry. En dat hy nou wraggies ’n scene wou maak oordat ons nie sy simpel plastieksak teruggebring het nie!”

“Ja wat. En wat sê jy van daai Somaliër se grynslag toe ons die broek in die Teen-Scene-sakkie insit?”

“Awesome, Pa, awesome! So asof ... asof hy nogal gewoond is aan hierdie tipe ding.”

“Nou goed, ou seun, kom laat ek nou my kant van die bargain nakom. Wat is die naam van daai krieketbal nou weer?”

“Jonty, Pa. En Pa ...?”

“Ja seun?”

“Pa, as die Jonty te duur is, kan Pa maar enige ander brênd koop.”