Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Ma praat met my


Adri Troskie-Vivier - 2008-09-29

Katz gooi die kaarte.

"Creativity. You lost your creativity," profeteer sy in Engels. ‘n Supersexy Afrikaanse  energy powerhouse wat haar Afrikaanse pasiënt (of is die uwe nou kliënt?) in Engels gaan "read" en "heal".

(Wat de engel is mens nou eintlik in hierdie esoteriese helingsituasie? Miskien ʼn fool wat gefool wíl word, want jy is in elk geval ʼn perimenopousale verlang-na-haar-ma-fool?)

"I am religious. I believe in Lord Shiva, Lord Jesus, Lord Krishna, Lord Buddha …" en sy wys plegtig na ‘n reliek van elk van die opperweses wat sy op ‘n tafeltjie langs ons "reading" uitgestal het.

"I also believe in the Angels. I am in close contact with the Angels … I wil speak to them. They will reveal themselves, their wisdom and the truth through me - the medium - and these beautiful cards …"

Ek wil giggel, want sy perform soos ‘n deurwinterde dealer by ‘n roulette-tafel. Die engele maak ‘n sweefspoor voor my aangesig soos sy die kaarte skommel. Ek slaan my oë neer en ontvang hulp by die beertjies op my kniehoogte sykouse.
 
Wonder wat my ma van al hierdie engele op kaartjies sou gesê het. "‘n Pot jy-weet-wat, my kind. Maak jouself handig. Met kaarte speel mens canasta. Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Met die engele sal ons wees as ons die aardse met die ewige verwissel."
 
Ken jy Afrikaanse engele, Katz? Ken jy Clarabellese Roep die engele, Katz? My ma is ook ‘n engel, het jy dit geweet?

Fokus, A, dié sessie gaan ‘n paar pienk note kos! 

Maar voor my beur die stuitige borsies uit hul push-up omhulsels. Die rooi-gecutexte tone fassinerend prominent vanuit hul lotusposisie. Lang, gepoleerde, gelakteerde naels …

Ja-nee, pienkes gaan dit my kos. Hierdie gemanikuurde wisdom kom nie cheap nie.

Katz skommel weer met casino girl vaardigheid die vyf, ses, sewe pakke Wisdom of Angels-kaarte.

"They – the  beautifull angels - are going to reveal their ancient wisdom to us. We have to trust …"

Iets nuuts, Katz? Jy kan sekerlik beter doen as dié herhalende refrein ...

Die kaarte stort uit Katz se hande. Twee engele kyk hemelwaarts. Die ander verberg hul aangesigte. Katz se armhare staan katpennetjie-orent.
 
My koots, sy het vrek lang armhare. Donker, amper pikswart. Dié fisiese detail het my beslis vroeër verbygegaan. Die goed staan pols tot elmboog hoendervleisknoppies-regop. Soos iemand wat spook gesien het.

Katz se oë is toe. Haar regterwysvinger wys sjuut. Linkerhand bakkie haar oor.

"I hear somebody. They … no, she … yes … she wants to say something to me …
No, to you … It is … yes … It is your mother."

Gots, moenie met my lol nie, Katz. My ma is ‘n engel. Vyf jaar al. ‘n Regte engel met groot wit wattevlerke en ‘n liggiekroon, glo my jongste. ‘n Vyfstert-ster-engel wat boodskappe met satelliete stuur, sê Spider-man-ouboet.

"Shh," sê Katz. "Yes … she speaks from the other side …"

Lang armhare steeds punkstyl-regop.

"She’s not very clear."

Haai, raai! Nee, jy speel seker, Katz!

"She says … she says …"

Fok, wat sê my ma?! En hoekom sal sy vir jóú iets – enigiets – ooit wil sê?

"She says you must listen."

Jy     moet     luister, sê Katz. Gepas afgemete.

Sy maak haar bruin oë dramaties groot oop en kyk my lank stip aan. Kry mens ‘n kyk soos ‘n Afrikaanse kyk? Soort van ‘n Boere-kerktante-kyk? Want Ma sou nooit Engels kon kyk nie. En daardie kyk was wragtig in die rigting van my ma se sonder-doekies-omdraai-kyk-my-reguit-in–die-oë-kyk.

Versigtig nou, A. Sy klits jou koppie, dié katjie.

Dan is die armhare weer netjies op hulle plek. Asof nooit opgespook deur iets of iemand soos my ma nie. En glad nie opvallend donker nie.

Sy tel die twee hemelwaartse engelkaarte op.

"They have been chosen fór you! They speak about creativity … you have to listen …"

Luister! My ma sê vir Katz ek moet luister. Verdomp, asof sý ooit geluister het. G’n pleidooi het ooit haar ore bereik nie. Miskien toe dit te laat was, ja. En te laat was maar net 63 jaar jonk. Jong ouma sterf van tabakrook – ook beter bekend as sigaretrook. Laat dogter en twee verdwaasde kleinkinders agter. Oorsaak van dood: kroniese obstruktiewe lugwegsiekte.

Let wel: nie emfiseem nie. Nooit emfiseem nie. Ook nie longkanker nie. Nee. Sy had nooit enige abnormale uitsetting van longweefsel deur haar dis-tog-so-lekker-kettingrokery nie. En die meer as 4 000 giftige chemiese stowwe in elk van haar daaglikse 30-pakkie-of-meer het háár longe nié aangetas nie. Weliswaar het sy altyd ’n ontydige nare verkoue gehad. "Ag, sommer ’n kriewelrigheid in die keel. Lastig, maar niks wat ʼn hoofpyn regverdig nie. Ja, ʼn grieperige kuggie. Maar môre verdwyn dié ook in die niet. So effense koue op die bors. Dankie tog vir daai staatmaker van ʼn potjie Vicks wat slymkughoes in ʼn kits evaporeer."

Sê sy van haar mooi verskonings, Katz? Sê sy van die kreatiewe verskonings wat desperaat gekwyn het voor die agtletter-wurgwoord: emfiseem? ʼn Meester van ʼn siekte wat haar lewe te vroeg roggelend uitgesuig het op lentedag. Ah, but what a life, Katz. Wat ’n lewe! Niks in jou engelkaarte wat Ma sal kan read nie! Jou engele is te lig van vlerk om haar lewe te omfladder.

Sy het alles jonk en met oorgawe gedoen. Soos doodgaan. Soos op 16 matriek skryf. Soos gereeld deur die streng Bloemfonteinse koshuisvensters klim om te vry. Te rook. Te hokkie. Te dans. Tot op die laaste asemteugie nog gevra dat Pa haar soen. En of sy nie net nog ʼn laaste trekkie kan vat nie.

"Ek is mal oor my sigaretjie! Ek rook want dit is só lekker. Nes soen. Nes kook. Nes kuier. Nes tuinvroetel. Nes dagboekskryf. Nes fliek. Nes opera. Nes Jim Reeves en Engelbert Humperdick en Nellie du Toit en Gé. Nes dans. Nes ..."
 
Wel, alles.

Sy kon álles doen. Met ’n sigaret. Altyd met  ’n sigaret. Soms twee! Brandend in twee asbakkies! Transvaalse donderstorms loskook uit haar Robert Carrier-kookversamelingsboeke. Begeesterd boervrou wees met ’n plaaskuier-cum-slagsessie en dan bees, vark en skaap kundig bewerk tot wors, biltong, maalvleis en ontbeende ribbetjies wat gerol en gestop word met haar eie resepte vol delikate kruiemengsels. Van afval wit skrop en met ʼn lang sagte kerriesous voorsit tot peri-peri-garnale van Hoxi’s met los langkorrelrys en pietersielie-aartappeltjies ... Sy móg maar kook!

En dans! Ja, gots, sy kon dans!

Wat sê Ma, Katz, van haar dansery? Wat sê jou Angels? Hulle wat g’n kuit vertoon onder die wuiwend vloeiende skeppings nie. Want dié het Ma gehad: mooigevormde kuite. Mooi bene. Wye heupe. Met nommer 6-voete in Italiaanse hakke. Want Katz, Ma was skoenbegeesterd. Selfs klavier gespeel met ’n spesifieke paar ingevoerdes waarmee sy die pedale skynbaar beter gemaneuvreer het! En dan het die blou rokie van die Stuyvesant café-style in die asbakkie bo-op die klavier saamgewieg. Haar repertoire gerusstellend bekend - klassiek met syncopation flair. Saam neurie die skaapboud clan om die Sondagtafel "Blue Spanish eyes", "Green green grass of home" en "Take me home, country roads".

Weet jy dat dans sonde was toe Ma jonk was, Katz? Dans én langbroeke! Haar tante Gertjie van Burgersfontein se vyf meisiekinders was betaamlike plaasmeisies met christelike rokke. Ma - die niggie van die stad - se broeke was ʼn pitsweer vir die tante wat Ma telkens met twee handgemaakte onder-die-knie-rokke wou bekeer. Maar Ma was altyd ʼn broek-en-skoen-vrou. Met ʼn keurige serpie vir die deftiger okkasie.

Net as sy gedans het, het Ma rok gedra. Beautiful rokke wat been en sterk enkels gewys het. En volronde 36 C-borste. Vir hulle as arm jonggetroudes was Silverton Hotel die uithangplek in Pretoria. Ballroom die passie. Lime-‘n-soda die drankie. Geld vir ander drank was daar nie. Sigarette was goedkoop.

Ma mog maar dans, Katz. Sy kon rambasambatwist. Two-step, wals. Latere jare saam met die kinders meelstof gedans op die plaas se sementblad. Oom Maans het die vloer spesiaal net buite die groot opstal laat bou vir ʼn gereelde boere-opskop. Die ou Chev is dan nader getrek met die kattebak wawydbek oop vir die boeremusiek op die 8-track-kasset. Saam met die haan se oggendkraai het Ma steeds magic met haar danspassies gemaak. En die boeremanne se mieliehande moes mooivat en lekker trap om haar  heupswaaiende draaie te volg.

In die hospitaal wou sy ook dans, Katz.

Dit was ʼn hygende bondeltjie mens met net  ʼn hospitaaljurk oor haar knopskouers wat ek die laaste keer na die skanderingsvertrek gestoot het. Sy had nie die krag om haar dun armpies deur die mousgate van die hospitaalblou jurk te sit nie. Ek het my kaal ma in stilte die lang gang af gestoot. Sonder haar suurstof-asemhalingsapparaat kon sy nie veel praat nie. 

Voor die kamer het ons gewag. Die klokkie ʼn tweede maal gelui en met die oorleunslag Ma se jurk van haar skouers laat gly. "So jammer, Mamma."

Maar my kaal ma het geglimlag en hortend gesê: "Lekker stout."

Binne was die jurk oorbodig. Ma moes klinies kaal onder die masjiene staan. Stáán! Sy kon skaars asemhaal. Die verpleegster het ongeërg twee blink beskermingsplakkertjies op my ma se tepels geplaas. Haar mooi borste was dunmoeg. My ma het die vreemde voorwerpies bekyk. Toe met groot moeite na my omgekyk. Sy het êrens diep ‘n ekstra asemteugie losgegaffel. My nader beduie om iets te sê.

"Lig    my   arms,    A."

My ma was crazy! Ek wou nog "Hoekom, Ma?" toe sy weer roggelend na asem grawe. Ek het my oor teen haar mond gesit om te hoor.

"… muntstukkies op my tieties … arms krul … dan belly-dance ek …"

Hulle kon nie die laaste skanderings voltooi nie. Ma was asemloos swak en nie in staat om vir twee minute op haar eie te dans vir die longkameras nie. Die blink tepelplakkertjies het sy saamgevat. Om ʼn sexy engel te wees.

ʼn Paar pienkes verder en ek groet Katz en haar Angels. Vir altyd. My verlang-onthou-trane oor ma se laaste dans het die energy healer aan die ruk gehad met "… Let it all flow out of you … the tears of angels … healing waters of the lordsjesusshivakrischnabuddha …"En weer het die armhare gerys. En die hand het die oor gebakkie. Die oë was toe met die vinger wat sjuut. "Your mother … she says you must listen …"

Met die oopmaak van die oranje voordeur hoor ék haar. My ma! Op kfm. Sy lok my nader. Maak my voete lig. Gee my vlerke. Weliswaar ‘n nuwe  verwerking van haar geliefde Trini Lopez se "Lemon tree", maar dis my ma, okay. En die woorde en die beat is nog só hare. "So joune," sê my ma. "Luister!"

Lemon tree, very pretty.
and the lemon flowers so sweet
but the fruit of the lemon
is impossible to eat!

"Kom dans, A," nooi my ma met ‘n volheupgooi. "Dans met die lemon tree."