Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Stokkiesdraai


Hans Walvis - 2008-09-24

Sien, dit was in sub A, 1945. In Karibib. Dis daardie klein plekkie wat mens net duskant Usakos kry.

Dit was 'n tweemanskooltjie en die hoof was nogal 'n De Jager. Nie familie nie. En juffrou Malan. Tussen dié twee het hulle alles van sub A tot standerd vier behartig. Juffrou Malan en Ma was groot pelle. Met so 'n vriendskap was dit nie snaaks dat klein Hans nog voor skool onnodige en ongevraagde blootstelling aan lees gehad het nie. Plaas die lotjie los my in vrede waar ek en Otto Schepp met ons jêmbliklokomotiewe (wat met donkiemis gerook het) onsself vermaak het.

Toe ek dus die dag met skool begin het, kon ek al flink "ô ô ô ô ô sssssssss os" uit die ou leesboekie uit. Dit het net gemaak dat ek belangstelling verloor het as ons spannetjie (weg van die ander kinders) in die doringboom se skadu leeslessies en masse sit en oefen het. Ook niks gehelp dat ek juffrou Malan aan die verstand gebring het ek ken die dekselse goed en ek wil eerder saam met die sub B's teken nie. Ek moes saam chant-sing uit die leesboekie.

Nou was dit ook net die tyd dat albasters onder ons bekend geraak het. Die ryk mense se kinders het glasalbasters gehad. Ons ander 99% het klippe gebruik, waarvan daar op Karibib geen tekort is nie. Gou uitgevind ek kon daardie sessies onder die doringboom nuttig aanwend om my ghoenskietvermoëns te verbeter. Alles met klip, natuurlik. Ken jy daardie skietaksie met die duim? Dit was omtrent 'n lewensideaal om glasalbasters by die ryk kinders te wen. Maar dit het oefening gekos om akkuraat te kon skiet.

En dis met hierdie klipskietery dat ek 'n up and under skiet in plaas van reguit vorentoe. Natuurlik het die klippie (soos my duimnael se grootte) op 'n dogtertjie se kop geland, en sy is toe terstond in trane. Chaos. Volgens my het sy onnodig gegrens. Die klippie was nie so groot nie. En juffrou Malan het my gou uitgeruik. Pouse moes ek by meneer De Jager rapporteer vir 'n afspraak met Good Morning.

Nou, Good Morning was die eerste Engels wat ek in my lewe geken het, maar dit het fiekerôl met Engelse groet of goeie maniere uit te waai gehad. Daar was nie Engelse in Karibib nie. "Good Morning" was in rooi geskryf op die houthandvatsel van ou De Jager se koedoeleerplak waarmee hy ons kleintjies deurgedraf het. Ek weet nie of onderwyseresse ooit besef wat hulle 'n kleintjie aandoen om hom 'n periode en 'n half vooruit 'n pak slae te beloof nie. Vat hom en neuk hom net daar. Moenie 'n kleintjie so maak ly nie. Daardie tyd het ek nog net een of twee Duitse vloekwoorde by Otto Schepp opgetel gehad, maar in Afrikaans, met 'n hart wat in die keel klop, het ek min of meer gedink: Se moer, die straf oorskrei die klip se grootte by myle en op geen manier gaan ek hiervoor seerkry nie. En besluit ek moet iets doen.

Gelukkig het ek heel agter in die klas gesit. En gelukkig was daar 'n klomp kaste agter in die klas opgestapel. En gelukkig het die klas 'n agterdeur buitentoe gehad. Toe die pouseklok lui, was dit maklik om agter 'n kas in te glip en te wag dat die klas leegloop en juffrou Malan ook haar ry gekry het. Daarvandaan by die agterdeur uit, deur die heining gekruip en boslangs, met 'n yslike draai, koers gekry huis toe - die skool was op die rand van die dorp. By die skool, weet ek, staan hulle nou almal tou vir elkeen se kommetjie melk en varkvettoebroodjie - 'n geskenk van die SAP-regering - maar klein soos wat ek was, was ek reeds heel bereid om sonder my SAP-toebroodjie vir die dag te gaan. Hulle sal my eers vir die wraakaksie soek as hulle klaar gevreet het. Behoort 'n goeie voorsprong op te bou in die tussentyd.

In die bos onthou ek my boeksak met sy hele inhoud lê nog net so in die klas. Probleem. Wat moet ek vir Ma lieg oor die boeke? En toe eers besef ek ek sal moet lieg oor die vroeg tuiskommery ook. Dit was 'n bietjie baie gevra om twee liegstories te bedink op so 'n klein ouderdom en ek gaan sit toe onder 'n bos dat die tyd kan verbygaan. Fout. Die pouse het intussen verstryk en die span het agtergekom hierdie perd is weg. Soekgeselskap. Ou De Jager en die hele klas groter kinders. En ek hoor hoe hulle die bos inkom en na my roep. Ek's dood as hulle my kry, was my enigste gedagte. Good Morning se moer.

Gelukkig was daar 'n ruie kol bos en ek sleep daar in en loop my terstond vas teen 'n dekselse koedoebul wat daar gestaan en dut het in die middaghitte. Dié vertrek toe met 'n snork en blaf en my angs piek op vlakke waar dit nog nooit was nie. Krêkkers - ek het my buite weste geskrik. Toe die stemme verdof, kry ek weer lewe en besluit ek beter vir Ma die hele sak patats uitskud, wat ook al die gevolge. Maar ek sien nie kans vir nog iets in hierdie bosse raakloop nie. Sê nou net dis dalk 'n leeu - en vandag terug skool toe? So nooit as te nimmer.

Natuurlik wou ma Ans weet oor die vroeg tuiskom en ek was nog besig met my storie toe juffrou Malan ook by die huis inklok. Kans vir weghol was daar nie - daardie juffrou was rats. Dis tóé dat ek dink ou Juffrou het mal geword. In plaas van my dingesvelle aftrek, het sy my opgetel en 'n yslike druk gegee en in die oor gefluister ek hoef nie meer oor Good Morning te wharrie nie en ek moet nou buite gaan speel terwyl sy en Ma gou koffie maak. Ma het my jare later vertel hulle het nie koffie gemaak nie. Sy moes vir juffrou Malan suikerwater gee en vreeslik mooi beloof om die ding nou nie eensydig verder te neem nie.

Askies, amper vergeet ek van die koedoebul. 'n Paar dae later, vroegoggend tydens klas, roep een van die kinders ou De Jager. Staan die koedoe doodluiters langs die draad en vreet die skoolhoof se turksvybos flenters. Die ou se huis was reg langs die skool en net daar skort hy die klas op en sleep oor huis toe. En hier kom hy met sy 303 terug. Deur die klasvenster die koedoe geskiet. Was ook die einde van die dag se skool. Toe't die lot geslag en vleis gewerk.

Groetnis, julle.

Hans Walvis