Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Naak Engel


Frik Smith - 2008-09-24

Want het verschriklijke is,
een mens kan niet alleen zijn.
Op de duur ga je daar
onherroepelijk aan kapot.

(Anna Blaman)


Die twee rye spore lê soos dit lê. Woestynsand kleur die een helfte van die reliëf in skakerings van lig en skadu. Die boonste helfte is ligblou met spierwit wolke. ʼn Absolute voorspelbaarheid. Rekenaargemanipuleerd. Die eentonige reliëf word oorheers deur twee rye spore wat teen die helling van die sandduin naaste aan die voorgrond een ry word. Dan is daar natuurlik die onderskrif, wat alle misterie en verbeelding in beton vasgiet: "My kind, dit is waar Ek jou gedra het."

In verhaalvorm is dit die antwoord op 'n vraag van 'n kind: "Pa, wat het van die ander rye spore geword?". Iewers het 'n geestelike dit verander na 'n hoofletter E in Ek. En dit ... dit het al vir vele troos gebring. Iets van 'n Groter Bedoeling. Vir ander pyn, want dit herinner hulle aan 'n tyd toe hulle skynbaar sonder God was. Eiewillig, koppig, ongehoorsaam, sondig.

Hadida's skreeu in Kiaan se kop. Die groot aankomssaal is koud en die silwer glimmende staalbanke nog kouer. Stukke van The Star, The Citizen en Beeld lê op en onder die banke rond. Dit is vroegoggend gratis uitgedeel. Teen hierdie tyd is die nuus afgeleef, want dit is nou al eenuur. Netnou sal ʼn skoonmaker, met ʼn strak gesig, die geskiedenis in ʼn plastieksak druk en die spore doodvee. Môre sal daar nuwes wees.

Kiaan sien of hoor nie die medewagtendes nie. Gewoonlik is die aankomssaal 'n kraamteater waar hy geboorte skenk aan honderde stories. Elke mens wat aankom, het 'n storie en laat spore. Vandag is hy diep in homself versonke. Sy kop is besig om te worstel met die sporestorie.

Die afgebakende vierkant voor die glydeure is klinies en koud. Opgedeel in vierkantige teëlblokke soos die res van die lughawegebou-vloer. Dit val hom op dat die silwer metaalpaaltjies met die bande wat die gebied altyd afgesper het, vervang is met sterker staalpale en blink dwarsstaalpype. Hy is nie seker of die kennisgewing bo die glydeure altyd daar was nie: "Nobody allowed in this area".

Tussen al die gedruis hoor hy die neulende stem van ʼn kind en ʼn ouerige vrou wat sê: "Ons mag nie in daai hok ingaan nie." Vir ʼn oomblik kom hy uit sy diepte - waar hy ook al was. Hy sien ʼn ouerige man en vrou na die kant van die blok stap waar hulle teen die tralies gaan staan. Die boonste sperpaal is op ooghoogte van 'n seuntjie wat by hulle staan. Eers trek hy hom op om bo-oor te kyk. Dan loer hy weer onderdeur. Kiaan sukkel om gefokus te raak. Die kind het hom in sy meditasie versteur en hy voel half geïrriteerd daaroor.

Hy weet nie wat het gebeur nie, maar toe hy weer kyk, sien hy hoe die seuntjie die afgebakende gebied oorsteek. ʼn Man met baie bagasie verskyn in die glydeure. Hy los sy bagasie net daar en storm op die seuntjie af. Twee swewende engele in ʼn soort van Brian Habana-duik ontmoet mekaar in die middel van die vloer. Die seuntjie klou om die man se nek en staar met groot oë diep in die aankomssaal in. Die man se rug is na die wagtendes gedraai. Sy netjies strepiespak en langerige haardos is al wat jy sien. Die afgesperde gebied het ineens in 'n verhoog verander en 'n stilte soos wat daar waarskynlik was toe God vir Elia op Karmel besoek het, daal oor die afwagtendes neer.

Dit is eers toe Kiaan sien hoe die man se skouers begin ruk dat hy besef die man huil. Die man sit die seuntjie neer, maar met die opkomslag oorweldig ʼn nuwe vloed trane hom. Hy buk weer af, gryp die seuntjie en verberg sy snikkende gesig in die kind se borskassie.

'n Geweldige sadness trek deur Kiaan se lyf en die wêreld rondom hom word wasig.

Hoe die ouvroutjie daar gekom het, weet hy nie. Met haar tengerige liggaam is sy reeds, aan die oorkant van die afgesperde gebied, besig om die verlate waentjie met bagasie te stoot. Die ouman staan waardig waar hy staan. Die jongman ruk hom reg en sit die seuntjie neer om die waentjie by die ouer vrou oor te neem. Met die een hand hou hy die seuntjie se hand vas en met die ander hand probeer hy die waentjie stuur. Net buite die afgebakende gebied draai hy om en soen die ouer vrou. Sy haal haar bril af en vee trane uit haar oë met 'n sakdoekie met 'n handgeborduurde patroontjie daarop.

Toe steek die jongman sy hand uit om die ouer man te groet. Die ouman se gesig is vertrek van hartseer, maar daar is nie ʼn enkele traan nie. Kiaan het al so ʼn gesig gesien. Dit was die dag toe hy saam met sy pa by die bankbestuurder ingestap het om reëlings te tref na sy ma se dood. Die bankbestuurder het die situasie heeltemal verkeerd gelees en met die inkomslag die een of ander ligsinnige opmerking gemaak. Dit is toe dat hy vir die eerste keer in sy lewe trane in sy pa se oë sien kom het - toe sy pa sê: "My vrou is dood." Die bankbestuurder het soos 'n koi na lug gegaap.

Toe die ouerige man die jongman nader trek om hom te druk, merk Kiaan dat daar 'n flitsende sekonde van huiwering tussen hulle is. Hy besef in hierdie aankomssaal het daar vandag iets plaasgevind wat nog nooit tussen hierdie twee mense gebeur het nie. Die omhelsing is soos by die woordelose verneem van 'n geliefde se dood.

Die man buk skielik weer af en tel die seuntjie op. Die twee ouer mense begin die swaar waentjie te stoot. Kiaan se oë volg hulle waar hul afgeëts teen die glinsterende en flitsende reklameborde al verder stap. "Niemand sal weet hulle was hier nie, want hulle het nie spore agtergelaat nie," dink hy.

Hy sien nie toe sy dogter deur die glydeure kom nie. Hy is net bewus van die vretende sadness in hom. ʼn Sadness soos wat hy dikwels voel as dit begin skemer word en hy nie by sy huis is nie. Dit is asof hy daardie tyd van die aand altyd die geblêr van die trop skaapooie, wat in ʼn stofwolk uit die veld aangehardloop kom, hoor. Hy onthou toe hy in standerd 4 was, was deel van die Afrikaanse vraestel om die geluide van diere in te vul. Soos: "Ooie blêr. Lammetjies ..." In die spasie het hy geskryf: "skreeudors". Lammetjies skreeudors. Die juffrou het sy naam gat gemaak omdat hy as boerseun nie geweet het lammetjies mê nie. Wat hom wel verwonder het daardie tyd van die aand, was hoe die ooie en hulle lammers bymekaar uitkom.

Miskien sny die sadness dieper as dit. Sy pa het later met karakoele begin boer. Die dagoudlammetjies is keelaf gesny. Hulle velletjies is op 'n raam oopgespalk. Kiaan was al op hoërskool toe dit gebeur het. Hy het net een gekyk gegee en nooit weer naby die slagting gekom nie. Hy was bang sy pa sien hy huil. Hy het ook nie meer saans skaapkraal toe gegaan nie. Die mammas, met hulle stywe uiers en spene wat punte staan, het aangehardloop gekom, rondgedwaal en geblêr. O, God, dit was vreeslik! Dit was vir hulle ook 'n nuwe ding.

Toe sy pa vir hom sakgeld wou gee voor hy moes teruggaan koshuis toe, het hy dit geweier. Dit was hel om vir vier weke sonder 'n sent te oorleef. Toe hy die volgende uitnaweek sien sy pa gaan nie vir hom sakgeld gee nie, het hy sy trots in sy sak gesteek en geld gevra. Hy het homself egter wysgemaak dat dit afkomstig is van die beeste wat sy pa verkoop. Hy het nie destyds geweet vir wie hy die kwaadste was nie - vir sy sukkelende pa wat dit nodig vind om lammers se kele af te sny vir sy gesin om te bestaan, of vir die glansvroue met hulle pelsjasse, of vir God wat sulke wreedheid toelaat nie.

Die volgende dag by die gym sit Kiaan in die sauna en dink aan die episode by die lughawe. Die sadness pendel sedert gister heen en weer tussen sy borskas en die krop van sy maag. Daar is niemand in die stoomkamer nie. Hy wens hy kan huil. Al is dit soos die slag met "Forty Days" toe hy dronkverdriet gehad het. As hy net kon huil, al sou net die gode weet waaroor.

Die hitte van die stoomkamer raak later te erg, maar hy het nie lus om nou al huis toe te gaan nie. Toe hy dit nie meer kon uithou nie, staan hy op en gaan stort om af te koel. Met die terugkom loer hy na die handdoekreling om te kyk of daar nie dalk intussen iemand opgedaag het nie. Maar dit is die nat ry voetspore tussen die sauna en die stort wat hom opval. Hy kyk terug en sien sy spore na en terug van die stort. Vir 'n oomblik besef hy hoe ontsettend alleen hy is.

Terug in die stoomkamer oorweldig die eensaamheid hom. Daar is 'n verskil tussen om alleen te wees en eensaam te wees, sê hulle. Hy hou van alleen wees. Hy kan alleen wees. Maar hy moet bieg: op hierdie oomblik het eensaamheid die veldslag gewen. Dat daar so 'n stuk godverlatenheid oor 'n afstand van net agt, nege treë kan lê, vind hy skrikwekkend.

Die hitte in die stoomkamer is besig om op te bou. Kiaan besef hy kan nie in dié emosionele toestand huis toe gaan nie. Hy staan op om weer te gaan stort in die hoop om homself onder beheer te kry. Met die uitgaan sien hy sy twee rye nat spore nog op die teëls lê. Van die stort af sien hy sy derde ry vars spore. Met die terugstap fokus hy op die spore voor hom, wetende dat die vierde ry spore die afwesigheid van God en mens nóg verder in hom inboor. Hy loer hoopvol na die handdoekrak, maar net sy eie handdoek hang verlate aan die silwer staalpen.

Kiaan besef hy moet nou 'n einde maak aan hierdie ding. Hier gaan nie iemand opdaag nie. En ás hier iemand opdaag? Wat dan? Wat gaan anders wees? Met die uitgaan by die sauna sien hy die voetpaadjie na die stort en terug. Dit is sy voetspore. Van die stoombad se deur af stap hy na die handdoekreling en met die terugkyk lyk dit asof 'n enkel ry spore rebels wegbreek van die ander. "Waar is God?" dink hy by homself toe hy na die enkelry spore kyk.

Nadat hy sy handdoek van die haak afgehaal het, moet hy noodgedwonge weer aansluit by sy voetpaadjie na die stort toe.

Toe hy later by die gymdeure uitstap, is dit skemer in die nuwerheidstad.

Dit is dag drie ná die lughawestorie. Die sadness het nou soos Junie-koue in Kiaan se lyf ingevries. Die aantrekkamer met die staallockers is doodstil. Hy trek traag uit. 'n Lusteloosheid pak hom beet en hy besluit om sommer net in die sauna te gaan sit. Môre is nog 'n dag. Hy het al met die inkomslag gesien daar hang nie klere of ʼn handdoek aan die handdoekreling nie. Op pad na die sauna hoop hy tog daar is dalk iemand binne.

Sy gedagtes is by gister se spore. Hy wonder oor sy spore van gister en die twee rye spore teen die sandduine wat een word. Is dit moontlik dat God hom verlaat het? Dra God mense net partykeer? Dra God net party mense? Kiaan besluit die plakkaat met alles daarop is absolute stront. 'n Méns het dit uitgedink. Toe begin die gesnorkel in homself in. Hy voel sleg oor die sy gedagtes oor die plakkaat. Die ou wat dit gemaak het, het definitief iets inspirerend ervaar, dink hy by homself. Dit is dalk hoe hy dit in sy oomblik van donkerte beleef het. So ... hoe kan hy wat Kiaan is, dit veroordeel? En so skubaduik hy in die donker kuile van sy siel in.

Hy besef nie iemand het die deur van die sauna intussen oopgemaak nie. Dit was soos by die lughawe toe sy dogter van agter aan sy skouer vat en hy uit ʼn ander wêreld moes terugkeer en besef het dat sy deur die skuifdeure gekom het sonder dat hy dit gesien het. Hy was besig om in die donkerste van donkerste waar die lig amper uitgedoof is te snorkel. Toe hy opkyk, staan ʼn jongman in sy laat twintigs in die deur met sy een hand effens oor sy geslag. Hy het hom al ʼn hele paar keer hier in die gym gesien. Hulle was al ʼn paar keer alleen in die sauna. Hy het eenkeer gesien dat die jongman na sy oefensessie alleen by ʼn tafeltjie in die restaurantdeel middagete eet.

Toe hy die trappe optree, sien Kiaan dat sy lat net so volmaak soos sy lyf is. ʼn Sadness gryp hom met albei hande en ruk sy harslag uit hom uit, soos die slagter op die plaas dit elke Saterdagoggend gedoen het as hy die skaap vir die week geslag het. Die slagman het altyd eers die borsbeen gekloof en dan die ribbes oopgespalk. Hier gesny en daar gesny. Die gordelpyp aan die bopunt gegryp en met een ruk triomfantlik die hart en longe losgeskeur. Kiaan se skouers begin onwillekeurig ruk. Die wasem is dig. Hy staan op en gaan stort. "It's not the moment to cry," sê hy vir homself.

"Ek moet 'n sielkundige gaan sien!" maal die refrein in sy kop terwyl hy stort. "Maar wat de donner vertel ek die man? Ek is al 16 jaar half uit die kas. Ek is getroud. Ek wíl getroud wees. Ek is by daardie worsteling verby. Ek kies vir die mens met wie ek dertig jaar van my aardse bestaan gedeel het. Daar kan nie in my leeftyd nog so 'n mens wees nie. Sy het vir my die voorreg en vreugde van kinders te hê, gegee. As ek moet oor kies, dan kies ek dieselfde, ten spyte van ... die gewaande verlies wat my elke dag jag. Ek ervaar op die oomblik vrede. 'n Vryheid wat ek nog nooit geken het nie! Wat de duiwel is met my aan die gang?" snorkel Kiaan voort al dieper in sy psigologiese trash in. Toe hy buite kom, hoor hy bo die stadsverkeer skape blêr en lammetjies wat skreeudors.

Kiaan drink 'n slaappil, want hy wil nie vannag op enige stadium snorkel, skubaduik, op die asgate van sy kinderjare rondploeter, begrafnis hou of enigiets doen wat "bo in die hemel of onder op die aarde" is nie. Paulus het dit van God se liefde gesê. Maar selfs dit - veral dit - wil hy nie vannag mee veg nie. Daar was al te veel Jabokke is sy lewe.

Gewoonte maak hom nogtans om twee-uur wakker. Hy en die jongman is met mekaar deurmekaar. Hy wonder wat aan die jongman ontstel hom so. Is dit sy mooi liggaam? Sy pragtige lat? Is dit sy aura? Wil hy met die ou seks hê? En as hy nou seks met hom kon hê, wat dan?" So snorkel hy tot dié tyd wanneer die ooie veld toe gaan en die lammers agterbly, aanbreek.

Dit is die vierde dag. Hy sien nie kans om gym toe te gaan nie. Hy sit lang tye en probeer om sin te maak van die oorweldigende sadness in hom. Nie een van die talle meditasietegnieke wat hy geleer het, wil juis werk nie. Die aand nege-uur sit hy by sy dogter en televisie kyk. Babel is op die gleuf. Hy kyk nooit gedurende die week televisie nie, maar sy dogter sê hy moet die fliek kyk. Sy staan op en gaan slaap.

Sy is skaars weg of die klein skaapwagtertjie help homself met sy hand waar hy skuil in ʼn rotsholte sodat sy broer hom nie kan sien nie. Die sadness dam in sy oë op. Toe Brad Pitt teen die einde van die film snikkend die gehoorbuis opdraai sodat sy dogtertjie nie kan hoor hoe huil hy nie, besluit Kiaan: tot hier toe en nie verder nie. Hy drink twee slaappille om seker te maak hy word nie die nag wakker nie. Die enkele minute voordat hy aan die slaap raak, gee hy sy gedagtes oor aan die jongman by die gym, wetende dat die pille hulle binne minute gaan skei. Hy weet nie wat om van die ding met die jongman te maak nie. Die slaap sal hom genadiglik wegneem, al is dit dan net tot môre.

Die volgende dag durf hy die gym weer aan. Hy gaan voormiddag, sodat hy alle moontlike kontak kan vermy. Die oefen- en saunasessie verloop sonder voorval. Dit is toe hy by die kleedkamer uitstap dat die jongman binnekom. Hy is spyt dat hy hom nou gaan misloop. Oorweeg dit om om te draai en te maak asof hy ook nou net hier aangekom het. Binne hom hoor hy die waarskuwende woorde bo die glydeure en iets eggo in hom: "Jy moet jou kop laat lees."

Die middag vyf minute voor vyf vlieg Kiaan uit sy stoel. Hy het die assistent wat die groente by Pick 'n Pay weeg, belowe om vir hom ʼn kombers te bring. Dié gaan vyfuur van diens af. Hy jaag. Parkeer. Storm die winkel binne.

By die weegskaal staan die jongman van die gym met piesangs om geweeg te word. Die assistent is nêrens nie. Kiaan draai in sy spore om en maak dat hy by die motor kom. Bang die man dink hy agtervolg hom! Hy ry baie stadig huis toe.

Hy oorweeg die kwessie van toeval. Eenkeer was hy ook op so ʼn trip waarvan hy oortuig was dat daar allerhande tekens was wat vir hom ʼn bevestiging was van ʼn besluit wat hy wou neem. ʼn Vriend van hom het hom toe gevra: "Hoeveel rooi motors het jy op pad hierheen gesien?" Hy kon natuurlik nie die vraag beantwoord nie. Toe sê die vriend: "As jy volgende keer kom, moet jy bietjie vir my sê hoeveel rooi motors jy langs die pad gesien het." Moral of the story: as jy iets wil sien, dan sien jy dit. Met dit in gedagte ban Kiaan die moontlikheid van enige misterie of beskikking ten opsigte van die jongman uit sy kop. Dit het egter nie die nag se worsteling makliker gemaak nie. Op 'n stadium wonder hy wat is die verskil tussen as iets epidemies is en wanneer iets pandemies is. Hy dink hy is besig om pandemies obsessief te raak.

Dit is Saterdag. Hy het die jongman ook al Saterdae in die gym gesien. Maar gewoonlik so om en by twaalfuur se kant. Hy oorweeg dit om teen daardie tyd te gaan, maar die stemmetjie in sy kop herinner hom daaraan dat hy nou amptelik obsessief is. Hy weier om dit te erken.

Voor skaap-huis-toe-kom-tyd ry hy gym toe. Hy hoop die ou is daar. Hy hoop die ou is nie daar nie. Hy is bly toe hy tussen die oefenapparate deur loer en hom nie gewaar nie. Op die trapmeul begin hy weer snorkel en hy besef hy is eintlik teleurgesteld dat die ou nie daar is nie. Toe hy later gaan sauna, is daar niemand nie. Hy wil dink aan die jongman en sy mooi lat, maar besluit om eerder te konsentreer op die sweetdruppels se sensasie wanneer dit teen sy rug af loop. Hy slaag selfs daarin om vir oomblikke van die jongman te vergeet. Wat hom bly tickle van die jongman vandat hy hom die eerste keer gesien het, was die strakheid van sy gesig. Hy het nog nooit geglimlag nie. Daar is ook nie sadness op sy gesig nie. As hy moet sê, dalk eerder woede.

Die wasem in die sauna is redelik dig. Die deur gaan oop. In die wasigheid sien Kiaan dit is die jongman, maar hy hou nie sy hand voor hom soos die vorige kere nie. Kiaan sit ongeveer op die kwartmerk van die boonste vlak. Die jongman gaan sit nie, soos hy gewoonlik doen, in die hoek teen die muur nie, maar op die driekwartmerk. Kiaan se kop hardloop met hom weg. Hy sien dinge. Dit kan nie toevallig wees nie. Daar is iets. Hy loer effens skuins na die jongman, maar dié sit met sy hande tussen sy bene. Hy is nie seker of die ou speel en of hy toehou nie. Dan gaan die deur oop. Iemand met groot vet swart boude kom plak hom tussen hulle op die halfpadmerk neer.

Kiaan voel die hitte raak te veel hom, maar hy probeer so lank as moontlik sit. Hy hoop die ou met die boude kry gou warm. Die jongman gee eerste in. As hy by die deur dwars draai, sien Kiaan opnuut hoe die jongeling met sy volmaakte geslag daar uitsien.

Met die toegaan van die deur was dit asof die sadness in hom ligter word. Asof die hitte in sy lyf vloeiend word. Hy het later opgestaan, en buite die saunadeur sien hy 'n enkel ry spore wat in die rigting van die stort loop. Hy stap op die spore na die storte toe. Die louwarm vallende water loop in tientalle straaltjies oor sy lyf. Dit is asof hy van elke druppel daarvan bewus word.

Hy ry met ʼn ompad huis toe. Die kaal bome vorm 'n tonnel en reserveer die sterk skemerson vir dié daar binne. Sontrale waarin stofduiweltjies dans, breek deur die takke. 'n Grenslose vryheid ontvou voor hom. Kiaan wórd die bome, die son en die stof. Daar is niks in en niks buite hom nie. Niks druk hom nie en niks trek hom nie - dit is net soos dit is. Alles versmelt tot een. Dit is nie 'n buiteliggaamlike ervaring nie: dit is nie 'n kyk van bo af ondertoe of 'n kyk boontoe nie. Dit is net dit.

Teen die tyd dat die skape en die lammers almal in die kraal is, ry hy by die groot elektroniese staalhekke van sy huis in. Hy parkeer. Staan vir ʼn oomblik in die tuin en kyk op na die hemelruim, waar enkele ligte reeds aangeskakel is.

"Is daar 'n tyd wat 'n mens nie gedra word nie?" wonder hy.

Al is dit soms deur ʼn naak engel.