Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Oom Engel, ons onthou


Fanus Rautenbach - 2008-09-23

Oom Engel Angelbrecht is nie meer met ons op hierdie aarde nie. Dis nou oom Angle Engelbrecht wat sy hele lewe daaraan gewy het om ons beter, suiwerder Afrikaans te laat praat. Hy het jou sommer terwyl jy praat en ’n anglisisme gebruik, in die rede geval en jou sommer so woordeliks en mondelings geredigeer.

“Nou vat jy ’n kans!”
Oom Engel: "Jy bedoel seker: waag ’n kans?"

“Goed, dan bel ek oom Engel op!”
Oom Engel: "Jy bedoel seker jy sal skakel?”

“Nee, ek meen nou …"
Oom Engel: “Jy bedoel seker jy bedoel nou?”

En as jy die betekenis, of oorsprong, van ’n woord soek, vra vir oom Engel!
 
Op ’n keer praat ek van sambal en oom Angle sê: "Jy bedoel seker ’n dalkie?”

Nee, oom Engel, ek bedoel DALK(N)IE ’n DALKIE nie!”

Die media beweer dat hy 74 jaar oud geword het, maar ek weet nie so mooi nie. Destyds, in die vyftigerjare, toe ek die eerste keer vir Afrikaanse Pers in Johannesburg gaan werk het, was mnr Engelbrecht alreeds ("Jy bedoel seker nie alreeds nie, maar net reeds?” "Ja, reeds – Taaladviseur …" "Jy bedoel seker Taalraadgewer …?") van die APB.

Hy was getroud met Aletta Gericke, wat menige omroeper en toneelspeler touwys gemaak het en gehelp het om Afrikaans op sy suiwerste te praat. Later het sy ’n dramaskool  begin. Nóg later het Aletta Gericke, Wena Naudé en Truida Louw ’n rolprentmaatskappy gestig en dit Drie Vroue genoem. Die eerste rolprent wat hulle gemaak het, was Die Donkerman, met Cor Nortjé in die hoofrol.

In die tyd van Drie Vroue was daar ook ’n vierde vrou, Elizabeth Albrechts, die eerste Dankietannie wat vir ons manne  aan die grens lekkernye gestuur het.  Kleinjan skryf toe vir sy ma, in een van sy Liewe Ma-boeke: "Liewe Ma, met my gaan dit goed, hoe gaan dit met Ma? Die Dankietannies (die sersant sê ons moenie so sê nie, ons moet praat van Die Suiderkruisfonds) wat die geld insamel en dan vir ons iets lekkers stuur, soos kalkoene en toffies, maar al die kalkoene was dood – Sersant sê kalkoene eet seker nie toffies nie.” ? nie ’n volsin nie

Elizabeth Albrechts het ook die Deftige Dameskring gestig en was baie jare lank die voorsitster. Nee, oom Engel, Elizabeth was nooit ’n manlike Voorsitter nie! Voorsitster! Sy was getroud met Albert Wessels, die sakeman wat daarin geslaag het om die regering oor te haal om die Japanners wit te verklaar sodat hy al daai Toyotas kon invoer.

Met eerbewys: oom Engel is beslis in die hemel, want wie sal die Engelse reghelp daar bo? (Nie Engelse nie, Engele.)

Liefde en blydskap aan almal wat hierdie taalbul geken het.