Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Fleur du Cap stel eerste witwyn met skroefdop bekend


Johann H Crafford - 2008-09-23

Fleur du Cap het pas sy eerste witwyn met ‘n nuttige skroefdop bekend gestel - die 2008-oesjaar van sy veelbekroonde Unfiltered Sauvignon Blanc. Al die 2008-witwyne in Fleur du Cap se gewilde Unfiltered-reeks sal met skroefdoppe pleks van kurk gebottel word.

Fleur du Cap Unfiltered Sauvignon Blanc is bekend vir sy besonderse gehalte, en dié wyne palm jaar na jaar toonaangewende plaaslike sowel as internasionale toekennings in. Die 2008-oesjaar behoort geen uitsondering te wees nie.

Die druiwe is uiters sorgvuldig uitgesoek van terroir-spesifieke wingerde in Lutzville, Darling, Stellenbosch, Kaap Agulhas en Elgin om met die uiteenlopende liggings soveel moontlik variëteitskarakter te verskaf en ‘n vars maar volronde sauvignon blanc te verseker. In die kelder is natuurlike, tradisionele praktyke ingespan, in plaas daarvan om die wyn te filtreer, om elke sprankie heerlikheid eie aan dié sauvignon blanc te behou.

Fleur du Cap Unfiltered Sauvignon Blanc 2008 is propvol aromas van appelliefie en vyeblaar, met aspersie- en kruie-nuanses, asook ‘n titseltjie delikate tropiese vrugtegeure. Die wyn se weelderige gevoel in die mond verleen meer diepte aan die reeds gekonsentreerde vrugtegeure.

Fleur du Cap Unfiltered Sauvignon Blanc 2008 is ‘n heerlike wyn om in die somer op sy eie te geniet, maar kom ook tot sy volle reg as jy dit saam met Namibiese oesters, seekos, romerige soppe en wildsvleis bedien. Dié aanloklike wyn is teen ongeveer R75 per bottel beskikbaar.