Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

2000 - Straat-op


Hans Walvis - 2008-09-22

Sesde Straat is 'n slagaar van Walvisbaai. As ek dít geweet het, sou ek dalk in 'n ander straat huis gesoek het. Die owerhede het al die ander "dorp toe"-strate so bemors met stoptekens, verkeersligte, voetoorgange, drankwinkels, skole, kerke, vulstasies, rondloophonde en besighede dat al wat leef Sesde Straat vier keer per dag gebruik: werk toe, huis toe vir ete, werk toe en weer huis toe.

Van waar Skuldbult se mense uit Vyfde Weg by Sesde Straat indraai tot doer onder by die viswinkel se stopteken, is dit een lieflike lang, oop straat vir die beste deel van twee kilometer.

Halfagt kom Blaauw's Transport se soutlorries verby op pad soutpanne toe. Heeldag sal daardie reuse tippers kreunend en krakend heen en weer snork tussen die soutpanne en die hawe. O ja, Wesbank se groot hyskrane en ander masjiene kom ook soms verby. Mooi om na te kyk.

Maar dis in die nagstilte dat mens amper die karakter van elke voertuig kan "lees" - dalk meer die eienaar se karakter. Ek probeer my agter die stuur van sommige van die vuurwaens indink as die eienaar daardie neus by Sesde Straat indraai. En die Sesde Straat Drag Strip lê oop voor hom. En die spietkops slaap almal. Tweede rat. Wen hom op. As hy derde rat gooi sonder om sy voet te lig, is hy naastenby regoor my huis. BMW's se masjiene suis net teen (skat ek) rofweg die 6 000 plus nog ietsie revs wat die baas uit hom haal. Ander motors maak minder beskaafde geluide. Veral interessant is die klankresultaat as die perd sy derde rat mis. As enigiemand sy masjien gaan opblaas, sal dit in hierdie eerste twee blokke van Sesde Straat wees.

Dan is daar die span wat nou nie sulke warm wiele het nie en probeer opmaak daarvoor met die klankstelsels wat hulle inbou. Ek skat as hy die onkoste van die klankstelsel in ag sou neem, kon hy dalk iets beters as 'n Tazz aangeskaf het. Húlle kom weer stadig die straat af en blaas letterlik die blare van bome af. Woep-a-woep-awoep-awoep-woep-woep. Regtig. Ek sweer as mens daardie karretjies versigtig sou opmeet, boep hulle seker so 'n bietjie buitentoe as gevolg van die klank wat binne vasgekeer word.

Partykeer het ons darem 'n bietjie vermaak ook as die verkeersdepartement se gewetes hulle te erg opkeil en hulle dan hier agter my tuinmuurtjie wegkruip en hulle driepoot opstel. Daarna balanseer die Raad se begroting weer vir ses maande. Mens kan 'n foto-uitstalling van al die beteuterde gesigte organiseer.

En partykeer is daar regtig sports. Soos Vrydagnag. Vrydag het ek verlof geneem om voor te berei vir die basaar se dinge Saterdag en die aand vroeg ingekruip. Voor die mossies Saterdag sou hoes, moes ek die pannekoekdeeg by die koelkamers gaan optel.

Dit was tydens die stadige ingly in 'n bewustelose toestand dat ek hierdie voertuig hoor aankom het. Met 'n eienaardige stadige snorkgeluid wat sy deurgebrande uitlaatpyp maak - amper soos 'n bulhond wat hom te warm gehardloop het - kom hy van die strandmeer se kant af. 'n Paar honde blaf vir hom. En toe's hy regoor my huis.

Wat toe gebeur het, het amper geklink soos 'n radiomodelvliegtuig buite beheer op pad grond toe ... Enjintoere klim, 'n verskriklike slag, en dan ... stilte. Hier's 'n helse sê ek vir annerhelfte en ek pluk pantoffels aan en spring by die voordeur uit. Net so. Met sy voorwieletjies op die sypaadjie van die buurman op die hoek, staan 'n ouerige Jeep (op sy wiele) vir my met sy twee nou liggies en kyk. Twee ouens langs die Jeep. Mooi onder die straatlamp.

"Het julle seergekry?" skree ek vir hulle. "Nee! Onshh ish ô, ô, ô, ôraait!" skree dit vir my terug. Soos torre, so dronk. Maar hulle haas om weg te kom was amper snaaks. En soos sleg gesinkroniseerde Krismisliggies gaan die ligte by die omliggende huise aan en die inwoners staan op die stoepe en beloer die affêre. Wat hierdie twee manne natuurlik tot groter haas aanspoor.

Spring hulle terug in die Jeep en probeer hom aan die gang kry. Met die vierde probeerslag vat die Jeep en daar gaat hulle terug in die rigting waarvandaan hulle gekom het. Die Jeep se linkerdeur hang eenkant toe soos 'n tarentaal met 'n af vlerk. Duidelik moes hulle gerol het, want die ou tuisgeboude kappie is windskeef aan die bokant. Skuins regs oor die straat en amper in 'n geparkeerde motor vas. Ruk die Jeep links en kom hardloop half teen die ander sypaadjie op en toe kry die Jeep blykbaar vanself sy koers huis toe. Alles binne twee minute oor.

Vat toe my flits en stap uit na die Jeep se rolplek toe. Hier lê die voorruit redelik erg gekreukel en die lisensieskyfie sit nog daarop. Tel hom op en sit hom eenkant neer. Elke rooi en geel lig van die Jeep se glasstukkies lê daar op die pad. En heelwat sand. En 'n klompie papiere en 'n koerant. Twee papiere is mooi netjies gevou. Tel op en kyk. Hulle visvanglisensies! Name, adresse, telefoonnommers. Alles! Vat die lisensies en die voorruit en bêre dit in my kantoor en gaan slaap.

Saterdag, nog donker, met die Land Rover af na die koelkamers toe om die deeg te gaan optel. Ry spesiaal wyd om die Jeep se rolkol om die glas te mis, maar ek hoor tog hoe die regteragterwiel iets raaktrap. By die koelkamers na die wiel geloer, niks snaaks in die donker gesien nie, die deeg gelaai, huis toe om die ou beste op te laai en toe weg basaartent toe waar ons heeldag besig was.

'n Entjie weg met die basaar kom vertel iemand my die Land Rover staan hand-innie-sy. Regteragterwiel pap. Dis vloeksake, want sonder 'n bumper jack is dit nie speletjies om daardie 10-en-'n-halfduim-Desert Duellers om te ruil nie. Sit daar 'n stuk bloudraad in die band. Mooi gebuig om binne-in 'n voertuig diens te doen as glashouer. Duidelik ons Jeep-drinkebroer se eiendom.

Tuis, die middag, eers gewas en opgeruim en planne bedink om so 'n bietjie met hierdie ouens te woer-woer. Kom toe met die eerste bel by die Jeep se eienaar uit en hou my heel geheimsinnig. Aan die ander kant van die draad het dit nogal 'n rukkie geneem voordat die man erken het sy Jeep gaan nou deur vir 'n convertible. Toe vertel ek hom van sy voorruit en lisensieskyfie. En van hulle vislisensies. En hoe die polisie kwansuis op soek is na die mense wat die straat so met glas bemors het. En hoe ek die evidence in veilige bewaring het en hulle dit kan terugkry sodra hulle die 35 blare neersit wat ek moes betaal vir my wiel se regmaak. Hulle was 'n halfuur later hier ... Nog goed kopseer van die vorige aand se dinge.

O ja - hy was bly om sy glashouer terug te kry.

Hans Walvis