Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

1945 - Spoke


Hans Walvis - 2008-09-22

Net na die oorlogsjare (1945) was trekboere 'n algemene gesig in die Noorde. 'n Trekboer in moderne terme was 'n wannabee boer. Hy't 'n paar besies iewers bymekaargekrap en so van plaas tot plaas getrek, weiding gebedel en gekry ook, want niemand het genoeg beeste gehad om 'n 6 000-hektaarplaas vol te maak nie. Die trekboer het hom normaalweg gunter weg by 'n veepos staangemaak en dan aan sy vee die voorbeeld gestel oor wat aanteel beteken.

Sy versameling diere was bees, donkies, miskien 'n perd en muil hier en daar, bokke, hoenders en die onmisbare hondetrop wat hulle baas se aanteelprogram heelhartig ondersteun het. Sy vervoergoedjies ossewaens, tentwaens en donkiewaens vir die huisvesting. En 'n perde- of donkiekar vir wanneer hy haastig was.

So 'n ou was oubaas Meyer. Hy't by oom Piet op Ogies kom staan - Grootfonteindistrik. Winter 1946. Baie kinders. Agt honde. Spokekenner en sielsbesweerder.

Oom Piet was wewenaar en ek was agt toe ek by hom gaan kuier het. Die allenigheid moes seker aan oom Piet gevreet het, want ons het minstens drie aande in die week by die Meyers op die veepos gaan kuier. Na die vleis en pap (let wel, ons eet vleis en pap, nie pap en vleis nie) is dit stoei vir 'n plekkie om die vuur met die ander kinders en die honde. Die oumense het riempiestoeltjies gehad en as ons sag wou sit, het ons gras onder die bas ingedruk. Die meisies het geweet hoe om ordentlik te sit, maar ons met die kortbroekies het die volle geweld van die vuur op sagte binnebene (lees "boude") gevoel. Die vuur is in 'n viergellingdrommetjie gemaak - gate in die wande gekap dat hy kan trek - wat sommer as kombuis diens gedoen het met die driebeenpot bo-oor gehang.

Eers die eerste gemeensamighede van watter peste sy bees die dag getref het of watter teef vandag kleintjies gekry het en of oom Piet tog asseblief môre of so as hy weer kom 'n bietjie ou olie kan saambring vir die brandsiek onder die donkies en 'n bietjie ghries vir die wawiele. Intussen raak dit kouer buite en niemand kan regtig 'n kompromis vind oor hoe ver jy van die vuur af moet sit nie. Agter vergaan jou rug van die koue, onder is jou boude doodgesit en van voor af kook die vuur mens gaar.

Die honde het dieselfde probeem gehad en het kort-kort tussen ons kinders ingeskuif of 'n ander hond laer af in die hiërargie uit sy lêplek langs die vuur geknor. Die "hoofhond" - die Meyerweergawe van ou Boel, met sulke flaplippe - het altyd langs die oukêrel gelê en was sommer vroegaand in hondedroomland.

En dan neem oubaas Meyer se spoke oor. Ek het nooit geweet daar's so baie soorte spoke nie. Die aand se ernstige gesels begin gewoonlik by die vriendelike spoke. Dié wat kom waarsku het teen komende onheile. Ook dié wat hom na sy troumeisie toe gebring het.

Dan was daar die spoke wat glo nie gelukkig was oor iets nie en of hy dalk kon help om hulle probleme op te los voor hulle finaal tot ruste kom. Daar was die spoke wat boodskappe wou aflewer. Dinge wat hulle vergeet het om te sê voor hulle ontydige vertrek uit die ondermaanse.

Die volgende kategorie spook was dié wat hom van fabelagtige rykdomme kom vertel het. Alles iewers begrawe of in grotte weggesteek. Maar dié spoke het altyd gemompel en wou nie mooi sê waar nie. Daar was ook die treurige meisiespoke wat oor iets gehuil het. Gelukkig kon hy hulle almal tevrede en getroos na hulle ewige rusplekke lei.

En laataand het die kwaaier tipe spoke kom kuier. Soos dié wat aan jou wil vat en dan brandmerke los waar hulle aan jou geraak het. Daar het ek gehoor as 'n spook jou wil groet, moet jy eers 'n sakdoek oor jou hand bind voor jy sê "aangename kennis". Maar hierdie spoke is nie regtig gevaarlik nie. Dis ook hulle wat stoele rondstoot, portrette van die muur laat afval, af en toe 'n koppie laat val (dis hoekom hy wat Meyer is, nét blikgoed gebruik) en kettings ratel. Net vir 'n bietjie sports, want waar hulle vandaan kom, is vermaak glo nie volop nie.

Mens moet eers begin ligloop as 'n spook by die eerste kennismaking wil baklei. Sommige spoke klap glo sonder om jou kans te gee om jou sakdoek voor te hou. Maar as jy weet hoe om met hulle te praat, kalmeer hulle glo en wil hulle dan hê jy moet vir iemand gaan vertel van iets soos "ek wag hier vir jou". Party gryp mens glo aan die kraag en ruk jou so 'n bietjie rond voor hulle hul boodskappe aflewer. By ander spoke kan mens die swael en steenkool aan hulle ruik. Mens kan nie glo wat dié spoke sê nie en hy sal ons aanraai om nooit met so 'n spook te praat sonder dat 'n ekspert soos hy jou bystaan nie.

Tot hierdie een aand. Oom Piet het hom kom waarsku daar's 'n luiperd iewers op die plaas. Die jagspinnekop en skerpioen wat tussen ons deurgekom het vuur toe, het ook nie juis bygedra tot die rustigheid nie. Inteendeel. Dis voorbodes. Nog een van sy spesialisgebiede. Die jagspinnekop het iets beteken en so kort daarna opgevolg deur die skerpioen, het glo net die eerste een se betekenis verswaar. Ons kon glo bly wees die spinnekop was nie 'n bojaanspinnekop nie, want dan was ons regtig in die sop. Of ons geweet het 'n bojaanspinnekop kan sooooo ver spring? en hy wys na die wa toe wat 20 meter daarvandaan staan.

Met al die regte voorbodes teenwoordig en 'n beesvang-luiperd op die plaas, was daar dié aand net een inleidende spook wat glo vryerig was en hom wou soen voordat die klapperige soort kom kuier het. Seker agt na mekaar en elkeen wou gevaarliker wees as die vorige. Hy't glo later nie meer sakdoeke oorgehad nie. Toe kom hiérdie spook. Ons kon aanvoel dís die aand se fyn draai: hierdie spook der spoke. Oë wat gloei. Sterk swaelreuk en 'n hittegloed wat mens skroei. En die spook kom al nader sonder dat hy iets sê. Nader en nader.

Die Meyer Boel moes seker 'n hondenagmerrie gehad het van 'n vlakvark wat hom met die skerp kant raakslaan, want in sy slaap maak hy 'n paar slagysterklappe met die bek terwyl hy spoegstikkend lug tussen sy flaplippe probeer inroggel. Alles vlak onder oubaas Meyer en die fyn spookdraai op hande. Dinge het 'n bietjie te vinnig gebeur om duidelik te onthou. Iemand het geskree: "Ag Jirretjie, hy het my!" en ou Meyer het die blik vuur onderstebo gespring. Hoe die Meyers almal so vinnig in die tentwa kon kom, gaan vandag nog my verstand te bowe. Daardie wa het hoog gestaan en dit was nie sommer net vir inklim nie. Net ek en oom Piet oor by die vuur met ses honde in 'n helse fight gewikkel van hulle eie groot skrik.

Dis oor die oumense ons so bang gepraat het dat party van my familie vandag nog met 'n flits onder beddens lig voor hulle saans inkruip ...

Hans Walvis