Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Tweespoor-kronkelpad


Hannes Steyn - 2008-09-22

Kurt is moeg. Sy lyf is seer. Sy gemoed veel erger. Veral vanmiddag. Vir 23 dae aaneenlopende dae ry hy nou al die eentonige 200 kilo's site toe en terug.

Die werkgedeelte kan nog gaan. Dit is ’n selfoonperseel wat hy bo-op Galgeberg buite McGregor bou.

Dis nie soseer die fisieke aanslag op sy 43-jarige lyf wat pla nie. Selfs die 15 km gruispad die berg uit is draagbaar. Dis die terug-gedeelte wat lol.

Sedert sy egskeiding drie jaar gelede het sy Bellville-huis niks anders as ‘n tronksel geword nie. Al wat hy werklik waardeer, is die stort as hy saans moeg binnestrompel. En dan natuurlik die TV remote wat knaend tussen die kanale rondploeter. Gewoonlik kort voor middernag smyt hy dan die take-away wrappings en leë bierbottels in die asblik en durf sy onvriendelike dubbelbed met die enkele plat-gelêde kussing aan. Vroegoggend klop die alarm ongenadiglik teen sy halfseer kop en dan is dit maar weer so.

Vandag is sy roetine verbreek en dit pla hom. Waar hy gewoonlik probeer seker maak dat hy voor vyf in sy Nissan-bakkie spring, is dit nou al skemer en hy sukkel nog steeds met die heining. Hy swets as hy na sy polshorlosie loer. Amper sewe-uur! Sy oë is nie meer van die beste nie en hy verag nagbestuur. 

“Temba, pak maar op. Netnou kry iemand seer in die donkerte en ek het nie die noodhulpkissie hier nie,” gee hy laaste instruksies en skuif agter die wiel in.

“Wil Meneer nie maar hier in die tent oorslaap nie? Daar is ’n spaar stretcher," bied sy voorman beleefd aan, maar hy wys dit van die hand.

“Nee wat ou Temba, dankie, maar ek wil … julle nie verontrief nie. Koebaai.” Dan trek hy so vinnig weg dat die gruis spat. Hy lig sy arm in ’n halfhartige verskoning en toets sy ligte in die ry.

Die pad bergaf is steil, kronkelend en gevaarlik. In die halfdonker besluit hy om dit maar stadig te vat.

Hy maak sommetjies in sy kop en kom tot die ongelukkige slotsom dat ’n goedkoop B&B sy voorland sal moet wees. Hy sluk swaar aan die bitter smaak in sy mond, leun vooroor en glip Simon en Garfunkel se Greatest Hits in die gleuf. Dan versit hy hom totdat die meeste lyfpyne draagbaar is en trek sy oë op skrefies.

"And here’s to you Mrs Robinson, Jesus loves you more than you will know," dwing die lirieke sy gedagtes na sy eie Mrs Robinson van lank-lank gelee. Sy gemoed sak tot onder sy seer sitvlak.

“O Grundling, jou aap. Dat jy tog so kon opgedonner het!” betig hy homself en druk die stuurwiel dat sy kneukels wit sit.

Hy het haar halfpad deur standerd nege ontmoet. Lucy Robinson. Haar pa het, kort nadat hy sy 20 jaar lange vrou vir ‘n veel jonger weergawe verruil het, kom nesskop in Brixton. Stiefma het aangedring op ‘n Afrikaanse skool en dis hoe Lucy toe by Florida Hoër opgeëindig het.

Vir die ander ouens in die klas was sy nie eintlik iets spesiaal toe sy halfpad deur die wiskundeklas ingelei en voorgestel word nie. Jan Troskie het agter in die klas iets soos "… Soutie-chick met die lemmetjieslippe" gemompel. Tot groot vermaak van sy trawante rondom hom natuurlik. Die meeste van die meisies het skaars opgekyk. Kurt was seker dat sy gaan sukkel om in hierdie kliek aanvaar te word. Dit het hom een honderd persent gepas. "Sy is myne, finish en klaar," het hy daar en dan besluit. Hy het seker gemaak dat hy die onnie se oog vang en het dit betekenisvol gekoppel na die oop lessenaar skuins voor hom. Dit het gewerk!

Sy was klein en skraal. Standerd ses-sewe-portuur. Toe sy half buk en die dik tas oor haar lessenaar swaai, het hul oë mekaar vir ‘n breukdeel van ’n sekonde ontmoet. Iemand se bekende gesegde, "There is no such thing as coincidence", het deur sy kop geflits en hy het daar en dan geglo dat daai iemand verkeerd aangehaal is.

Haar gesig was skraal en ietwat blekerig. Hy het gemerk dat haar skerppuntneusie ‘n perfekte 90 grade-hoek met haar dun lippe gevorm het. Dit was die mooiste weergawe van ‘n reghoek wat hy ooit gesien het en hy was mal daaroor. Haar oë was groot, ietwat ingesonke en … het versag toe dit syne vang.

Was dit sy verbeelding? Seker nie, want toe die klok lui, het sy opgestaan en half afwagtend in sy rigting gedraai.

"Ek is Kurt. Hallo daar,” het hy in sy grofste moontlike stem gesê en sy hand uitgesteek. Hy was skoon verbaas oor homself, want gewoonlik vermy hy kontak met meisies sover as moontlik. Sy ma het hom altyd getroos en belowe dat die puisies maar net tydelik was en dat dit sou oorgaan.

Sy het ’n oomblik na sy hand gestaar, hom selfversekerd in die oë gekyk en sag gefluister: "Hallo Kurt … Koert-koert ... Duifie … Jy ken my naam. Sal jy my asseblief met my tas help tot by die volgende klas? Jy is nogal, nogals … oukei.”

"Nogal oukei!" Voorwaar die beste kompliment wat ‘n meisie hom nog ooit toegevoeg het.

 

“Dankie … Soutie. Natuurlik. Na skool ook. As dit goed … oukei is met jou?”

Sy het, sonder om te antwoord, met haar oë vir hom geglimlag. Hy het half gehoop dat haar huis sommer baaaie ver van die skool sou wees.

Van dag een af was die twee onafskeidbaar. Haar ouers, veral Stiefma, was redelik ingenome met die verhouding.

Sy ma ook. “Pragtige mensie," het sy ‘n week of wat later gekomplimenteer. “Maar ek sny jou dinges uit as jy met haar foeter. Ek sien glads hoe hang en drup julle … soos wasgoed ... oor die tuinhekkie elke middag. Dis nie gesond nie.”

“Haai Ma, so oud en Ma loer ons nog af?” het hy gespot. "Moenie worry nie Mams, Soutie is oukei. Sy sal dit nooit toelaat nie. Ek ook nie.”

En, snaaks genoeg, hy het dit bedoel. Anders as die ander klas-ouens (met Troskie aan die voorpunt) se beheptheid met sexy lywe, veral dié op die Scope-binneblad, het Kurt net een in sy visier gehad. Sy was glads te spesiaal vir hom om haar met iemand anders te vergelyk. Amper soos iets wat uiters breekbaar is en in ‘n showcase hoort.

"God bless you please, Mrs Robinson," hoor Kurt en ryg sy eie stukkie hardop in: "… surely just as much as Kurt loves you. Hey hey hey."

 

Hy onthou dat hulle daardie eerste naweek die fliek The Graduate, waarin hierdie die temalied was, gaan kyk het. Hoe hulle dae daarna die plot bespreek en uitmekaar getrek het.

Alhoewel die tweetjies spontaan en ywerig gevry het, het hul albei, sonder om mekaar te vermaan, geweet waar om die "petting"-streep te trek.

En dit het goed gewerk. Die hele hoërskool deur en driekwart die Goudstad Onderwyskollege in.

"… every way you look at it you lose." By die aanhoor van dié woorde wel trane vrylik in sy oë op. Hy voel lus en bal sy vuis en slaan homself tot die bloed loop. Of pluk die stuurwiel en stort die steilte af. Maar hy weet dat hy nie kan nie. Dat hy ’n loser was. En nou nog is. Hy wens hy kan die klok so twintig jaar of wat terugdraai.

Lucy het hom een aand laterig by die Gokkie Koshuis gebel. “Duifie my skat, ek het slegte nuus. Ek moet weggaan. Engeland toe."

"O bliksem. Is jy ernstig? Vir hoe lank? Hoekom?” Hy was erg bekommerd.

“Relax, relax,” skakel sy oor na Engels soos sy gewoonlik doen as sy effe stress. “Only for two or three weeks. My gran died and we have to go and sort her things out.”

 

“Dank Vader … ag ek meen jammer hoor. Oor jou ouma. Maar wat van jou kunstaak? En die eksamens? En ek?”

Maar sy moes gaan. Hulle het vroeg die oggend pad gevat Durban toe en hy het hulle by die lughawe gegroet. Sy het met haar mooi groot oë na hom gestaar. Dit was die eerste keer dat hulle so lank van mekaar weg sal wees. “Kyk mooi na jouself. En net na jouself, nie na ander meisies nie!" het sy geskerts en toe The Graduate aangehaal. “Hide it in a hiding place where no one ever goes”, bedoelende sy hart natuurlik.

Die dae het verbygegaan. Die aanvanklike twee weke het vyf geword. Die reëlings, veral met betrekking tot die boedel, wou blykbaar maar net nie end se kant toe trek nie.

En toe kom die Onderwyskollege se kwartaalsluiting. Die koshuisinwoners het ernstig aan die gebruiklike opskop beplan. Die ouens het by Kurt gekarring, want die meisie-seun-verhouding was amper drie teen een. Maar Kurt het kleinlyfie gehou en wou die uitspattigheid so ver moontlik vermy.

Hy kon homself maar net nie daar voorstel sonder sy Soutie nie.

Twee dae voor die affêre het hy dit oor die peperduur foonoproep met haar bespreek.

“Ag Kurt, gaan, en geniet dit. Ek trust jou mos,” het sy haar goedkeuring gegee, maar hy was lusteloos. "Kurt"? Hoekom nie "Duifie", of ten minste "Koert-Koert", soos sy hom soms geterg het nie?

Hy het hom toe maar in sy kamer toegesluit, die bottel rooi wyn wat hy vir haar tuiskoms gekoop het, uitgehaal en Frank Yerby se Jarred’s Jade nadergetrek. Die geraas in die gange en die betekenisvolle toegeklappery van kamerdeure het hom nie eintlik gepla nie. Hy was half lomerig toe daar ’n sagte klop aan sy deur kom …

Die daaropvolgende Donderdag was hy besig met ’n taak toe een van die ouens inloer.

"Grundling, daar’s foon vir jou. By die tiekieboks langs die eetsaal."

“Duifie, ek wou jou verras. Kom haal my," het sy opgewonde aangedring. "Ek is op Jan Smuts.”

"Huh? Hoe so? Waar’s jou Ma?" Hy was bekommerd. Nie reg vir dit nie. Sy gewete het hom opgevreet en hy was nie seker hoe hy uit die gemors gaan kom nie.

“Nog in Engeland. Smaak my sy gaan daar bly. Sy het een van haar eeu oue first loves raakgeloop. Albei het die skoot hoog deur. Maar kom, dan vertel ek jou alles. Ek ... ek het jou verskriklik gemis en kan nie wag om … om jou op te vreet nie."

Op pad lughawe toe het hy gewik en geweeg. Moet hy haar vertel? Hoe kon hy toelaat dat dit gebeur het? En dit nogal met Brenda! Haar beste vriendin?

Maar hy het nie. Kon nie. Toe sy in sy arms storm en haar gesig na hom opdraai, het hy half gehuiwer en haar minder hartsogtelik as wat sy gewoond was, gesoen.

Sy het dit aangevoel, want haar skraal lyfie het vraend styfgetrek. Haar oë het vir ’n oomblik donker geraak, maar toe het die vreugde die oorhand gekry en het sy haarself snoesig teen hom opgewurm.

Hy was half verlig toe sy skimp dat sy moeg is van die vlug en vroeg wil inkruip en het kop onderstebo na sy kamer gedrentel.

Haar lessenaar was leeg die volgende oggend.

“Waar is Soutie?" wou hy van Brenda weet. “Sy het gisteraand teruggekom."

Sy het hom verwese aangekyk, haar gesig in haar hande verberg en snikkend die klaskamer  uitgehardloop.

Soutie het nie daardie dag klas toe gekom nie. Ook nie die volgende dag nie. Nooit weer nie.

Haar kamer was leeg en toe hy by die kantoor gaan navraag doen, het mevrou Koen hom half skreeuend aangeval. “So asof jy nie weet nie, jou … jou boef! Julle mans is almal dieselfde. Julle verdomde verstand sit mos in jul broeke. So ’n pragtige, uitnemende student. Jy behoort jou te skaam om haar hartjie so te breek."

"Dan weet sy! O Here, sy weet!" Hy hoef nie te raai oor hoe die nuus by haar uitgekom het nie. Die meeste van die meisies was maar altyd nydig teenoor Soutie Robinson.

Sy het soos ’n speld verdwyn. Al wat hy kon vasstel, was dat sy die aand in die toilet was. ’n Paar van die voorbokmeisies het die badkamer ingekom, alte bewus van haar teenwoordigheid agter die toe deur. Hulle het hard en vermakerig begin gesels oor die naweek se dinge en natuurlik gefokus op die Kurt-Brenda-episode.

"O, hoe vernederend moes dit nie vir my arme meisie gewees het nie," het Kurt gedink toe hy dit hoor.

Ook dat sy laatnag gaan geld leen het by mevrou Koen en met ’n taxi daar weg is.

Hy was byna van sy kop af, want sy soekery het niks opgelewer nie. Die opsigter by die woonstel in Durban kon slegs help met ’n adres van haar ma in Londen.

Hy het een, twee, drie briewe soontoe gestuur, maar niks het teruggekom nie. Haar pa en stiefma het sedertdien uit Brixton weggetrek en nog ’n pad het doodgeloop. Hy was te skaam om Brenda uit te vra en dit was hoogs onwaarskynlik dat daardie vriendskap staande sou gebly het.

Ten einde laaste gooi hy toe sy studies op en kry ’n werk by ’n groot handelsbank. In ’n ander voorstad. Binne ses maande was hy getroud met een van die klerke. Nogal die bestuurder se dogter.

Twintig jaar en twee tienerkinders later het die skeisaak gekom. Alhoewel dit op die oog af gesond en gelukkig gelyk het, was die huwelik maar deurentyd krapperig. Sy vrou wou tog maar net ’n man gehad het wat vir haar liefde, sekuriteit en kommunikasie gee. Nie noodwendig in daardie volgorde nie, want sy het stilweg geweet van die Soutie-spook wat iewers in Kurt se kop vasgesteek sit.

Hy het uit sy pad gegaan om te probeer vergoed. Om te vergeet. Maar kon nie. Hy het selfs later die bankwese gelos en die konstruksieveld betree. Sodoende kon hy genadiglik vir lang tye van die huis weg wees om sy vrou se verwytende blik te ontduik.

"And here’s to you Mrs Robinson, heaven holds a place for those who pray,"herinner die duo hom net toe die kronkelpad in teer verander. Dis al pikdonker.

Hy sluk die stof en trane weg en draai sy ruit af om beter te kan sien.

Aan B&B's en gastehuise ontbreek McGregor geensins nie, maar hy is alte bewus van die buitensporige tariewe wat hier hoogty vier. Hy besluit om eerder aan die buitewyke te probeer vir beter pryse en draai in ’n systraat af. Sy oog vang ’n bordjie aan ’n lamppaal aan die einde van die straat. Die gloeilampie is dood, maar hy kan darem die "… B&B" in die donker uitmaak.

Toe hy die klokkie lui, walm die heerlike reuk van boerekos deur die kosyn en hy onthou met weerwil dat hy vanoggend op Worcester laas ’n pasteitjie geëet het. Hy hoor voetstappe, en ’n stem, wat half bekend klink verseker hom dat hy net ’n minuut moet wag. Dan flits die stoeplig aan en hy draai outomaties na die bordjie.

"Soutie’s B&B. Where your weary journey ends," lees hy.