Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Etienne Leroux en die jaagduiwel


Rudie van Rensburg - 2008-09-22

Dis Sondagmiddag. Mense is veronderstel om stil te wees, te rus.

Hy smag na die wondersoete geluidloosheid van ’n Karoo-plaas. Maar dit is ’n tevergeefse verlange: die middestad ken geen genade vir iemand wat ’n middagslapie wil inkry nie.

Aan die onaardse gebulk van die Portugees se dik Rottweiler is hy al gewoond. Ook aan die Nuwe Suid-Afrikaanse agtergrondmusiek – die geloei van polisiesirenes en die eentonige geweeklaag van alarms. Maar vandag pla die Nigeriërs se uitbundige gelag en geskreeu op die grondvlak van die woonstelgebou hom. Die donners hoort in ’n oerwoud, dink hy. Dit klink soos die trompetgeskal van olifante, die krete van mandrille, die gelag van hiënas. Hoekom hulle buite op die sypaadjie moet kuier, gaan sy verstand te bowe.

Na ’n uur van swetsende rondrol op sy enkelbedjie is hulle genadiglik stiller. Hy dommel in, droom van Juanita. Sy kom aangehardloop in ’n Weskus-veld teen ’n tafereel van pers en wit blomme; haar golwende rooi hare wip ritmies op en af. Haar arms is uitgestrek na hom, haar glimlag wit in die skerp sonlig.

Net wanneer sy binne reikafstand van hom is, brul ’n motorfiets die droombeeld van haar aan flarde. Dit is die oorverdowende dreuning van ’n kragtige enjin wat teen ’n duiselingwekkende spoed verby snel. Hy hoor hoe die motorfiets se klank verdof, maar tot sy ontsteltenis word dit weer harder en ’n minuut later snel dit weer al donderend in die straat af. Daar is ’n jaagduiwel los en sy uitverkose renbaan loop voor die woonstel verby.

Met die vierde verbykomslag klim hy gesteurd uit die bed. Hy gaan staan op sy balkonnetjie op die vyfde verdieping en wag vir die indringer. Hy skreeu hard en swaai met sy arms wanneer die spoedvraat sy verskyning om die hoek maak, maar dié hoor of sien niks, donder net voort, platgetrek op die rug van sy brullende ysterperd.

Hy voel hoe die sametrekking van ’n optiese senuwee ’n onplesierige sensitiwiteit in sy regteroog veroorsaak. Die bloed klop wild in sy slape, sy humeur aan’t oorkook. Dieselfde humeur wat Juanita van hom af weggedryf het, wat hom op sy eie hier in ’n agterbuurt van die middestad laat beland het. Sonder huis of haard, tussen lawaaierige Nigeriërs en ’n kafee-eienaar met ’n fokken Rottweiler. En ’n besetene op ’n bliksemse Harley.

Hy moet iets kry om die moerjaer mee te gooi, is sy allesoorheersende gedagte. Hy kners op sy tande wanneer hy die yskas oopmaak: net ’n halwe vleispastei en klein houertjie melk. Dit sal nie doen nie. Hy loop na sy hangkas, beskou die twee pare skoene as opsie, maar besluit daarteen. Dis al wat hy het.

Hy dwaal deur sy karig-gemeubileerde woonstelletjie, soekend na iets wat gewigtig genoeg is om aan die vark ’n duidelike sein te gee dat hier mense is wat wil rus. Elke keer wanneer die dreuning verbydawer, soek hy koorsagtiger. Hy vervloek homself dat hy nie die marmer-asbakkie saamgebring het nie, Juanita rook tog nie. Dit sou die wetter in sy spore gestop het! Hy krap verwoed deur die oorvol vullisblik, maar dit lewer niks solieds op nie.

Sy oë val op die stapel Etienne Leroux-boeke in die hoek van die vertrek. Die enigste boeke wat hy saamgebring het, omdat Juanita hulle nie wou hê nie. Hy het elkeen al seker ’n dosyn keer deurgelees. Hy kan tallose passasies vryelik daaruit aanhaal. Hy gaan hulle nie weer lees nie. Die boeke is net ’n pynlike herinnering aan ’n vorige, gelukkige lewe wat nou verander het in ’n hel van ondraaglike foltering.

Hy gryp Die eerste lewe van Colet van die stapeltjie af en haas hom na die balkon. Hy gooi te laat, want hy onderskat die spoed van die maniak hopeloos. Die gewig van die boek is ook nie na wense nie. Dit trek soos ’n frisbie deur die lug, kom met ’n boog terug na die woonstel se kant, kaats dan onskadelik van ’n geparkeerde motor se dak af en spat in twee dele uitmekaar tussen die Nigeriërs se leë drankbottels op die sypaadjie. Die boek se lewe as rakvertoonstuk is verby. In elk geval nie Leroux se beste werk nie. Geen Suid-Afrikaanse uitgewer wou die boek uitgee nie, hy moes self opdok vir die koste.

Hy neem die rolletjie maskeerband wat op die kombuistafel lê en draai Hilaria en Die Mugu stewig daarmee aan mekaar vas. Hy wag geduldig op die sputter van die indringer. Wanneer hy gooi, skreeu hy: “Go, man, go! Laat Julius Johnson en Juliana Doepels jou lewe verwoes!” Maar weer trek die boekprojektiel skadeloos agter die teertang verby. Hy sal sy tydsberekening moet verfyn.

Sy asem jaag onstuimig van die hardloop tussen balkon en vertrek. Hy bind die Silberstein-trilogie haastig saam in ’n eenheid, soos dit letterkundig ook hoort, en in die regte volgorde: Sewe dae by die Silbersteins, Een vir Azazel en Die derde oog. Dit is ’n gewigtige pakkie. Hy glimlag. Ook g’n wonder nie – Jock Silberstein, die Reus en Demosthenes de Goede, was groot kêrels. En daar’s Hertzog- en CNA-pryswenners tussen die boeke. Hy is net betyds om die rumoermaker te sien aankom. Hy kreun van teleurstelling wanneer hy dié keer te kort gooi. Die gewig van die bekroonde boekbom is te swaar om so ver te gooi, die geteikende totaal onbewus van die Silberstein-aanslag op sy lewe. Die boeke spat uitmekaar op die teerpad wanneer hy reeds veilig verbygesnel het. Die derde oog rol tot voor die oorgewig Rottweiler, wat geïnteresseerd daaraan snuif en fyn tjankies uiter.

Hy gryp outomaties na 18-44, Isis, Isis, Isis en Na’va om dit saam te bind in ’n 18-44-trilogie, maar besef dat die pakkie weer te swaar vir akkurate gooiwerk gaan wees. Teen alle literêre maatstawwe in bind hy net 18-44 en Isis, Isis, Isis saam, terwyl Na’va saam met Magersfontein, o Magersfontein verpak word. Te hel met Kannemeyer, die Akademie en al die ander literatore wat hom hieroor sou kruisig.

Sy 18-44-Isis-gooi is die powerste van die hele lot, die poging van ’n regte ou knolgooier. Die adrenalien veroorsaak dat hy dit los bo-oor die kop van die jaagduiwel slinger. Die boeke val sag tussen die oorryp papajas van die Portugees. Selfs die Rottweiler, wat aan die buiteblad van Die derde oog kou, is onbewus van die landing.

Sy hand bewe effens wanneer hy die donderende rammeling weer hoor aankom. Hy gooi en skreeu so hard soos hy kan: “Hier kom Georgie, Gert Garries en Marigold Rosemary! Jesus Christ, mag dié een tref!” Sy tydsberekening is perfek, die Na’va-Magersfontein-torpedo klap teen die kant van die spoedvraat se valhelm. Die impak van die boeke gooi hom van balans, die voorwiel van die Harley wikkel onbeheers, die fiets se gatkant sleep sywaarts, die wiele gly in die plas water waar die pyp gister gebars het, en die jokkie en sy rumoerperd konnekteer die lamppaal gelyktydig met ’n helse slag. Hy kyk versigtig oor die balkonmuur, sien die jaagduiwel lewe darem nog, want hy kom stadig orent, sy Harley om die lamppaal gevou asof dit ’n kontemporêre beeldhouwerk is.

Hy loop handeviervoet van die balkonnetjie af in sy woonstel in, bewus daarvan dat dit ’n rowwe buurt dié is. ’n Man verklap nie hier jou skuiling nie, veral nie as jy ’n gomgat se Harley afgeskryf het nie. Hy merk op dat Onse Hymie eensaam in die hoek lê. Hy tel die boek op en val uitgeput op sy bed neer.

Hy blaai daardeur, steek op bladsy 96 vas en lees hardop: “Maar toe besluit die lede van die Hell’s Angels om te gaan. Hulle skop hulle ysters aan die brand en ry goedsmoeds deur die biddendes met ’n gesketter van masjienklanke en die gebrul van uitlaatpype wat gesigte verskroei en enkele ledemate breek. Hulle donder die gange af, ruk en pluk en worstel en woel die trappe af tot op die balkon bokant die binnenshuise swembad, wat nou 70 grade Celsius bereik het. Hulle skop hulle remme vas, maar dit is te laat en hulle breek die tralies wat die gaste teen vertigo beskerm en hulle boog in die swembad in, wat op ’n onverklaarbare wyse ’n temperatuur van 80 grade Celsius bereik het.”

Hy lag uit sy maag. Naderhand huil hy soos hy lag.

Maar word dan skielik aanhoorbaar stil wanneer iemand aan die deur hamer en skreeu: “Maak oop, jou bliksem!”