Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Ervare Pinotage-meesters deel die verhoog


Marius Labuschagne - 2008-09-19

Die uitslae van 2008 Absa Top 10 Pinotage-kompetisie is ‘n toonkas van Pinotage-meesters wie se kundigheid die afgelope twaalf jaar met verskeie wenwyne bekroon is. Sommige het glorieryk teruggekeer.

2008 Absa Top 10 Pinotage-wenners (in alfabetiese volgorde):

Anura Pinotage 2007, Beyerskloof Diesel Pinotage 2006, Beyerskloof Reserve Pinotage 2006, Cloof Pinotage 2005, DeWaal Top of the Hill Pinotage 2006, Fairview Primo Pinotage 2007, Rijk's Private Cellar Pinotage 2004, Simonsig Red Hill Pinotage 2006, Stellenzicht Cellarmaster's Release Pinotage 2005 en Tukulu Pinotage 2006.

Na ‘n afwesigheid van vyf jaar in die Absa Top 10 het Beyerskloof buite Stellenbosch vanjaar geskiedenis gemaak deur die eerste kelder ooit te wees wat twee Top 10-wyne ingeskryf het: die Beyerskloof Diesel Pinotage 2006 en Beyerskloof Reserve Pinotage 2006. Dit is die derde en vierde wenwyne onder die Beyerskloof-etiket sedert die kompetisie begin is. Mede-eienaar en keldermeester Beyers Truter het hiermee sy negende Top 10-wenwyn opgelewer.

Guy Webber van Stellenzicht in Stellenbosch is vanjaar weer in die Pinotage-kalklig. Hy het Stellenzicht se vyfde wenwyn in ses jaar ingeskryf: die Stellenzicht Cellarmaster's Release Pinotage 2005. Hierdie is die vierde agtereenvolgende Top 10-wyn van Stellenzicht en Guy Webber se sesde Top 10-wyn.

Daniël de Waal van Uiterwyk-landgoed in Stellenbosch het na ‘n afwesigheid van vier jaar sy sesde Absa Top 10 Pinotage-wenner opgelewer met die DeWaal Top of the Hill Pinotage 2006. Die De Waal-familie van Uiterwyk-landgoed het voorheen vyf wenwyne in ses jaar ingeskryf, vanaf 1998 tot 2003.

Tukulu in Darling, die vlagskip-swartbemagtigingshandelsmerk van Distell, met wynmaker Samuel Viljoen, het vanjaar sy vyfde Top 10-wyn in nege jaar verskaf: die Tukulu Pinotage 2006. Die mede-eienaars is Maluti Groenekloof Community Trust, Leopont 98 Properties en Distell.

Simonsig-landgoed buite Stellenbosch, met wynmakers Johan Malan en Debbie Thompson, het vanjaar hul tweede agtereenvolgende wenwyn opgelewer met die Simonsig Red Hill Pinotage 2006. Dit is hul vierde wenwyn in agt jaar. Pierre Wahl van Rijk's in Tulbagh het vanjaar, na ‘n afwesigheid van drie jaar, na die Top 10 teruggekeer met die Rijk's Private Cellar Pinotage 2004. Dit is ook hul vierde wenwyn in agt jaar.

Wenwyne wat vir die eerste keer ingeskryf is en die kalklig deel met die ervare Pinotage-meesters, is die Anura Pinotage 2007 van die Simonsberg/Paarl-wyk, met wynmakers Carla Pauw en Johnnie Calitz, Cloof Pinotage 2005 van Darling, met wynmaker Christopher van Dieren, en Fairview Primo Pinotage 2007, ‘n wyn van oorsprong Kusstreek, met wynmaker Anthony de Jager.

Vyf van die 2008 Top 10 Pinotage-wenners is van die 2006-oesjaar, twee van die 2007-oesjaar, twee van die 2005-oesjaar en een van die 2004-oesjaar. Vyf van die wenwyne is van die Stellenbosch-distrik, twee van Darling en een elk van Paarl, Tulbagh en die Kusstreek. Dit is slegs die tweede keer dat wyne van meer as drie oesjare onder die Top 10 beland.

"Die gehalte van die Absa Top 10 Pinotage-wyne verbeter jaar na jaar en wat mens verder aanspoor, is dat nuwe wynmakers ook elke jaar as wenners toetree. Gehalte, konstante lewering, toewyding en fokus kan nooit vervang word nie en vanjaar het baie ervare wynmakers die botoon gevoer. Absa Korporatief en Besigheidsbank is trots daarop om by hierdie kompetisie betrokke te wees, aangesien dit goed inpas by ons voorneme om meer as net ‘n bank te wees. Dit is dieselfde ervaring, konstante lewering, toewyding en fokus wat ons as bankiers nastreef vir ons kliënte," sê Robert Emslie, uitvoerende hoof: Absa Korporatief en Besigheidsbank.

Die beoordelaars vir die 2008 Absa Top 10 Pinotage-kompetisie was Duimpie Bayly, Graham Nash, David Biggs, Wendy Burridge, Gert Boerssen, Chris Roux en Francois Naudé. Die uitslae is by Neethlingshof-landgoed buite Stellenbosch aangekondig.

Die tien naaswenners uit die 20 finaliste (in alfabetiese volgorde): Conradie Barrel Selection Reserve Pinotage 2007, Deetlefs Oak Matured Pinotage 2007, Groot Constantia Pinotage 2006, Môreson Pinotage 2007, Raka Pinotage 2007, Roland's Reserve Pinotage 2006, Spier Private Collection Pinotage 2005, Wamakersvallei La Cave Pinotage 2006, Welbedacht Pinotage 2006 en Windmeul Reserve Pinotage 2007.

Spesiale verpakkings van die 2008 Absa Top 10 Pinotage-wyne is binnekort beskikbaar by die Wine-of-the-Month Club, tel (021) 6578100, e-pos wineclub@wineofthemonth.co.za .

Vir meer inligting oor Pinotage en die Pinotage Assosiasie, besoek die webwerf www.pinotage.co.za.

Die 2008 Absa Top 10 Pinotage-wenners.



Voor van links is Guy Webber (Stellenzicht), Robert Emslie (Absa), Pierre Wahl (Rijk's) en Lance Bouma (Anura). Agter van links is Samuel Viljoen (Tukulu), Christopher van Dieren (Cloof), Beyers Truter (Beyerskloof), Debbie Thompson (Simonsig), Daniël de Waal (DeWaal) en Erlank Erasmus (Fairview)

Fotograaf: Hannes Oosthuizen

Uitgereik deur ML Kommunikasie namens die Pinotage Assosiasie
Marius Labuschagne: Tel (021) 975 8166. E-pos mlab@iafrica.com