Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Lomond se Pincushion wêreld se beste in klas


Johann H Crafford - 2008-09-18

Lomond se 2007 Pincushion Sauvignon Blanc is pas in vanjaar se Decanter World Wine Awards as die beste ter wêreld in sy prysklas aangewys. Die enkelwingerdwyn het stof in die oë geskop van talle topname van Nieu-Seeland en Chili in die strawwe kategorie van Minder as £10.

Die enkelwingerd sauvignon blanc is vernoem na die speldekussing-proteas wat geil op die landgoed naby Gansbaai groei, en was een van net 26 wyne wat 'n internasionale trofee kon verower in die kompetisie wat meer as 9 000 inskrywings gelok het.

Die beoordelaarspaneel het dit as "elegant en fris" beskryf, en het gehou van die "kenmerkende appelliefiesmake met 'n ferm, klipagtige mineraalsmaak wat die mineraal- en suiwer vrugtegeure met 'n tikkie van vyf speserye aangevul het".

Die wyn het ook 'n Decanter-trofee vir die beste Suid-Afrikaanse sauvignon blanc in dié pryskategorie gewen.

Lomond is in die vallei van die Uilenkraalsrivier en lê baie ver suid, naamlik 34° 34´. Dit is een van net 'n hand vol wynplase met 'n Kaap Agulhas-oorsprongbenaming.

Die plaas is 'n lid van die Walker Bay-bewaararea en is ook 'n lid van die Biodiversiteit en Wyn-inisiatief (BWI) wat erkenning gee aan produsente wat volhoubare wynmaakpraktyke toepas.

Lomond se ander enkelwingerd sauvignon blanc kry sy naam van die suikerbosprotea wat ook op die plaas wild groei, en het 'n silwermedalje in die Decanter-kompetisie verower.

Albei enkelwingerd sauvignon blancs verkoop plaaslik vir minder as R90 per bottel.

Foto: Wayne Gabb van Lomond met die trofee op ‘n spesiale pryswennersdinee in London.