Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Tussen Heilbron en Verkeerdevlei


Hannes Steyn - 2008-09-17

"En moenie vergeet om ‘n opsomming van u kwartaalverslag saam te bring nie," herinner sy hom. Hy kan raai hoekom sy so formeel is, en verstaan.

"Sekerlik, Maria. Jammer om voorbarig te klink, maar ... maar wie gaan jou na die funksie neem?" Hy moet versigtig wees, want sy vrou mag dalk net die emosie in sy stem hoor.

"Ag wat, sal maar moet sien. Dalk alleen." Die moedeloosheid lê dik in haar stem en hy voel vir haar. Dit sal nogal ‘n vernedering wees as sy, die provinsiale bestuurder, sonder ‘n metgesel by hierdie belangrike funksie opdaag.

"Nou goed dan." Hy bak sy hand om die gehoorstuk. "En ... en kyk mooi na jouself. Jy is vir ... vir die maatskappy baie werd." Hy loer skuins na die kombuis en sit die gehoorstuk saggies neer.

"Wie was dit?" wil Ronel weet, maar haar stemtoon sê dat sy nie eintlik belangstel nie.

"My baas. Van Kroonstad," probeer hy so min moontlik verduidelik, want hy weet wat gaan kom.

"O, daai ousie met die Mercedes? Wat nou alweer? Ek het nog nie van laasjaar vergeet toe sy jou so gepla het by die funksie nie."

Johan besluit om nie daarop te reageer nie en stap na sy kamer. "Sy mag ‘n ousie in jou oë wees, maar ten minste kan mens met haar kommunikeer," brom hy sagweg en tel sy sleutels op.

Toe hy mik om te groet, draai sy haar kop en hy vang net haar wang.

Sonder ‘n woord tel hy sy naweektas op en loop die huis uit.

Hy is skaars Heilbron uit of sy gedagtes vat pad na die eerste keer wat hulle ontmoet het.


Dit was by haar bekendstelling in Midrand. Sy was alreeds in haar laat dertigs en het selfversekerd die platform betree en ‘n eenvoudig dog treffende toespraak gelewer oor hoe sy beoog om waarde toe te voeg. "En ou girlie, kyk net hoe goed jy dit reggekry het," praat Johan hardop met homself terwyl hy vorentoe leun en Valiant Swart in die gleufie druk. "Nie alleen gaan Vrystaat die prys vir die beste provinsie kry nie, maar jy het my ook gehelp om die streeksprys vir Noord-Vrystaat los te slaan. Jou beaut!" Die uitlating het so spontaan gekom dat hy skuldig rondkyk, maar dan verlustig hy hom weer eens met sy gedagtes. Later, tydens die versnaperinge, het Maria eenkant alleen gestaan. Niemand het eintlik oor hul voete geval om met haar te praat nie. Die deftige appelkooskleur-pakkie het gelyk of dit aan haar ferm lyf geverf was. Haar vel het getintel soos gesmelte sjokolade. Johan het gemerk dat sy geen juwele dra nie en nogal gewonder.

"Blerrie swart bemagtiging," het die Gautengse streeksbestuurder langs hom gemompel.

Johan het hom bloedig vererg. "Gee haar ten minste ‘n kans," het hy snedig gefluister en na haar gestap. Ronel het, soos gewoonlik, eerder verkies om buite saam met die mans te rook en skerts.

Hulle het onmiddellik gekliek. Sy het hom vertel van haar agtergrond. Haar tuisdorp Verkeerdevlei. Glo iewers tussen haar kantoor op Kroonstad en Bloem. Dat sy nog steeds daar woon en daagliks pendel. Hoe dankbaar sy is teenoor Raubenheimer vir die goeie voertuig en die chauffeur en hoe sy hoop om daarvoor te vergoed. Dat sy alleen vir haar en haar twee skoolgaande dogters sorg en hoe eensaam sy soms is. Hy het in haar vriendelike oë gekyk en haar die versekering gegee dat sy streek alles in hul vermoë sal doen om haar te ondersteun. Sy was volwasse genoeg om nie uit te vra oor hom nie. Die stram Benadie-verhouding het soos ‘n wrang geur in die lug gehang ...


Maria is kriewelrig. Die verrigtinge begin binne oor tien minute en hulle jaag nou eers die hoofstraat van Kroonstad binne. Sy is half-vies vir haar chauffeur wat haar so laat opgepik het.

Haar hande is natgesweet toe hulle voor die hotel stop. Sy vroetel vir haar selfoon toe haar motordeur oopgaan.

"Watter voorbarige diens!" dink sy heftig toe iemand haar liggies aan die elmboog neem en by die motor uithelp.

Maar dan lig sy haar kop en is net betyds om haar lippe met dié van Johan te bind.