Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Kaffer


M Labuschagne - 2008-09-16

Na werk besluit ek om op pad huis toe gou by my ouma ‘n draai te maak. Ek voel jammer vir haar, want sy is taamlik eensaam omdat min mense haar besoek gedurende die week. Sy sit maar heeldag en brei en TV kyk. As ‘n mens kom kuier, is sy buite haarself van blydskap en kan net nie genoeg gepraat kry nie. Ek self kom ook min by haar uit, want my prokureursfirma hou my in die week baie besig.

Nee, eintlik lieg ek - ek het baie kans om by my ouma te gaan kuier. Ek doen dit nie, omdat haar verkrampte wêreldsiening my altyd in ‘n slegte bui sit. Om die waarheid te sê, as sy nie my ouma was nie, het ek wragtig nooit iets met haar te doen gehad nie. Maar nou ja, sy is my ouma en ek moet haar maar dan en wan besoek.

Toe ek voor haar hek stop, loer sy deur die sitvertrek se venster. Sy maak die deur vir my oop en nadat ons gesoen-groet het, bied sy my ‘n koppie tee aan. Ek gaan sit in die sitvertrek terwyl sy die tee maak. Nadat sy die tee gebring en ons albei ‘n koppie geskink het, gaan sy op haar groot La-Z-Boy-stoel sit en na my kyk. Ek kan sommer sien sy is lus vir gesels, asof sy heeldag se gesels opgespaar het om dit op iemand los te laat.

"Manie," begin sy (ek haat dit as sy my dit noem), "weet jy wie het Ouma vandag op die TV gesien?"

"Wie het Ouma gesien?"

"Vir Sello."

"Wie is Sello?"

"Die kaffertjie wat by my en Oupa in die tuin gewerk het."

Ek klem my kakebeen altyd as Ouma die woord kaffertjie gebruik. Maar my ma herinner my altyd daarin dat Ouma uit ‘n ouer generasie kom. Dit druis egter nog steeds teen my liberale gewete in.

"Hoekom is hy op TV?" vra ek.

"Hy is saam met ‘n klomp ander kaffers besig om te betoog teen die regering."

Ek drink my tee onrustig,

"Sies tog," sê Ouma, "die arme kaffers kry darem swaar daar in die townships. Jy weet, die regering bou nie vir hulle huise nie en hulle lê ook nie vir hulle water aan nie."

Daar is weer stilte, terwyl ek onrustiger tee drink.

Dan sê Ouma weer: "Oupa het altyd nog gesê Sello is ‘n slim kaffertjie. ‘n Mens hoef hom net ‘n ding een keer te gewys het dan het hy geweet hoe om dit te doen."

Ek kan dit nie meer hou nie. "Ouma moenie so praat nie."

"Hoe praat nie, Manie?"

"Ouma moenie van swart mense praat as 'k...' - daai ander woord nie."

"Hoekom nie?"

"Want dit gee aanstoot."

Ouma lyk regtig verbaas terwyl sy haar koppie in haar piering sit. "Hoekom gee dit dan aanstoot?"

"Omdat dit rassisties is."

Ouma se mond hang oop. Ons hét al hieroor gepraat, so ek weet nie of sy met my die gek skeer en of sy net besig is om oud te raak nie.

"Maar Ouma is mos nie ‘n rassis nie! Ouma kom nog altyd so goed met die
kaffers oor die weg."

"Ouma moet nie daai woord gebruik nie."

"Manie, dis mos nie wat ‘n mens sê nie, maar wat in ‘n mens se hart is."

"Nee Ouma, dis nie so eenvoudig nie. Dit is lelik om daai woord te gebruik. Hulle sal vir Ouma toesluit as Ouma vir hulle sê hulle is k... - daai ding."

Ouma drink haar tee in stilte.

Dan, asof iets haar skielik haar opval, sê sy: "Maar Ouma haat nie die kaffers nie. Daar is dan sulke goeies onder hulle, soos Sello."

Ek sug diep en besef dit gaan nie help om haar reg te help nie. Die beste is maar om oor iets anders te praat sodat ek nie myself verder ontstel nie. Spontaan begin ek oor oom Frans gesels, terwyl ek die horlosie teen die muur so met een oog dophou. Oom Frans sien ek van tyd tot tyd by die kerk. Ouma vertel my weer die storie van hoe oom Frans eenkeer in die pad geval het en ‘n kar oor hom gery het. "Dit is hoekom oom Frans tot vandag toe nog ‘n krom rug het," sê sy en dan voeg sy soos altyd by: "Oom Frans het ‘n grootkop in die destydse Konserwatiewe Party geword."

Ten spyte daarvan dat sy die res van die gesprek nie die k-woord gebruik nie, is ek nogtans omgekrap deur haar opmerkings.

‘n Halfuur later sit ek my teekoppie in die skinkbord op die koffietafeltjie neer.
"Ouma, ek sal moet gaan. Ek het nog goed om te gaan doen."

Sy lyk diep teleurgesteld. "Wanneer kom jy weer, Manie?"

"Ouma, ek is besig die volgende paar weke," sê ek, en eintlik is ek verlig dat ek ‘n verskoning het - haar rassistiese aanmerkings maak my net die donder in. Ek dink dat as sy nie my ouma was nie, sou ek niks met haar wou uitgewaai het nie. Ons soengroet weer en ek ry terwyl sy by die tuinhekkie vir my wuif. Die gevoelens van walging kom weer in my op soos wat ek die gesprek met my Ouma deur my gedagtes oorspeel. Haar gebruik van die k-woord ontstel my nog steeds.

Ek is so besig met myself en my ouma se rassisme dat ek nie opmerk hoe besig die verkeer raak nie. Hier in Pretoria is die verkeer tot sewe-uur toe nog swaar.

Veertig minute later stop ek voor my huis se hek en ek weet onmiddellik iets is fout. Die hek is nie heeltemal toe nie en dit lyk asof die elektriese skuifhek van sy spoor af is. Ek klim haastig uit my kar uit en hardloop die erf in.

Daar is drie van hulle wat by die voordeur uitgestap kom. Elkeen dra iets in sy arms wat ek kan uitmaak as my TV, mikrogolf en hoëtrouspeler. Hulle verstar toe hulle my sien. Ek is ook vir ‘n oomblik gevries, onseker oor wat om te doen. Dan gooi hulle my goed met ‘n gekletter neer en laat spaander in drie verskillende rigtings. Instinktief volg ek die swart kêrel met die wit laphoedjie wat verby my seil en die hek uitglip. Die ander, verbeel ek my, spring oor die muur.

Oorkant my erf is daar ‘n oop stuk veld wat met ‘n draadheining afgesper is. Die boef spring rats oor en hardloop vir die taxi-rank wat oorkant die veld is. Ek klim met moeite oor die draad. Jare se tyd agter ‘n lessenaar het my onfiks gemaak. Ek sien hom in die verte en die woede stoot in my op. Ek sit ekstra moeite in my poging in om hom in te haal, maar ‘n paar treë later voel ek die steekpyn in my milt. Dit laat my stadiger hardloop.

By die taxi-rank is daar ‘n horde swart mense en die dief smelt ineen met hulle. Ek kan net sy dobberende wit hoedjie tussen die skares sien wegswem.

Ek kan nie meer verder hardloop nie en gaan staan by die rand van die taxi-rank met ‘n hygende asem.

‘n Onkeerbare vlaag van woede steek op in my binneste wat my miltsteek verdoof en sy pad vind deur my derms, my longe en by my mond uit.

"Fokken kaffer!" gil ek oor die skares heen.

Dit is asof die klank deur die taxi-rank weergalm soos wanneer ‘n mens van ‘n krans afskree. Honderde gesigte kyk geskok na my. Hulle verbasing verander na woede toe die eggo van die woorde by hulle insink.

‘n Paar kom met gebalde vuiste reguit op my afgeloop en ek weet hier kom moeilikheid.