Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Dina met die dye


Johann de Jager - 2008-09-16

"Sý - hardloop?" Skroot Visagie het die vraag met 'n uitroepteken in sy stem gevra. "Kyk daardie dye, en sy wil teen die ander meisie-atlete in die honderd treë gaan hol. Sy moet teen ou Manie Maritz gaan stoei, man! Nee, Skoensool my ou maat, dis darem net te dik vir 'n daalder, daardie dye." Skoensool - soms net Sool - Schumacher het hom ook verkyk aan die kort pers rokkie waaronder die paar wit, frisser as fris bobene van die onbekende meisie in hulle skool se kleure uitsteek. Sy moet een van die plaasskooltjies se atlete wees wat nou by die dorpskool ingedeel is, dink hy. Vir hom het sy soos een van die raapknolle gelyk wat sy pa vir die melkkoeie plant: bo pers en onder wit - en rond.

En toe klap die skoot - of liewer, daar blaas die afsetter se fluitjie, want in daardie dae het ons op Morgenzon nog nie geweet van afsetters wat met pistole skiet nie - en die onderagtienmeisies spring weg. Dit was die jaarlikse interhoër-atletiekbyeenkoms, dié jaar op Volksrust, tuiswerf van Ad de la Porte, ikoon van haanlikheid onder die meisies, wenner van elke item waaraan hy deelneem met rekordherskrywing, en elke hoërskoolseun se onderwerp van jaloesie. Die dae van plaasskooltjies met twaalf of vyftien leerlinge van alle grade en standerds saam in een klas voor een onderwyser was aan die uitfaseer. Meganiese vervoermiddele het geredelik beskikbaar geword ná '45 se oorlog. "Die wêreld het klein geword," het Sool se pa gesê. Hy was voor die vrede al terug by die huis uit die interneringskamp by Koffiefontein waarheen oom Jannie Smuts verdagte meelopers met Duitse simpatieë gestuur het. Want Sool-hulle was juis Duits, Schumacher.

By atletiekgeleenthede soos dié op Volksrust is so 'n plaasskool se enkele atleet of twee sommer by die naaste dorp se span ingedeel. Later is die skooltjies een na die ander tog gesluit en die kinders na die koshuis op die dorp gestuur. Daarvoor was juis die beter vervoermiddele te danke. Die meisie met die hewige dye wat Skroot Visagie se aandag asof in 'n rofstoeiskêr vasgeklem het, was Dina Koekemoer van die plaasskooltjie op Blaauwkop, waar oom Hansie Prinsloo die hoof en alleronderwyser was. Dina wou eintlik nie onder Morgenzondorp se skoolvaandel deelneem nie, al sou sy en die ander sewe leerlinge van Blaauwkopskool binne 'n maand of twee gedwing word om dorpskool toe te gaan. Daar was 'n eienheid en kultuur aan die plaasskool, en voortydige afstand sou soos verraad voel. Die sementblad met die Eeufeesherdenking in '38 se waspore was een so 'n kosbaarheid. Daar is daardie jaar 'n hele paar kindertjies ten doop gebring, sommige met snaakse name soos Ossewania en Kakebenia selfs, het sy gehoor. Heilige grond dus.

En daarvoor sak Dina toe in die wegspringgate - sulke holtetjies met die kaal hakskeen uitgeskop. Die meeste kinders het nog kaalvoet deelgeneem, veral die plaasskolers. Maar eintlik het net die ander meisies in die wedloop gesak - Dina het sommer so gebukkend bly staan, arms soos die diskobolosbeeld: een voor, een hoog agter. "Daardie dik dye is seker te swaar om betyds mee regop te kom in so 'n wegspring," het Skroot gesê.

En toe blaas die afsetter hard, kort, skril op sy fluitjie en die pawiljoene gil, baniere swaai. En onder die lawaai kry Dina-met-die-donderdye spoed, al meer spoed! Sy haal op dertig treë die voorlaaste meisie in; op sestig treë is sy tweede van voor, en toe sy die lint breek voor die rietskraal Rencia Buys - die gunsteling en rekordhouer - het die Morgenzonners in euforie uitgebars soos Vesuvius glo destyds, anderkant 'n reeksie noorderhorisonne in Pompeji se wêreld. Dít het hulle in die Aardrykskundeklas geleer.

Skroot was stil. Sool het egter saamgegil. Toe hy later onthou hoe stil sy maat geword het, sê hy: "As Rencia darem nie so plat soos 'n Vrystaatvlakte voorlangs was nie, kon sy die lint tog voor daai Dina met die dubbele-Vesuvius-borsmaat gebreek het."

"Hmmm, grootte tel tog soms, nè," het Skroot geantwoord en heimlik geglimlag, sy oë vas op Dina-met-die-dye. Toe hy sonder meer opstaan en wenpaal toe loop, het Sool maar net sy kop geskud, en gewonder of hy nou maar vir Rencia moes gaan troos. Maar toe sien hy Ad de la Porte was reeds daar.

Op pad huis toe dié aand, agterop oom Lucas Groenewald se oop Chevlorrie, het Skroot se oë die eerste keer weer normaal begin draai, alkant toe. "Sooltjie," het hy met die deur - kosyn en al - in die huis geval, "sê nou 'n dun outjie soos ek trou met 'n vlesige meisie soos Dina, sal my seuns se bene dan die gemiddelde dikte tussen myne en hare hê? Hoe dink jy?" En Sool Schumacher kon dit nogal begryp, want Skroot se beentjies het soos lang, dun weggooifietsspekies by die scrapyard gelyk. Maar sou die wet van gemiddeldes in erfdwang ook geld?

***

Skroot en Dina is getroud, kort nadat hulle saam die middelbare eksamen se standerdagtsertifikaat verwerf het. Die skool op Morgenzon het toe nog net die leerplanne tot en met standerd agt aangebied. Matriekaspirante moes Ermelo, Standerton of Bethal toe; gaan aansluit by die "vyande" sover dit rugby en atletiek aangaan. Skroot en Dina het in 'n nuwe eenslaapkamerhuisie naby sy ouers op Vaalbank ingetrek.

Maar spoedig moes daar aangebou word. Daar was 'n nuwe Visagietjie aan die kom. Dit was toe 'n dogtertjie: dun, soos haar pa. Die wet van gemiddeldes sou dalk met 'n tweede probeerslag 'n seun met rofstoeierdye soos Manie Maritz oplewer. Weer 'n meisietjie egter; dun sprietjiebeentjies soos haar pa. Later is weer aangebou toe die vierde dogtertjie kom, en nog later ook nog kamers. Nege draaddun dogters het Skroot se bouspan besig gehou, en die lys moontlike name vir nuwelinge in die gesin ook uitgeput.

"Wat nou, ou maat?" wou Sool weet toe dogtertjie nommer nege opdaag. "Hou 'n man nie maar op as daar dan nie 'n seun kom nie?"

"Nog een keer," het Skroot gesê, "dan moet ek maar net op die lande plant, nie meer in die huis nie." En toe kom Visagietjie nommer tien een aand by olielamplig. Die eerste wat Skroot raaksien toe ta' Bybie van Coller die kleintjie aangee, was die dytjies: stewig, dik, fris - net die regte omvang en dimensies om vergruisende kopskêre in die stoeikryt te kan toepas, of om 'n rugbyslot onkeerbaar naby die doellyn aan te dryf vir 'n oorstootdrie in beseringstyd, soos Skroot gesê het Dina nou in was. Nou kan hy maar die eindfluitjie blaas. Hy het vinnig omgedraai en ululerend, soos die Zoeloe-m'bongivroue met hulle kaptein se besoek, uitgehardloop om Sool op die slingertelefoon te bel: twee kortetjies en een lange.

Sool was binne minute daar met 'n bottel sjampanje aan die nek in sy een hand en 'n paar glase tussen die vingers van sy ander hand ingeryg. "Daarop moet ons drink!" het hy gegil. "Geluk, my ou maat. Tjeers, tjoklits en tjorts vir jou!" Net toe kom ta' Bybie ingestap om die frisse klein nuweling, nou gewas en warm toegedraai, vir Sool ook te kom wys. Hy was erg oor Skroot se kinders, so asof hulle sy eie was. Hy het toe nooit getrou nadat Rencia hom afgesê het vir Ad nie. Hy het saggies met sy een vinger teen die klein wangetjie gedruk, en aanhoudend "geluk, geluk" geprewel.

Toe die eerste ekstase 'n bietjie bedaar en Skroot weer dankbaar opkyk na ta' Bybie, vra sy ewe terloops: "En wat gaan julle haar nou noem, Skroot? Julle lysie name is mos al uitgeput tot by julle oorgrootmoeders verby ..."

<< Terug na Vintage@LitNet <<