Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Iewers in die 70’s – Kommunikasie


Hans Walvis - 2008-09-16

Iemand wou weet, aangesien ek dan soms van honde en katte praat, of ek dink die goed kan kommunikeer. Die persoon het egter nagelaat om te spesifiseer of dit kommunikasie met mense is of kommunikasie met ander viervoetiges.

Ek dink die antwoord is ja. In beide gevalle.

Ou buurman Stan Horne in Tsumeb het twee Siamese katte gehad. Orraait, hulle opvoeding het skeefgeloop, want hulle het gedink hulle is honde, behalwe vir die blafgedeelte. Kon nie anders gewees het nie, want as iemand met 'n motor by ou Stan-hulle gestop het, het daardie twee katte 'n beter joppie van die wiele, buffers en binnekant van 'n motor gemaak as wat 'n hond ooit kan droom om te doen.

Een Saterdagoggend moes ek ou Stan met sy Renault gaan help. Klok vroeg in, want dit was 'n groterige stukkie werk. Toe ek instap in die werf, was ek net betyds om te sien hoe die windhond - een van hierdie gróót Whippets - van Stan se ander buurman opstaan van waar hy gehurk het en terugspring in sy eie erf. Dit nie eens op die gras gedoen nie. Sommer langsaan op die grond. 'n Skopgraaf vol. En in die geestesoor het ek al ou Stan se kommentaar gehoor.

Persoonlik dink ek dit was 'n weerwraak-aksie van die windhond, want net 'n dag of wat tevore het hy sy lang dun snoet deur die "diamond mesh"-heining gedruk om aan die kat te ruik en toe's dit net sy agterent wat hy geruik het. Deur die heining het die Siamees hom beetgekry en hom alles gegee wat 'n kat reken hel vir 'n hond kan wees. En nou kom dinges hy in die kat se werf van pure spaitvoelnis.

So tref Stan my daar buite in nadenkende bui aan en ek vertel hom en wys hom. Stan het my ook nie met sy woordeskat teleurgestel nie, maar reken toe na die eerste tien sinne die Renault geniet voorrang. Die werf sal hy later opruim. En ons begin werk aan die Fransman. Nie honderd jaar later nie kom groet die katmannetjie ons daar langs die Renault en begin sy oggendwerfinspeksie.

"Hei, kyk daar!" roep Stan my uit die Renault se binnegoed. Staan die katmannetjie langs die hond se skopgraafvol, en mens kon die afkeer behoorlik op die Siamees se gesig sien. Toe begin hy wat 'n ordentlike kat behoort te doen: Hy probeer toekrap aan die onooglikhede, maar hy't twee probleme gehad. Eerstens het dit bo-op die grond gelê en nie in 'n gaatjie soos wat hy gewoond is nie, en tweedens was dit so allemintig groot dat hy nie daaroor kon tree soos met sy eie gebruike nie. Om nie die goed raak te trap nie, het die kat hom amper dubbel na regs gevou en met die linkervoorpoot sand gegooi. Elke nou en dan inspekteer die Siamees sy resultate, maar die hoop toekry is min.

Ná so vyf minute se sandgooi stap hy toe terug huis toe. As jy kat ken, sien jy sommer wanneer hy doelgerig stap. Hierdie Siamees was nog beneuk ook, want die stert was regop in die lug - dán ruk hy sy stert hiernatoe en dan weer daarnatoe. En hy's die huis in. Ons meen toe hy't opgegee. Watwou! 'n Halfminuut later kom hy weer uitgestap en die wyfietjie is saam met hom, en hulle pyl reg op die hond se nalatenskap af. Saam het daardie twee Siamese die hele storie in 'n japtrap netjies toegekrap. Hy het beslis sy maat gaan roep om hom te kom help. Al waaroor ek nie uitsluitsel het nie, is sy taalgebruik in die proses. Moes seker iets gewees het soos: "Hei, lig jou lui dinges daar en kom help my hier buite. Daar's groot k@#$%."

<< Terug na Vintage@LitNet <<