Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Pre-1950 – Oom Gert se Ford


Hans Walvis - 2008-09-16

Jy vat die pad suid uit Grootfontein uit. Dit was 'n swart turfpad. Reëntyd het jy met die perdekar gery as jy op die dorp wou kom. Dis nou in die oorlogsjare en vir lank daarna tot hulle die gruispad gebou het. Die eerste plaas, net uit die dorp, was Diepwater, maar ek kan nie onthou wie daar gebly het nie.

Die tweede plaas het aan Duitser Halberstadt behoort - die plaasnaam het ek vergeet, maar dis omdat die oumense altyd net van Halberstadt gepraat het as hulle na die plek verwys het. Harmonie is die derde plaas. En die eerste familieplek. Oom Jan en tant San van der Walt se plek. Ma Ans se oom en tante. En die plaasskool was daar.

En anderkant Harmonie lê Schwartzfelde, maar die Duitser, so 'n rooie, was antisosiaal en niemand het ooit veel van die mense geweet nie. Op hierdie punt het ons reeds 33 myl gery en dit was net vier plase.

Net anderkant Schwartzfelde verander die grond van swart turf na rooi turf - as daar so iets kan wees, want hierdie rooi was ook glad. Dis waar die ander drie familieplase begin. Oujongkêrel oom Flip Kok, sy ma en suster op Oktrooi. Dan Bosrand, Ma se suster Dawn en Gert Kok, Flip Oktrooi se ouer broer. En laaste, oom Bêrend Alberts en tant Katrina op Okshoof. En net twee en 'n half myl van Bosrand se opstal af, die ou opstal van Okshoof waar oupa Bêrend Alberts, tant Dawn se eerste skoonpa, gewoon het. Oktrooi en Bosrand se opstalle was twee myl uitmekaar en Okshoof se hoofopstal vyf myl verder. Alles mooi binne bereik van 'n klomp neefs op hulle rydonkies. Vandag sal die mense sê die klomp swerkaters het wyd kwaadgedoen, maar dis 'n subjektiewe stelling daardie.

Noudat julle die omgewing gesien het, kan ons oor die rygoed praat. Broer Chris sê mos: "Picture this." Perdekarre tot so net na die oorlog. Oom Jan op Harmonie het 'n swart houtspeekwiel-Chrysler met lae deurtjies en 'n seiltent gehad, maar die ding het die hele oorlog op blokke gestaan oor die petrolskaarste. Ek dink die Rousseau's het hom op die koop toe gekry toe oom Jan kort na die oorlog Harmonie verruil het vir 'n plek in die Otjiwarongo-distrik. En ek het "Rousseau" reg gespel - die een kleinkind is vandag my skoonseun.

Toe koop oom Gert en oom Bêrend tegelykertyd elkeen 'n Ford. 'n Ton en 'n half bakkies was dit, en ek dink dit was oorgeverfde oorlogsuitskot en ﷓oorskot. En hulle prakseer houtreëlingtjies agterop waaroor 'n seil getrek is as passasiers moes saamry. Maar net oom Bêrend se Ford het brieke gehad. Nee, oom Gert s'n het ook 'n briek-"pêddel" gehad, maar oom Gert het altyd vertel dis net vir die mooiigheid. Nie eens ou Willie Tietz se garage kon daardie Ford se brieke regkry nie.

Wie hulle leer bestuur het, weet ek nie, maar oom Gert en oom Bêrend het net op een manier gery: veertig myl per uur. Orals. Of dit op die tweespoorpaadjie dorp toe was en of dit grootpad was (waarop hulle dit eers báie later gewaag het) - veertig myl per uur was dit. Dit kan nogal neuk op 'n tweespoorpaadjie. En aan die draaie se buitekante het die ooms die pad wyer gery ...


Dog die hekke was oom Gert se spesialiteit. Daar was hierdie drie hekke wat so skelm tussen bosse net agter draaie weggesteek was. Die ander hekke kon mens ver sien en dan kon jy betyds ophou petrol gee. Ek skat oom Gert het sy hande vol genoeg gehad om die Ford teen veertig myl per uur in die spore te hou. Is dié dat hy nooit kon onthou waar die hekke was nie, en as tant Dawn sou skree: "Gerrrrraaaaa! Jy moet nou stadig. Die hek is ...", dan is die hek klaar daar en oom Gert ry hom pap. Nou, 'n boer het nie 'n ander boer se hek so gelos nie en dan kom tang, bloudraad en bobbejaanspênner uit en dis 'n hele tyd voor die rit hervat kon word.

Ek raai die gedurige regmakery moes seker op oom Gert se senuwees begin werk het. Toe volg hy 'n ander taktiek. As tant Dawn "Gerrraaa!", het hy die Ford bosse toe gevat. Aanvanklik was dit heel dramatiese tonele met die Ford wat oor en deur bosse ploeg tot oom Gert onthou van die petrol los en die bosse die Ford tot stilstand rem in 'n moewiese stofwolk. Maar die hekke het toe heel gebly en die Ford het net skrape opgetel.

Tot daardie een dag. Ek dink dit was die tweede hek anderkant Harmonie se opstal. Die bossies langs die pad was te platgery om die Ford effektief te stop en oom Gert kies toe 'n groot haak-en-steek. Eers moes ons seuns deur die haak-en-steek grond toe om die hek te gaan oopmaak en toe kom ons agter die Ford se agterwiele raak nie grond nie. Hy hang oor die bos.

Dit was rofweg 'n uur of twee voordat die Rousseau's met hulle span donkies en die ploegketting die Ford van die haak-en-steek kom afhaal het. Nie lank daarna nie het oom Gert die Ford verruil vir 'n spiksplinternuwe driekwartton-Chev. Hy't brieke gehad.

Oom Flip was die laaste om 'n bakkie te koop, maar toe hy diesel gekoop het vir sy ton-en-'n-driekwart-Bedford, was hy al 'n gesoute padgebruiker op sy Vaaljapie Fergusontrekker en die vierwieldonkiewaentjie agteraan vas. Hy't altyd die ander boere geterg dat hy nie kettings saamry vir 'n nat pad nie en dat hy áltyd deurkom dorp toe as hulle duskant Schwartzfelde se opstal, daar waar die Omuramba se sytak oor die pad kom, voor die vol lopie vasgekeer staan. Al was dit drie ure lank op die pad teen net vyftien myl per uur. En die ander boere het hom weer vertel dis 'n bestiering dat hy nie van die begin af iets vinniger gery het nie. Nie as hulle kyk waar hy oral met die Vaaljapie deur is sonder dat hy bedoel het om daar te ry nie.

<< Terug na Vintage@LitNet <<