Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Tukulu Pinotage weer in ABSA se Top 10


Johann H Crafford - 2008-09-15

Die 2006-oesjaar van die Tukulu Pinotage is vir ABSA se lys van die voorste tien pinotage-wyne gekies. Dit is die vyfde keer dat die handelsmerk só vereer word.

Deidre Samson, bemarkingsbestuurder van Cape Legends wat die bemagtigingshandelsmerk verteenwoordig, sê: "Dit is 'n gepaste eerbewys ter herdenking van die tiende bestaansjaar van Tukulu, 'n trotse voorbeeld van 'n omgewings- en maatskaplik volhoubare wynmakery wat boonop uitnemende wyn maak."

Tukulu se wyn kom van die Papkuilsfontein-wingerd naby Darling wat in 1998 as 'n SEB-onderneming geskep is, met Distell, 'n groep ondernemers van Gauteng en 'n plaaslike gemeenskapstrust, as die vennote. Die onderneming is lid van die Biodiversiteit en Wyn-inisiatief (BWI) wat erkenning kry vir sy goeie bestuur van die eiendom van 975 ha. Daar is diep rooi Tukulu-grond op die eiendom met uitstekende waterhoudende eienskappe - dus ideaal vir droëlandboerdery. Tukulu gaan binnekort ook 'n Fairtrade-akkreditering kry.

Die wyn word gemaak van wynstokke met 'n lae opbrengs wat deur die wingerdboukundige Adrian Fry en die plaasbestuurder Hennie van der Westhuizen vertroetel word. Sommiges is reeds 29 jaar oud. Die druiwe is met die hand gepluk voordat dit gepars is.

Tukulu se wynmaker, Samuel Viljoen, sê die donker robynkleurige intensiteit dui op die wyn se gekonsentreerde smaak.

"Dis 'n lywige, komplekse wyn, maar tog merkwaardig fris, elegant en goed gebalanseer met suiwer druiwesmake. Die neus is ryk met pruim- en swartbessiegeure, en dit smaak na sappige druiwekorrels en pikante eikehout. Die gebruik van Amerikaanse eikehout is vir die effense soetigheid op die palet verantwoordelik."

Die wyn is 12 maande lank in 'n kombinasie van Amerikaanse, Franse en Oos-Europese eikehout verouder.

Deidre sê die wyn is gemaak om minstens nog vyf jaar lank te hou. Sy beveel aan dat dit met wildsbredie, rooivleisdisse, sterk kaas of donker sjokolade bedien word. Die verkoopsprys is ongeveer R89 per bottel.