Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynforum

Agter die skerms van ‘n dop!


Johann H Crafford - 2008-09-15

Almal het seker al die bekende ou grappie gehoor van die skooljuffrou wat voor die voorskoolse klassie staan en vra: "Kinders, wie kan vir my vertel waar melk vandaan kom?" En dan, so tussen die armpies deur wat entoesiasties die lug inskiet, wys sy na klein Jannie daar in die middel en vra: "Ja Jannie, waar kom melk vandaan?" Jannie staan dan ewe windmakerig op in sy bank en antwoord vol selfvertroue: "Van Woolworths af, Juffrou!"

Ek dink daar's heelwat ouer Jannies en Sannies wat ‘n soortgelyke antwoord sal gee op die vraag waar wyn vandaan kom. "Van die drankwinkel, Juffrou!"

Nes die grond, gras en beesras vergete is wanneer ons melk koop, net so is die terroir, harde werk, kundigheid, toewyding, passie en entoesiasme agter wyn vergete wanneer ons daai botteltjie of drie van die rak afhaal.

En nes ek byna drie dekades gelede moes gaan leer oor onder meer aandryfstelsels, veerstelsels en stuurstelsels toe ek oor mouterkarre begin skryf het, probeer ek vandag meer leer van wat agter die spreekwoordelike skerms gebeur voordat my gunstelingwyne in die bottel beland.

Ongelukkig kry ons wynskrywers of wynjoernaliste nie veel die geleentheid om agter die skerms te gaan loer nie, maar onlangs het Nederburg vir ‘n paar van ons die wonderlike geleentheid gegee om self te voel en te ervaar wat in die wingerd self gebeur. Dit was maar net ‘n ou voorsmakie - ons het grenache-stokkies geplant met die hulp van ‘n paar van Nederburg se gawe en hulpvaardige arbeiders - maar dit het my ‘n baie beter perspektief gegee op die hele proses van die wingerdstok en groter respek vir daai mense wat dag in en dag uit sulke rugbreekwerk doen.

Glo my, dis nie vir sissies nie! Ek het self maar ‘n dosyn of so gate gegrawe en seker maar so ‘n dosyn of wat stokkies gehelp plant, maar my onderrug en die blase op my hande het my die volgende dag herinner dat dit harde werk is.

Wanneer jy dus volgende keer ‘n wyntjie skink, dink aan daardie mense agter die skerms wat die harde werk doen om te verseker dat jy agteroor kan sit en Suid-Afrika se skitterende wyne kan geniet. Hulle ís die onbesonge helde!

Baie dankie aan Nederburg vir die besonderse geleentheid. Nou sien ek uit na ‘n uitnodiging na ‘n dag se handearbeid in die parsseisoen en daarna ‘n slag in die wingerde met ‘n snoeiskêr!

Foto 1: Ja, hulle het maar skepties toegekyk toe ons lomp en onbeholpe hul handewerk probeer naboots het!

Foto 2: Só word ‘n wingerdstokkie mos geplant.

Foto 3: Nederburg se keldermeester Razvan Macici moes ook hand bysit.