Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Nat latex en cowboys


Alwill Westcott - 2008-09-12

Mens kan net eenvoudig nie ʼn toebroodjie laat laminate nie, veral nie ʼn ham-en-kaas-sarmie nie. Heel eerstens gaan jy sukkel om die blerrie ding by die mond van die masjien in te kry, dan is daar nog die various sousies wat gaan uitdrup en in al die complicated dele van die masjinerie gaan indonder. En dan is daar natuurlik nog die kans dat die oorgebotterde slices deurgaans in die proses van mekaar afgly.

"So gebruik minder botter ..." sê Marilize al kouende aan haar veertiende Macadamia.

"Ag nee man! Jy luister nie na ʼn woord wat ek sê nie! Dis soos wat mens nie latex kan gebruik wanneer dit nat is nie," baklei ek terug. Maar ek kan sien dis weer eens ʼn verlore saak: Marilize is nie die tipe om ʼn idee te laat gaan as sy eers haar kloue daarin geslaan het nie.

"Ek't nou die dag gedink ek gaan maar eerder die ham en kaas gebruik; dis baie herkenbaar, jy weet. Die laaste ding wat ek nou nodig het, is ʼn paar puriste wat klein hartaanvalletjies kry oor my gebrek aan realisme," hou Marilize aan op pad met die straat af.

"Maar waar kom hulle daaraan dat jy altyd realisties werk?" vra ek. "Dis maar jou tweede uitstalling."

"The sun will always shine tomorrow ... but NOT today!" skree die mal ou tannie skuins oorkant die pad. You have no idea, dink ek.

"Kom ons loop tog net bietjie vinniger, want as ek weer oor die kop met ʼn Bybel gebliksem word, gaan ek die ou doos voor ʼn trok instoot, mental illness ofte not," por ek vir Marilize aan.

"Ek wil net gou by die kafee kyk of hulle nie vars slaai het nie; mens kan nie ham-en-kaas-sarmies maak sonder ʼn lekker stukkie kraakvars slaai nie!" sê Marilize soos ek haar byna optel aan die een arm in 'n poging om divine retribution te ontduik.

Die tannie, ene mej Verwey, was voorheen ʼn gerespekteerde lid van die NG Gemeente Morgenzon. Daar het sy aan elke denkbare vereniging, sustersraad en koek-en-tee-komitee behoort en aan elke aktiwiteit denkbaar deelgeneem met die tipe ywer wat Moeder Theresa in die skande sou gesteek het. Haar trots was die blommerangskikking wat elke Sondag net duskant die dominee se preekstoel gepronk het.

Die moeilikheid het begin met die nuwe dominee se vrou. Mevrou die Dominee was, soos haar eggenoot, jonk, dinamies en salig onbewus van mej Verwey se posisie in die gemeente. Daar's ʼn gesegde wat voorstel dat die pad na die hel met goeie bedoelinge geplaveer is. Dit is seker met een van hierdie selfde bedoelinge dat Mevrou die Dominee vroeg een Sondagoggend vir mej Verwey voorgekeer het om aan haar voor te stel dat die rangskikking, mooi soos wat hy was, voortaan nie meer ʼn noodsaaklike deel van die weeklikse verrigtinge sou wees nie.

Dit het tien van die gemeente se broeders gevat om mej Verwey van Mevrou die Dominee af te kry. Die gerug het na die tyd die rondte gedoen dat Mevrou die Dominee vir spesiale behandeling op haar gesig moes gaan om van die impression wat mej Verwey se Bybel op haar een wang gemaak het, ontslae te raak. Nóú nog praat die gemeentelede van die ligte buitelyn van ʼn halwe y en die onderkant van ʼn e, as jy mooi kyk. Mej Verwey is die strate in en is nooit weer in die kerk gesien nie.

Dis nou dieselfde siel wat my so 'n paar dae gelede net bo die parkie met ʼn blinde hou oor die kop aangesê het om my heil te loop soek. Ek sweer dis dieselfde Bybel wat sy Mevrou die Dominee mee gebliksem het, en ek voel vir ʼn oomblik sommer famous. Tussen die sterre deur hoor ek toe ook nog: "God straf onmiddellik!" en dis toe dat ek besluit om te begin hardloop.

Gelukkig kon ek Marilize oorreed om die slaai te laat gaan, anders was dit weer sulke tyd.

Oomblikke later staan ons in die photocopy-plek en ek staan in die hoek en kou aan ʼn ekstra sarmie terwyl Marilize met die outjie agter die counter baklei.

"Maar ek kom al forever hiernatoe! Julle't nie laas keer ʼn probleem gehad toe ek al daai invites laat uitprint het nie!" gil Marilize effe histeries.

"Ja, maar dis voor jy daai ander toebroodjie in ons laminate-masjien ingedruk het. Dit het ons amper R20 000 gekos om die ding te laat fix, newwermaaind al die gemors wat nog op die matte opgeëindig het," sê die jonge ewe ongëerg. Die outjie beduie na die poster wat agter die counter op is. "Ek doen net my job. Die manager het dit opgesit na die laaste keer wat jy hier was en gesê hy fire enige persoon wat dit waag om jou naby ʼn masjien te laat gaan." Op die poster pryk Marilize se image lewensgroot waar sy die toebroodjie by die masjien invoer, met die woord "Banned" in groot swart letters onderaan.

"Ek kan dit nie glo nie! Dis net een blerrie masjien. Julle sê dan julle kan enigiets laminate!" bulder Marilize voort. "Dis vals advertising!"

Later, op pad terug na haar woonstel toe, gaan dit nie veel beter nie. "Wat gaan ek nou maak?! Dit was my enigste hoop gewees!" rou Marilize. Skielik hou sy op met grens en kry ʼn look in haar oë wat ek net alte goed ken.

ʼn Paar dae later staan ek in ʼn ander kopieerwinkel met ʼn donnerse toebroodjie in die een hand en ʼn uitdrukking van ongeloof op my gesig. Marilize het my waaragtig omgepraat - wel ek sê omgepraat; wat ek eintlik bedoel is afgepers - om by ʼn winkel aan die ander kant van die stad ʼn poging te gaan aanwend om haar blerrie toebroodjie te laminate.

"Hulle sal jou gesig nie ken nie; daar hoort selfs nie enige poster van my daar te wees nie. Die poephol van ʼn manager kon sekerlik nie elke copy-plek in die stad gewaarsku het nie," sê sy terwyl sy die sarmie in Gladwrap toegooi.

"Ja, maar ek twyfel of die resultate van die poging anders gaan wees," sê ek.

"Daar's nog net ʼn paar dae oor voor my exhibition. Gaan jy nou rêrig daar staan en vir my sê jy gaan my nie help nie. Ek, jou vriendin wat practically soos ʼn suster vir jou was, nog altyd. Onthou daai tyd met die cowboy?" vra sy.

Marilize is ʼn gebore afperser. Vertel ʼn geheim aan haar en sy sal dit na die graf met haar dra. Tensy daardie geheime tot haar voordeel gebruik kan word. Soos die debakel met die cowboy.

Eens op ʼn tyd in my prille jeug had ek ʼn eindelose fassinasie met online chatting. Vir my was dit een van die tekens van die tye, ʼn belofte dat maak nie saak wie jy was, of waar nie, solank jy toegang tot ʼn computer, modem en foonlyn gehad het, jy kon deelneem aan die global village. Die vloei van idees en inspirasies wat sou lei tot die afbreek van elke mensgemaakte skeiding wat ons vreemdelinge van mekaar gemaak het.

Dit was ook ʼn goeie manier om ouens op te chat.

Op daardie stadium was dit omtrent net moontlik om ʼn gesprek te voer met ʼn ander persoon sonder dat jou komper elke vyf minute ʼn eksistensiële krisis kry en een of ander onbenullige boodskap uitgooi along the lines of: "Error 324 - Check directory 2xxccskbngks." Dus was daar nie profiles waarop mens foto's kon sien nie, en mens kon ook nie vir mekaar foto's stuur nie, omdat dit moontlik twee maande sou vat voordat die proses voltooi is. So mens moes dit maar op geloof vat dat die ander persoon is wie hulle sê hulle is, en lyk soos wat hulle sê hulle lyk.

In hierdie omstandighede en met ʼn kop vol drome en verwagtinge ontmoet ek vir Cowboy. Dit was asof elke droom en hoop vervulling in hom bereik het en die afspraak om hom te ontmoet was gereël nog voor die son die volgende oggend opgekom het. Dis met ʼn blye hart en ʼn stewige dosis kalmeerpille dat ek by die plek aangekom het waar ons gereël het om te ontmoet.

Spyt kom egter altyd te laat en ek is nou spyt dat ek nie beter opgelet het toe ʼn klein stemmetjie binne my hom afgevra het waarom ons by ʼn hotel moes ontmoet nie, maar die kombinasie van die kalmeerpille, my blindelingse hoop en jeugdige naïwiteit het my laat glo dat dit meer romanties so was. Kamer 301 se deur het effens oopgestaan toe ek aankom, en na ʼn klop aan die deur met geen antwoord nie, het ek ingeloop.

Toe ek dit leeg binne ontdek, het ek vir ʼn oomblik my hart voel sink. Hy't gekom maar second thoughts gehad; hy't iemand anders ontmoet; hy's dood en sy lyk lê êrens waar iemand eers twintig jaar van nou af op dit gaan afkom. Maar toe hoor ek die stem van binne die badkamer wat jodel: "Maak die deur toe en maak jou tuis, ek's nou daar!" ʼn Diep, ryk manlike stem wat my neem na plekke ver van hier, waar ons onder ʼn warm son op ʼn tapyt van groen gras in mekaar se arms lê en soete dinge in mekaar se ore fluister.

Terwyl ek nog probeer om die walms van ʼn senuweeagtige poep by die venster uit te jaag hoor ek die deur agter my oopgaan en Cowboy wat sê: "Ek's reg, baby!"

Wat ek volgende gesien het, laat my nog party aande in ʼn sweet myself wakker skree. Dit het ʼn paar oomblikke vir my geskokte brein gevat om die boodskap wat my oë aan hom probeer herlei het, te verwerk. Voor my, in chaps, ʼn hoed, ʼn paar boots en met ʼn sweep in die een hand - en NET dit - staan mnr Preller, my hoërskool-houtwerkonderwyser. Mnr Preller was ʼn absolute diktator van ʼn onderwyser: hy het sy mag afgedwing met behulp van ʼn ellelange metaalliniaal wat hy sonder waarskuwing op mens se kneukels kon neerbring as hy gevoel het dat jy nie aan sy standaarde voldoen nie. Daar was dae na houtwerkklas wat ek seriously dit geconsider het om ʼn hitman te huur net om van die ou doos ontslae te raak.

Ek het nie eers gewag om te sien of hy my herken nie. Dit was seker die vinnigste wat ek nog ooit gat skoon gemaak het. Marilize is onmiddellik ingespan vir emosionele en alkoholiese bystand.

Nouja, soos jy saai, so sal jy maai, en ek sal seker nog vir die res van my lewe hierdie oeste inbring.

Back at the moment at hand het ek eindelik iemand opgespoor wat lyk asof hy hier kan werk en hom oortuig dat mens wel 'n toebroodjie kan en wil laminate. Dis toe hy so besig was om die sarmie by die masjien in te voer dat ek 'n stem agter my hoor bulder: "Bekker wat de donner doen jy?!", en omdraai om te kyk wie so aangaan, dat die masjien begin kreun en steun soos 'n 60-jarige op Viagra.

Needless to say was daar geen meer sprake van gelamineerde eetgoed nie. Dit was moeilik genoeg om die situasie aan die bestuurder, ene mnr Preller, te verduidelik.