Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Paul Cluver Chardonnay wen Decanter-trofee


Johann H Crafford - 2008-09-12

Nadat die Paul Cluver 2007 Chardonnay die Decanter World Wine Awards-streekstrofee vir die beste Suid-Afrikaanse Chardonnay vir minder as £10 ingepalm het, is dié wyn pas in Londen met die internasionale trofee vir die beste ter wêreld vereer.

Dié trofee is een van die ses uit 26 internasionale trofeë wat Suid-Afrika gewen het, en dié land se prestasies is 'n triomf, skryf Adam Lechmere in die aanlyn-weergawe van Decanter.

Australië, wat meer inskrywings as Suid-Afrika uit die groottotaal van 36 000 gehad het, het net vier trofeë verower.

Decanter sê: "Suid-Afrika het ondanks sterk mededinging ten opsigte van chardonnay skoonskip gemaak deur internasionale trofeë vir die kategorieë Minder as £10 én Meer as £10 te verower, danksy onderskeidelik Paul Cluver Elgin en Rustenburg Five Soldiers. Daarmee het die land die beste wat Boergondië, Australië en die deelstaat Washington kon bied, geklop."

Andries Burger, Paul Cluver se wynmaker, het die streekstrofee in Junie reeds as 'n "geweldige pluimpie" beskou, en hom daarmee met dieselfde woorde van Lyn Day, uitvoerende beampte van die Decanter World Wine Awards, vereenselwig.

"Erkenning as die beste ter wêreld is 'n groot eer, maar dit beteken nie ek kan op my louere rus nie," sê Burger.

"Ons pas al die afgelope agt oesjare wilde gisting toe, en ek weet dié oesjaar is een van die bestes wat ons nog gemaak het. Ons sal gedurig bly aanpas en eksperimenteer om te verbeter, en die 2008-oesjaar toon reeds nuwe eienskappe omdat ons sommige van die vate gerol het om 'n ryker en breër smaakspektrum te skep wat goed met die mineraalkenmerke, waardigheid en kompleksiteit saamgaan.

"Die 2007-oesjaar toon 'n goeie balans tussen die druiwesmaak en die hout, en die sitrusgeure en tikkies ryp perske en pynappel span saam met die smaak van geroosterde neute wat die eikehout verleen om 'n wonderlike elegansie te skep," sê hy.

Die toekenning kom in die spore van ander lof in die bedryf vir die Paul Cluver Chardonnay, soos vier en 'n half sterre in Platter, vier in Grape en Decanter, eervolle vermelding by die International Wine Challenge, 'n goue medalje op die Chardonnay du Monde en Michelangelo, silwer- en bronsmedaljes op die Decanter-kompetisie en Air France Trophy, insluiting op die lys in premium-klasse van KLM en SAA, en 91 punte in Wine Spectator.