Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Paul Cluver stel 2007 Pinot Noir bekend


Johann H Crafford - 2008-09-12

Die Paul Cluver Pinot Noir 2007 is een van die beste oesjare wat ons nóg bekend gestel het, sê wynmaker Andries Burger.

"Dié oesjaar bly getrou aan die vrugte-suiwerheid en struktuur van die wyn wat deur die natuurlike suur voorsien word. Dít is die wese van 'n uitmuntende pinot noir," sê hy.

"Die neus herinner aan kersies en aarbeie, met tikkies speserye, sampioene en donker sjokolade. Die palet is propvol rooi vrugte, met sweempies speserye en 'n asempie hout, met 'n mineraalkern. Die kleur is van ryp kersies deurtrek, en die fluweelgladde, elegante nasmaak talm lekker lank."

Paul Cluver se pinot noir is tydens die TriNations-kompetisie bekroon, en het Decanter- en IWC-medaljes verower. Feitlik elke oesjaar het vier sterre van Platter gekry. Die 2003-oesjaar is ook aan SAA se eersteklas- en premium-passasiers bedien. Ander prestasies is onder meer 'n Grape-toekenning van vier sterre, 'n bekroning as beste pinot noir in Suid-Afrika deur die tydskrif Wine, en 'n benoeming as een van die beste vyf pinot noir-wyne in Suid-Afrika deur die tydskrif Wine in die Verenigde Koninkryk.

Andries Burger sê dié wyn pas goed by feitlik alle kossoorte. "Die uitstekende natuurlike suur sorg dat dit 'n pasmaat vir talle disse is. As dit effens verkoud word, is dit uitmuntend met seekos - skulpvis, kreef en sportvis. As dit teen kamertemperatuur (16-18 grade) bedien word, is dit briljant met enigiets van geroosterde biefstuk en wildsvleis tot by geroosterde groente. Dié wyn is ook puik met kaas, veral sterk, harde kaas."

Die wyn se sterk-gestruktureerde tannien sal verseker dat dit minstens vyf tot sewe jaar lank goed sal verouder, maar dit kan ook jonk gedrink word, sê hy.