Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

40’s tot 90’s: Dingaansfeesviering


Deon Knobel - 2008-09-10

Die rituele wat elke jaar met 16 Desember, ’n rooiletterdag vir die Afrikanergemeenskap van Bethlehem, gepaardgegaan het, was velerlei en het blywende indrukke op die jong Knobelkinders se gemoedere gelaat. Die Knobelgesin het soos stoere Voortrekkers van ouds die voortou geneem om die voorbeeld te stel met feesvier en die onthou van voorvaders se beloftes en tradisies.

Die week vooraf is op die plaas gewerskaf, soos in menige ander kombuis in die distrik, om vir die groot uitkamp gereed te maak. Vroeg die môre van die 15e − behalwe as dit soms op ’n Sondag geval het; dan is dit vervroeg na die 14e – is kamp opgeslaan met tente of waens waar daar nog daarvan oor was, en selfs Vêrsien se skoolbus vir die kinders of ouers om in te slaap. Wilhelm se moeder het daarop aangedring om vir die paar dae in volle Voortrekkerdrag – roospienk rok met wit kappie en halsdoek om die nek – te leef, en het altyd gereed gestaan – met die hulp van Maria of Ninie of Topsie of Anna of Alina Piet of Alina Puli, of wie ook al op daardie tydstip die kombuishulp en kosvrou van Vêrsien was – om die uitgesoektes met gemmerbier, koffie en beskuit en selfs koeksisters en melktert te bedien.

In haar kleinkinderdae moes die jongste spruit, Thereschen, maar tevrede wees dat haar verjaardag op 15 Desember sommer so as deel van die feesvieringe moes plaasvind. Sy het ’n regte kinderpartytjie gemis.

Rondom die groot braaivleisvure, wat vir drie dae aan die gang gehou is, was nog ’n stoere Voortrekkerpaar – oom Hertzog en tant Lina Kotzé, sý taamlik oorgewig en al swetende en rooi in die gesig; hy, korter en skraler, maar met ’n kort, stywe nek as gevolg van een of ander werwelafwyking. En deur vir die menigte vleis te braai, het hulle hul volk gedien op Dingaansdag, later Heldedag, later Versoeningsdag of watter dag ook al, indien dit wel nog vandag bestaan.

Vir enkele maande en weke voor die groot dag is daar toneel geoefen, met ons moeder aan die voortou as regisseur en hoofaktrise en met ons klein en tenger tante Lotta kort op dié se hakke – as mede-afrigster en voorsegster wat agter die verhoog deur die kant van die verhooggordyn weggesteek sou sit met die teks op die skoot om voor te sê waar woorde vergeet is. Eers veel later sou die vername woord van “souffleuse”in die woordeskat van die kinders ’n plek inneem. En só is Ai tog die vroumense, Die arrestasie van NP van Wyk Louw, en veral Uys Krige se epiese drama Magdalena Retief op die planke gebring.

Weens sy lengte en patriotiese aard is Magdalena Retief nie dikwels elders opgevoer nie, en Uys was hoog in sy noppies dat dit wel ’n paar maal op Bethlehem aangebied is. Hy het Wilhelm se moeder selfs per brief gelukgewens en haar “my Magdalena” genoem. Met ’n formidabele span mede-akteurs, bestaande uit onderwysers, sakemense, fotograwe, motorwerktuigkundiges, uitgetrede of jong boere, studente met vakansie en huisvroue, is die karakters op besondere hoë peil uitgebeeld op die heel beperkte verhoog van die Eeufeessaal – ’n oop struktuur van geriffelde sinkplaat en metaalpilare onder die hoë sederbome. Die herinneringe van moeder Esther as Magdalena Retief bly helder voor die geestesoog van Magdalena se seun Lukas, twee maal “vertolk” deur haar jongste seun, Deon. Alhoewel broer Deon en kleinsus Thereschen ook soms met vakansies vir dié taak ingespan is, kan nie onthou word dat Wilhelm of broer Henri en sus Estie ooit ’n rol op die verhoog vertolk het nie. Inderdaad kan nie eers onthou word dat Wilhelm as oudste seun ooit werklik deel van die verrigtinge en plesier rondom die geleentheid was nie. Ná die laataand-einde van die toneelstuk is daar nog rondgespeel totdat kinders tot slapens toe en stilte beveel is.

Die oggend van die 16e was selfs heiliger as enige gewone Sondag, en die hele kampgemeenskap en besoekers uit die dorp en distrik het vergader vir die erediens. Vir die kinders was dit grotendeels ’n straf om deur te sit. Daarna was dit braaivleis en boerewors met ander gekookte groente wat saam met geel rosyntjierys by ma Esther se tent opgedis is.

En dan – o wee! – Dingaansdag/Heldedag/Versoeningsdag of Watterdag se toespraak om drie-uur die middag deur een of ander hooggeplaaste en meer dikwels ’n belangrike lid van die Afrikaner Broederbond of ’n Afrikaner- Nasionale politieke figuur. Onder protes en dwang sou Wilhelm en sy kindertydgenote ook die toespraak moes bywoon, met die toegewing dat hulle agter aan die kant kon gaan sit, en as hulle te moeg word, kon hulle gaan speel, “maar doodstil en geen geraas nie, hoor?!”.

Om op hierdie spesiale feesdag gedwing te word om die toesprake, wat klokslag om drie-uur die namiddag begin het, by te woon, was een van die moeilikste strawwe wat kinders moes verduur. Nodeloos om te sê dat die “moeg word” sommer baie gekom het, en dat die “doodstil” al te dikwels deur oom Hertzog of pa Gideon met kwaai woorde en gedempte stem beveel moes word.

Die vlymskerp satiriese gedigte “Albumblad vir Republiekdag” en “Oproep aan ware Afrikaners” wat later deur broer Wilhelm geskryf is, is dalk deels gebore uit hierdie geleenthede met die histrioniese verheerliking van die verlede, en die Afrikanerpolitiek waarmee Wilhelm waarskynlik reeds as kind nie gemaklik was nie.

Albumblad vir Republiekdag 1969

’n Almanak teen jou muur is tog belangrik
’n blow-up van ’n X-kop uit die Nowgorodskool*
is vanselfsprekend onbekombaar
in dié Christelik-nasionale Hoofstad
en ietwat onvanpas
− om nie te sê godslasterlik nie −
in ’n staatsdienskantoor:
almal weet reeds
al durf die smeerblaaie self dit nog nie sê nie
dat as die Nuwe Party die swaard gryp
teen die anti-Afrikaner
anti- (SA) Calvinis
om nie eers te praat van die anti-
weerbarstiges
of anti-anti-Engelse
anti-anti-swemmers op Sondag
en ander onnoembare
nóg nie gebande
anti-Tradisiestryders nie
die geskiedenis grondig herskrywe gaan word
om onteenseglik vir alle tye te bewys
dat die aanspraak van ’n voor-Kaapse erfenis
Diets of Anglo-Saksies of voor-Calvinisties
eintlik ’n mite is:
deur God onder die Suiderkruis
op sy kruisvaart geplant
bring die Nuwe Nasie
aan ’n afgedwaalde wêreld die boodskap
van éénsoortige éénmalige
gepredestineerde ontwikkeling
en kragtig klink die strydkreet onder ’n blanke vlag

“Staan op! Staan op!”
(hoe kan dit anders
dis voor die grondlegging so bepaal)
vir die Calvinisties-nasionale Vaderland
Taal
Ras (volk? nasie? – die puntjie sal hom wel
in mnr X se eie tyd meer helder openbaar)

Dán

kom die ware era van verligting
– nou nog ketters as verkramptheid uitgekryt –
die era van die banvloek teen impotente skyngevare eers
soos die ANC, PAC
(nie te verwar met PACT nie)
Black Sash
Nusas
koppige priesters van Limehill en dies meer
en meer verbete nog teen dié wat weerbarstig
met ydel gebruik van tradisie-geheiligde begrip
die Volk begoël, weghoereer agter Baäls
van ’n verenigde volk
en vryheid van godsdiens
en uitwaartse vriendskap

u ken die rympie alte goed
uit Sondagkoerante wat
voorlopig ongenoem sal bly

In steeds sneller verligting word aan die volk openbaar:
dat die Groot Moeder van die Nasie
wie se hart geslag is by Bloukrans
die kop van die adder reeds vermorsel;
dat ligeeue voor Van Riebeeck se landing
en reise van Da Gama en Dias
(God kies wel as werktuie soms
dié wat die rites van die Kainskerk voltrek)
hul name reeds geskryf staan in die Boek
die Swart Boek van die Antichris
die Boek van Uitverkiesing tot geween en gekners …

Die verdere openbaring bly nou nog duister
maar die vryheidsduif het sy vlug reeds begin
nie langer gekortwiek deur beperkte visie van ’n Staatshoof nie
en ’n kolom van vuur in die wapad
verlig die koers
die onfeilbare koers van die
Ware! Onoorwinlike! Geheiligde!
Onwrikbaar-Calvinistiese
VOLK
Daarom:
laat ons teen die muur ’n almanak hang vandag
eg Suid-Afrikaans
deur toonaangewende begrafnisversekeraars landswyd versprei
van oranje teen blou
– vlammende aalwyne wat brand na die lig
teen hoekige rots
* verwysing na ’n detail in die ikoon van Christus met die
nat baard uit die 16e eeu. 23-24/5/69 – 13/6/69)

Ook “Oproep aan ware Afrikaners” is ’n bitsige politieke satire en uit dié vers word dit ook duidelik dat daar iesegrimmigheid was oor die groep skrywers en digters bekend as die Sestigers, wat uitgesproke was met hulle kritiek op die Regering en sy apartheidsbeleid.

Oproep aan ware Afrikaners

deur bitsige polemiek in tydskrif en koerant
oor wie verlig is en wie verkramp
word die Beeld van ons Nasie
verdraai
en hardnekkige gekraam van forum en kansel
oor skrywers van Sestig wat ons siel verkwansel
help die verdeeldheid nog verder saai
gord aan die swaard en gryp die pen
en verkondig jul bedenkings soos ’n broeisiek hen
as die rumoer bedaar en die rook trek weg
is ons Nasie verstewig
en jul name verewig
tereg
(21/2/68)

Die viering der alle vieringe het egter op 16 Desember 1949 plaasgevind, toe die hele Knobelgesin, uitgedos in spoggerige Voortrekkerklere, alles behendig deur moeder Esther self met die naaimasjien gemaak, op Monumentkoppie aangetree het vir die inwyding van die Voortrekkermonument buite Pretoria. Dis hier tog te verstane dat ’n Voortrekkerseun nie bril sou dra nie, en met “Wilhelm, haal af jou bril” is hy bysiende en halfblind, en kom op die foto verleë en ongemaklik voor. Een van die seuns se onderbaadjie, steeds in muntkondisie, is onlangs tydens verhuising en huis oppak deur suster Estie tussen ou klere gevind.

 


Pa Gideon met woeste baard en in volle Voortrekkermondering en die drie seuns onder met Wilhelm, sonder bril en ietwat verleë, skuins agter die ander twee.

 

In teenstelling met Dingaansdag se namiddag van toespraak om drie-uur sou daar op ’n gewone Sondagmiddag op die familieplaas doodse stilte heers terwyl die ouers slaap. Kinders van sy geslag in die boeregesinne sal onthou van die doodsverveling van Sondagmiddae. Afgesien van Sondagskool in die oggend met kinderspel daarna en die erediens op die dorp elke tweede Sondag en daarna die Sondagmiddagmaal se ooreet aan Maria se kos was daar bitter min om na uit te sien. Die lang middae moes omgekry word sonder om te speel – nie karretjies nie, nie Ludo of ander speletjies nie en selfs met niks om te lees behalwe die Klein Kerkbode of ’n “heilige boek” nie. Dit was nooit duidelik hoekom die kinders saam met al dié van die omgewing wel toegelaat is om soggens ná Sondagskool alles en nog wat te speel tot huistoegaantyd vir middagete vir almal aangebreek het nie.

Van hierdie verveling, wat dikwels tot ongeoorloofde dade aanleiding kon gee, skryf Wilhelm, die oudste broer van die gesin, later die volgende:

Verveling is gebore op ’n Sondagmiddag

as die hele werf slaap
neem hy suutjies sy broer se rek
kry koers na die spruit
tel langs die water vyf ronde klippies op
die eerste skiet hy blindweg in die rietbos
om die terugtrek te toets van die rek
en die slag van die mik wat pas in sy hand
dan, onder ’n wilgerboom,
hou hy sy asem op en wag …

die stilte word ’n ritseling van onsigbare vlerke
van bloed wat suis deur sy slape …
’n loom getjilp, daar!
waar die groen blare dig en koel is
die rek in sy hand soek vanself die rigting
trek terug, terug langs sy wang
die klippie woer! by sy gesig verby
– reeds sink sy hart: dis mis …
dan spartel die blare
val ’n rooiborsie roerloos langs sy voete …

die stam van die boom is ’n bruin waas
drie klippies brand klam in sy hand
sy skuld.

Die vyf ronde klippies verwys waarskynlik na die koeëlronde spoelklippies wat in groot getalle langs die rivier op Reinfeld, oom Petrus en tannie Corrie se plaas, opgetel kon word.

Wat betref swem op Sondag: Dit was totaal buite die kwessie en is ook waarskynlik as sonde bestempel. Groot was die verwarring dus toe die plaaslike huisdokter en sy vrou een Sondag opdaag en sonder vertoon in die sementdam gaan swem. Was swem op Sondag net vir die verveelde kinders sonde en nie vir die dokterspaar nie? Wilhelm spot fyn hieroor in die volgende satiriese vers.

Glo jy aan swem op Sondag?

1
As hul my vra: Glo ek …
glo ek aan swem op Sondag?
dan skeel dit min of ek antwoord pront:
Glo jy aan ’n hel of glo jy in God?”

2
“Maar natuurlik nie, my Lam,
maar ons swem so selde”

3
ses dae in die myngat glo ek
en die sewende dag in God se huis of
op die voorstoep met die Sondagkoerant
wat so heerlik vol is –
met meisies in bikini’s by Clifton
met feite en foto’s oor die nuutste party
of die kerk se sensuur op vrymesselaars
(hulle glo te liberaal
in ’n Opperwese wat plek maak vir Boeddha
en Mohammed
en selfs die god van die Roomse)

“Glo jy aan die monster in die Vaaldam?”
niks is vir die wetenskap onbekend
van wat in vars water hou nie
dis wel ’n familie otters wat swem op ’n streep
of ’n baber wat monsteragtig groot kan word
(ons het babers gevang in die kuil op ons plaas
en in die bad laat swem op Sondag)
’n baber? “sy kop was vier voet bo die water
hy het geen snor gehad nie” –
of ’n seekoei (maar kom hulle so ver voor?
ek dag hulle is almal uitgeroei in die deel)
“ek hoor vir ’n feit dis ’n luislang
– van al die omliggende dorpe
word skietpartye Sondag gereël”

4
na die hel met swem op Sondag
na die hel met Sondag
skink nog ’n bier

5
Swem op Sondag –
wat leer Gods woord ons?

6
die swembad kamp hulle af
maar die baie lope van die Vaal?
Dáár kom predikante min
of skelm
swembaddens is te goed ontsmet vandag
en bilharzia is God se straf

7
Swem is sonde in die Vrystaat op Sondag
Swem in die Vrystaat is sonde op Sondag
Swem op Sondag is sonde in die Vrystaat

Die laaste viering van 16 Desember is in 2003 deur die skrywer op Bethlehem bygewoon. Die tema van versoening het skynbaar sekere stoere Boerefeesgangers teen die bors gestuit. Met orkesbegeleiding en onder luide sang van “En hoor jy die magtige dreuning” deur vlagdraende en marsjerende lede van die Voortrekkerbeweging is die ou landsvlag gehys. Toe verbasing oor die ou landsvlag uitgespreek is en na versoening verwys is, is erg ontstoke gevra: “Watse versoening – met wie moet versoen word? Wat het ons dan nou so danig verkeerd gedoen? En vir wat dra jy daardie rooi strikkie aan jou baadjie se lapel?” Hier is verwys na die rooi vigsbewustheidstrikkie wat ek reeds vir jare pal dra.

En dan kom die nuus dat daar in Desember 2007 geen formele feesprogram aangebied is nie. Baie lede van die gemeenskap het skynbaar gevoel dat dit nie meer gepas is om die neerlaag van een groep as oorwinning vir die ander te vier nie. En van versoening is daar onder sekere lede van die Boeregemeenskap geen sprake nie. Tog erg en groot was die ontsteltenis onder dié lede van die gemeenskap wat nog sterk gevoel het oor die gelofte en die viering van die “Gelofte”-fees op gepaste en sigbare wyse.

En vir die opvoering van toneelstukke soos Magdalena Retief en Die arrestasie is daar lankal nie meer die tyd, die toewyding en selfs die talent om enigsins ’n sukses daarvan te maak nie.