Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Berta Smit: die engel van Leitourgos


IL de Villiers - 2008-09-10

Toe ek haar die eerste maal by Tafelberg Uitgewers in hul ou gebou in Keeromstraat ontmoet het, was Berta Smit pas terug van ’n oorsese reis. Ek het navraag gedoen oor die manuskrip van my eerste digbundel wat aan hulle voorgelê is. Sy het van die manuskrip geweet, maar haar jong kollega het daarmee gewerk. Hy was nie baie beïndruk nie.

Ons het in haar kantoor gesit en hy het die woord gevoer. Sy het hom met haar kop effe skeef beluister. Ek het my stadigaan vererg en gesê dan beskou ek dit as ’n mislukte eksperiment en skeur dit op. En of ek gou ’n draai kon loop?

Toe ek terugkom, was die atmosfeer totaal anders. Wat vinnig in my afwesigheid gesê is, het ek nooit agtergekom nie, maar Berta het tee bestel en die manuskrip het voor haar gelê. Haar kollega was ewe skielik galant. Sy het haar nie veel aan ons gesteur nie, haar elmboë op haar lessenaar gesit met haar kop in haar hande, en die verse een vir een begin lees. Sy het opgekyk en half stadig gepraat, presies, afgemete. Of ek die volgende oggend weer kon inkom? Dan sou sy uitsluitsel gee.

Ek het akkoord gegaan en is na Merwe Scholtz toe. Dit was immers hy wat die manuskrip die eerste maal nagegaan het en sonder my wete aan JD Pretorius gegee het met die woorde: “Hierdie kan ’n blerrie goeie bundel word.” By sy huis in Higgovale aangekom, het ek van my ontmoeting met Berta vertel en hy het heel gemaklik gesê ek moet die bundel sy gang laat gaan. Dit sou gepubliseer word. As Berta sê dis nie goed genoeg nie, sou hy weer kyk.

Berta hét gesê dis nie goed genoeg nie, nie in die vorm wat dit was nie. Ek moes sekere veranderinge aanbring en verder aan ’n paar verse werk. Sy het my ’n kort lesing oor die bundel en poësie in die algemeen gegee (ja, werklike uitgewers het dit toe nog gedoen!) en gevra dat ek die bundel ná drie maande weer bring en as sy tevrede was, sou Tafelberg dit uitgee. Haar kollega het instemmend geklink en verduidelik dat Berta die bundel vir hom “duidelik en oop” gemaak het. Ek en hy het ook vriende geword.

Ek is huis toe met die manuskrip en het dadelik die verse geskrap waarby Berta vraagtekens gesit het. Terwyl ek gewerk het, het drie nuwe verse bygekom. Die bundel is herrangskik soos Berta aanbeveel het – sy het onder meer gesê dat my openingsvers die slotvers moes word! – en ek het dae geloop en dink aan oplossings vir probleemstrofes wat sy aangedui het. Uiteindelik is ek weer eers na Merwe Scholtz. Hierdie keer was hy effe ongelukkig oor die veranderinge. So het ek geleer dat smaak verskil onder die mense van die lettere. Maar hy het nog ’n baie goeie aanbeveling of twee gedoen en ek is vort na Berta. Sy het die manuskrip net so aanvaar en Leitourgos (die liturg) het einde Mei 1972 verskyn.

Dit het R3,50 gekos, slapband in oranje. Ek het gedog dis die mooiste boek ooit. JD Pretorius, self ’n legende en stigter van Tafelberg, het my gelukgewens en Tonie Rouw, die niefiksie-uitgewer, het gesê: “Ek het gelees. Ek hou van. Ek hoop dis nie ’n eendagblom nie. Maar nou moet ek julle eers groet, want ek gaan gou ’n dingetjie hier onder my blad laat uitsny. En Izak, gaan vier dit …”

Berta het gesê JD moet vir die ete betaal. Hy het nagedink en geknik. Tonie Roux het gegroet. En ek het een van my ergerlike gewaarwordings gekry en met nadruk “Totsiens, Tonie!” geroep. Ek het geweet ek sou hom nooit weer sien nie. Sowat twee maande daarna is hy aan kanker oorlede.

By die ete het die bedaarde Berta ewe skielik ontpop in ’n vrolike vierder. Sy was klein van gestalte, kort donker hare, wye mond, op haar manier aantreklik en so belese soos die Wikipedia. Teen die end van die ete het sy die bundel oor ’n glas rooiwyn geprys en stukke Goethe aangehaal met die profesie: Dié bundel gaan vlieg.

Binne ses weke was Leitourgos uitverkoop. In Die Burger het gestaan: “Dominee dig treffer oor dominees.” In die Cape Times, ná ’n onderhoud: “From pulpit to poetry for night wolf.”Johan Botha, toe lektor in prosa by UCT , het dit sober en reguit bespreek sonder groot lofprysing, maar oorhoofs sy twee duime gelig en gesê ek is ’n “vormvirtuoos” en dat die bundel ’n kleim afgesteek het in die Afrikaanse poësie. Oornag was ek ewe skielik by poësie-mense bekend. Audrey Blignault het dit oor Vrouerubriek bespreek en DJ Opperman het laat weet dat hy dit as “’n goeie bundel” beskou. Leitourgos het dertien drukke beleef. Die derde druk was hardeband.

My en Berta se vriendskap het gegroei. Sy wou weet of ek nie dalk nog iets geskryf het nie. Ek het gesê: “Nie veel nie, bloot aantekeninge by my daaglikse Bybellees.”

“Maar kan ons dit nie uitgee nie?” wou sy weet. Ek het gesê ek sou kyk en saam het ons dit deurgegaan. Dis gepubliseer as Engel voor my uit en het ook ’n paar herdrukke beleef.

’n Week ná die verskyning van Leitourgos het oubaas Phil Weber, voorsitter van die Pers en ’n jintelman, my in die straat raakgeloop en my aan my foto herken. “Geluk met die digbundel!” het hy gesê en bygevoeg: “Ongelukkig verkoop poësie nie juis nie. Daarby skryf jy oor godsdienstige temas en godsdiens verkoop glad nie.” Later het ek dikwels hieraan gedink: hoe verkeerd kan die grotes soms wees. Hy was reg oor poësie, maar verkeerd oor godsdienstige boeke. Die era van die godsdienstige boek in Afrikaans het pas begin en dalk was Leitourgos deel daarvan.

Berta het ’n gereelde gas by ons pastorie in Bonnievale en kort daarna in Constantia geword. Wanneer sy eers uit haar dop gekruip het, was sy op haar bedaarde manier ’n raconteur, ’n geselser en storieverteller soos min. Haar roman Man met die kitaar het pas verskyn, maar was nie so goed soos Die vrou en die bees nie. Ek wou weet van die titel en sy het vertel dat daar een aand ’n man slingerend met ’n kitaar verby haar woonstelgebou in Kloofstraat geloop het. Hy het aanhoudend gesing: “Nader, my God, by U. Nader, my God, by U.” Dit was die kliek-kliek in haar kop en ’n roman se saad is gesaai. Baie later sou Juffrou Sophia vlug vorentoe verskyn, wat ek as haar beste werk beskou het.

Min mense het geweet dat Berta ’n absolute kenner van Calvyn se werk was. Soms het dit vir my geklink asof sy die hele Institusie ingesluk het. Sy het my ook gewys op ’n Franse boek, Die sosiale gewete van Calvyn, maar ek kon nie Frans lees nie en sy het my kortliks vertel dat Calvyn ’n sosiale hervormer soos min was, en alles behalwe verkramp, soos hy en sy volgelinge vandag voorgestel word. Haar belesenheid in die teologie het my verbaas, iets wat my later ook by Sheila Cussons sou verstom – maar natuurlik twee uiteenlopende paaie. Albei van hulle sou aan ’n Teologiese Seminarium kon gaan klasgee en 85% van die proffies daar die loef afsteek. Hulle kennis was immer deurlééfde kennis.

As Berta die dag lus was vir ontspan, kon sy ’n bottel Cabernet seermaak. En nog een. Dan het sy Duits gepraat soos ’n Duitser en Heine en Schiller en Goethe én stukke Calvyn aangehaal, maar sonder om ’n woord verkeerd te sê en sonder om haar maniere of hoflikheid prys te gee. ’n Hele paar van my vriende kon hul alkohol vát.

Sy het soms van my kerkdienste bygewoon en agterna my preek bespreek. Ek het altyd by myself gedink: Dalk het elke predikant ’n Berta Smit nodig om hom te weerhou van soetsappighede of teologiese swymelary én terselfdertyd sy voete op die grond te hou. Ek en Berta het ’n hele paar boeke en bundels saam geprakseer: sy met die manuskrip en ek wat wag op die ja of nee én natuurlik die nodige en tersaaklike opmerkings en verbeterings. Daar was nooit sprake van ’n buite-keurder nie. Sy en Danie van Niekerk, vandag nog ’n vriend van my, het besluit en klaar. Ek weet nie eintlik van swak boeke wat hulle uitgegee het nie.

Later het Willem van Zijl van NG Kerk-Uitgewers haar na hom toe gelok en ek dink Berta se liefde vir die teologie het die deurslag gegee. Willem se uitgewery het kwaliteitboeke uitgegee met Berta aan die spits.

In die tagtigerjare is die Andrew Murray-prys op Wellington ingestel en die heel eerste prys is deur iemand anders gewen. Berta was boos. Sy het respek gehad vir die wenner, maar het gereken my bundel Leviet en vreemdeling (Tafelberg) het dit verdien. Sy het met haar baas Willem gaan praat en hulle het besluit om die Credo-prys in die lewe te roep: daardie tyd al vyfduisend rand plus ’n pragtige geraamde commendatio. Die Murray-prys was ’n medalje.

Natuurlik het ek die heel eerste Credo-prys gewen met Anna M Louw en nog ’n paar beoordelaars. Berta het my verseker dat sy niks met die beoordeling te doen gehad het nie. Maar ek glo sy het tog ’n woordjie laat val. Ek was egter baie dankbaar. Berta het agter die kateder gaan staan en die commendatio gelewer. Ek sien haar nou nog by die glansgeleentheid, hoe sy praat, tussen twee groot kerse, in haar vaste stem. Ek het later die Andrew Murray-prys aanvaar, maar vir my het dit nie naastenby dieselfde gevoel gehad as die Credo-prys nie. Jammer dat die Credo-prys saam met die firma se destydse struktuur gesterf het.

Kort daarna het daar beroeringe in Berta se liefdeslewe ontstaan. Sy en haar vroulike metgesel het emosioneel deur diep waters gevaar nadat ’n derde persoon, ook ’n vriendin, met hulle bevriend geraak het. Berta se vriendin is uiteindelik met my vriendin vort.

Oor hierdie hele proses sou ek liewer swyg, maar dis ongelukkig onverbiddelik deel van die afloop van my en Berta se verhouding. Ek het my vir Berta se onvergenoegdheid begin vervies, eintlik ook maar vies vir myself dat ek my midde-in die onverkwiklikheid bevind het. Daarby het sy haarself begin terugtrek. Dinge tussen ons was nooit weer dieselfde nie. Dinge tussen ons (ek en Rina) en die ander gay vriendin ook nie. ’n Liefdesdriehoek is ’n emosionele slagveld, ’n verwoester soos ’n tornado, soos Barry Hough eendag vir my gesê het.

Tog: Vir een van my bundels kort essays het sy die titel Die goeie sal lewe voorgestel. En eintlik leef haar nagedagtenis as een van “die goeie” by my voort. Haar sin vir humor was skerp soos ’n saraseense swaard, en dikwels maar lekker swart. Maar ons het soms gelag soos half verstopte dreinpype, meestal oor haar stories, en veral wanneer sy mense nagemaak het.

Op ’n keer het ek haar by haar woonstel in Kloofnekweg gaan haal en ons was albei bitter oor wat die Regering weer aan die aanvang was. Net daar besluit ons ons sou beter regeer as hulle en hulle almal in die pad steek en sommer ’n paar van hulle hang ook.

Toe begin ons name noem van dié wat ons sou hang, van ministers ensovoorts. Dan dink-spot en bespreek ons die voor en teen en besluit ons saam: Hy moet maar hang. Die tou vir hom. Oor een se naam kon ons nie ooreenkom nie en ons laat dit toe maar daar en begin oor ander, ligter dinge gesels. Anna M Louw se Kroniek van Perdepoort het pas verskyn en ons albei was beïndruk. Terwyl ons so oor Anna se Perdepoort gesels en ek Berta vertel wat ek dink, val sy my skielik in die rede met: “Daai kabinetslid … ek dink hy moet ook maar hang.” Toe lag ons daar teen die onderhang van Tafelberg “dat die kranse antwoord gee”.

Ná die breuk het ons nog af en toe met mekaar kontak gehad. Berta het my gebel toe Juffrou Sophia vlug vorentoe verskyn het. Sy was baie alleen. Vir ’n tyd lank het Rachelle Greeff haar soggens werk toe opgelaai. Later het sy afgetree en by haar suster ingetrek nadat sy ’n ernstige operasie oorleef het. Sowat ’n jaar voor haar dood het ek ’n brief van haar ontvang. “Izak, waar het ons goeie tye heen verdwyn?” het sy gevra. “Ek ween oor soveel dinge. Jy het mos geskryf van Calvyn dat die are langs sy slape dik geword het. Ek kyk nou myne so … maar dis darem bedek! Waar is die dae toe ons saam oor jou verse gepraat het? En oor ander digters? Dat ons saans om die tafel gesit het, ek by jou gesin. En ons etes by die Here XVII smiddags, soms ook met Danie (van Niekerk). Ek troos my aan Goethe: ‘Der Tat is alles, nicht der Ruhm.’ En: ‘Ich kenne mich auch nicht und Gott soll mich auch davor behüten.’”(Ek ken myself nie en mag God dit verhoed dat ek sou.)

Op ’n dag in September 1997 het ek gelees dat Berta ná breinbloeding oorlede is, en ’n soort Wehmut het soos ’n sagte miswolk wat wou breek oor my kom lê. Op my rak het boeke gestaan waaraan ons lank gewerk het. Ek het Jerusalem na Johannesburg ook aan haar nagedagtenis opgedra.

Sy was my begeleidende engel van Leitourgos af. Soos sy, sê ek saam met Goethe: “Ek ken myself nie en mag God dit verhoed dat ek sou.”

Die are langs my slape het ook reeds dik geword.