Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

1961


Douwlina du Plessis - 2008-09-10

Die huis is skemer en koel binne. Die gang is lank en vorm 'n donker tonnel. Aan die onderpunt van die gang is die swaar donker deur wat oopkraak na Oumagrootjie se kamer. Die kamer ruik na kamfer en Vicks. Dit laat my bors toetrek.

Ek hoes en Oumagrootjie kyk op. Sy vee met 'n wit sakdoekie oor haar sagte lippe. Ek weet dat haar lippe nou na 4711 (four-seven-eleven) ruik en dat sy wil hê ek moet haar soengroet. Haar lippe bewe soos klein witmuisies onder myne.

Haar rok het lang moue en is swart. Haar kouse is ook swart. Dit verskyn net onder haar knieë onder die swart rok oor die swart onderrok uit en verdwyn in haar swart skoene. Ek voel benoud vir haar part. Sy druk haar swart hoed op haar grys bolla vas en steek dit met 'n lang hoedspeld met 'n pêrel agteraan vas. Ek gril, want ek sien al hoe die speld deur haar kopvel boor.

"Is dit seer?" Sy lag en dit klink soos Kerspapier wat kraak. Oumagrootjie is honderde jare oud. Sy druk met haar een hand op my skouer en ons tok-tok met haar kierie in die gang af. Voor skyn die warm somerson oor die rooi stoep en val skuins by die portaal in. Stofdeeltjies maak blinkers in die helderheid. Dit lyk soos die vleikurpers se blink lyfies in die fontein, net baie, baie kleiner.

Ouma perm Ma se hare op die stoep. Ouma vat 'n klompie hare op die langstertkammetjie se skerp steeltjie en dan kam sy dit deur, waarna sy 'n wit papiertjie 'n slag daarom draai voor sy dit alles om 'n blou of groen krullertjie draai. Ek moet die ou taai rekkies van die vorige perms afhaal en vervang met nuwes uit 'n pakkie. Die oues is hard en brokkelrig onder my vingers.

Die hele stoep stink.

Die mans sit op die gras ver van die stoep af onder die groot appelkoosboom. Oupa sit op 'n harde houtbankie.

Langs hom is die blink bruin draadloos met die groot swart knoppe waaraan hy stel en stel en dan swoeiiiii die radio so 'n bietjie, en 'n oom praat in 'n vreemde taal: "Protuguese de lou de listen graaff ..." of so iets. Ek probeer dit onthou vir skool, want dit klink slim en mooi.

Eindelik kom die rugby deur. Oupa en Pa drink brandewyn en skreeu vir die ooms wat rugby speel.

"Hol Jannie, hol, hol!"

Tussen hulle voete is rooi kole en 'n rooster op vier groot klippe. Pa draai kort-kort die vet skaapvleisies om. Oupa trek hard aan sy pyp. Pa rook Rothman-sigarette. Dis vir Jannie Engelbrecht wat hulle so skree. Vir hom en vir Groot Frik en Avril Malan.

"No Maoris, no tour!" skree Oupa en ek weet nie vir wie dít is nie.

Ma skree van die stoep af: "Bring vir my ook een?" Ek dink dis vir 'n Rothman en nie 'n Maori nie, maar ek is ook nie seker nie.

"Ek gaan verstik in daai stank," sê Pa en draai weer die vleis om, maar sy oor bly naby die draadloos.

Ek weet hy is net bang dat hy iets van die rugby gaan mis. Ma loop met 'n halwe kop vol blou en groen krullertjies na Pa-hulle toe. Haar rok is nou om haar dun middeltjie en wyd om haar bene. Sy vat Pa se sigaret en soen hom daar waar sy hare begin min raak en hy dit met stringetjies hare en Brylcreem probeer toekam. Dis snaaks en mooi en ek word so 'n bietjie hartseer van die bly dat hulle lief is vir mekaar.

Toe sy terugloop oor die grasperk, ruk die Augustuswind haar wye romp op en ek sien haar broekie. Ek lag, en loer verskrik om toe Ouma my 'n hou oor die boude raps.

"Kinders lag nie vir grootmense nie!"

"Los jou dêm nonsens, Joey, dit was verdomp snaaks," sê Oumagrootjie en haar smal skouertjies ruk soos sy lag. Ek vergeet sommer van die hou, want dis altyd lekker as die Ou Ouma, wat soos die Queen lyk, so lelik praat.

Oom Piet kom aangejaag met sy groen Dodge. Die kinders swerm agter van die bakkie af en skielik is die hele tuin besig. Oom Piet boer met konyne wat hy "uitvoer na die Ooste". Dalk kom sy baie kinders van konynboer, is die grootmensstorie as hulle van die alleenkind onder die kombuistafel vergeet. Sy vrou se hare is wit geperoksaaid en haar bril maak skerp vlerkies aan die kant van haar kop. Daar is blink steentjies op die skerp hoekies wat die son weerkaats. Sy dra skoene waarvan die punte opkrul wanneer sy dit uittrek. Sy rook lang, dun Menthol-sigarette.

"Is ek betyds? Het die rugby al begin?"

Hulle skreeu vir Dawie de Villiers, John Gainsford en Keith Oxlee en drink White Horse.

Ons eet op die groot stoep met die draadloos nog steeds die eregas. Ma gaan sit op Pa se skoot op die stoepmuurtjie en Oupa neem foto's met die groot bokskamera. Pa vat-vat verwonderd aan Ma se nuwe haredos. "Jy's mooi," sê hy teen haar oor.

Vyftien jaar later bel Ouma my. "Die Oumagrootjie ..."

Ek dog sy is dood.

"Nee, maar sy raak nou baie snaaks. Sy hekel dag en nag aan 'n geskenk vir jou."

"Wat?"

"'n Voorskoot!"

Jip, dit kan deurgaan vir snaaks. Ek is op universiteit en daar is niks wat enige persoon kan laat dink dat ek in kombuise, kos of voorskote sou belangstel nie, maar die geskenk is klaar en ek moet dit gaan haal.

Oumagrootjie is nou honderd en twee jaar oud. Sy is nog somber in swart en ruik nog na 4711.

Net haar ogies blink steeds.

"Wat dink jy?" vra sy toe ek die geskenk oopvou.

"Ouma, al waarvoor ek dít kan gebruik, is 'n sex tool. Soos ek vet ken, spat dit net mooi daar waar die hekelpatroon 'n gaatjie maak. Ek kom nie eintlik voor 'n stoof nie, maar dink wat dit wel aan die hormone sal doen as ek niks behalwe die voorskoot aanhet in die kombuis nie. Die man is dalk warmer as die stoof."

Ouma lag soos sellofaan tussen vingers. Sy gaan sit eintlik op haar klein ouetehuisbedjie. Sy klap haar fyn handjies saam: "Belowe jy gaan dit net daarvoor gebruik!"

Die volgende oggend sluit Ouma se onverwagte dood 'n era af. The Queen is dead; long live the queen!