Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Poësie | Poetry

O God dit brand!


Floris A Brown - 2008-09-09

(Vir Totius na die lees van "Passieblomme")


Totius
ek wou nog altyd
vir jou 'n gedig maak
'n gedig oor jou Passieblomme
wat hier diep in die
onderste diklaagvelle van
my hart kom gis het
met elke herlees van elke vers
het jy my dieper gekatrol
my traanbelaaide emosies
hoog in my oogkaste kom stoot
ek hoor hoe jou smart
teen my oordromme fluister:
"Ag, sy het nie gesterwe,
maar sy was somaar dood":
ek klim in die meelewe van
die skielikheid, in die meelewe
van 'n passievolle vaderhart
verskoon my tog as ek my
neus skoonblaas die trane
wat wel, droogvee
ek in die swartste nag van
jou siel ongenooid binnekom
verskoon my tog as ek
jou verse nie nóú verder lees
as ek saam met jou snik:
"o God, dit brand!"