Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Poësie | Poetry

Waar branders fluister


Floris A Brown - 2008-09-09

(Tema: Hoop - teen kindermishandeling & geweld)

(SAUK 2 Pasella-opname 15-17 Julie 2007 Koppie Alleen,
De Hoop Natuurreservaat - soos uitgesaai op Woensdag
8 Augustus 2007)
 

soos 'n ou motor afblaas teen slangkronkelpaaie
sug ons oor De Hoop wat net nêrens te siene is
skielik oorval sandduine bo fynbos ons om draaie
drogbeeld van 'n hoë lang wit seebrander aan 'n kus
oor hortjiesdwarslêers kabeltou pale om weg te keer
betrag ek die pyl na lang strandduine en voëlgeluid
hier waar sensitiewe kusbosplantasies rehabiliteer
met 'n soebatkennisgewing: "Asseblief, hou jul voete uit!"
onder die voetbrug is daar hoop 'n nuwe lewe vir elke plant
fauna trekvoëls damarasterretjie swarttobie walvisse, 'n blaf
boosdoeners léés ons rooi borde wat opgaan in ons land
as storms uit oë blits: "Hou jul pote van ons kinders af!"
rooiskemeruur, sluit ek my luike dig, luister in my kot
na die hoë ruising wat fluister: "Hier's hoop. Hier's God!"