Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Die onsigbares agter die gordyn


Albert Maritz - 2008-09-09

Die pastoor van ʼn ander kerk vervang die gebruiklike pastoor. Die gereelde pastoor is (mens kan seker sê) die GESIG van die kerk. En die instaan-ou amper soos ʼn plaasvervanger vir ʼn speler wat goed op die veld was. Dit kan slegte vrugte afwerp om die goeie ou te vervang terwyl hy op stryk is. Die kerkganger kan – soos die Bok-skares – amper handdoek ingooi, moed opgee of tou opgooi. Maar soos ABSA sê op die kitsbankskerm: "Moenie tou opgee nie." En die instaan-ou se sin vir humor is amper soos vandag se politici s’n – so standerd nege-rig. Jy kan maar sê jy hou nie van sy GESIG nie. Maar dan praat die ou van jou “stil tyd”. Dis iets tussen … net jou en Een Ander. Dáár’s net jy betrokke …

Waar die skare betrokke is, is by die beoordeling van tienertoneel. Die ATKV se semifinale het pas plaasgevind. So mens hoor nou watter skole uit die noorde en uit die suide by Aardklop gaan optree. Die ATKV is voorafgegaan deur die Tygerberg Eisteddfod, die ABSA Namakwaland Springbokfees, die Fraserburg-fees, die Klein Libertas-fees, die Durbanville-fees, die Montagu-fees … sjoeeeeee. Die onderwysers en die leerders het swaar getrek. Dis repeteer tussen sport en tussen skoolwerk deur. Dis speel, herevalueer en oorrepeteer, en weer speel. Beoordelaars wat ongunstige besluite neem. Die onSIGbare wat mag besluit oor die gemaskerde geSIG. Dis teleurstellings verwerk, en moedig aantree en weer probeer. Daar’s matrieks betrokke wat eindeksamens moet skryf; mens kan net jou hoed afhaal vir die leergierige akteur en sy spelleier.

Soos gewoonlik is die aanbod uit skole in die Kaap uitstekend. Die aanbod van skole in die noorde het tradisioneel nie baie diepte nie. Sommige skole uit die suide gaan speel al lank in die noorde se uitdunne omdat hulle dan ʼn beter kans staan om na die finaal deur te dring. Talle mense deel al jare die gevoel dat daar meer as vier stukke uit die Kaap moet deurdring, en minder van daar bo af – seker omdat daar ʼn lewendiger skooltoneellewe hier is. Maar wie sal die stukke uit die Kaap wat Gauteng-stukke vervang, keur? Dis prakties te moeilik om die noorde en suide se beoordelaars te laat omruil om die alternatiewe streek se stukke ook onder oë te kry. En dan is daar nog partydigheid ook. So ʼn mens sal soos ʼn streeks-gebaseerde Springbokafrigter dalk ieder geval spelers uit jou eie streek wil kies.

Maar uiteindelik is die wys van die stukke deur die ATKV by Aardklop op talle terreine ʼn wenner. Die redes: daar is ʼn gehoor daar; en die spelers wat gaan, kry ook ʼn paar goeie, professionele opvoerings te sien. Deelnemers voel beloon vir ʼn jaar se harde werk, met die spesiale reis. Goeie mense, wat die swaarkry met lekkerkry klaarkry.

En als kom mos maar met sy knippie swaarkry. Vir baie was Dan the Garden Man onbekend. Die tuindienste. Maar deur soveel jare van pligsgetroue diens en cocky conversation het hy ʼn blywende indruk gemaak. Dan had lank kanker. En raak al hoe stiller. Ek bel sy huis die oggend. Ek sê vir sy antwoorddiens: “How are you? I miss you. I trust you are well.” Dieselfde middag bel sy vrou en sê Dan is dood. Na iemand kanker had, is mense verlig. Op sy begrafnis word sy lof besing. Ek wonder of ek reg was – dat Dan ʼn dwarsie was. Na ʼn rukkie vertel iemand hoe ʼn moeilike mens hy kon wees. Maar wat ek weet is: hy het sy werkers goed behandel, hulle behou, en sy diens was daarom puik. Oor sy menslikheid en visie. Hy was stiptelik, maar hy was ook ʼn baas – en ʼn pa, skoonpa en oupa. Ek was met Dan ʼn happy audience member. Hulle sê: vir party mense was hy net die tuinjong. Het Shakespeare gesê: What’s in a face …? En dalk vat dit ʼn tuinjong om ʼn goeie tuinjong raak te sien …

Iemand wie se GESIG die afgelope tyd te skaars geraak het, sien ek nou een aand by die Italiaanse filmfees in die Labia, Kaapstad – die launch. Na die fliek is daar ʼn bespreking met die Italiaanse regisseur. Die een tannie – as jy ʼn Tweede Wêreldoorlog-fliek wil maak, cast jy daai tannie – wil hê die sprekers moet Italiaans praat. “Speak Italian,” seg sy. Daar voor reageer die ou wat nou al lekker met die sprekers gesels het vanuit die gehoor: “No man, then I am going to voertsek. Every year I come, and if your now gonna sikkel with Italian, I am not gonna understand; dan’s dit weer ʼn gesikkel. Then I’d rather leave now. I am going to skedêddle”. Almal geniet hom half verdwaas. Hy bly. Hulle praat Engels. Pouse gaan sê ek vir hom: "You are a legend!" Want dis wat mens doen met ʼn genius soos Alvon Collison – die superster-engel.

Hy het die Farao in Joseph and his amazing technicolour dreamcoat beroemd gemaak voor Tim Rice-hulle kon. Vandag is hy … onbekend?

ʼn Groep akteurs het besluit om sonder die waarborg van ʼn inkomste (f…, is die hele bedryf nie so nie! Jy moet hoor hoe baie mense is al amper onderdeur omdat die SAUK hulle nie betaal na die werk gedoen is nie!) twee stukke op die planke te bring. Ek gaan kyk Glengarry Glen Ross. Ek onthou toe ek dit in die Alexandra gesien het met Wilson Dunster en Bill Flynn. En ʼn storie wat Dunster my eendag vertel het. Hy het vertel hoe mens iemand wat jy wil komplimenteer, sommer dadelik moet. Want hy onthou hoe hy altyd graag op dieselfde vlak as Richard Haines wou wees. Maar hom net soveel bewonder het. Hy sê die een aand na Haines ʼn swak resensie gekry het, het hy wat Wilson is, skoon die kluts kwytgeraak op die verhoog – van verbystering toe hy sien hoe Haines werk gemaak het van die sinvolle kommentaar van die kundige resensent. En ʼn lang storie, tipies Wilson, om iemand te komplimenteer – deur te vertel dat Richard Haines dood is sonder dat hy wat Wilson is, ooit vir hom gaan sê het: “Man, you are amazing.”

Nou, ek het Glengarrie Glenn Ross die keer gaan sien na die resensente by hulle was. En die een wat pak kry by ʼn resensent, het seker werk gemaak daarvan. Want ek het gedink die twee slimste vertolkings op die verhoog was dié van Guy de Lancey en Tinarie van Wyk Loots. Kate Liquorish is ʼn kortkop agter. Die ander rolle is meer eendimensioneel, of eendimensioneel gespeel. Die sukses van ʼn stuk is in die regisseur se hande. Die spelers in GGR is knap en sterk. Sommige net te konstant sterk (aggressief) of in energie te eenlynig. As die egte lewensaspekte van karakters, en die tempo en energie van ʼn stuk ʼn sukses is, is die regisseur so te sê onSIGbaar.

Help my as ek reg is, en ek sê dit moeilik, na ʼn kritikus onlangs vir my baas gesê het ek skryf net regse twak en antiregeringsjargon – maar is die Lotto nie onSIGbaar, behalwe aan die ontvangkant nie? Ek het jaaaare gelede by hulle aansoek gedoen om befondsing vir stukke – nogal opheffingswerk. Hulle antwoord my toe nooit nie. Toe ek eendag in Pretoria is, maak ek ʼn afspraak. Ek gaan soontoe om te vra wat word dan van mens se aansoeke? En daar storm ʼn vietse mannetjie met ʼn buckle in sy belt teen ʼn trap af en verskree my sommer daar in die foyer. Ek sou nie, maar moet erken ek moes my balans check, want alles in my wou Sershan Naidoo die dag teen ʼn muur vashardloop. My woede het veel later bedaar toe ek hoor mense soos die ACVV kry karretjies by die Lotto om mee te ry. Ek dink egter dis die laaste wat hulle iets gekry het. En nou is daar mense wat in die moeilikheid is, want hulle het al projekte uitgevoer en gehoop die Lotto sal so in die volgende 24 maande gereageer het op hul verdienstelike versoeke.

Sershan Naidoo sê nou die dag op RSG hulle gaan nie ʼn nuwe sluitingsdatum vir aansoeke bekend maak voordat die huidige klomp nie afgehandel is nie. Wel, ek is nog nie geantwoord vir my 2002-aansoek nie. En niemand is nog geantwoord na die laaste aansoek nie. Ek het my Lotto-lêer weggemaak. Ek kan nie eens onthou hoe lank gelede die laaste aansoeke gesluit het nie. En op hul webwerf kan mens geen info kry nie. Behalwe hoe om geld uit te gee.

Ek sê jou nou – as mens hulle forensies gaan ondersoek, gaan daar interessante syfers uitkom. Soos dié wat in Rapport was. Jissou, daar gaan baie geld daar in. As hulle maar net mense kon aanstel, met al daai geld, om die aansoeke van behoeftiges te verwerk so getrou soos hulle miljoenêrs betaal, en natuurlik hulle eie salarisse en wins-incentives betaal,. Goeiste – dis hoekom hulle bestaan; dis mos nie ʼn werkskeppingspoging vir hulself nie!

Jaco Jacobs wen toe sommer by die ATKV-veertjies ʼn klomp kategorieë. En onder ʼn skuilnaam. Nogal ʼn vrouenaam (-name). Wat my herinner het aan my vertaaldae, toe ek as Lilla Goosen vertaal het. Dit was omdat my baas my gefire het want ek kan nie vertaal nie. Maar haar baas het nie saamgestem nie. En pas daarna – toe ek die leeue-aandeel had in ʼn hoofstroomreeks – toe vertaal ek maar onder die skuilnaam.

Seker oor dit ʼn ou was, het die oorklankingsregisseurs deurgaans glowing reports oor die vrou gegee. Ek het fotokopieë – praat van forensies en gesigloos …