Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

1959 - Gebede aan tafel


Hans Walvis - 2008-09-05

Oom Frans en tant Meraai Germishuys - 'n kinderlose egpaar - was my ouers se vriende jarre gelede in Usakos. Oom Frans se ou moeder het by hulle ingewoon. Bedags, as oom Frans sy werk as rytuigondersoeker gedoen het, was die twee vroumense natuurlik op mekaar aangewese vir vermaak en geselskap. Soos dikwels met sulke "alleen"-mense die geval is, het die Germishuyse áltyd 'n hond in die huis gehad.

Vandag weet ek hoeveel aandag en liefde daardie honde moes gekry het, want voor die Germishuyse en daarna het ek nog nooit sulke "geleerde" brakke gesien nie. Die beste onder die lot was Boetie, 'n reus van 'n Rotweilerreun. Die roetine deur die dag is eintlik 'n storie op sy eie, want my opskrif handel oor gebede aan tafel - en die Germishuyse het aan roetine geglo.

Eetroetine was: Almal sit aan, ou tannie Germishuys maak "hhmmmm ggggghhhmmmmm" keel skoon en sê: "Kom ons maak oë toe." Met die keelskoonmaak sal Boetie van die vloer af opstaan en sommer by die persoon die naaste aan hom inval, sy kop op dié se skoot neersit en dan maak daardie hond "oë toe" totdat hy die "amen" hoor. Ou tannie Germishuys het altyd voorgegaan om die seën oor die ete af te bid. Ná die "amen" gaan lê Boetie weer op die vloer en die ete geskied omtrent in doodse stilte, want nie een van die drie Germishuyse was besonder spraaksaam nie ...

Die oomblik as die laaste "klienk" van 'n mes op die bord gemaak is, is dit weer "ggggghhhmmmm-ggggghhhmmmm" en die ou tannie wat sê: "Kom ons vat boeke." Boetie staan van die vloer af op en gaan sit langs die eerste die beste een langs die tafel, kompleet asof hy eerbiedig saamluister met boekevat.

Boekevat word afgesluit met "kom ons bid saam"; dan word die voor-ete-roetine van staan met die kop op iemand se skoot en toe oë herhaal. Boetie was nie 'n oneerbiedige hond nie. Roetine het nou bepaal dat Boetie by elkeen aan tafel verbyloop en 'n versnaperinkie kry. Maak of jy hom ignoreer en hy sal by jou blý staan. As jy hom na 'n minuut nog nie raakgesien het nie, sou hy jou met 'n bulderende "Whrrrruuuuaf" aan jou plig herinner ...

Einde 1959 kom dit so dat ek 'n nag by die Germishuyse moes oorslaap. Teen hierdie tyd was ou tannie Germishuys al diep in die 90 en oom Frans het op aftree gestaan. Dieselfde aand kom doen die predikant ook huisbesoek en dit was glad nie ongewoon dat die predikant sou saameet as hy dan toevallig met etenstyd daar is nie. Al verandering aan die roetine was dat die ou tannie haar stoel aan die kop van die tafel aan die predikant afgestaan het, en só kom dit dat ek reg langs tant Meraai te lande kom: tant Meraai links van my en die predikant aan my regterkant. Met die wegspring het die ou tannie die woord gedoen en Boetie het oë toegemaak op tant Meraai se skoot en op "amen" eenkant gaan lê.

Boekevattyd. Boetie staan op en kom sit langs tant Meraai. Al verskil is dat die eerwaarde dominee self voorgaan. En toe kom ons by die laaste "oë toemaak". Boetie staan op en sit sy kop op tant Meraai se skoot en maak oë toe. Ek glo nie dit was oneerbiedig van my om my hand oor die oë te plaas sodat ek onderdeur vir Boetie kon loer nie. Wat ek nie geweet het nie, is dat ou tant Meraai dieselfde gedoen het - seker maar om 'n ogie oor Boetie te hou dat hy hom nie wangedra in die hoë predikantgeselskap nie.

Wat Boetie nie geweet het nie, was dat die predikant se "amen" heelwat verder van die openingswoorde lê as die ou tannie se "amen". Toe "amen" ná 30 sekondes nog nie kom nie, loer die Rotweiler vir 'n rukkie met een oog na die predikant en maak toe weer die oog toe. Dieselfde gebeur naastenby op een minuut: Die predikant word met een oog beloer en dan gaan die oog weer toe. Die arme hond roer nie sy kop van tant Meraai se skoot af nie. Hier van drie minute af het hy met elke loerslag en oogtoemaak 'n yslike lang hoorbare sug laat hoor. Op vyf minute het die predikant min of meer die Germishuyse se verlede, hede en hele toekoms gedek en in die proses paslik gemeentebelange, spoorwegsake, dorpsbelang, landsbelang en politiek ingetrek - ek meen hy moes seker die Germishuyse waarde gee vir die ete. Genadiglik sê die man toe "amen". Was daardie hond bly!

"WHHHRRRUUUUUAAAF," gee hy die predikant dit reg in sy gesig. Die predikant, oom Frans en die ou tannie skrik hulle disnis en ek en tant Meraai gil van die lag. Dit het 'n hele ruk gevat om ons onchristelike vrolikheid aan die ander lotjie te verduidelik nadat ons die predikant 'n bietjie suikerwater ingejaag het vir die groot skrik.

Hans Walvis