Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Die engelman


Izak de Vries - 2008-09-04

Izak de Vries

Tafelberg
R140
196
Sagteband
9780624046844
Klik hier en koop Byna liefde by kalahari.net!

(vir Cila)

Dat die brief toe vandag moes kom, dink hy. Vroegoggend is hier ’n paar meisies verby en hulle het Afrikaans gepraat. Dis dan wanneer sy lýf verlang. Sy hele lyf, nie net sy kop en sy hart nie. Dan wil hy weer vir Natalie naby hom hê. Daar is iets in die manier waarop sy hom vasgedruk het toe hy weg is wat hy steeds mis. As hy dit in woorde sou kon omskep, sou dit makliker wees, maar hy kan nie. Dis nie sy kop wat daardie drukkie mis nie, dis sy alles. Sy hand onthou sy pa se groet. Sy wange onthou sy ma se soene. Maar sy hele lyf onthou Natalie se stywe, stywe druk.

Hy het amper die hele Engeland-storie afgestel. Natalie was werklik die eerste meisie op wie hy hartgrondig verlief was. Daar was al soene in die bus, sokkies saam met iemand wat sy hart laat fladder het, flieks waarvan hy nooit die storie sou kon oorvertel nie, maar niemand soos Natalie nie.

“Kom saam,” het hy eers gepleit. Toe haar pa sê nee, wou hy ook bly.

Natalie was saam met hom opgewonde. Sy is ook geïnteresseerd in die geskiedenis, en die wit kranse van Dover het soveel om te bied. Hier het Charles Darwin rondgeloop. Hier is die The French Lieutenant’s Woman geskryf én verfilm. Hier speel dele van Possession af – en dele van die latere fliek is ook hier geskiet.

Natalie kon dit deel. Natalie was nie soos die ander wat verveeld geraak het met sy boekkennis nie, of wat nie kon glo dat “iemand so slim soos hy” eers ’n jaar wil gaan werk voor hy gaan studeer nie.

In graad 11 het hy al geweet hy wil in Dover kom werk. In graad 12 het hy hom oor ’n mik gewerk.

En nou sit hy hier. Hy verlang. Hy verlang na Natalie en hy moet op sy onderlip byt om nie te huil nie. Dis ’n grys dag. Dis koud. Selfs die taxi se verwarmer sukkel om hom warm te hou.

Natalie is Maties toe. Daar’s baie ouens en sy is mooi. Haar briewe het geborrel oor die studentelewe en die ander ouens. Hy het nie omgegee nie, maar soms was hy darem bitter alleen.

Hier’s ook meisies. Oulike meisies, selfs. Maar hy was tot nou toe heel bereid om te wag vir Natalie. Die taxiryery betaal goed. Hy sit baie geld weg. Soos hier wil hy in Suid-Afrika ’n klein kamertjie huur waar hy sy rekenaar, sy boeke en sy kamera kan neersit. Hy spaar vir die voorreg om te studeer sonder die sotternye van ander om hom.

“Ou suurknol,” noem baie hom.

Natalie het verstaan. Natalie het daardie ver kyk in haar oë gehad toe sy Possession toegemaak het. Hy’t haar sit en dophou, gesien hoe die bladsye minder word en toe, toe sy tussen die roesemoes van ander die boek toemaak en so vér kyk, toe gaan praat hy met haar. Hulle was sedertdien onafskeidbaar.

Beste Chris

Ek gaan met die deur in die huis val. Daar is iemand hier op die Bos wat baie in my belangstel. Ek wil steeds jou vriend wees en dalk, eendag, weer meer as vriende. Maar vir nou moet ek vra dat jy sal besef hy is nader.

Ek sal later weer meer skryf, want ek weet jy sal wil aanhou briewe kry.

Natalie

Gelukkig is dit besig vandag. As die groot skepe hier vasmeer, dan ry die taxi’s. Hy bly vriendelik luister, gebruik sy perfekte Engelse aksent om almal te laat tuis voel. Hy deel sy grondige kennis van die omgewing met die passasiers en maak seker dat elkeen spesiaal voel.

Hy’s die jongste bestuurder hier in Dover, dalk selfs in Engeland. Maar die baas is baie trots op sy “African driver”. Hy hou van die beskrywing. Hoekom kan witkoppe met blou oë, soos hy en Natalie, nie ook Africans wees nie? Dis waar hy woon, waar sý nou is, vervlaks.

Hy’t al die hele oggend sit en wonder wie dit is. En hoekom sy nie sê nie.

Die Amerikaners begin terugkeer skip toe. Hulle sukkel altyd hier in Engeland.

Chris ry. Hy werk hard en verdien goeie fooitjies.

’n Ingenieursgraad is duur en beurse is skaars. Hy sal die eerste twee of drie jaar self betaal, daarna sal hy hulle wys. Hy sal die beurse kry, sy pa en ma hoef nie bekommerd te wees nie. En boeke is duur, flieks ook. Maar boeke en flieks hou hom reg in die kop.

Vanaand weet hy nie. Hy sal hard moet konsentreer. Dalk sal hy maar ’n bier gaan drink, maar hy sal wegbly van die ander Suid-Afrikaners af. Dié wil die hele tyd hê hy moet saam met hulle dronk word en probeer score met die Engelse meisies.

Dalk dan juis maar by die huis bly vanaand.

Gelukkig is hy vandag besig. Die boot gaan egter nou-nou vertrek. Die laaste lot Amerikaners is amper laat.

Hy laai al hulle pakkies af, groet vriendelik, glimlag gul vir die fooitjie en druk die snoet van die taxi na die middestad toe. Dit sal nou stiller raak.

Op ’n afstand al sien hy hulle. Mal, maller, malste hardloop hulle skip toe. Twee meisies en twee ouens. Hy trap die lepel in, ry blitsig tot daar.

“Ship,” hyg die meisie en wys. “Quick. It leaves half past.”

Hy loer na sy horlosie en glimlag.

“I’ll be quick,” sê hy. “But there is a speed limit.”

“Ry net, bliksem,” sê die pragtige meisie hier langs hom.

My pa sou nou weer ’n hele lang storie gehad het oor die afkoms van die mense uit die Bo-Kaap, dink Chris. Dis vreemd hoe pa-hulle steeds in hokkies dink. Vir my is die vroumens pragtig en ek sou graag die hele aand na haar wou sit en luister. Afrikaans praat, en luister hoe mooi sy praat.

“Sê nou hy verstaan jou?” vra die blondine wat vasgedruk sit tussen die twee mans.

“Dan moet hy juistemint ry,” sê sy.

Chris rý. Hulle sal dit net-net haal. Op die reguit pad druk hy die naald tot by sestig myl – hopeloos te vinnig, maar die mooi meisie langs hom lyk baie benoud. Sy draai na hom toe en sê: “Ek wens hy kon verstaan. Ek hou van mans wat luister.”

“I beg your pardon?” vra hy en hou sy gesig reguit.

Sy dra ’n goue kruisie, pa.

“Sien jy, die klein engelmannetjie verstaan nie ’n woord van onse taal nie.”

Onse taal, dink Chris. Moet ek? Sy is baie mooi.

“Jy bedoel Engelsmannetjie?” vra een van die mans.

“Nee, engelmannetjie. Hy stop net toe ek op my hardste begin bid en hy ry vér oor die spoedgrens, net omdat hy ons wil help.”

Chris rý. Hy wil ’n indruk maak, maar hy is versigtig ook. Dus kry hy min kans om na haar te kyk, maar daardie diep, donker oë bly op hom.

“Dis eintlik jammer hy verstaan my nie,” sê die meisie. “Ek sou hom so graag wou soen. Ek wou nog altyd weet hoe engele soen.”

“Nou, maar, soen hom!”

“Nee, gits, die Engelse is mos nie soos ons nie. Netnou kla hy my aan vir seksuele flirtasies, of sukke goed. ’n Vrou moet haar plek ken hier in die vreemde.”

Na ’n rukkie sê die meisie. “Hy kan lees ook. Nogals. En belangrike goed. Kyk, hy lees die jongste Umberto Eco. Dis die enigste ander mens in die wêreld wat ek al gesien het wat Eco lees. Ek sê jou! Dis ’n engelman dié, ek sê jou. Ek het nog nie eens dié een gekoop nie! Watwou lees.”

“Silina, in die flieks het die engele niks tussen die bene nie.”

“Skoert jy, dis jou gebied daai. Ek sê jou, die mannetjie het mooi boudjies. Ek kan hulle lekker sit en dophou hier. Dink net, as ek hom nou kon soen ... Ai, hoekom moet ek altyd die regte mans op die verkeerde plek raakloop?”

Sy kyk steeds na hom; die hek van die hawe kom nader.

“Hold steady,” sê hy en beduie hy gaan stop.

“Ek sal enige dag styf aan jou vasklou,” sug die meisie. Die drie agter proes. Chris geniet dit, maar hy hou ’n stywe, reguit gesig.

Hulle stop. Hy oorweeg dit om oor te buig en die meisiekind te soen. Sy is so mooi.

“Kyk hoe kyk hy vir jou, Silina.”

Chris spring uit. Hy’s betrap. As hy bly sit, gaan hy bloos.

Sy lees ook Eco, sê hy vir homself toe hy die swaar rugsak aan haar oorhandig. Die ding is vol boeke. Hy kan dit deur die materiaal sien.

Een van die mans betaal.

Hy betrap hom dat hy nie wil teruggaan nie. Sy is mooi, moet hy erken. Hy bloos nou hier by homselwers weens haar opmerking oor sy boude. Onwillekeurig loer hy hoe sy wegstap. Sy is vreeslik skraal.

En baie mooi.

En sy lees Eco.

Hy staar nog so na haar, toe draai sy om. Sy skrik toe hulle oë ontmoet en sy kyk onmiddellik weg, maar sekondes later stop sy weer en draai om. Sy lig haar hand en waai.

Hy waai terug.

Sy’s mooi, dink hy.

Sy lees Eco.

Hy volg haar tot waar sy in die ry gaan staan om deur sekuriteit te gaan.

Jy gaan haar laat wegkom, sê hy vir homself.

Dis beter so, dink hy bitter.

Sy lees Eco.

Dis beter so.

Sy lees Eco.

Sy is oor drie dae in Londen. Vir twee hele dae, die Amerikaners het gevra wat ’n mens twee dae lank in Londen kan doen.

Hy sal afkry. Dis bloot vir vra.

Hy klim in die motor en kyk na die boek. Hy kan maklik nog een koop.

En vir die tweede keer in sy lewe doen hy iets heeltemal reg. Hy weet dis reg. Hy gryp sy pen en skryf:

Vir die enigste ander jong mens wat Eco lees. Ek weet jy dok oor drie dae in Londen. Ek kan daar wees. Hier’s my sel. Dankie, Chris.

Pynlik netjies skryf hy sy nommer, toe hardloop hy.

Sy’s al op die loopplank, maar hy bulder: “Miss! Miss! You forgot something!”

Sy vries en herken die boek. Haar mond breek oop in ’n reuse-glimlag.

Die sekuriteitsman stop hom: “Sorry, mate, passengers and crew only.”

Hy knik. “Just pass it on. She left it in the taxi.”

Die ander stuur die boek aan.

Sy neem dit en waai vir hom.

Hy staan haar en agternakyk, sien hoe sy die boek teen haar bors vasdruk.

Toe verdwyn sy.

Chris ry huis toe, parkeer die taxi en besluit om ’n klein, klein kroegie op te soek waar daar nie ander Suid-Afrikaners sal wees nie. Hy is lank nie meer lus om homself te verdrink nie. Hy wil vanaand een bier op homself drink. Omdat hy vir die tweede keer in sy lewe die regte ding gedoen het.

Maar het hy? Dalk is sy getroud. ’n Mens weet nooit.

Sy is nog jonk.

Almiskie. Dalk is haar vriend ’n gorilla.

Die bier is bitter. Dis lekker, maar die onsekerheid knaag.

Wat sal sy doen as sy agterkom hy het haar die hele tyd verstaan?

Sê nou sy’s kwaad?

Sê nou sy dink hy dink sy is los en maklik?

Hy weet sy was grootbek tussen haar maats, maar weet sy dat hy weet?

“Lookin’ a bit stressed there, mate. ‘Nother one?”

Die kroegman is ook ’n leser. Op stil aande sit hulle soms saam en lees. Dis ’n intieme kroegie, ver van die ander lawaaierige plekke af. Heelwat mense kom hiernatoe om te lees.

Hy skud sy kop.

“Pie? To warm you up.”

Chris knik sy kop. Die euforie van sy ontmoeting met die meisie uit die Kaap het hom tydelik laat vergeet van sy rowwe dag. Maar hy is moeg en dis koud vanaand. En hy kan nie heeltemal die gevoel van verlies afskud wat hy met hom saamdra sedert Natalie se brief nie.

“I’ll give you ‘alf a pint on the ‘ouse. Wi’ the pie. I know you ain’t one to get slaughtered.”

Chris knik.

Die dag begin hom inhaal. Die kroegman is oukei. Sy pa en ma sal nie verstaan dat hy vanaand kroeg toe gekom het nie, dink hy. In sy jeug het net sleg mense gedrink en jy het net kroeg toe gegaan om heeltemal dronk te word.

Hier in Engeland kan jy ure lank in ’n kroeg tussen sober mense kuier.

Die pastei is heerlik. Hy is honger en die halwe bier wat daarmee saamkom, is tog lekker.

Vir ’n oomblik vergeet hy van die dag. Die warm stukkies beesvleis en niertjies is sag en geurig.

Sy selfoon vibreer.

Het so gebloos :-( Te bang v bel :-o Dankie x 10! Jy tog engelman! Asb ja v Londen. Maar stadig vat asb ;-) SMS weer as minder bloos. Silina x x x

Hy sluk aan sy bier en tik:

Stadig vat, ja. Soos mens v Eco lees. Jy ook Engel gewees vdag. Dankie. Chris.