Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

1944 –Om ’n tand te trek: Oorlogsjaar 1944. Abenab.


Hans Walvis - 2008-09-04

Dis daar tussen Tsumeb en Grootfontein, vir julle wat nie weet nie. Klein Hans het twee kiestande met gate waarin koejawelpitte perfek pas. Gaan vertel nou ’n sesjarige klong om sy pote uit die koejawelboom te hou. Onmoontlik. Lekker is lekker in ’n wêreld waarin iets soos suurklontjies ’n luukse was en die vrugtebome gehang het van die vrugte.

Aanvanklik het Pa of Ma die oortredende pitte met iets skerps uit die kiestande verwyder en die pyn sou dadelik bedaar, maar voordat die De Jagertjies die koejawelboom kaal kon eet, het die gate sodanig ontwikkel dat dit sommer deurnag gepyn het. Zinkpyn Specific was al wondermiddel in die huis en toe die warmgemaakte growwesout in ’n flenniesakkie buite op die kies nie meer kon troos nie, het Ma die Zinkpyn uitgehaal. (Snaaks dat die oumense nie ook kasterolie vir tandpyn sou wou gebruik nie.) Maar die kiestande – koejawelpitte was Zinkpyn se tier en ek skat die oumense was later redelik keelvol om snags rate teen tandpyn te bedink. Pa se Jakkals-en-Wolf-stories was nie genoeg om my van die tandpyn te laat vergeet nie.  

So vind die mannetjie hom toe een oggend netjies skoon aangetrek (selfs skoene aan ook) aan die hand van sy pa op straat in Abenab en later by ’n huis waar koringkrieke oor die stoep loop. En hier’s ’n ou met wie Pa Duits praat en die ou dra ’n wit jas. Nou, wit jasse en uniforms het vir my net een ding beteken: vrees. Want sien, die polisie het daardie tyd met dêm kamele patrollie gery en vir ’n kameel was ek so bang dat die mense my moes soek wanneer die polisie op die plaas gekom het. En een van daardie poliesmanne het ook altyd ’n wit jas oor sy uniform aangehad. Glo vir die stof gewees. Maar hier’s ’n witjasman en hy sê ek moet my mond oopmaak. Hy wil kyk.   

Nottendêm. Hy vat nie aan my nie. Belowe my ’n lekkergoedjie en sit dit ook binne sig neer. Maak oop en die Duitser kyk terwyl ek gereed bly om by die eerste teken van onraad daardie bek soos ’n slagyster toe te klap en toe te hou. Pyn of te not.

Beduie die Duitser weer, terwyl hy so ’n kriesel van ’n wit pilletjie afbreek: Hy wil nét hierdie stukkie pil in die gat insit en met ’n wattetjie vasblok. Dit sal ál die pyn wegvat. Hoe sou ek weet dit was die “wonder drug” aspirien? Die Duitser maak toe so en wraggies: geen pyn meer nie en ek kry ’n suurklontjie.

Die volgende dag is ons weer op die stoep met die koringkrieke en toe op die stoel voor die Duitser “om weer ’n pilletjie in die tande te sit”. Eers die wêreld mooi bekyk, maar al wat ek sien, is die pilletjie en iets soos ’n breipen waarmee dit in die gaatjie vasgedruk word. Veilig – en ek maak my mond oop. Hoekom ek nie onraad vermoed het toe die Duitser se vrou ook op die toneel verskyn het nie, sal ek nie weet nie, maar toe my mond oopgaan, druk die man iets tussen my tande in en daar staan my mond oop. Sy vrou hou my hande vas en Pa hou my kop vas. En ’n ewigheid later lê twee kiestande, wortel en tak, in ’n bakkie op die tafel. Net so getrek. Sonder verdowing – wat hulle in elk geval waar sou kry?

Intussen het daar al amper 58 jaar verloop waarin dokters aan mens sny, spuit en krap en tandartse spuit, boor en stop en by een geleentheid ’n tand moes uittrek ook, en waarin Bloeddienste mens leeggetap het. Al hierdie goedjies ervaar mens aanvanklik met so ’n bietjie senuwees, maar later, soos met sonde, is jy gewoond daaraan. Behalwe een ding.

Vandag sê my tannedokter: “Hans, hy sal moet úit.” Maar dít het ek twee maande gelede al geweet sonder sy hulp. En dis al weer ’n dekselse kiestand. Dis asof ’n blinde paniek mens pak. Vandag se kiestand het in drie paaiemente uitgekom. Eers die bo-deel. Daarna die twee wortels. Halfpad het ek vir die smoelsmid gesê hy beter nóg spuit; ek voel hom werk. Wat ’n gewelddadige prosedure is dit nie?

Toe ek uitkom, het ek gesoek vir koringkrieke op sy stoep ... Maar daar was nie.

Hans Walvis

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<