Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

40’s tot 90’s: Kinderdae en Kersfees op die familieplaas Vêrsien


Deon Knobel - 2008-09-04

Op Vêrsien het almal sekere pligte en werkies gehad om in en om die huis te verrig: honde kos gee, duiwe en voëls voer, hanskuikens grootmaak, en dan – waarvoor nie een van ons lief was nie – Saterdagoggende moes al die dosyne klein koperornamentjies op twee groot koperskinkborde gepak word, na die grasperk voor die agterdeur geneem word en blink gevryf word met Brasso.  Die klokkies, kandelaartjies, bokkies, en nogmaals klokkies, en die interessantste van alles, die drie apies – “Hear-no-iewil, see-no-iewil speak-no-iewil”, maar ook die moeilikste om skoon te kry met al die hoekies en draaitjies − moes eers met Brasso gesmeer word en daarna opgevryf word.  Dit klink nou maklik en gou, maar vir klein en onhandige vingertjies was dit nogal ’n moeilike taak. 

En waar was Wilhelm?  Klokslag kon hy verdwyn net voor die prosedure begin, en gééngeroep en geskree het gehelp nie.  En as hy dan uiteindelik êrens in ’n voor- of buitekamer opgespoor word met ’n boek op sy skoot en albei hande in sy ore gestop, sou hy dan kwansuis nie gehoor het toe hy geroep is nie.

Dít was Wilhelm, gelukkiger met ’n boek as met ’n duur speelding.  Pa Gideon het op ’n dag van die Boerekoöperasie gekom met drie duur speelgoedvoertuie.  Vir Henri, “my boerseun”, die allerpragtigste rooi trekker met regte rubber-“taaiers” en ’n haak vir die implemente; vir Deon ’n nogal mooi geel Fordtrokkie, ook met rubber-“taaiers” en kopligte van rooi deurskynglas en rooi truweerkaatsers; en vir Wilhelm? – ’n bleekwit ambulans-“wên” waarvan die agterste deure kon oopmaak.  Arme Pa, hy kon nooit help om sy “boerseun” aan te prys en wel ook ’n bietjie voor te trek nie, soms ten koste van die ander twee broers.
        
Toe Deon sy moeder jare daarna daarop wys dat hulle mens nogal laat voel het dat Henri belangriker was as die ander twee, het sy opreg verduidelik: “Omdat ons geglo het dat Henri dalk akademies nie so sterk was as julle twee nie, was ek en Pappa bang dat hy minderwaardig sou voel en daarom het ons hom altyd probeer aanmoedig en goed laat voel.”  Deon se kommentaar was seker nie so sag nie: “En toe het Mamma-hulle uiteindelik amper vir Wilhelm en my met die minderwaardigheid opgesaal!”
    
Deon onthou ook dat Wilhelm reeds in sub B verveeld was met al die kinderboekies en doodernstig van sy moeder verlang het om vir hom ’n “regte boek, ’n grootmensboek” te gee om te lees.  Hy is toegelaat om sy eie boek te gaan uitsoek in die grootmensboekrak, en het enkele dae later kom spog dat hy klaar was met Verskuifde bakens (ek glo dit is dalk deur CM van den Heever geskryf).
 
As kinders is almal blootgestel aan die daaglikse ritueel van Nuus Luister, en tydens die oorlog het selfs die kleinste van die kinders saam geluister en getel hoeveel slae die groot ghong slaan om aan te dui hoeveel skepe deur duikbote gesink is.  Die kinders was dus deeglik bewus van Hitler en die swastika.  Dit was deel van kinderspel om soms die swastika met ’n stokkie in die grond te teken en onaangename aanmerkings daaroor te maak, en dit dan met ’n vee van die hand uit te vee.  Eers as groter kinders het ons besef hoe sensitief die saak was en hoe ons kinderspel ons goeie vriend oom Fritz Mielman seergemaak het.  Hierdie “spel” herinner aan die slotreëls van Wilhelm se gedig “Limehill”, ter nagedagtenis aan Ingrid Jonker. 
                                 
In die son by Limehill
teken ’n kind ’n laer in die sand
en rustig vee hy dit
met ’n enkele beweging van sy palm dood

Sy moeder onthou verder die Kersfeesvierings op die plaas: “Vandat die eerste outjie ’n jaar oud was, het ou Kersvader elke Oukersaand die plaas besoek, met sy lang wit baard, rooi rok en herderskierie.”
    
Hierdie dieprooi, byna maroenkleurige rok van sagte, gladde katoenmateriaal het vir 40 jaar diens gedoen totdat dit saam met ma Esther se hondjie, Oortjies, in die motor gelaat is terwyl sy gou by die Saamwerk ingehardloop het vir enkele inkopies.  Tipies van die onmeganiese en soms onrealistiese ma van die huis het sy sommer die sleutel in die motor gelaat met die enjin aan die loop.  En toe sy minute later uitkom, is die motor met sy kosbare dooie en lewende “bagasie” gesteel.  Die motor en Oortjies is later verlate op die Fouriesburgpad gekry – maar die Krismisrok was vir altyd weg.  ’n Nuwe rok is inderhaas gemaak deur Ma se vlytige vingers by haar kenmerkende pos voor die “masjien” – as kinders sou daar nooit maar nóóít gepraat word van die “naaimasjien” nie.  Mamma het nooit ge-“naai” nie, sy het net “masjienwerk” gedoen.  Hierdie nuwe rok se materiaal was hard en die rooi te skel, en Kersvader sou nooit weer dieselfde wees of lyk nie.

Ons moeder het onthou hoe Kersvader in die vroeë dae sommer te voet aangekom het, maar later is hy gehaal deur die Shetlandponiekarretjie: “Die klein karretjie, getrek deur twee klein Shetlandponies, was een jaar die groot geskenk aan al ses die kinders van die gesin: die vier Knobeltjies en Marié en Rinie, die twee Myburghniggies wat vir ses jaar saam met die gesin gewoon en baljaar het.
     
“Eers is buite, waar ons almal met familie en vriende saam was, aan die werksvolk die Kersverhaal vertel, soms deur ou Kersvader self, maar meestal deur ons sendeling, wat altyd met sy hele gesin daar was, en dan het die werksvolk, klein en groot, vir ons gesing.  Het u al ooit so iets gehoor?  
   
“Namate die boerdery gegroei het, was daar naderhand tot 200 siele, klein en groot, en u kan begryp hoe hard daar voor die tyd gewerk moes word aan die eetgoed – koek gebak en so helder moontlik versier, twee tiengellingkanne gemmerbier, en mielies skiet by die groot maat.  Eers het ons kardoesies gedraai met koerantpapier, maar later jare gun ek my darem om ’n groot pak klein bruinpapiersakkies te koop.  In elke pakkie word ’n groot hand vol springmielies geplaas, dan ’n paar goedkoop lekkers, veral vry-pepermente met Sesotho-gesegdes op, en dan weer ’n hand vol springmielies bo-op.  Hierdie groot pakkiesmaak-operasie was die kinders se werk.  Die aand met die Kersfunksie het almal, klein en groot, hulle werk om aan die rye en rye volk van alles uit te deel – en hulle moes doodstil sit, anders gaan dit nie “fêrplie” (fair play) nie.  En elkeen moes eiehandig sy Kerspakkie – hemp, broek, kopdoek, seep, waslap, ensovoorts – by Oubaas Kriesmies kom haal.  En so ’n ou Kersvader soos my man was daar nog nooit, met sy kwinkslae vir elkeen.  En dan wil ons ou klomp ons doodlag vir die manewales en bokspringe van sommige van die werkers wat vorentoe dans om hulle geskenke te ontvang.  Sal ek ooit vergeet hoe ou Piet en Attie Maree onbedaarlik kon skater?”
     
Die kinders van die gesin het die lekkergoed en koekies aan die vroue en kinders wat in groot getalle op die grasperk gesit het, uitgedeel.  En die voorbereidings hiervoor was ’n ander storie en nie so eenvoudig as wat ma Esther hierbo gestel het nie.  Vir dae voor Oukersdag was een van die ouer swart vroue besig om springmielies te maak – of kiepiemielies te skiet, soos Wilhelm dit ook geken het – bakke en bakke vol.  En die arme oorgewig maar gewillige vrou wat baas was voor die stoof, Maria “Spono” Tshabalala,  het bloed gesweet in die Vrystaatse somerhitte, en dít nog voor die koolstoof in die klein, ongeventileerde stoofkamertjie.
           
Ma en die groter dogters het net so bedrywig koeke gebak – eenvoudige sponskoekdeeg, soms met kakao gegeur en gekleur – in groot oondpanne, weer eens plate en plate vol.  Dan word veelkleurige dun versiersuikerstroop oor die koeke gestrooi en laat set, en daarna is die koeke in groterige blokke gesny.
    
Wilhelm en sy broers se werk was dan om tregterpakkies uit ou koerantvelle te draai en die kardoesies te vul met ’n handjie kiepiemielies, ’n paar lekkers, en weer kiepiemielies bo-op, en om die opening dan met ’n behendige draai van die hande toe te draai.  En dit was nie dosyne nie, maar honderde sulke pakkies wat gemaak moes word.  Want as mens by die agterste ry klaar was, het die kleintjies weer voor kom hande uithou omdat hulle kwansuis met die eerste ronde oorgeslaan is.
   
Vir ouboet Wilhelm was die omslagtigheid van die pakkies-maak-en-vul-proses byna ondraaglik.  Hy was altyd haastig om weer by die boek van die oomblik uit te kom.  Dan het hy met allerhande voorstelle gekom om die proses te verhaas, tot groot ergernis van Henri en Deon, wat tevrede was om die langdradige manier te volg: Elke pakkiemaker vul sy eie drielaagpakkie, die een na die ander.  Wilhelm wou hê “Deon gooi die eerste kiepiemielies in, Henri sit reg met die vyf lekkers, en Wilhelm gooi die tweede hand kiepiemielies en draai die pakkie toe”. 
     
Eers baie dekades later, op Pringlebaai, is by Morris, die eienaar van Miems Restaurant, geleer wat ’n “systems manager” is en wat sy pligte is, naamlik om prosedures glad en so koste-effektief as moontlik uit te voer.  Was Wilhelm ons dalk alreeds ver vooruit, soos Hennie Aucamp van hom praat as student op Stellenbosch?  Arme Wilhelm, en dan kon die broers hom so ongenadig laat verstaan dat hy sommer weer “simpel” is en hom net weer slim wou hou.  Die pakkies is een vir een en tydsaam opgemaak, ten spyte van Wilhelm se pogings om die proses te verhaas.  Vir hom was dit heel waarskynlik ’n pyniging omdat hy veel eerder alleen met daardie boek van die oomblik in een of ander geheime wegkruipplek wou wees.  
              
Nog voor Kersdag egter begin nader kom het, was daar die lekker van Kerskaartjies maak.  Al die kinders om die groot eetkamertafel met bokse vol kleurpotlode en vet-“kryons”, en nou is kaartjies gemaak vir Oupa en Ouma, Lotta, die nefies en niggies en natuurlik Pappa en Mamma.  Van Wilhelm bestaan steeds twee kaartjies, albei aan sy geliefde peettante, Lotta.  Van die “tjiekie” Deon sommer ’n hand vol – aan niggie en neef, Ina en Boetie, aan Mamma en Pappa, en nog meer – in die vreeslikste handskriffie en met talle spel-“voute”, met spesiale wense vir “’n gelukkege kersvees en niewe jaar”.

’n Ander groot taak was die uitsoek en kap van die Kersboom, of geskikte takke waarmee ’n boom dan opgebou is.  In later jare het dit Deon en Piet, die tuinier, se plig geword, terwyl die opmaak van die boom die groter kinders s’n was, en hier het Wilhelm as “systems manager” weereens ’n groot rol gespeel.  Aanvanklik is geen kleiner kinders toegelaat om te help of die boom te sien voor die verrassing met die inkom saam met  Vader Krismis die aand nie.

Met die “emansipasie van die kleuter” is hierdie reël later verander en in 1987 doen Andrew, ’n kleinseun, en klein Herman, ’n agterkleinkind van ma Esther, vrolik mee aan die versiering.

Verdere foto’s van tonele in die stoor en op die grasperk agter die groot plaashuis:

Die verwondering van ’n ouma met kleinseun Hendrik.

Geskenke word deur die huishulpe aan ma Esther oorhandig.

Die besieling agter al die bedrywighede was die moeder van die huis, en hier, reeds hoogs bejaard, pas sy die nuwe baard aan wat sy so pas van watte gemaak het.  Geskenke van blomme word deur die huiswerkers aan ma Esther oorhandig.

Later jare, namate die boerdery gegroei en finansieel goed gedoen het, word die dag tevore spesiaal ’n bees geslag wat gaargemaak word om met krummelpap en aartappels bedien te word.  In die heel laaste jare is die hele bees net oopgevlek, die binnegoed uitgehaal, en dan as geheel op die spit gebraai.

“As alles buite afgehandel is, loop ou Krismisvader voor om die huis met al die kleintjies en grootmense al singende agterna, terwyl die ma en van die ouer kinders gou al die kersies aan die Kersboom gaan opsteek.  Met die inkom sing almal saam Kersliedere met Wilhelm voor die klavier.  Weer word vertel “wie verjaar” dat ons almal so baie presentjies kry, en eers daarna is dit weer pakkies uitdeel, grappies maak en groot eet.”

Hierdie ritueel van Oukersaandviering op Vêrsien het vir meer as 65 jaar plaasgevind, van die eerste Kersfees vir Estie as jaaroudkleuter in 1934 tot enkele jare ná die dood van Wilhelm se moeder in 1997.

Uiteindelik is hierdie tradisie, net soos “Kom laat ons boekevat” en vele ander Boeretradisies, ná ’n finale handwuif van Vader Krismis beëindig, skynbaar omdat die jonger geslagte, wit sowel as swart, dit nie meer aanvaarbaar gevind het nie – waarskynlik beskou as te paternalisties en/of nie menswaardig genoeg nie.  Die werkers het glo ook verkies om die vleis rou te ontvang, elkeen in sy eie pakkie, vir self gaarmaak tuis, in stede van die groot driepootpotte waarin die vleis gestowe is, of die spitgebraaide stukke vleis wat hulle ontvang het.
     
Vir Wilhelm se tydgenote is dit in ’n mate jammer.  Die feesviering was ook die besondere dag van die jaar waarop die hele groep werkers, vroue en baie kinders, en dikwels talle besoekers, almal bymekaar was en waar die hele boerefamilie hulle goedgesindheid en meelewing aan die swart mense kon bewys en, byna in die gees van die “dienende Martha” in die Bybel, hulle met liefde en deernis kon bedien.
       
Sy moeder het geglo “dat dié kinderervaringe ook steeds deur Wilhelm onthou en waardeer is, soos duidelik blyk uit die volgende gedig, geskryf ná die dood van sy vader”:

die mossies kwetter nog in die wilgers voor die
studeerkamervenster
maar hy hoor dit nie meer nie
ook pla dit hom nie meer as die katte in die boom
gejaag word deur die hond nie
as daar geëet word praat almal onder die nuus deur sonder
om stilgemaak te word
en niemand sê op ’n Saterdagaand: ons is almal moeg, ek
dink ons moet vroeg gaan slaap nie
gesprekke breek nie meer af as die deur oopgaan nie
en daar word nie meer op ’n vurk wors gebraai in die kaggel
in die winter nie
wie sal volgende Kersfees Vader Krismis wees?

   
Dekades later sou dit na hierdie vrolike Kersfeesviering op Vêrsien wees wat twee broers nostalgies en intens verlang het in die klein Franse dorpie Saujon saam met hulle vriendin Sophie, “terwyl die wit sneeuvlokkies soos gevleuelde boodskappertjies van seën en vrede, gestuur deur ons geliefdes uit die verre Suid-Afrika, oor ons neergefladder het”.

 

Deon Knobel.  Bel Monte, 17 Desember 2007.  Finaal aangepas vir LitNet uit die plakboekbiografie Wilhelm Knobel, die ongewapende man.

 

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<