Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Willie Knoetze: Uit die boks

Geen gay-bloed, asseblief!


Willie Knoetze - 2006-11-01

Willie Knoetze sê die Bloeddiens se besluit is onlogies. Geen seksueel aktiewe persoon behoort bloed te skenk as hulle dan sekere peste nie kan waarneem nie. Hoekom word die GLA nog steeds toegelaat om onverantwoordelik namens LGBTIQ-organisasies te dreig?

Dis 2006 en hoog tyd vir ‘n nuwe Boks om uit te pak, en ‘n goeie plek om te begin is seker by die beste en slegste van die afgelope feesseisoen. (Of altans, dit was my plan ... maar kom, laat my nie die proses vooruitloop nie.)

Heel waarskynlik die onaangenaamste ervaring het plaasgevind by MCQP se jaarlikse maskerbal. Die “It’s a Circus”-partytjie was heel lekker, behalwe vir die episode by Inner Ring. Ek en Christo het, ná ons heerlike rit op die rondomtalie, giggelend en nuuskierig rondgeloop buite, toe die ingang van Inner Circle my aandag trek. So mince ons tot by die span wat die ingang beman om uit te vind wat hier aangaan. Die drie figure in die oranje oorpakke was ‘n span van Kaapstad se Triangle Project. (Ek moes snuf in die neus gekry het toe hulle vra of ons beskerming het.) En net hier raak die hele gedoente toe suur. Toe ek vra wat die Inner Ring nou eintlik is (dansvloer, kroeg, chill-room of so), antwoord die man: “It is the inner sphincter of your arse!”

Ek meen: regtig. Hoe simpel kan jy kry? Lyk dit of ek nie die begrip donkerkamer verstaan nie? En, in elk geval, hoeveel sfinkters het sý agterwêreld dat hy kan onderskeid tref tussen ‘n “inner” en (vermoedelik) ‘n “outer”?

So, ja, dit was die laagtepunt van my vakansie.

Die hoogtepunt was my suster se verloofring. :) My aanstaande swaer is nogal ‘n wenner ...

Die 7-uur-nuus maak skielik inbreuk op my gedagtegang.

“My fok!!”

My pa stik amper in sy tunaslaai soos hy skrik. “Wat is dit nou?”

“Juan Uys, Pa ... Juan Duval Uys.”

’Skuus. Ek’s nou heel van my wa af. Maar ‘n nuwe onaangename ervaring is besig om voor my oë af te speel. Ek kan nie glo wie ek op die TV sien nie. (Mens kan weer gaan kyk, sou jy wou, by http://www.sabcnews.co.za/south_africa/health/0,2172,119438,00.html.)

Die immer onbeskikbare skim met die gat-oor-kop-konsepte van gelyke samelewings. Die geheimsinnge nar van “gaypolitiek”. Die einste man wat my bloed al soveel keer laat kook het dat mense my aansien vir ‘n stoomtrein, sit in ‘n deftige pak en praat met die nuuskamera. Hier kom groot dubbel-K-senter-A. Ek voel dit aan my bas.

Nou soos ek al vantevore gesê het (verwys http://www.oulitnet.co.za/gay/moffie_reaksie2.asp), glo ek nie Uys se kop is heeltemal reg nie. En na aanleiding van die nuus is ek doodseker hy’s mal. Dat een man met ‘n verdraaide verbeelding en ‘n faksmasjien so droog kan maak ...

Uys speel weer GLA-GLA (Gay en Lesbian Alliance) en het hierdie keer besluit om die Bloedoortappingsdiens aan te vat. En (soos mens teen dié tyd verwag) hy maak net meer moeilikheid as wat hy help. Jy sien, hy’t besluit dat die Bloeddiens se vraag oor man-tot-man-seks (indien ‘n man binne die laaste vyf jaar seksuele omgang gehad het, anaal of oraal, met of sonder beskerming, mag hy nie bloed skenk nie – SABC-nuus, 12 Januarie 2006) diskriminerend is. Nie juis ‘n intellektuele sprong nie, maar dis wat volg wat my omkrap: Uys se antwoord op die kwessie was om te dreig dat gay mans (veral MIV-positief-mans) in hulle hordes sal gaan bloed skenk en lieg op die vraelys (SABC-nuus, 13 Januarie 2006).

Die landwye betogings en hofsake waarmee hy ook gedreig het, het nog steeds nie gebeur nie. Volgens die SABC kon die Bloeddiens teen 18 Januarie nog geen veranderings in die getal bloedskenkers waarneem nie. Sekerlik sou die GLA se 650 skenkers (SABC-nuus, 16 Januarie 2006) statistiese implikasies gehad het?

Kyk, ek dink ook nie veel van die Bloeddiens se beleid oor wie bloed mag skenk nie. Inteendeel, volgens my is hul geskiedenis deurkruis met simpel regulasies.

Die eerste belaglikheid was (en is blykbaar steeds) die rasseklassifikasie van bloed. Wat is die verskil tussen Asiatiese O-negatiewe bloed en Xhosa-O-negatiewe bloed? As jy dit in ongemerkte sakkies sit, skommel en deur die normale toetse sit, sou die een minder bruikbaar wees as die ander?

Net so in die geval van gaybloed. Die Bloeddiens se verweer is dat hulle toetse nie alle goggas kan vang nie, dus word gay mans wat in die afgelope vyf jaar seksueel aktief was, as “hoë-risiko” geklassifiseer. Belaglik, as jy my vra. Wat is die verskil of daai “ontoetsbare” gogga nou deurglip in ‘n gay man se bloed of in dié van ‘n (volkome) heteroseksuele skoolhoof met sewe kinders en ‘n ding aan die gang met die landskapargitek van langsaan?

En wie de joos dink hulle is hulle om te verkondig (by implikasie) dat alle seksueel aktiewe gay mans ‘n pes onder lede het!!?? Asof paradysvoëls nie al klaar genoeg stereotipering moet ervaar nie.

Moet tog net nie vir my sê dis die aard van ons seksuele omgang nie. Ja, ons almal weet die sagte wand van die anus is vreeslik kwesbaar vir seksueel oordraagbare siektes – so ook die binnekant van mens se mond. Maar heteroseksuele vrouens gee tog ook vir heteroseksuele mans blowjobs. En heteroseksuele mans en vroue doen ook soms die anale seks-oefening. Hoekom fokus die vraelys slegs op mans wat met mans seks het? As die Bloeddiens so bang is vir ontoetsbare siektes, moet hulle vra dat geen seksueel aktiewe persone bloed skenk nie. Dis tog logies.

Maar wag, terug na Juan “GLA” Uys toe. Gaan die pers nooit leer nie? Maak nie saak hoe sensasioneel die storie is nie – toets jou feite en maak seker jou bron is betroubaar. Dat selfs die SABC nou al geloofwaardigheid aan die poep-in-‘n-windstorm gee, gaan my verstand te bowe. Al die erkende, sosiaal en/of polities aktiewe LGBTIQ-organisasies, -publikasies en ander verteenwoordigers wat ek van weet, het hulle al herhaaldelik gedistansieer van die GLA. Niemand van hulle (ons) erken Juan Uys (David Baxter?) as enigsins verteenwoordigend van enige LGBTIQ-groep nie. Hoeveel keer moet ons nog aan die nasionale (en na dese internasionale) media probeer verduidelik dat die GLA ‘n bedrogspul is?

Hoe ernstig gaan ek opgevat word as ek begin verkondig dat ek die voorsitter van die Aksiegroep teen Britse Imperialisme is? Dat my organisasie met ‘n ledetal van 150 000 kan spog, en dat ons Vrydagmiddag elke Britse ambassade, ambassadeurswoning, bank en petrolstasie met beesmis gaan gooi as hulle nie uit Suid-Afrika skoert nie? Al wat ek tog nodig het, is ‘n briefhoof met ‘n hand vol onbekende name in die voetstuk, ‘n faksmasjien en ‘n kooptyd-selfoon. (Die kans is in elk geval groter dat ek 100 mense gaan kry om saam te betoog teen Brittanje as wat ek 100 paradysvoëls gaan kry om bloed te skenk.)

Maar ja, blykbaar het die pers besluit dat ‘n storie goed is as dit skandalig klink – ongeag die geloofwaardigheid daarvan.

En kan ek nou maar vra wie ly aan die einde van die dag as gevolg van al die strooi? Wie se beeld word skade berokken en wie se integriteit, opinies, drome en werk word hierdeur afgetakel? Joune en myne. Jou gewone paradysvoël op straat. Jy wat hier lees, jou vriende en jou familie. Enige vordering wat jy in jou eie omgewing gemaak het in terme van aanvaarding en respek, word nou weer bedreig.

“Hulle is mos almal so.”

Wat kan ons hieromtrent doen? Ek stel voor ons daag die pers uit om, bo alle twyfel, bewyse te lewer dat die GLA werklik is wat dit voorgee om te wees – en te bewys dat wat hulle gerapporteer het, bo alle twyfel die waarheid weerspieël. Laat die SABC en die grootkoppe in die koerantbedryf vir ons bewys dat hulle hul huiswerk gedoen het.

Ek daag persoonlik elke verslaggewer, subredakteur en redakteur deur wie se aksies die GLA skielik legitieme status verkry het, uit om te bewys dat dit nie hulle was wat van hierdie miershoop ‘n berg gemaak het nie. Om te bewys dat Juan Uys en David Baxter twee verskillende persone is wat aan die hoof staan van so ‘n groot organisasie as wat hul gerapporteer het die GLA in der waarheid is.

En indien dit nie bewys kan word nie, vra ek (persoonlik, as verteenwoordigend van myself) nou reeds vir die BCCSA en die Openbare Beskermer om in te gryp.


Oorspronklik gepubliseer op OuLitNet: 24 Januarie 2006