Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Noodslagting


Johann de Jager - 2008-08-21

Boela is dood. Ek weet dus wat van hom geword het, maar wonder nou, na byna veertig jaar, waar Jack is – Jack “bek”, wat opera gesing het in die hangsale van die ou Germistonse slagpale. Flip ook, en oom Odie en Butch en Stetson en oom Hennie, wat van “Diklis” afkomstig was.

Die nuus van Boela se dood het nogal geskok, want almal in die slagpale het geweet Butch en Stetson het hom weer verlei – hulle was aandadig. Hulle gesigte het dit ook gewys, want by die ligsinnige jongmansgees binne hul portuurgroepsdruk was daar tog steeds ’n onderbou van erns, iewers diep versteek. Nou nie heeltemaal so diep soos priester Petoors, die gesondheidsinspekteur, wat mense wou bekeer nie; bietjie vlakker, soos oom Odie eendag gebrom het: “Hmmm, so diep soos ’n plassie dinges op ’n urinaalvloer.”

Boela was priester P se “proseliet”. Dit was Flip, wat ook van opera gehou het, soos Jack, wat vir Butch-hulle moes verduidelik dat dit “proseliet” is, nie “prostituut” nie. In Boela se geval was dit dan eerder ook die wegrokkel vanaf Satan se gemeente, al was priester P dan ook ’n sekte-seloot. Boela was een van baie Godlose drifters aan die Rand wat om verskeie redes uit die samelewing verstoot is. Hy self het op sestien uit die weeshuis weggeloop en ’n arbeider in die slagpale geword.

Priester P was in sy finale jaar Teologie by Unisa, en het die dag van die bekendmaking dat Boela dood is, juis weer in stilte gesit en kyk – dink veral – oor die vreemde opset met operaliefhebbers soos Flip, wat name van sangers soos die Bulgaarse bas Giaurov en die Rus Boris Christov kon afrits, teenoor Boela en Butch en Stetson en oom Hennie wat arbeiders was. In die sewentigerjare van die negentienhonderds is daar slegs wit arbeiders deur die gesondheidsowerhede aangestel. Maar Germiston se antieke abattoir was uniek, met opera-arias galmend tussen die bloederige beeskarkasse aan oorhoofse hake enersyds, en die arbeiders, bykans analfabete, andersyds, waarvan twee – Butch en Stetson – Meneer Suid- Afrika-aspirasies gekoester het. In die ketelkamer het hulle ’n gimnasium ingerig om in stil tye biseps- en ander krulle en drukke te oefen. En natuurlik Boela, die swakkeling sonder selfbeeld, wat hulle twee nie kon ontsnap nie. Hy het indertyd juis probeer onttrek van “Satan se gemeente” met allesbehalwe sakramentele nagmaalswyn van sjebeens in daardie eenkantwêreld van die uitgeworpenes. Hy was ook pas getroud, en dit was vir die “Apollo”-kollegas van hom ’n bron van eindelose vermaak om Boela oor slaapkamertruuks in te lig. Dan het hy benoud rondgeloer of hy nie vir priester P kon opspoor nie.

So het dit dan ook ’n soort stryd geword tussen priester P en die twee Apollo’s. Boela was die lappop tussenin wat die hondjies aan die een kant uit die seuntjie se hande wou ruk.

Maar die totale uiteenlopendheid van die klompie lotsgebondenes by die vervalle, tydsverloopte slagplaas vol rotte soos ’n ou vragskip op sy laaste ekskursie is verder onderstreep deur die nimlike oom Hennie met die sandkaapse aksent van “Diklis” en Warrenton se wêreld. Die aand toe Boela dood is, was almal weer saam om te eet. Daar was ’n noodslagting wat oortyd beteken het. Boela en priester P het op ’n stomp by die vuur gesit. Jack het van Turandot in die Staatsteater vertel. Net Flip het geluister. Butch en Stetson het beurtelings smalend – meer met die oë – dán na Jack, en dán na priester P gewys. Oom Hennie het vir Jack gelag, sy kitaar gevat en gesê hy gaan vir hom iets uit Turandot sing. Hy het losgetrek met “Unchained melody”. Net voor die deel wat lui: “I’ve hungered for your touch” het priester P alreeds in afwagting met wenkbrouparentese die sandkaapse uitspraak afgekeur. Die ander het begin glimlag, want oom Hennie se ideolektiese weergawe lui so: “… aaif hangerd fo jor tits …” Stetson het aan Butch gestamp en na Boela gewys.

***

Dit het veel later uitgekom dat Butch en Stetson dié aand vir Boela stasie toe geneem het ná die noodslagting, maar eers het hulle by ’n sjebeen stilgehou om Boela terug te “bekeer” na die wêreld van die “manne”, ondanks sy protes dat hy nie sy nuwe vroutjie wou teleurstel nie. Maar Boela was nie bestand nie. Hy was geen Meneer Suid-Afrikakandidaat nie, kon nie goed praat of argumenteer nie, en was voorheen ’n diepe spotwyndissipel. Volgens ooggetuies op die dronktrein daardie aand het hy heelpad ineengedoke gesit. Soms het dit gelyk of hy snik. Toe daar naby George Gochstasie ’n trein van voor af aankom, het Boela skielik opgespring, die deur oopgeruk en die donkerte tussen die twee treine wat op volle vaart in teenoorgestelde rigtings by mekaar verbyjaag, ingespring.

Noodslagting? Iemand wat ook siggetuie was, het gesê dat dit erger was as by ’n slagpale.