Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans

“As ek haar nie neerskryf nie, is ek sonder geskiedenis”: die rol van vroue in die geskiedenis en letterkunde.


Dorothea van Zyl - 2008-08-19

Die Huis der Nederlanden en die Nederlandse Bibliotheek het op Saterdag 9 Augustus 2008 Vrouedag gevier met ’n lesing oor die soms moeisame pad van vroue in die geskiedenis, asook in die Nederlandse en Afrikaanse letterkunde. Die onkonvensionele, verrassende en selfs skokkende bly nie agter in hierdie oorsig oor die perspektiewe van onder meer die kerk en literêre geskiedskrywers op die vrou nie. Wat het vroue in ruil hiervoor gepresteer en hoe is die geskiedenis verkeerd bewys?

Prof Van Zyl is ’n dosent in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch en ook bekend as direkteur van die jaarlikse US Woordfees.


Inleiding

Die treffende woorde van Jeanne Goosen in haar kortverhaal oor haar ma getitel “Kristaldruiwe” vat mooi saam hoe woorde, die neerskryf van sake, saamhang met die geskiedenis en perspektief: Jeanne Goosen gee in hierdie verhaal háár perspektief op haar ma as deel van haar persoonlike geskiedenis. Juis oor hierdie verskillende perspektiewe op vroue in skryfwerk deur die eeue heen handel hierdie praatjie.

Vir baie vroue is moederlike status inderdaad die belangrikste aspek wat hul vroulikheid definieer, soos geïllustreer deur die volgende staaltjie:

Jare gelede, op my tuisdorp Graaff-Reinet, moes tannie Elsa 'n operasie ondergaan. Alles het goed gegaan, maar sy wou nie na die tyd bykom nie, maak nie saak hoe hard die verpleegsters geroep het nie. Oom Kotie moes kom probeer. Hy het lank, aanhoudend en tevergeefs geroep: "Elsa, Elsa!", later "Vrou!", maar niks wou help nie. Desperaat, moedeloos en benoud roep hy uiteindelik: "Ma!" en dadelik sit sy regop!

Antjie Krog: Otters in bronslaai (1981:41) het die volgende perspektief op ma-wees:

met hulle is ek

met hulle is ek:
al die maaier-ma’s di.-oggende by die babakliniek
al die ma’s op hul knieë voor die kinderbiblioteekrak
al die ma’s wat sondae verkreukel uit die babakamer kom
al die ma’s wat saans voor die noodapteek wag
al die ma’s wat "gebak" skool toe moet stuur
al die ma’s wat uitvind NIKS haal doekvlekke uit
behalwe jik nie
al die ma’s wat hul arms teen oonddeure brand
al die ma’s wat nie hul kinders sonder ’n bediende kan grootmaak nie
al die ma’s wie se kinders hakkel of bednatmaak
al die ma’s wat skoondogters en lamlendig is
uit hierdie vrouens is nie eens kinders te maak nie
en godweet, ook nie poësie nie.

Onselfsugtigheid teen wil en dank is dikwels vroue se lot. Totius (in Opperman 1964:47) se perspektief op hierdie opofferende aard van die put én die vrou lui soos volg:

Dit put maar en sy gee maar immer
dit put maar en sy weier nimmer,
net soos ’n moeder, so opreg,
gee sy haar laaste druppel weg!

Ter afsluiting ’n paar perspektiewe op vroue en werk: Daar bestaan nie so iets soos ’n niewerkende moeder nie, het Hester Mundis gesê. En Anne Marrow Linderbergh vind dat ma’s en huisvroue die enigste arbeiders is wat nie gereeld vryetyd het nie. Hulle is die groot vakansielose klas. Die volgende opdrag is dus gepas: "Die vrou se werk is nooit gedaan; pak dit dus met vreugde aan!"

Enkele perspektiewe op vroue deur die eeue heen

Die geskiedenis van mans se perspektief op vroue soos dit in geskrifte behoue gebly het, vertel ’n verhaal van soms ongelooflike diskriminasie, maar tog ook van vroue wat dikwels weggebeur het van die eng korslyf waarin hulle geplaas is en wat die bevooroordeelde uitsprake verkeerd bewys het. My fokus rus op die Westers-Christelike tradisie, in aansluiting by die Afrikaans en Nederlandse letterkunde, maar dit is ’n feit dat al die "groot gelowe": Judaïsme, Christendom, Islam, Boeddhisme en Confucianisme vroulike minderwaardigheid gepropageer het – en dit in baie gevalle steeds doen – as deel van die geloof (Miles 2001:7)

Die oudste kulture was matriargaal, met ’n sterk nadruk op die vrugbaarheid. Die vrou is selfs soms as godheid vereer. Miles (2001:5) vind dit ironies dat prehistoriese vroue in baie opsigte vryer was as wat die geval was in meer ontwikkelde samelewings. Met die oorgang van natuur na kultuur, toe die eerste vorme van politiek, wetenskap en tegniek begin ontwikkel het, het die mans onafhanklik begin raak, begin organiseer en die mag begin oorneem. Die rolpatroon het verander en die vrou is steeds meer as besitting gesien (Slavenburg 1993:183–4). Dit wys in watter mate kapitalisme ’n euwel kan wees!

Binne die Joodse geloof word die skuld vir die sondeval reeds in die oudste van die twee skeppingsverhale (Gen 2:7, 2:21–2) aan die vrou gegee, met as straf (Gen 3:16): “Na u man sal u begeerte uitgaan, hoewel hy oor u heers.” Dit het aanleiding gegee tot ’n stroom negatiewe uitlatings oor die vrou. Vir die Jode was die vrou ondergeskik: mans mag van vroue geskei het, selfs om beuselagtige redes, en kon vrylik as getroude man met ongetroude vroue verkeer, maar nie andersom nie.
Die Gnostiese (spirituele) Jode het sake anders gesien – die eet van die boom van die kennis van goed en kwaad was juis positief: dit het die mens kennis gegee van sy waarlik goddelike afkoms. Daar heet dié vrou Sophia, wysheid, is Eva die skenker van lewe eerder as ’n sinnelike verleidster.

Die Grieke het homoseksualiteit gesien as die hoogste vorm van die liefde; die Griekse demokrasie was bedoel net vir manne, nie vir slawe en vroue nie. Volgens Aristoteles (wie se opvattinge veral na 1100 ’n groot aanhang gekry het) was manlike saad bedoel om volmaakte wesens (mans) mee te verwek. As dit misgeloop het, is onvolmaakte wesens, vroue, gebore. Vroue is dus gesien as beskadigde, defekte nie-mans. Die Romeine het die huwelik as ’n blote verstandsaak gesien, met die doel om ’n wettige nageslag voort te bring. Dié idees is deur die toenmalige kerkvaders versterk.

Vir Jesus was die vrou egter volkome gelykwaardig aan die man – ’n revolusionêre houding in daardie tyd. Min mense besef watter besondere rol hy toegelaat het dat iemand soos Maria Magdalena speel. Hierdie vrou kan as ’n gevallestudie beskryf word van wat met vroue kan gebeur in die geskiedenis. Maria Magdalena was ‘n hoogs intelligente vriendin (sommige sê eggenote) van Jesus, apostel van die apostels, wat die opgestane Jesus die eerste gesien het en verantwoordelik is vir ’n nogal ingewikkelde evangelie wat ongelukkig net deels behoue gebly is. Dit is deel van die geskrifte wat in 1945 opgegrawe is by Nag Hammadi in Egipte – van die belangrikste vondste van die twintigste eeu (Slavenburg en Glaudemans 1994:379-385). Maria Magdalena is later in so ’n mate verwar met die vrou van wie sewe duiwels uitgegaan het (Luk 8:2), met die anonieme sondares wat Jesus se voete gewas het, en selfs met Maria, die suster van Martha, dat sy in die sesde eeu in hierdie drievoudige hoedanigheid bekragtig is as heilige deur pous Gregorius die Grote. Van intellektueel en ingewyde tot sondares en prostituut (Slavenburg 1993:181-186).

Reeds in die oudste Evangelie, die Evangelie van Thomas (Afrikaanse uitgawe 2002:48) word teen haar gediskrimineer as Petrus (kennelik nogal jaloers) sê: Maria moet weggaan, want vroue is die (geestelike) lewe nie werd nie. Ook in die Evangelie van Maria Magdalena self word geskryf oor Petrus se negatiwiteit ten opsigte van haar, sodat Levi haar verdedig het met die woorde dat Jesus meer van haar gehou het as van die ander dissipels (Slavenburg en Glaudemans 1994:384). Ook Paulus word dikwels in verband gebring met uitsprake wat die man aandui as hoof en die vrou as ondergeskikte (1 Kor 11–14), maar hy het vroue wel ook baie hoog gestel en telkens in sy briewe genoem.

Dit was invloedryke kerkvaders soos Tertullianus (155–220) en veral Augustinus (355–430) wat God se oordeel afgeroep het oor die vroulike geslag en hulle die skuld gee; vgl Tertullianus: “Jullie zijn de poort die de duivel toegang biedt (...) Jullie hebben het beeld van God, de man, op een al te gemakkelijke wijze vernietigd en wegens jullie ongehoorsaamheid, die de dood betekent, moest zelfs de zoon van God sterven” (Slavenburg 1993:187).

Augustinus het ook die vrou die skuld gegee vir die erfsonde: “Wij waren namelijk allen in die ene mens, toen wij allen die ene waren, die in zonde is gevallen door toedoen van een vrouw, die vóór de zonde uit hem was gemaakt” (Slavenburg, 1993:175).

Teen die vierde eeu kon die vrou nie eens meer in dienende hoedanigheid ’n rol speel in die Christelike gemeenskap nie – sy is slegs toegelaat om te bid en na die leraars te luister.

Slavenburg (1993:188–194) gee heelwat aanhalings van mense soos Isidorus van Sevilla (7de eeu), die ab Odo van Cluny (878–942), Andreas Capellanus (omstreeks 1200), die heiligverklaarde Albertus (12de eeu) en Thomas van Aquino (13de eeu), wat vroue gelyk gestel het met swakheid, sonde en vuilheid. Hierdie minagting vir die vrou het ’n laagtepunt bereik met die heksevervolging in die 15de en 16de eeue. Die Hervorming wat daarná gevolg het, was ’n verbetering, maar vroue sou nogtans tot redelik onlangs nie toegelaat word om te preek of om funksies soos ouderling en diaken te vervul nie.

Na aanleiding van die kwade rol van die kerkvaders kom Slavenburg tot die "trieste constatering" (1993:203) “dat er na vele eeuwen christendom weinig van de glanzende erfenis van Jezus van Nazareth (...) meer over was. De erfenis was zoekgeraakt”.

Daar was gelukkig vroeg reeds enkelinge wat die geskiedenis verkeerd bewys het, hoewel ware vroue-emansipasie eers in die 20ste eeu, en veral in die laaste 40+ jaar, werklik grootskaals op dreef gekom het – en ook hoofsaaklik in die Westerse wêreld, maar sake is nie heeltemal so eenvoudig nie, soos blyk uit die stryd om vrouestemreg. Die volgende is enkele voorbeelde uit ’n lang lys:

Swede was die eerste land wat vanaf 1718 tot 1771 (toe dit teruggetrek is) gekwalifiseerde stemreg toegestaan het aan vroulike belastingbetalers in die stadsgildes. Ook in die 18de eeu het Corsica, Massachusetts en New Jersey dit vir kort periodes toegelaat. In die laat 19de eeu het sommige provinsies in Australië, enkele Amerikaanse state, en ook Swede, Brittanje, Kanada en kleiner eilande beperkte stemreg verleen. Nieu-Seeland (1893) en Suid-Australië (1894) was voorlopers met omvattende stemreg. Finland (1906) was die eerste land waar vroue kon stem én in verkiesings kon staan, ongeag ras, besittings of sosiale klas. Na 1910 het onder meer Denemarke, Noorweë, Kanada, Duitsland, Pole en Rusland gevolg. België, Hongarye en Nederland het in 1919 vrouestemreg toegestaan; in die twintigerjare die VSA en Swede. Brittanje het in 1928 gelyke stemreg met mans toegelaat en Suid-Afrika in 1930 (vir wit vroue; die ander eers in 1994); in die dertigerjare Spanje en Portugal, Brasilië, Thailand, Turkye en Indië; in die veertigerjare Frankryk en Italië; Griekeland in 1952, Egipte en Somalië (1956); Switserland eers in 1971 op federale vlak. In Kuweit, Qatar en die Arabiese Emirate is beperkte vrouestemreg eers ingestel na 2005 (en.wikipedia.org/wiki/Timeline of women's suffrage).

Ek kyk vervolgens na die perspektiewe op vroue in die Afrikaanse en Nederlandse literatuur en literatuurgeskiedenisse.

Hier is ook min sprake van vroue-emansipasie voor die 19de–20ste eeu, hoewel prominente vroue deurgedring het tot die kanon en daar soms sprake is van konvensies wat deurbreek word. Reeds in die Middelnederlandse Germaanse ballade oor Heer Halewijn uit die 14de eeu (sien Antonissen 1986:68) is byvoorbeeld sprake van ’n omkering ten opsigte van die konvensionele konstruksie van vroulike identiteit as ’n mooi jong meisie Heer Halewijn (wat haar wil verlei en doodmaak, soos vele vroue voor haar) ten slotte uitoorlê en doodmaak. Dan ry sy wydsbeen op haar perd terug met sy kop (allermins soos dit ’n jong meisie van destyds betaam!) en dit word as versiering op die tafel geplaas. Hoewel sy die hoofkarakter is, verwys die titel na Heer Halewijn – iets wat die verrassende omkering ten slotte vergroot.

Die hoofse liefde in die Middeleeue word dikwels as positief teenoor vroue beskou, maar dit was eintlik sterker gerig op die manlike ego en perspektief, met die vrou wat op ’n verhogie geplaas en aanbid is deur manlike troebadoers en digters. Dit het ook net in hoër kringe gegeld.

Vroueskrywers vanaf ongeveer die 13de eeu kan byna almal met die Rooms-Katolieke geloof in verband gebring word. Die twee bekendste vroue-outeurs (beide mistici) uit die Middelnederlande was Beatrijs van Nazareth (1200–1268) van wie ’n prosa-traktaat oor die sewe maniere om die heilige liefde te beleef oorgebly het, en Hadewijch (13de eeu), ’n hoogs-ontwikkelde vrou wat Latyn geken het en as een van die beste skrywers (van briewe, strofiese gedigte en visioene) beskou word uit die vroeë periode (Paul Wackers in Schenkeveld-Van der Dussen 1993:18–23).

Dit het tot die 15de eeu geduur voordat vroue se skryfwerk weer aandag getrek het. Berta Jacobs, of Suster Bertken (ongeveer 1427–1514), uit Utrecht het haarself dekades lank laat toemessel in ’n kerkmuur, waar sy onder meer verse geskryf het. Anna Bijns (1493–1575) was een van die grootste en mees aangeprese rederykerdigters, wat egter (omdat sy ’n vrou was) nooit werklik opgang kon maak nie. Sy was ’n interessante figuur wat nooit getrou het nie, maar haarself onderhou het as skoolmeesteres. Sy het onder meer satires geskryf teen die huwelik (oor mans onder die pantoffelregering, bejaarde egpare, ens). Heelwat ander vroue se werk het in mindere of meerdere mate behoue gebly, maar Hadewijch, Bertken en Bijns se werk is telkens herdruk en hulle is die sterkste gekanoniseer (Herman Pleij in Schenkeveld-Van der Dussen 1993:127–30).

Teen die sewentiende eeu het burgerlike vroue redelik onafhanklik sake bedryf. Van ontwikkelde vroue in die hoër Nederlandse burgery is verwag om belese te wees, asook kundig en vaardig met musiek, borduurwerk, akwarelle skilder en soms gedigte skryf. Die twee beroemdste literêre vroue was Anna Roemers Visscher (1583–1654) en haar suster Maria Tesselschade (1594–1649), maar ook die hoogs intelligente Anna Maria van Schurman (1607–78) het opslae gemaak. Sy is die eerste vrouestudent wat toegelaat is aan die Universiteit van Utrecht (maar moes agter ’n gordyn sit om nie die mans se aandag af te trek nie!) en het uitgebreid met geleerdes uit die hele Europa gekorrespondeer (Marijke Spies, in Schenkeveld-Van der Dussen 1993:283–5).

Teen 1780 was Nederlandse vroue-outeurs ’n redelik gewone verskynsel, onder andere Aagje Deken, Betje Wolff (met die romans Sara Burgerhart en Cornelia Wildschut) en Belle van Zuylen (met die briefroman Brieven van Mrs Henley, 1784) (Johanna Stouten in Schenkeveld-Van der Dussen 1993:368–9).

In die laat 19de eeu het die posisie van vroue sterk in die aandag gestaan in Nederland in talryke pamflette en brosjures, onder meer beïnvloed deur die vertaling van John Stuart Mill se De slavernij der vrouw (1870), die geskrifte van George Sand en die besoek van die Amerikaanse skryfster en aktrise Stella Oristorio di Frama. Twee vrouetydskrifte is opgerig, asook die vrouevereniging Arbeid adelt. Daar word soms na hierdie oplewing verwys as die eerste feministiese golf in Nederland, ’n tyd waarin feministiese-tendens-romans deur skrywers soos Cécile Goekoop-De Jong van Beek en Donk (1898) verskyn het (JR van der Wiel in Schenkeveld-Van der Dussen 1993:502–3). Aletta Jacobs (1854–1929) het gepromoveer aan ’n Nederlandse universiteit en het as kinderarts in Amsterdam gewerk (Bezuidenhout 2005:20).

In die periode ná 1900 kom in Nederland 'n oplewing met heelwat werk deur vroue, maar Maaike Meijer (in Schenkeveld-Van der Dussen 1993:823) spreek haar uit teen die "neerbuigende en generaliserende" term damesroman wat manlike literatuurhistorici hiervoor gebruik het. Eers sedert die sewentiger- en tagtigerjare van die 20ste eeu is daar in Nederland sprake van 'n groot toename in boeke deur vroue en 'n aansny van soveel temas op soveel verskillende maniere dat die boeke nie in een kategorie tuisgebring kan word nie. Vrouebewegings en aksiegroepe het sedert ongeveer 1960 sterk op die voorgrond getree en selfs militant opgetree (soos die Dolle Mina–beweging wat bra’s verbrand het en met slagspreuke gekom het soos “Baas in eigen buik”); leerstoele in vroue- en genderstudie is ingestel aan verskeie universiteite; vroue-uitgewerye en -tydskrifte het tot stand gekom; en die Anna Bijnsprijs is ingestel vir vroue in die letterkunde. Invloedryke feministiese publikasies het verskyn, van onder andere Anja Meulenbelt, Joke Kool-Smit en Maaike Meijer.

Waar staan sake vandag? Selfs relatief onlangs vind Maaike Meijer dit 'n probleem dat resensente vroue se werk moeilik verbind kry met "de eigentijdse stromingen en de tradities in de literatuur". Vernuwing word nog altyd aan die manlike outeurs toegeskryf en vroue word beskou as navolgers (1993:824). Daar was wel deeglik skryfsters wat gepresteer het (soos Hella Haasse, Top Naeff, Ina Boudier-Bakker, Carry van Bruggen, Anna Blaman en meer onlangs 'n hele stroom met Monica van Paemel, Renate Dorrenstein, Kristien Hemmerechts, Nelleke Noordervliet en Tessa de Loo en ander). Tog tref 'n mens in die personeregisters van die belangrikste Nederlandse literatuurgeskiedenisse getallegewys minder vrouename aan. Die situasie is egter vinnig besig om te verander.

Suid-Afrika

In Suid-Afrika het vroue soos Susanna Smit van vroegs af verkies om redelik kragdadig lángs eerder as ágter hul mans te staan. Hiervan getuig Smit se bekende woorde (verwoord deur Antjie Krog in die afdeling "Die leeu en die roos" in Otters in bronslaai) dat die trekkers eerder "kaalvoet oor die Drakensberge" sal terugtrek as om onder die Britse juk te staan – gevleuelde woorde wat spreekwoordelik in Afrikaans geword het. Nou moet u ook onthou dat ons dit deesdae maklik gebruik, maar sy het dié berge eerstehands meegemaak en het presies geweet watter probleme en ellendes dit inhou.

Miskien is dit dié ingebore pioniersmentaliteit wat die vrou se posisie in die Afrikaanse letterkunde tog anders gemaak het as dié van haar Nederlandse eweknie. 'n Mens kry deesdae die indruk dat die vroue selfs besig is om kaalvoet en kaalvuis heen en weer oor die Drakensberge te peuter!

Hoe het vroueskrywers dus gevaar in die literatuurgeskiedenis?

Vroue het in die 18de en 19de eeue veral reisjoernale, briewe en boeke ter herinnering aan die eie familiegeskiedenis geskryf. In die Eerste Afrikaanse Taalbeweging het Di Patriot nie vroueskryfwerk verwelkom nie, omdat die skrywersrol sou bots met die moedersrol. Dit het 'n jaar geduur na die ontstaan van Ons Klyntji voor die redakteur enigsins na die vrouelesers van dié blad verwys het (Van Zyl 1996:85). Die naam van die blad het ook nie vir erkenning gesorg aan vroue nie – hierdie kind was kennelik sonder ’n ma. Dit sluit aan by die feit dat die Gedenkskool in Dal Josafat eintlik bedoel was slegs vir seuns – meisies is toegelaat alleenlik as nie genoeg seuns ingeskryf het nie

Ds SJ du Toit, redakteur van Ons Klyntji, het hom ook in preke uitgelaat oor die posisie van die vrou. Onder die verderflike nuwe weë, waarin afgewyk word van die "oude paden" wat hy in talle uitsprake en preke aanprys, noem hy naas "Bazaars – Speciale Evangelieprediking – Opwekkingsbewegingen – Nabijeenkomsten (After-Meetings) – Konferenties – Protestantsche Concilies – het Zingen van het Evangelie" en die "Salvation Army" ook "het Preeken van Vrouwen" (Du Toit 1893:33). In sy "Bijbelgids voor 't huisgezin" (Huiskerk 1893:466) staan onder andere: "De kracht der Vrouw ligt in stilheid en onderdanigheid." Die man, daarenteen, word in sy wenke by die huisgodsdiens so beskryf: "De Huisvader is in 't huisgezin profeet, priester en koning; hij ga dus voor bij het huisaltaar" (1893:464). Geen wonder dat sy dogter Marie die eerste werklik feministiese geskrif in Afrikaans gelewer het nie.

Dit is, in aansluiting hierby, opvallend dat die reisgedeelte van die eerste historiese roman in Afrikaans, Di koningin fan Skeba (1896 as vervolgverhaal, in 1898 as roman gepubliseer) deur SJ du Toit bykans uitsluitlik bevolk word deur mans. Daar word hoegenaamd nooit verwys na enige vroulike verbintenis met betrekking tot enige van die reisgenote nie. Dit illustreer ook die mate waarin sake soos kolonialistiese uitbreiding, die opening van nuwe gebiede, asook die ontdekking en beredenering van nuwe gegewens, deur Du Toit beskou is as mannewerk. In die ingebedde teks speel vroue oënskynlik 'n groot rol, maar ook hier oorheers manlike daders (Van Zyl 1997:80).

Du Toit se beskouinge is vir ons belangrik omdat hy 'n prominente figuur was in sy tyd. Dit gee enersyds goed weer wat die heersende gedagtes oor die vrou in dié tyd was. Hy het andersyds op daardie stadium ‘n groot invloed uitgeoefen binne Afrikanerkringe en op dié wyse opvattinge help vestig en voortsit.

Die groot rol wat vroue in die Anglo-Boereoorlog gespeel het, het wel erkenning ontvang. Dit is egter opvallend hoe beskeie en onseker vroue in kampdagboeke en -geskrifte klink oor hul eie bydrae. Dikwels is na dié vroue verwys in terme van hulle eggenote se name. Enkele uitsonderinge was dinamiese vroue soos Marie Koopmans de Wet en ML Rompel-Koopman. Die vrou is egter primêr gesien as gesinsmoeder, opvoeder en volkshoeder, in diens van volk en vaderland.

Op joernalistieke terrein het vroue aan die begin van die twintigste eeu feitlik geen insette gelewer nie.

Daar was egter verskeie prominente figure. Die eerste feministiese boek: Vrou en feminist – of iets oor die vroue-vraagstuk deur Marie du Toit (dogter van SJ du Toit en suster van Totius) het in 1921 verskyn en MER het vroeg in die 20ste eeu feministiese idees geopper. Dr Petronella van Heerden (1887–1975) was die eerste vrou wat medies gestudeer het (in Amsterdam). Sy was ’n eksentrieke figuur wat mansklere gedra en ’n histerektomie ondergaan het om ontslae te raak van haar vrouedele (sien in Etienne van Heerden se Kikoejoe die karakter Geertruida Sophia Latsky, wat op dr Van Heerden gegrond is). Sy beskryf haar lewensverhaal in onder andere Kerssnuitsels (1962) en Die 16e koppie (1965). Prof Lydia van Niekerk was ’n briljante student wat in 1920 as die eerste vroulike professor – en wel in Afrikaans en Nederlands – aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel is. Sy was ’n kenner van die skilderkuns en het gereeld stukke oor poësie, drama en prosa in Die Huisgenoot geskryf. Sy het ook Afrikaans en vrouebelange bevorder, onder andere deur die oprigting van die Vroue Studentebond in 1921. Die koshuis Lydia is na haar vernoem. Sy is ongelukkig jonk oorlede in 1929.

Vroue het ’n groot rol gespeel op Stellenbosch. In 1900 besluit die klein aantal vrouestudente aan die Victoria Kollege dat die Victoriaanse buiging om mans te groet te onderdanig lyk en besluit om mans voortaan met die hand te groet. Die eerste vrouelid van die studenteraad was Helena de Vos in 1909 – soms was 3–4 lede van die studenteraad van 12 of 16 vroue. Vanaf 1909 lewer vrouestudente gereelde pleidooie vir vrouestemreg en begin hulself organiseer deur onder meer die Vroue Studentebond, waarvan Erika Theron in 1927 die president was.

Met die Taalkonferensie van 1911 was dit vrouestudente wat besluit het dat die brabbeltaal van Engels/Nederlands/Afrikaans wat die vrouestudente op Stellenbosch praat, voortaan vervang moet word met suiwer Afrikaans. Bekende studente soos Anna Neethling-Pohl in die twintigerjare, Ina Rousseau en Berta Smit in die veertigerjare, Rykie van Reenen en Elize Lindes (Botha) sou ’n baie belangrike rol speel (Kapp, 2004:15).

Tydskrifte soos Die Boerevrou (1919) en later Rooi Rose en Sarie Marais het baie daartoe bygedra om vroue "mondig" te maak, asook skrywers en joernaliste soos die invloedryke MER (Maria Elizabeth Rothmann) en Audrey Blignault (laasgenoemde het onder andere baie gedoen om ’n leeskultuur te vestig deur die oprigting van leeskringe aan te moedig), Alba Bouwer, Elise Muller en Rykie van Reenen, asook dinamiese vroue-kritici soos Elizabeth Conradie, Anita Lindenberg en Elize Botha. Elisabeth Eybers is die eerste groot Afrikaanse vrouedigter, maar ook een van die groot digters in Afrikaans, terwyl Ingrid Jonker se werk bykans ikoonstatus verwerf het.

Wit vroue-emansipasie in Suid-Afrika het volgens Bezuidenhout (2005:9) stadiger plaasgevind as in die Nederlande, waarskynlik onder meer weens die Christelik-Nasionale inslag en die sterk patriargale apartheidsregering. Interessant is die emansiepasiedrange en inklusiwiteit wat merkbaar is by die Suid-Afrikaanse Klerewerkersunie, met hulle blad Klerewerker in die veertigerjare (sien Lourens 1997:163–70), waarin hulle aspirasies in digvorm uitgedruk is.

’n Veel feller emansipasiestryd is in swart geledere gevoer, met die sterk vroue-afdeling binne die ANC (Ruigrok 2000:60–61) – vandaar die groot verbetering in die posisie van vroue in die wetgewing ná 1994, die instelling van Nasionale Vrouedag as vakansiedag en groter verteenwoordiging van vroue in die parlement. Vroue het in opstand gekom teen die destydse realiteit dat dubbel gediskrimineer is teen hulle (op grond van beide hul vrouwees en as etniese groep). Dit het tot uiting gekom in onder andere werksaamhede van die Black Sash-beweging en in demonstrasies soos die optog van swart vroue na die Uniegebou in 1956 uit protes teen die paswette. Die Vroueburo, wat in 1981 opgerig is, ondersoek sedertdien vroue se bydrae op verskillende terreine en daar is verskeie toekennings wat emanispasie aanmoedig.

Hoe is vroue se werk benader deur die literatuurhistorici? Gerrit Dekker se Afrikaanse Literatuurgeskiedenis van 1963 is nie so positief nie. Hy verwys met betrekking tot die periode sedert 1930 na die "groot aantal vroue wat, met weinig sielkundige inlewings- en skeppingsvermoë, lank-uitgesponne, 'psigologiese' romans skryf in 'n kleurlose styl en met 'n voorliefde vir die historiese roman. Hulle skiet ver tekort by die gevoelige, burgerlik-realistiese kuns van die Nederlandse skryfsters (Ina Boudier-Bakker en Top Naeff) onder wie se invloed baie van hulle staan" (Dekker 1967:301).
Dekker skei (anders as John Kannemeyer en Elize Botha) die dames en die here nog keurig van mekaar, maar is darem nie net negatief nie. Hy prys MER se werk en Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan aan, hoewel 'n mens tans nogal glimlag vir die volgende uitspraak oor Smit: "Die skoonheid van ontdekte eie sielelewe het sy in verrassende sensitivistiese beelde versinlik, soos nog nooit iemand dit in Afrikaanse prosa gedoen het of die behoefte gehad het om dit te doen nie ..." (1967:305–6). Met betrekking tot die reisverhaal (Elsa Joubert, Anna M Louw en Marie Malherbe) gebruik hy terme soos "'n Besonder simpatieke werkie", "bekoorlik" en "verfrissend', en sê: "Veral die vrou voel haar aangetrokke tot hierdie genre, wat sy met eg vroulike vlotheid (...) beoefen." Daarteenoor is Ernst van Heerden se Etikette op my koffer vir hom "[m]eer manlik en intellektueel" (1967:296).

Elize Botha het met haar gesaghebbende bydrae in Die Afrikaanse literatuur sedert sestig (1980) baie gedoen aan die nodige erkenning vir ons skryfsters. Sy bestee heelwat aandag aan Afrikaanse vroueskrywers. Van die 38 figure wie se werk sy belig, is 16 vroue. In beide Elize Botha se oorsig en Kannemeyer se tweedelige literatuurgeskiedenis (1978 en 1983) word daar nie aparte afdelings aan skrywers en skryfsters gewy nie.

Ook literêre bewegings is 'n goeie aanduiding van die erkenning aan vroueskrywers. Vroue was nie sterk verteenwoordig binne die Dertigerbeweging nie, maar Hettie Smit op prosa- en Elisabeth Eybers op poësiegebied was wel prominente figure, en Opperman (1953) se woordkeuse in sy verwysing na Elisabeth Eybers as "die vroulike aanvulling tot Dertig" het later heelwat verontwaardiging uitgelok. By die Sestigerbeweging het veral Ingrid Jonker die aandag getrek. Daarnaas het 'n aantal skryfsters na vore getree wat deels die verworwenhede van Sestig in hulle werk oorgehou het en deels hulle eie pad geloop het, veral Elsa Joubert, Henriette Grové, Ina Rousseau en Anna M Louw, wie se werk ook bekroon is. In die sewentiger- en tagtigerjare het Wilma Stockenström, Antjie Krog en vele ander gevolg.

Ten opsigte van literêre toekennings blyk dat Afrikaanssprekende vroue reeds op ‘n vroeë stadium in hul emansipasieproses erkenning as skrywers geniet het (sien Nienaber 1965 en Bezuidenhout, 2005:10–12). Eybers ontvang die prys byvoorbeeld reeds in 1943 (en later weer in 1971), MER in 1953 en Elise Muller in 1957. Sedert 1970, toe die tweede feministiese golf ook in Suid-Afrika begin veld wen het, is vroue bekroon, soos Wilma Stockenström in 1977, Sheila Cussons in 1983, Antjie Krog in 1989 en Ina Rousseau in 1997. Vroue het ook meermale die Eugène Marais- en Ingrid Jonkerprys vir ‘n debuut of vroeë digbundel ontvang.

'n Mens kan dus met veiligheid konstateer dat die Afrikaanse skryfster skynbaar in 'n beter posisie is met betrekking tot die kanon as die Nederlandse. Dit is na my mening veral te danke aan die sterkte van die skryfsters se talente wat ons ten toon gestel sien, asook aan ‘n bereidheid tot die óópskryf van temas en gebiede.

Hoewel vroue uit ander groeperinge in Suid-Afrika ná 1994 leidende posisies in die samelewing begin inneem het, word hul stemme tot dusver nog nie sterk gehoor in die Afrikaanse literatuur nie. Van die mees prominente skrywers is EKM Dido (’n merkwaardige baanbreker met haar romans), Diana Ferrus, Valda Jansen, Beverley Jansen en Sydda Essop, met belowende nuwelinge soos Anzil Kulsen (met Zita, 2006). Ook hieruit blyk dat dié vroue sterker benadeel is as die mans in die vorige bedeling.

Ondanks die relatief traer en geleideliker emansipasie onder Afrikaanssprekende vroue het verset en selfbevestiging wel voorgekom in die gedigte van veral Antjie Krog, maar ook Wilma Stockenström. In die Nederlande word dié elemente sporadies in die poësie aangetref, byvoorbeeld by die digtersbeweging De Nieuwe Wilden (Meijer 1988:9) waarmee Elly de Waard in 1986 begin het. Nederlande vroue in die algemeen het egter reeds sedert die laat sestigerjare op groot skaal geëmansipeerd geraak, met talle moontlikhede om hul bevryding uit te druk

Ten slotte

Hoewel vroulike enkelinge in die voorafgaande eeue deeglik hulle merk gemaak het, het (Westerse) vroue gedurende die afgelope 4–5 dekades meer bereik as in vorige millennia. Vroue is egter steeds gedefinieer deur mans, en manlike geskiedskrywers het dikwels feite aangepas by hulle eie agendas. So beweer die geskiedskrywer Rosalind Miles (2001:4) byvoorbeeld dat Jean D’Arc nie verbrand is oor geloofsafvalligheid nie, maar omdat sy mansklere gedra het. Florence Nightingale was eintlik bekend as “the Lady with the Hammer”, omdat sy in woede ’n gesluite deur van ’n stoorkamer getakel het toe die bevelvoerder nie voorrade aan haar wou gee nie. Die oorlogskorrespondent van die Times het dit egter te kru gevind vir die Britse lesers by die huis.

Daar is nog heelwat wêrelddele en state, soos Sjina, Indië, Afrika en die Midde-Ooste, waar vroue steeds as minderwaardig beskou word. Maar selfs in die Weste bly dit dikwels nog "a man’s world", met manlike geskiedskrywers wat vroue steeds uit die geskiedenis skryf en wat hulle doen as minder belangrik beskou. Rosalind Miles se vrouegeskiedenis is gevolglik onder meer “the greatest story never told” genoem (2001:2). Miles beskou vroue steeds as die grootste benadeelde en steeds-lydende meerderheid in die geskiedenis van die wêreld en vind dit erg dat mans elke sukses van vroue beskou as ’n aanslag op hulle. Max Lerner het selfs gesê (Miles 2001:263) dat geskiedenis, indien jy dit reg lees, eintlik die verslag is van pogings om Vader te tem – en die grootste triomf van die sogenaamde beskawing is “the domestication of the human male”. Dit lyk egter na ’n voortgaande proses wat nog lank nie afgesluit is nie.

In aansluiting hierby, ter afsluiting, twee aanhalings oor die eeue oue verhouding tussen die twee geslagte in die huwelik:

Het huwelijk

Ik heb je alles gegeven:
een gedicht, mijn maandsalaris
en een kind; wil je nu even
kijken of het eten klaar is?
(A Marja)

Getting married is easy. Staying married is more difficult. Staying happily
married for a lifetime should rank among the fine arts. (Roberta Flack)


Bronnelys

Antonissen, Rob. 1986. Digkuns van die Nederlande 1100–1970. Deel I. Stellenbosch ens: Universiteitsuitgewers en –boekhandelaars.

Bezuidenhout, SM (Zandra). 2005. Sosio-literêre perspektiewe op die eietydse digkuns van vroue in die Afrikaanse en Nederlandse taalgebiede. Ongepubliseerde DLitt-verhandeling. Universiteit van Stellenbosch.

Botha, Elize. 1980. Prosa. In Grové, AP (red). Die Afrikaanse literatuur sedert sestig. Goodwood: Nasou.

Dekker, G. 1967. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Kaapstad ens: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery.

Du Toit, SJ. 1893. De huiskerk: bevattende 57 preeken voor alle Zon- en feestdagen, benevens Zaadkorrels uit het Levend Woord, voor onderlinge bijeenkomsten, huisgezin en binnekamer en Het huisaltaar, wenken, Bijbelgids en gebeden voor 't huisgezin. Paarl: DF du Toit.
—. 1898. Di koningin fan Skeba, of Salomo syn oue goudfelde in Sambesia. Historise roman, met prente. Paarl: DF du Toit.

Evangelie van Thomas.
2002. Pretoria: Protea Boekhuis.

Goosen, Jeanne. 1992. Kristaldruiwe. In Corlia Fourie (samest). Vrou:Mens. Verhale deur vroue oor vroue. Kaapstad, ens: Human & Rousseau.

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Vol 1. Pretoria ens: Academica.
—. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Vol. 2. Pretoria etc: Academica.

Kapp, Pieter. 2004. Vrouepioniers aan US jare lank rolspelers. Woordfees vier vroue. Die Burger, Saterdag 7 Februarie:15.

Krog, Antjie. 1981. Otters in bronslaai. Kaapstad: Human & Rousseau.

Lewis, Jone Johnson. 2008. International Woman Suffrage Timeline. Winning the Vote for Women Around the World. http://womenshistory.about.com/od/suffrage/a/intl_timeline.htm

Lourens Amanda. 1997. Polemiek en kanon: kanonisering van die vroulike outeur in die Afrikaanse prosa van die dertiger- tot die negentigerjare. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

Meijer, Maaike. 1988. De lust tot lezen. Nederlandse dichteressen en het literaire systeem. Amsterdam: Sara/Van Gennep.

Miles, Rosalind. 2001. Who Cooked the Last Supper? The Women’s History of the World. New York: Three Rivers Press.

Nienaber, PJ. 1965. Die Hertzogprys 50 jaar. Kaapstad, ens: Nasionale Boekhandel.

Opperman, DJ. 1953. Digters van Dertig. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Ruigrok, Inge. 2000. Aardverschuiving. Vrouwen veranderen Zuid-Afrika. Avanta. Februarie: 60-62.

Schenkeveld-Van der Dussen, MA. (hoofred). 1993. Nederlandse Literatuur, een geschiedenis. Groningen: Martinus Nijhoff Uitgevers.

Slavenburg, J. 1993. Die verloren erfenis. Inzicht in de ontwikkeling van het christendom. Deventer: Ankh-Hermes.

Slavenburg, Jacob en Willem Glaudemans. 1994. Nag Hammadi geschriften I. Een integrale vertaling van alle teksten uit de Nag Hammadi-vondst en de Berlijnse Codex. Deventer: Ankh-Hermes.

Timeline of women's suffrage. From Wikipedia, the free encyclopedia. http://en.wikipedia.org/wiki/Timeline_of_women%27s_suffrage

Totius (JD du Toit). 1964. Die oue put. In Opperman, DJ (samest). Groot Verseboek. Kaapstad, ens: Nasionale Boekhandel.

Van Niekerk, Annemarie. 1994a. Miskende groepering. Bylaag tot Die Suid-Afrikaan. Februarie–Maart: 2-3.

Van Niekerk, Annemarie (samest). 1994b. Vrouevertellers 1843–1993. Kaapstad: Tafelberg.

Van Niekerk, Annemarie. 1999a. Die Afrikaanse vroueskrywer – van egotekste tot postmodernisme (18e eeu – 1996). In Van Coller, HP (red). Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: JL van Schaik. 305–443.

Van Niekerk, Annemarie. 1999b. ‘n Voorstel vir die geskiedskrywing van die Afrikaanse vrouevertelling: ‘n feministiese perspektief. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand.

Van Vuuren, Hélize. 1999. Perspektief op die moderne Afrikaanse poësie (1960–1997). In Van Coller, HP (red). Perspektief en profiel 2. Pretoria: JL van Schaik. 244–304.

Van Zyl, DP. 1996. Een eeu literêre tydskrifte in Afrikaans. Tydskrif vir Letterkunde XXX1V(4): 85–89.

Van Zyl, DP. 1997. Die retorika en die Afrikaanse historiese roman. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. Annale.