Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Van skarlakendose tot chemiese romanses


Theunis Engelbrecht - 2008-08-19

Luisterpaneel: Alice Ellis, Yvette de Wet, Beyers Eybers en Zander Stander
Sameroeper en notuleerder: Theunis Engelbrecht

Klik op die CD-omslae om by kalahari.net te bestel.


Klik om by kalahari.net te bestelaKing
Dutch Courage

Waar so baie Suid-Afrikaanse rockgroepe klink na blote nabootsings van oorsese rock, is daar darem nog musikante uit eie bodem wat hulle op hierdie klipperige pad begewe en vorendag kom met albums wat myle en myle beter klink as baie van die oorsese CD’s wat soos ‘n eindelose storm van hoenderstront op die arme breindood verbruiker neer reën.

Die agbare lede van ons uitgelese paneel bieg dan ook dadelik dat hulle vroeër al meer aandag aan aKing se briljante Dutch Courage moes gegee het, want die album is al ‘n geruime tyd gelede uitgereik. Hulle vra dus die leser en aKing se onvoorwaardelike vergifnis, aangesien hulle benewens hul uitmergelende werk as luisterpaneellede van Sound Bites ook met ander probleme sit, soos vryskutoorlewing, wraaklustige oudminnaresse, psigopatiese tieners, hartelose bankbestuurders, sadistiese base en toestelle en toerusting wat die heeltyd breek.

“Hoe sal ‘n mens aKing se klank beskryf? Hoe sal ‘n mens hulle kategoriseer?” vra Alice Ellis. Sulke vrae irriteer Zander Stander altyd, want hy glo op dié manier perk ‘n mens kuns net in, probeer jy dit in ‘n boksie druk, terwyl dit juis soveel méér is - die alewige analisering sal nooit die volle toorkrag van die kreatiwiteit wat jy hoor, kan peil nie.

Dit is danksy Laudo Liebenberg se wonderlike stem dat aKing heeltemal anders klink as enige ander Suid-Afrikaanse rockgroep, sê Beyers. Almal stem saam. Die CD beïndruk ook omdat die musiek glad nie voorspelbaar is nie. aKing is avontuurlike liedjieskrywers wat nie vassteek by voorspelbare formules nie. Die tekstuur van die musiek is ook baie gevarieerd, beklemtoon Yvette de Wet.

Vir dié wat twyfel: kyk net na aKing se musiekvideo van “Safe as Houses”, wat tans gereeld op MK is (of soek dit op die internet). Dit is al die groep se tweede treffer en video, en soos met die eerste een, “The Dance”, sal dit jou deeglik laat besef dat aKing een van die groepe is wat tans aan die voorpunt van opwindende Suid-Afrikaanse rock is.


Klik om by kalahari.net te bestelBhelltower
Bhelltower

Ja, glo dit of nie, maar dit is tog nog moontlik om Trots Suid-Afrikaans te wees, sê ons luisterpaneel. Dit is moontlik danksy so baie puik musiek wat tans in die land gemaak word. Bhelltower is nog een van daardie CD’s uit eie bodem wat jou darem één rede gee om te sê jy is proudly souf-efriken.

Bhelltower is ‘n projek van Arno Carstens en die produksieleier Urbatro. Dit kan beskryf word as eksperimentele elektroniese musiek, maar dis baie meer as dit, en die resultaat is op ‘n baie hoër vlak as 95 persent van die elektroniese musiek op die mark. Bhelltower se musiek is meer as blote elektronika – beter woorde om die klank en aanslag mee te beskryf, vind ‘n mens op Urbatro se MySpace-blad, waar dit genoem word "experimental emotronic/electro-acoustic". En hier en daar het dit selfs ‘n bietjie van ‘n industrial goth-gevoel.

Die resultaat is boeiend en indrukwekkend.

Die eerste video is van Bhelltower se weergawe van die ou Clout-treffer “Substitute” (‘n duet met Cindy Alter, Clout se sangeres). ‘n Mens vat ‘n groot kans as jy so ‘n groot treffer vat en dit vervorm tot iets heeltemal anders as die ou bekende straightforward popweergawe. In Bhelltower se hande kry dié liedjie ‘n donker, broeiende klank. Yvette en Zander hou niks van Bhelltower se “Substitute” nie, maar Alice en Beyers en die sameroeper is mal daaroor. As jou eerste blootstelling aan Bhelltower dus is wanneer jy die video van “Substitute” op TV sien en jy een van dié is wat nie daarvan hou nie, moenie toelaat dat dit jou afskrik nie, want die ander 14 snitte op die CD is ‘n klankavontuur soos min. Hopelik maak hulle ook video’s van ander snitte, soos “Vampires”, “Monsters” (met Spaceman) en “Sex God”.

Beyers gaan selfs so ver as om te sê Bhelltower skop Nine Inch Nails se gat. Bhelltower maak nie eendimensionele musiek wat onmiddellik toeganklik is nie, en ‘n mens kan dit kwalik as kommersieel beskryf. Dit is donker en swaar. Dit sal nie elke Jan Rap en sy papmaat se koppie boeretroos wees nie, dus: besluit liewer self. Ons paneellede is nie afstammelinge van Salomo nie.


Klik hier om by kalahari.net te bestelPrime Circle
All or Nothing

Nog ‘n Suid-Afrikaanse rockgroep wat ‘n mens se borshare patrioties kan laat krul (of die hare op vroue se tande regop kan laat staan), is Prime Circle. Met elke CD raak hulle net beter en beter, en All or Nothing is op ‘n baie hoë standaard. Die befaamde Theo Crous was die produksieleier – en die album is net soveel ‘n toonbeeld van die uitsonderlike werk wat hy keer op keer lewer. Crous kan lag-lag saampraat met van die bestes in die wêreld, sê Beyers, en niemand kan met hom stry nie. Die produksiegehalte van All or Nothing is op internasionale standaard, beklemtoon Zander.

Die variasie op die CD beïndruk: van sterk rock (soos die indrukwekkende “Out of this place” en “Tear it Down”) tot ballades soos “She Always Get What She Wants”, “All for the birds” en “Hey Now”. Die manne is goeie liedjieskrywers, al is hulle nie so avontuurlik soos byvoorbeeld aKing nie. Maar die rock skop gat dat die nerwe spat en dit bevat net genoeg intensiteit om ‘n mens te interesseer. Die musikante is baie goed, maar mens moet ook spesiale melding maak van sanger Ross Learmonth – die man het ‘n stem wat ‘n mens vang en nie laat los nie. Hy kan die een oomblik taai en hardegat en sterk klink, en die volgende weerloos en sensitief.

Met só ‘n album kan die toekoms net rooskleurig wees vir Prime Circle.


Klik hier om by kalahai.net te bestelScarlet Box
And the Rest of Us Die Out

Dié groep kom van Pretoria en bestaan uit drie vroue en een ou. Dit is hulle tweede CD en dit is ‘n aangename verrassing. Reeds op die eerste liedjie, “I knew”, kook hulle oor van die adrenalien. Jenna Philips, die groep se kitaarspeler en sanger, laat ‘n mens se ore tuit. Sy het ‘n fantastiese stem vir rock, en laat mense soos byvoorbeeld Avril Lavigne na Shirley Temple klink.

Scarlet Box beweeg moeiteloos van vurige, vinnige en harde rock tot stadiger, meer akoesties gedrewe liedjies, en genadiglik raak hulle ook nie temerig op die meer introspektiewe liedjies nie. Benewens “I knew” is “Redline”, “I am”, “Without You”, “Happy” en “Live a lie” van die ander hoogtepunte. ‘n Mens hoop om nog baie van Scarlet Box te sien en te hoor.


Klik om by kalahari.net te bestelWillim Welsyn & Die Sunrise Toffies
Kompos en kraai

Daar is deesdae meer Afrikaanse rockgroepe as waarmee ‘n mens kan huishou. Nie almal van hulle gryp ‘n mens se verbeelding aan nie, maar as iemand dit wel doen, is dit ‘n heuglikheid so tussendeur al die gemiddelde tot ondergemiddelde rock.

Beyers het toevallig die liedjie “Elektriek Jan” op RSG gehoor en dit het hom so beïndruk dat hy die CD die volgende dag gaan koop het. Hy het “Elektriek Jan” vir ons ook kom speel, en ons was almal buite weste beïndruk. Daarna het ons na die res van die album geluister en almal die volgende dag ook die CD gaan koop.

Wat ons in die eerste plek weggeblaas het op “Elektriek Jan”, was die kitaarsolo’s. Nie een van ons het al ‘n optrede van die groep bygewoon nie, maar ‘n mens kan jou net indink dat dit ‘n buitengewone ervaring moet wees wat ‘n mens op ‘n psigedeliese trip kan sit as jy ontvanklik genoeg is vir sulke wilde gedrag.

Zander sê op plekke herinner Willem Welsyn & die Sunrise Toffies hom aan die vroeë Cherry Faced Lurchers, James Phillips se legendariese rockgroep. ‘n Mens kan hoor hulle speel in die eerste plek omdat hulle dit geniét. Dit is ‘n spontane soort garage punk, maar nie van die rommelrige soort nie – die groep is tight en gefokus.

Die lirieke is ook iets heeltemal anders as wat jy by ander Afrikaanse rockgroepe sal aantref. “Parkie vol geraamtes” lees amper soos "automatic writing", ‘n soort beat poetry vol bisarre en vergesogte beelde, vreemde metafore en ‘n surrealistiese spel met woorde en klanke.

Maar met sulke lekker vurige kitaarspel soos op hierdie CD maak dit nie saak of die lirieke ‘n literêre analise sal kan deurstaan of nie.

Die aanslag is baie offbeat, en dit laat Willim Welsyn en Die Sunrise Toffies se musiek vars en verfrissend klink. Elektriek inderdaad!


Klik om by kalahari.net te bestelGnarls Barkley
The Odd Couple

Moer, maar hier is nou vir jou ‘n lekker CD! koer ons paneellede in ‘n eenstemmige koor. Gnarls Barkley is ‘n projek van die hip-hop-produsieleier Danger Mouse en die rapper en sanger Cee-Lo Green, albei van Atlanta, Amerika. Hulle is bekend vir hul groot treffer “Crazy” van hul vorige CD, St. Elsewhere, waarvoor hulle twee Grammys gewen het.

The Odd Couple is nog beter as hul debuut, met onweerstaanbare treffers soos “Going On”, “Run” en “Who’s Gonna Save My Soul”. As hierdie CD eers in jou CD-speler is, kry jy hom moeilik daar uit. Cee-Lo Green is ‘n fantastiese sanger met ‘n stem waarvan jy skaars genoeg kan kry (luister maar na die o so hartseer liedjie “Blind Mary”) en ‘n groot deel van Gnarls Barkley se trefkrag is daaraan te danke. Maar voeg ook daarby Danger Mouse se vaardige vermenging van uiteenlopende style soos onder meer hip-hop, pop en dans, en jy het iets baie besonders. Een van die mees uitstaande onlangse uitreikings, bevind ons paneel eenparig.


JKlik om by kalahari.net te bestelohn Mayer
Where the Light Is: Live in Los Angeles

Jy kan Where the Light Is op CD sowel as DVD kry. En ons is dit eens dat dit onmisbaar is vir enigiemand wat van Mayer hou – en diegene wat nie van hom hou nie, moet hulle koppe laat lees.

Die konsert is in drie dele: Die eerste is ‘n akoestiese deel (vyf liedjies met net Mayer en sy kitaar). Daarna is die John Mayer Trio in aksie (met die fenomenale baskitaarspeler Pino Palladino en dromspeler Steve Jordan) met agt liedjies, waar hulle veral beïndruk met die puik blues wat hulle speel. Net om die briljante kitaarspel hierop te hoor is op sigself genoeg om jou in die papelellekoors te laat uitslaan. Die laaste deel van die CD bestaan uit nege liedjies, waarop die hele John Mayer Band (sewe lede, met ‘n koperblaas-seksie) gehoor kan word.

Nie net Mayer se veelsydigheid beïndruk nie, maar ook sy talent as sanger, kitaarspeler en liedjieskrywer. Hy kan enigiets doen van folk tot rock tot blues tot pop en ballades. Dit is ‘n stewige konsert met altesame 22 liedjies wat jou nie een oomblik verveel nie. Om hoogtepunte uit te sonder is onnodig, want dis een groot hoogtepunt van voor tot agter. Where the Light Is is opnuut ‘n bevestiging van ‘n groot en belangrike talent. Mayer het nie om dowe neute verlede jaar met twee Grammys weggestap vir sy vorige album, Continuum, nie.


Klik om by kalahari.net te bestelFoxboro Hot Tubs
Stop Drop and Roll!

Die pop- en rockwêreld is tans propvol verrassings. Foxboro Hot Tubs is niemand anders nie as die rockgroep Green Day. Die rede hiervoor is dat hulle ‘n paar nagte lank baie wyn gedrink het en gejam het, en toe besef het hulle is lus om net ‘n album vol goeie ou garage rock ’n roll te maak. Die retro-gevoel is dus onafwendbaar (dit word ook op die wonderlike omslag vasgevang). Gelukkig werk die musiek soos ‘n bom en klink dit nie aangeplak of geforseer nie. Sanger Billie Joe Armstrong sê dit is die spontaniteit van die garage-aanslag wat hulle aangetrek het, en dit slaan beslis deur in die musiek.

‘n Mens kan net dink dat hierdie CD ‘n hele klomp treffers gaan oplewer, soos die titelsnit, “Mother Mary”, “Ruby Room”, “She’s a Saint not a Celebrity” en “Alligator”, om net ‘n paar te noem. Nadat die paneel dit deurgeluister het, is die bevinding: vet pret, hope plesier, heerlike energie – maar helaas, op die lang duur raak dit alles ‘n bietjie eenselwig en is Green Day beter.


Klik om by kalahari.net te bestelSharleen Spitteri
Melody

Sharleen Spitteri het bekendheid verwerf as die sangeres van die groep Texas. Op haar solodebuut slaan sy klankgewys ‘n ander rigting in – reeds met die intrapslag vermoed ‘n mens sy spring ook op die soulretro-lawaaiwa (dit laat mens dink aan Amy Winehouse se “Rehab” en Duffy se “Mercy”). Die goeie nuus is dat Spitteri se album selfs nog beter is as dié van Winehouse en Duffy. Dit kan in die eerste plek toegeskryf word aan haar fabelagtige stem en ook aan die smaakvolle verwerkings.

Die CD wemel van sterk snitte – van “All the Times I Cried” tot “Stop I Don’t Love You Anymore”, “I’m Going to Haunt You”, “You Let Me Down”, “Day Tripping” en “Francoise”. Op plekke laat die musiek mens selfs dink aan Diana Ross and The Supremes.

Al kritiek teen die album is dat Spitteri hoofsaaklik sing oor liefde wat verkeerd geloop het, en dat dié tema mettertyd holrug gery begin voel. Andersins is dit ‘n heel lekker affêre. Stel gerus ondersoek in.


Gabriella Cilmi
Lessons to be Learned

Die ganse Sound Bites-luisterpaneel is baie opgewonde oor dié nuweling. Gabriella Cilmi kom van Australië. As kind het sy vir Janis Joplin aanbid en ook begin sing – net om meegedeel te word sy het nie die nodige dissipline wat dit verg om ‘n sangeres te wees nie! (Gelukkig is dié bitterbekke verkeerd bewys.)

Die eerste treffer van die album is “Sweet About Me” en dit laat ‘n mens ook dink aan die soulretro van Amy Winehouse, Duffy en Sharleen Spitteri. Omdat dié retro-gier tans so hoogty vier, kan dié liedjie baie mense afsit as dit hul eerste kennismaking met Cilmi is.

Gelukkig vat Cilmi hierdie retro-trip waarop almal skynbaar tans is en maak dit haar eie en voeg ook ander elemente daarby. Luister maar net na die puik “Awkward Game”, “Safer”, “Cigarettes and Lies” en haar lekker weergawe van Martha & The Muffins se “Echo Beach” om te besef Cilmi is meer as net ‘n opportunistiese Winehouse-copycat.


Klik om by kalahari.net te bestelMy Chemical Romance
The Black Parade is Dead!

My Chemical Romance se The Black Parade was een van verlede jaar se uitstaande rock-albums. En om die lekker daarvan dieper in te vryf, bestaan The Black Parade is Dead uit ‘n DVD van ‘n konsert wat die groep in Mexikostad gehou het sowel as ‘n CD van die konsert.

Hulle speel nie net liedjies van The Black Parade nie, maar ook van hul ander werk. Die DVD is ‘n kyk-en-luister-ervaring soos min wat volbloed-rockliefhebbers se tone sal laat krul van plesier. Dis interessant om te sien hoe gewild die groep in Mexiko is en hoe die mense daar te kere gaan by die konsert. Visueel is daar ook baie moeite gedoen sodat ‘n mens die rou atmosfeer van die konsert as’t ware aan jou bas kan voel. Die teatrale elemente kan ook nie misgekyk word nie en elkeen moet maar vir homself besluit of dit pretensieus is of nie. As jy nie ‘n aanhanger van My Chemical Romance is nie, sal hierdie DVD niks vir jou doen nie; andersins is dit so na aan die ware Jakob van ‘n groot konsert as wat kan kom.


Klik om by kalahari.net te bestelThe Fratellis
Here We Stand

The Fratellis kom van Glasgow, Skotland, en hierdie is hul tweede album ná hul hoogaangeskrewe debuut, Costello Music, waarvoor hulle verlede jaar ‘n Brit-prys vir die beste Britse nuweling-groep gewen het. Hul sukses is nie tot Europa beperk nie – kaartjies vir konserte wat hulle in New York, Boston en Los Angeles gehou het, was almal uitverkoop.

Hulle maak straightforward, pretensielose rock met hope energie en vol aansteeklike rifs en hooks – luister maar na “A Heady Tale”, “Shameless”, “Baby Doll”, “Tell Me a Lie”, “Acid Jazz Singer”, “Mistress Mabel”, “Lupe Brown” en “Milk and Money”. Hoogs genotvol, bevind die paneel, maar hulle twyfel of die album tydlose status sal bereik. Dis maar een van daardies wat kom en gaan, al is dit hoe verdienstelik.


DVD’s

Klik om by kalahari.net te bestelFreshlyground
Live! South African Tour

Dit is nie nodig om veel oor Freshlyground te sê nie, behalwe dat ‘n mens kan verstaan dat hulle harte verower waar hulle ook al gaan met hulle eiesoortige, unieke Suid-Afrikaanse klank. Met dié DVD kan jy ‘n konsert van hulle in jou eie voorhuis geniet en liedjies hoor soos “Fired Up”, “Zithande”, “Pot Belly”, “Zulu Lounge”, “Nomvula”, “Things Have Changed”, “Crimson Smile”, “Manikinki”, “Doo De Doo”, “Ma’Cheri” en “I’d Like”. Die DVD is ‘n vermenging van ‘n konsert en ‘n dokumentêr, met onderhoude met die groep se lede tussendeur die liedjies.

Die DVD bevat ook die musiekvideo’s van “Nomvula”, “Pot Belly”, “I’d Like”, “Doo Be Doo” en “Castles”. Musiek met ‘n hart wat warm klop.


Thin Lizzy
Live & Dangerous

Hierdie een is vir aanhangers van ou hardebaard-rock. Die DVD is ‘n opname van ‘n konsert wat Thin Lizzy in 1977 gehou het. Ekstras sluit in optredes uit konserte van 1975 en 1988, asook optredes in die TV-program Top of the Pops van 1973 tot 1979 en ‘n onderhoud wat in 2007 met die groep gevoer is. Al die ou treffers is daar, soos “Whiskey in the Jar”, “Jailbreak”, “Dancin’ in the Moonlight”, “Waiting for an Alibi” en “Don’t Believe a Word”, wat dit ‘n moet maak vir nostalgievrate.