Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Laurens van der Post: Wat is die Afrikaner se Groot Idee?


IL de Villiers - 2008-08-19

Ek trek Laurens van der Post se About Blady – a pattern out of time uit die boekrak, en dink aan Jaap Steyn se Sonkyker: Afrikaner in die verkeerde eeu. Voorin het Van der Post geskryf: "For my friend, Izak Devilliers, with best wishes and a 'Hamba Gahle' from Laurens van der Post. 1993.'"

Toe trek ek sy biograaf, JDF Jones, se Storyteller: The many Lives of Laurens van der Post ook uit die rak. Dis nie ‘n vleiende biografie nie. Inteendeel. Die biograaf moes tot sy ontsteltenis agterkom dat baie aspekte van feit en fiksie in sir Laurens se lewensverhaal inmekaar gevleg is: dat hy inderdaad baie van sy lewe uit sy stories “opgemaak” het. Agterna het dié biografie deeglik onder kritiek deurgeloop, dalk met reg – wie sal weet?

Die biograaf beweer selfs dat dit moontlik is dat sir Laurens nooit ‘n luitenant-kolonel was nie, en dat hy homself die rang toegeken het. Ook dat hy waarskynlik nie in die veldtog in Abessinië ‘n helderol gespeel het nie en dat daar min bewyse bestaan dat hy ooit ná die oorlog in bevel van Djakarta was. Maar hy het inderdaad ‘n groot rol gespeel. Hy was lank in ‘n Japannese gevangenekamp en het daar ‘n soort “kamp-universiteit” georganiseer.

Hy het waarskynlik in sy lewe met ‘n hele paar “skandale” weggekom, onder meer dat hy ‘n kind (‘n dogter) by ‘n veertienjarige meisie verwek het, ‘n tiener wat in sy sorg Engeland toe gestuur is. Die biograaf spreek twyfel uit oor sommige van sy Boesmanstories en Afrika-safari’s, maar behalwe dat Van der Post hier en daar miskien ietwat aangedik het, het hy die Afrika-veld en die San-mense deeglik en van naby geken.

Ek is geneig om die storie te glo van die dogter wat hy by die tiener verwek het. Die gelaatstrekke is net te tekenend dáár. Sy vertel dat sy hom eenmaal by die lughawe ingewag het met haar gesin om hom te groet. Hy het by haar en sy bloedkleinkinders verby geloop, glo sonder om ‘n spier te verroer.

Maar mense het daardie tyd alles wat Van der Post geskryf het, geglo en min het na vore gekom om te sê dat die beroemde “sir” nogal kon lieg. (Ek hou nie van die simpel woord jok nie. Lieg is lieg.) Eers ná sy dood het dinge op die lappe gekom wat twyfel gewerp het oor die lewensgeskiedenis van die Afrikanerseun van Philippolis wat ‘n Britse sir geword het en ook die geliefde mentor van prins Charles en getuie oor prins William, die toekomstige Britse troonopvolgers. Toe ek die biografie gelees het, het my ontsteltenis bladsy na bladsy gegroei.

Maar veral deesdae wonder ek of die biograaf, onthuts deur iemand vir wie hy ‘n mate van respek gehad het, nie dalk die ou storieverteller heeltemal te hard beoordeel het nie. Die ou beginsel van feite wat vreemder as fiksie is, laat hom net te dikwels geld. Dis waar dat talle van die dinge wat Van der Post noem, onkontroleerbaar is, maar was hy regtig iemand wat sy eie lugkastele gebou én dan daarin gaan woon het? Nou, ‘n jaar of ses ná die biografie, oordeel ek veel sagter. Daar is te veel mense wat ek ken wat hom geken het en hulle nie veel aan die biografie steur nie.

Hy het soveel vriende dwarsoor die wêreld gehad, en min het ooit sy bona fides in twyfel getrek. Ja, hy was op sy stil manier verwaand. Maar na sy dood is daar selfs in Djakarta vir hom ‘n gedenkdiens gehou. Daardie mense het hom immers geken in die dae wat hy beskryf? Ou kamerade was talryk: hoekom het hulle nie sy stories bevraagteken nie?

Maar sir Laurens het blykbaar die pad gekies van "vertel die mooi storie en maak soms die mite die volle waarheid". Hoe Jungiaans dit is, weet ek nie, want hy was ‘n Jung-kenner en ek is glad nie. En tog was hy iemand wat feit op feit kon inryg en priemende vrae kon vra. Maar as hy eenmaal ‘n pad van redenasie gekies het, was dit vir hom blykbaar onmoontlik om aanpassings te maak. Hy kon knaend wees met sy opinies en het met baie briewe probeer om dinge te bemiddel op sy manier. Hy was nie skaam om geld te vra nie en ook nie skaam om sy opinie te propageer nie. Maar iemand soos Constand Viljoen, ‘n man van integriteit, het vandag nog vir hom die grootste respek.

Ek hoor steeds hoe sir Laurens my aanhoudend uitvra, soos ‘n ou “geslepe” sielkundige, en hoe hy dinge kon onthou wat jy vroeër in die gesprek gesê het en dadelik konklusies kon trek. Hy het my soos ‘n wyse oom beluister en dan met 'n speldsteek van ‘n vraag gereageer. Hy het my elke antwoord behoorlik laat formuleer én my laat dink.

Ek het die hele tyd gevoel dat hy besig was om my met sy sagte oë te “lees”. En dat hy nie maklik om die bos gelei word nie. Dit was ietwat van ‘n ongemaklike gevoel, want min mense kry dit reg. Tog was daar ‘n soort rustigheid in sy ge-"lees" en ek het hom gelate laat begaan.

Hy was oor bitter baie dinge ingelig. Oor sy voor- en afkeure wanneer dit by sekere mense kom, was hy beslis: aan Nelson Mandela het hy nie veel gehad nie en hom geensins vertrou nie. Die ANC ook nie. Thabo Mbeki ook nie. Buthelezi, ja, en volgens hom moes die Afrikaners en Zoeloes leer saamwerk. (Ek dink nogal soms daaraan – sonder dat dit my hierdie kant toe of daardie kant toe raak - wanneer ek Zuma so by Afrikaners sien kuier.)

Op ‘n helder lentemiddag in 1993 in Londen het sy neef, Tommy Bedford, my by die Suid-Afrikaanse Ambassade op Trafalgar-plein kom oplaai. Dit was nogal heel plesierig, want Tommy wou alles weet oor rugby in Suid-Afrika in die “nuwe bedeling” wat pas ‘n jaar of drie oud was. Ons is na sir Laurens se woonstel in Chelsea.

Hy het self die deur vir ons kom oopmaak en ons met ‘n flink stappie na die sitkamer begelei. ‘n Siekekamer se deur het oopgestaan (waarskynlik Ingaret, sy vrou, s’n) en iemand was die beddegoed van die bed aan die aftrek. Ingaret was oud, fyn, stil en netjies versorg. Die helper (huishoudster?) het ek nooit gesien nie.

Die Van der Posts se sitkamer was ‘n groot vertrek heel bo in die blok met pragtige uitsigte oor Londen. Dit was tipies ouer mense se woonplek: oorvol gemeubileer, talle aandenkings en foto’s, gemaklike stoele, baie boeke, lekker tee in goeie porselein en ‘n geur van ou leer en papier. Sir Laurens het die kuns verstaan om ‘n besoeker op sy gemak te stel. Hy wou weet hoe dit met sy vriend dr Mangosuthu Buthelezi gaan (gelukkig het ek Buthelezi net die week tevore by die Britse ambassade in Pretoria raakgeloop, waar ons lank gesels het) en was uiters nuuskierig oor “al die nuus”.

Ek het hom ‘n kort opsomming van die stand van sake gegee en hy het nie baie beïndruk gelyk nie. (Byna soos generaal Charles de Gaulle wat op ‘n dag vir Piet Cillié in Parys – ek dínk dit was Piet – ontmoet het en op die punt af gevra het: “Hoeveel swartes is daar in Suid-Afrika en hoeveel wittes?" Vyftien miljoen teenoor vier miljoen was min of meer die antwoord vir daardie tyd. De Gaulle het sy tong geklik en slegs gesê: "Probléme. Probléme.”) Teen daardie tyd het baie van my eie aanvanklike opgewondenheid oor die “nuwe bedeling” al ‘n paar taai klappe gekry en my verduidelikings mag vir hom na “protesting too much” geklink het.

Hy wou weet hoe ek die toekoms sien. Ek was effe in ‘n hoek, want verhoudinge tussen my en die NP-regering was toe reeds op ‘n laagtepunt. Ek het voortgegaan met verduidelikinkies en hy het toegeslaan: “Izak, wat is die Afrikaner se Groot Idee? Waarvoor werk julle en waarna streef julle? Wat bind julle saam? Wat verwag julle en wat doen jou Afrikaner-regering in hierdie laaste paar maande om dit aan te help of te behou nou nadat julle mag aan die oorgee is?”

Ek het teruggekap: "U is nou ‘n Britse sir, ‘n vertroueling van die koningshuis, hoekom praat u van ‘julle’? Wat is u nou? ‘n Brit met Afrikaanse wortels? Het u nog ‘n verbintenis met ons? Ek glo u hét.”

Maar hy het hom nie van stryk laat bring nie: "Ek is nie skaam vir my Afrikaner-wortels nie, maar wat sien jy vir die Afrikaner vorentoe? Soos julle sê: Voor in die wapad …” Ek het gedink aan FW de Klerk met sy destydse alewige “lig in die tonnel”, maar blykbaar het sir Laurens nie hierop gesinspeel nie.

Ek het geantwoord dat ons ‘n soort “nuwe romantiek” vir die Afrikaner moes bou. Dat ons moet end kry met ons sielsgewroeg en weer trots sê ons is Afrikaners. Ons Afrikaners het immers gestem om ons mag prys te gee, onder ‘n Afrikaanse regering, en waar het dit al ooit in die wêreld gebeur?

Sir Laurens het nie veel aan my “romantiek”-idee gehad nie.* Hy het my daaraan herinner dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf en dat die “vyand” altyd in die slegste lig gestel word. Ek vermoed hy het ‘n soort “bouplan” by my gesoek, ‘n besliste rigting met ‘n doel, onder meer van watter rol die Afrikaner twintig jaar verder vir homself sien. Ek het gesê dis nie moontlik nie: die politiek en ook die weë van volke en groepe verander dikwels binne ‘n paar uur, met ‘n verkeerde besluit of iets onverwags wat tref (soos 9/11 die Amerikaners later in die maag getref het).

Hy het beslis gebly: “Sonder Die Groot Idee sal die Afrikaner disintegreer. Julle is te wyd versprei vir ander soort groepvorming. Sonder die Groot Idee sal julle stuk vir stuk uitmekaar gehaal word en elkeen wat van buite kyk, sal ‘n stuk saamneem huis toe om aan te knaag.”

Dit was ‘n voltreffer. Bedaard gesê terwyl hy ‘n slukkie van sy eie bemelkte koffie neem. Hy het geglimlag. Ek het gesê die voortbestaan van die Afrikaner bekommer my maar ek weet nie wat die Groot Idee is nie en óf die Afrikaner hoegenaamd ‘n Groot Idee nodig het nie. Wat was die Engelse se Groot Idee? Ek weet wat dit 100 jaar gelede was – om die wêreld te oorheers volgens die beginsel van mag is reg – maar nou?

En wat was die Japannese se Groot Idee? Of die Spanjaarde s’n? My “idee” van die Britte is dat hulle een van die skynheiligste nasies ter wêreld is: dat hulle letterlik met moord weggekom het wat hulle weggesteek het agter sogenaamde “good manners” en “proper dress” en vergeet het dat ‘n Goethe of ‘n Victor Hugo of ‘n Ronsard of ‘n Dostojewski ooit bestaan het. Om van Beethoven, Mozart, Petrarca, Michelangelo, Dante, Rembrandt en De Bussy nie eens te praat nie. Hulle het hul kolonies laat glo dat hulle die éintlike kultuurskeppers is.

Die Britte het ‘n valse Idee oor hulself versprei.

Sir Laurens het my soos ‘n ware ou deurleefde én beterweterige aristokraat gesit en aankyk en gesê ek moet ophou om die metode te gebruik van waarhede te oorbeklemtoon: “With due respect: You call a spade a bloody shovel. You cannot use the truth like a bludgeon.” Hy het dit bedaard gesê en my met iets soos jammerte aangekyk. ‘n Vriend het my later daarop gewys dat Jung iewers van die waarheid as wapen gepraat het.

Ek het effe vererg gereageer met: "Better the naked truth than living in a cloud of never-never ideas. The truth, most of the time, is a bludgeon.” (Ek het maar stilgebly oor Paul Johnson se stelling dat epogmakende Idee-verkondigers meesal bereid is om miljoene uit hul pad te vee.)

Maar hy het rustig in Afrikaans voortgegaan met sy Idee-konsep: die toetssteen, volgens hom, waaraan ‘n kultuur moet voldoen om voort te leef. Hy het nie – daarvoor was hy te veel van ‘n ware denker – vir my gevra om die begrip die Afrikaner te definieer nie.

Ek het gesê my “idee” begin eenvoudig met ‘n gevoel, ‘n gewaarwording, ‘n soort roering diep binne-in my dat ek by geen ander volk of groep behoort en ten volle myself kan wees sonder om myself te verduidelik behalwe as ‘n Afrikaner nie. Hoeveel ek die Japannese respekteer, en die intellek van die Jode of die Tüchtichkeit van die Duitsers, ek is nie een van hulle nie. Daar is geen Idee voor nodig nie, dis ‘n gevoel: wie dit het, is ‘n Afrikaner. Wie die gevoel nie het nie, is nie een nie of wil dit nie wees nie. Dis ‘n hartsaak en klaar. Wat mense daarmee maak, is ‘n ander saak. Soos Goethe geskryf het: "Nenn’s Glück … Gefühl ist alles.”

Sir Laurens het weer koffie gesluk en tee in my koppie geskink: “Jy weet, ek begryp wat jy probeer sê. Eintlik hou ek van wat jy sê. Maar dis oorvereenvoudig. Jy kan dit nie vir mense gee as ‘n Idee om na te streef nie. Dis nogal eienaardig: jy wil die waarheid as ‘n wapen gebruik, én gebruik dit hardhandig, maar die waarheid het baie vlakke: wat jy sien en veral wat jy nie sien nie. En tog beklemtoon jy innerlike gevoelens. Daar is ‘n teenspraak daar.”

Ek het dit toegegee en hy het my ‘n klein lesing oor Die Idee gegee - waarvan ek gesukkel het om kop of stert uit te maak - en toe het ons dit vir eers daar gelaat. Hy het my talle staaltjies uit sy lewe vertel, ook van die dag dat hy ná die Tweede Wêreldoorlog by generaal Jan Smuts ingeloer het. Smuts het hom glo op en af bekyk en het glo gesê: "God, ou Van der Post, jy is nie meer ‘n soldaat nie maar ‘n regte ou burokraat. Kyk, jy kom uit ‘n oorlog en daar is ink aan jou vingers!” Sir Laurens se vulpen het daardie tyd gelek.

Kort na ons begin gesels het, het Tommy Bedford hom uit die voete gemaak. Sy vrou sou my weer kom haal en na my hotel wegbring.

Ek het sir Laurens soos ‘n koerantman oor die Britse Koningshuis uitgevra: al die roeringe en skinderstories rondom die Windsors. Hy was immers ‘n vertroueling. Maar hy het meer oor die institusie van die Koningshuis gepraat: dat dit vir die Britte lewensbelangrik was. Ek het saamgestem.

Toe ons op ons lekkerste aan die gesels was, het Jane, Tommy Bedford se baie mooi en flinke vrou, my kom haal. Ek en sir Laurens het gegroet en beloof om mekaar weer op te soek. Maar ek sou hom nooit weer sien nie.

Hy het later in 1993 vir ‘n kort besoek Suid-Afrika toe gekom, maar is glo dadelik af Kaap toe. Hy wou van die toekomstige heersers ontmoet. Barry Hough, daardie briljante kunskenner en verslaggewer, het hom vinnig op die lughawe gaan ontmoet op sy terugreis. Barry het by my kantoor kom rapporteer dat sir Laurens vir my baie groete stuur en vra of ek al nader aan Die Idee is. Hy het glo met sommige van die ANC-leiding gepraat en was oortuig dat hulle hoegenaamd geen idee het oor wat hul eintlik nastreef in belang van die hele land nie, veral nie Mbeki nie. Barry was baie beïndruk met sir Laurens.

Op (die gewese) Geloftedag 1996 is sir Laurens oorlede. Sy biograaf vertel dat sy laaste woorde inderdaad in Afrikaans was. Hy het aanhoudend iets van “die sterre” gemompel.

Toe ek daardie sonnige middag saam met Jane van sir Laurens se woonstel terug ry na my hotel, het ons lekker gesels. Sy het baie van hom geweet en het opgetree as sir Laurens se persoonlike assistent. Sy moes iets by Buckingham-paleis gaan aflaai, by die sykant regs, en ons is soos ou bekendes deur die wagte deurgewuif. Terwyl ek vir haar gesit en wag het, het ek gedink: hier sit ek nou by die agterdeur van ‘n simbool van alles wat Brits is – wat sê dit vir my, indien enigiets?

Hier het my stuk herinnering aan sir Laurens ‘n week gelede geëindig.

Maar dis vandag my verjaardag – ‘n skoon Johannesburgse laat-winter sonskyndag. My seun en sy gesin het uit Engeland spesiaal kom kuier. Hy is ‘n wetenskaplike, ook met ‘n rits internasionale kwalifikasies, en werk by ‘n groot maatskappy wes van Londen. Regstellende aksie was die groot dryfveer agter sy emigrasie. Hy het moeg geword vir die benouende reëls en regulasies en oor sy skouer kyk. Hy sê niks oor Suid-Afrika nie, behalwe dat die weer darem lekker is vir vakansie.

Buite speel my kleinkinders (4 en 7 jaar oud) in die yskoue swembadwater. Meesal skreeu hulle van plesier. My kleinseun haal die Month Mate uit net om dit weer in die water te gooi en te gaan uithaal. Twintig minute gelede het hy op die swembadtrappies geval en ‘n groot keel opgesit. Nie een van my kleinkinders verstaan ‘n woord Afrikaans nie en my poging tot troos was futiel. Hy het na sy Engelse ma gehardloop en in haar arms gegil: "I want to go home! I want to go home!” Dit was nogal vir haar ook ‘n poging om hom te troos.

"Home" is immers vir hom ‘n dubbelverdiepinghuis van rooi baksteen in ‘n klein straatjie in ‘n klein dorpie naby die Teems, wes van Londen.


* In 2004 sou ek die sluitingsrede by die simposium van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hou oor “’n Nuwe Romantiek vir die Afrikaner”. Dit is destyds nogal goed ontvang.