Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Dit brand in my


Ida Bester-Gräbe - 2008-08-19

In die jaar 1908, presies honderd jaar gelede, het die Pretoriatak van die Transvaal University College (TUC) sy deure oopgegooi. Begaafde jongmense uit gesinne wat nog gesteier het onder die nagevolge van die Anglo-Boereoorlog het die akademie gretig betree. In 1930, kort voor die Depressie, word die groeiende kollege herdoop tot die Universiteit van Pretoria.

Op die kampus van hierdie uitstaande bastion van kennis word vanjaar feesgevier. Vanaand neem dit die vorm van ’n uitnodigingskonsert vir oudstudente aan, aangebied deur die TuksAlumniraad. Die kunstenaars wat betrek is om die uitgelese gehoor te betower, is ons eie Mimi Coertse en Neels Hansen se breinkind, The Black Tie Ensemble, ’n troep passievolle operasangers, bygestaan deur die Spinto-tenoor Stéfan Louw en die Black Tie Operakoor. Die uittreksels uit bekende operas word begelei deur die Suid-Afrikaans gebore dirigent Conrad van Alphen, wat die Chamber Orchestra of South Africa (COSA) dirigeer. Die swierige geleentheid wat in die Universiteit se bekende gehoorsaal, die Aula, aangebied word, is een van 230 Eeufeesprojekte waarmee dié historiese gebeurtenis vanjaar gevier word.

Parkeerbeamptes in glimbaadjies beduie die bestuurders van luukse motors na die onderskeie parkeerterreine op die kampus, wat vinnig vol loop. Oorwegend swartgeklede alumni kronkel soos miere by die verskillende trappe op na die Aula se foyer, waar groepies gonsende gaste reeds met glasies sjerrie in die hand die hoofstad se nuutste skindernuus inhaal. By die toonbank word voorafbespreekte kaartjies en gratis programme afgehaal. Diamante blink en pelse spin onwennig om geplooide halse. Strikdasse en kummerbande pronk om korporase wat op hul dag eerstejaarsharte vinniger kon laat klop, maar nou net van sukses en geleentheidsoordaad getuig. Uiteindelik lui die waarskuwingsklokkie en die laaste swart pikkewyne lei hul gades oor die nuwe matte na hul gestoffeerde sitplekke.

Wanneer die ligte uitgedoof word, raak die gefluister stil en die afwagting is voelbaar. Swellende applous dra die dirigent tot op die podium en sweef by die coulisses uit. ’n Bataljon strykstokke rys gelyk en die eerste note van Rossini se Aspoestertjie-overture vul die geparfumeerde lug. Mans knik vir oudkollegas in die gehoor en vroue nestel sugtend dieper in die geveerde stoele ...

In kerksale, in gemeenskapsale, by depots waar busse na ons buurlande vertrek en in polisiekantore is daar vanaand ook groot skares bymekaar. Ma’s hou verskrikte kinders vas, tieners bondel ontgogel saam en mans staan in rye om weldoeners se sop en brood met dankbare hande te ontvang.

Behalwe die vrees is daar onsekerheid, wantroue, selfs haat, in die moeë oë leesbaar. Hierdie konglommerasie van lywe is die slagoffers van geweld wat ’n paar dae gelede skielik teen immigrante, die sogenaamde “makwerekwere”, uitgebreek het kort nadat ’n IVP-tak en ’n burgerregtegroep in Alexandra vergader het. In die vloed xenofobiese aanvalle wat dwarsoor die land gevolg het, is mense se hutte afgebrand, hul besittings gesteel of verwoes, uitlanders se winkels oopgebreek en geplunder, vroue verkrag, kinders van hul ouers geskei en nog meer onnoembare misdade gepleeg. In een walglike voorval, wat skokgolwe deur die wêreld gestuur het, is ’n Mosambieker lewendig deur ’n jillende horde verbrand.

Volgens regeringslui spruit hierdie aanvalle uit die armste van Suid-Afrikaners se jaloesie op immigrante wat ’n werk het, en kos op die tafel. Gerugte van ’n “derde mag” wat die land onregeerbaar probeer maak, doen die ronde en politieke partye beskuldig mekaar oor en weer van opstokery. Daar is selfs die teorie dat die megalomaniese president van ons buurland, Robert Mugabe, die aanvalle aangehits het sodat die miljoene Zimbabwiese vlugtelinge na sy land kan terugkeer om in die opkomende opvolgverkiesing vir hom te stem.

Die enigste musiek wat in hierdie sale opklink, is die jammerlike gehuil van honger, ontstelde kinders. Diamante en pelse is so afwesig soos strikdasse en kummerbande. Gestreepte plastieksakke bult van haastig bymekaargeskraapte nodighede. Baie het gevlug met net hulle werksklere aan hulle lyf. Hulle sit verdwaas op stywe plastiekstoele, dun matrasse, hulle karige bondels aardse besittings, ou tasse of sommer plat op die grond. In plaas van parfuum hang die reuk van sweet en bloed in die benoude lug.

Party gesinne kruip in hul donker hutte agter geslote deure weg, getraumatiseer deur die chaos in die strate om hulle. In woonbuurte dwarsoor die land gaan niemand vannag slaap nie …

Die negende aria op die populêre program in die Aula is “Nessun dorma”, uit Puccini se Turandot, maar ten spyte van prins Calaf se waarskuwing het heelparty van die aandpakbrigade reeds ingedut. Gelukkig is dit die laaste item voor die pouse, waartydens daar in die Rautenbachsaal onder die Aula verversings aangebied word en almal weer ’n tweede asem kan kry. Dis ’n kontantkiosk, anders as in die luuksueuse sewentiger- en tagtigerjare toe die jaarlikse rektorsonthaal gespog het met – onder veel meer – torings garnale en ander smullekker seekos en versnaperinge wat die bevoorregte gaste kon afspoel met sterk drank volgens elkeen se keuse.

Die saal huisves ’n kunsuitstalling van werke in allerlei media deur studente van die Departement Beeldende Kunste. Tussen impressionistiese en onherkenbare stillewes skok donker interpretasies van die konflikte van ons tyd menige toeskouer tot stilstand. Die verwoesting van die Afrikaner se ikone op Kerkplein en ander onheilspellende toekomsvisioene van die ekorampe wat ons in die gesig staar, laat die meer sensitiewes haastig aanbeweeg ...

Die nooddienswerker wil wegdraai, hom uit die voete maak, maar menslikheid en die eise van sy roeping pluk aan sy gewete. Dalk is daar nog ’n greintjie lewe in die wringende, brandende lyf voor hom op die grond. Hy hardloop na die brandweerwa en gryp ’n brandblusser. Spuit bolle skuim oor die menslike inferno waaruit hees krete skeur. Iemand pluk aan sy arm. “Jy versmoor hom. Hou op. As die arme bokker gelukkig is, is hy klaar dood.”

Polisielede met skilde en tot die tande gewapen dwing die nuuskieriges uitmekaar. Die byna totaal verkoolde liggaam word deur ambulansmanne met uitdrukkinglose gesigte op ’n draagbaar gelaai. In die agtergrond stort ’n brandende plakkershut vonkend inmekaar.

Skaars deurpriem die ambulans se sirene die rookgevulde lug, of die bende aanvallers stoot hulle knopkieries en assegaaie uitdagend in die lug en vaar weer die strate van Phomolong in ...

Halfpad deur die tweede helfte van die program kom die Spinto-haan breëbors op die verhoog vir drie arias uit Il Travatore van Verdi. Hy speel die manmoedige Manrico wat te midde van ’n vyandige aanval op sy pa se kasteel sy aanstaande bruid toesing dat indien hy in die oorlog sou omkom, hy met haar naam op sy lippe sal sterf.

Skaars het hy hierdie heroïese uitspraak met bultende nekspiere uitgebasuin, of hy ontvang die verpletterende nuus dat sy moeder, Azucena, deur die vyand gevange geneem is en op die brandstapel verbrand gaan word.

Hy roep sy soldate bymekaar en daag die vyand braaf uit om hulle moorddadige plan te staak, of hy blus die brand met hulle bloed.

Di quella pira l’orrendo foco …

“Die aaklige vlam van daardie brandstapel brand in my binneste ...” kla Manrico wanneer dit lyk asof die aanvallers nie vir sy dreigement skrik nie. As hy sy arme ma dan nie kan red nie, wil hy hom ten minste haas om saam met haar in die vlamme te sterf.
Madre infelice, corro a salvarti,
O teco almeno corro a morir.

Sy bruid is nie minder opofferend nie. Hoe kan sy sulke wrede houe van die noodlot oorleef – haar skoonmoeder én geliefde op een dag verloor? Dan gaan sy eerder saam met Manrico sy vlammedood tegemoet.
Non reggo a colpi tanto funesti
O quanto meglio sarai morir!

Uit menige blink handsakkie kom ’n kantsakdoekie te voorskyn wat haastig ’n paar trane wegvee. Agter strikdassies stoei adamsappels om selfbeheersing.

Aangrypend!