Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Justus-Umfaanus-Tsungu


Fanus Rautenbach - 2008-08-19

Hier is wêreldnuus en Umfaanus is die eerste koerant wat daaroor mag skryf!

‘n Kollega van my by die SAUK was die baie bekende en geliefde Sotho-omroeper Justus Tsungu, wat ‘n spesiale taak gehad het, ‘n roeping: “En dit was om my mense wat net Sotho en Engels gepraat het, Afrikaans te leer praat – en om die Afrikaners wat net Afrikaans en Engels kon praat, Sotho te leer. Dit het ek op die Afrikaanse sender van Radio Suid-Afrika (RSA) gedoen."

Twaalf jaar gelede het Justus Tsungu, 74, en sy vrou, wat 61 jaar oud was, ’n seuntjie gehad. Dit was drie jaar later dat ek die eerste keer daarvan gehoor het. Ek skakel hom en ek vra: "Is dit waar? Was sy 61?”

Justus Tsungu antwoord: “En Sara het gelag! En sy was 70!”

“Wat het die dokters gesê?”

“En Sara het gelag! En sy was 70!”

“Wat het die dokters gesê toe julle hulle dit vertel?”

“Hulle het gesê: 'Die baba mag dalk ‘n mongooltjie wees.' Toe antwoord my 61-jarige 'Sara': 'Dit is in orde, want dis mos dan ons mongooltjie!'”

Gister bel ek vir Justus Tsungu. Hy is nou 86. Hy sê: “Ek kan net nie vir Nelson Mandela inhaal nie. Hy bly vier jaar voor!”

Ek sê “Dis Fanus …”

Justus Tsungu vlei my: “Fanus Rautenbach … Volkseiendoms Beperk!"

Toe vertel hy my: "Ek onthou nog jou eerste grap, die enigste man ter wêreld wat sy loopbaan op een grap gebou het en ‘n legende geword het. Ek het dit self gehoor. Jy het gesê: 'Ek het gister op die Hatfield-bus gery en nie een dame het ‘n hoed op gehad nie. Môre gaan ek op die Brooklyn-bus ry!'”

“Hoe gaan dit met die seun?”

“Die lig van my lewe is nou twaalf – ek kan dit nog nie glo nie – ek het ‘n bloedtoets laat doen om te sien of ek die pa is. Hy is 12 jaar gelede gebore, toe ek 74 was en sy ma 61. Hy is op Atteridgeville op skool.”

Toe lag die groot humoris en sy eie woorde is: "Hy is 12 en hy is die slimste en skoonste kaffertjie in Afrika."

Justus Tsugu is die eerste keer deur die Malans van Heidelberg “ontdek”. Ek het ons (destydse) dominee in Aasvoëlkop-gemeente gevra om vir my Justus se ware verhaal te vertel. Dr Jannie (J du P) Malan het soos volg geantwoord:

"Justus se ouers is albei dood toe hy ongeveer tien was. Toe is hulle aan hul familie uitgedeel. Hy na sy baie kwaai tante wat in Heidelberg-lokasie gewoon het. (By my Pa se begrafnis, waar hy op versoek 'n woord gesê het, het hy sy verhaal vertel.) Toe hy in die dorp by 'n oop hek verbyloop, sien hy die oubaas daar in die tuin werk en gaan toe in om werk te vra. Die oubaas sê toe: 'Maar jy hoort mos nog in jou ma se abbavel. Wat se werksoekery is dit?'

"My pa was destyds namens die Kerk se Sendingkommissie voorsitter van die Sendingkerk se Skoolkommissie, Toe hy die klein klong se storie hoor, het hy hom kos gegee en die skoolhoof gebel, aan wie hy gesê het: 'Ek stuur hom na jou toe. Hy self moet elke Vrydag vir my kom verslag doen van sy week, en jy as skoolhoof moet elke maand aan my oor sy vordering verslag kom doen.

"Hiermee is Justus toe terug lokasie toe. Vrydag na Vrydag was hy daar om te sê hoe hy vorder. Dan het my ma vir hom op die agterstoep kos en tee gee, en Pa het vir hom 'n sakgeldjie gegee as hy iets nodig gehad het.

"Die skoolhoof het ook kom rapporteer: 'Oubaas het vir my 'n slim kaffertjie gestuur.' [Sy eie woorde.]

"Toe hy eindelik matriek gemaak het, het my ouers hom na Turfloop gestuur om verder te leer en onderwyser te word.

"Hulle het vir sy studies en opleiding betaal. Dit het hom oneindig beïndruk. My pa het toe vir hom 'n pos gegee by dieselfde skool in Heidlberg-lokasie waar hy self skoolgegaan het. Pa het graag vertel dat in 1959 met die Jaar vir Afrikaans het Tsungu my ouers genooi vir sy aanbieding oor die taal. Pa het van die dosente van
Hedelberg Opleidingskollege saamgeneem en hy het gesê: 'Daar was op ander plekke ook uitnemende aanbiedings oor Afrikaans, maar nêrens iets beter as Tsungu syne nie.'

"Toe hy sy eerste salaristjek kry as onderwyser, was hy daar om die tjek aan my ouers te kom gee. Pa het dit ontvang, en dit toe aan hom teruggegee en gesê: 'Nee, dis joune, jy het dit verdien.'

"In daardie vroeë sestigerjare was daar baie politieke woelinge. Ek was studenteleraar op Pretoria. Op 'n dag bel my pa my: 'Jong, Tsungu was hier en hy het vertel dat op die SAUK-uitsendings allerlei propaganda uitgesaai word.'

"My ouers het elke oggend die radio op die Engelse sender aangesit sodat die bediende, wanneer sy huis skoonmaak, na die oggendgodsdiens kon luister. Pa roep haar toe en vra na die uitsendings. 'Ja, oubaas, ek verstaan dit ook nie dat die man oor die radio vir ons sê ons moet gereed en bereid wees om ons bloed te gee vir die stryd nie.'

"Ek was bevriend met die hoof van Veiligheid in Pretoria en bel hom dadelik. Na sowat 'n week het hy die moeite gedoen om Riviera toe te ry om te kom dankie sê. Dit was die eerste wat hulle hiervan gehoor het! Daar was, na die sluiting van heelwat Engelse swart skole, swartes met MA-grade wat toe werkloos geword het en dadelik deur die SAUK opgeraap is. Dit was van hierdie mense wat die kans aangegryp het om die radio as kanaal te gebruik om hulle propaganda uit te saai!

"Met hulle afdanking het daar toe poste by die SAUK oop gekom, en my pa het vir Justus daar 'n pos gereël. Hy, wat sowat 12 tale vlot magtig is, het natuurlik dadelik baie goed gedoen. Kort daarna is die Artes aan hom toegeken.

"Vroeg die môre na die toekenning is Justus en sy vrou op Heidelberg (hy nog met sy aandpakbaadjie aan wat hy spesiaal vir die Artes aangeskaf het!) om die toekenning vir my ouers te kom oorhandig! My ouers het hulle twee toe saam by die ontbyttafel laat aansit en daarna die Bybel gelees en gebid om die Here te dank wat so Sy hand oor Justus bly hou het, en toe het Pa die toekenning aan hom terug oorhandig en gesê: 'Dis joune, jy het dit verdien.'

"Dis byna begryplik dat Justus my ouers feitlik verafgood het. Dis hulle wat hulle oor die klein piekanien ontferm het en dit vir hom deur hul ondersteuning en belangstelling moontlik gemaak het om sy plek in die lewe in te neem.

"Toe my pa op 93-jarige ouderdom oorlede is na 'n lewe van diens en toewyding op Heidelberg, is hy begrawe uit 'n stampvol Klipkerk deur dr AEF Bosman. In die diakensbanke het Justus Tsungu en sy hele huisgesin gesit (hy weer in sy Artes-baadjie, die beste wat hy het!). Na die lyksrede het dr Bosman vir Justus aan die woord gestel en hy het sy lewensverhaal as huldeblyk vertel. Daar was nie 'n droë oog in die skare nie. My pa was klein van gestalte en het by die skoolkinders die bynaam Kapokkie gehad. Justus het so aan die kis voor die kansel gevat en gesê: 'Hier lê 'n olifant. Want die spore wat hy getrap het, was olifantspore. In my kultuur, as 'n mens niks is nie en niks het nie, dan sê ons jy's 'n hondjie. Ek het by hierdie man gekom, toe was ek 'n hondjie. Hy het my gemaak tot 'n prins. By die SAUK waar ek werk, het hulle my al baie werke gegee, maar elke Vrydagmiddag bied ek 'n program aan op Radio Bantoe: Ek leer my mense Afrikaans. Hulle kan alles van my wegneem, maar nie dit nie, want dit doen ek ter ere van hierdie man.'

"By elke toespraak wat Justus oor die hele Suid-Afrika en in die buiteland gehou het, het hy vertel van wat die Malans van Heidelberg vir hom beteken het. Sy bewondering vir hulle is so grensloos dat sy verbeelding dikwels met hom op die loop gaan en hy dinge byvertel wat glad nie waar is nie! Jy sou soms kon dink hy het 'n kamer in ons huis gehad! Waarheid is dat hy nooit in sy lewe selfs op ons erf geslaap het nie! Nie in die bediendekamer óf in die garage of in die stal nie! Dis maar sy heldeverering wat met hom op loop gaan. Ek het hom al daaroor aangespreek, want dit skep 'n verkeerde indruk.

"Nouja ou vriend, ek het nie gedink my briefie sal so 'n lang koerant word nie! Sodra ek hom opgespoor het, laat ek sy besonderhede weet. Hartlike groete en seënwense, Jannie Malan."