Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Brief aan Wilhelm: Die Hertzogprys vir poësie - aspekte wat jou en Breyten raak


Deon Knobel - 2008-08-18

Liewe Wilhelm

In 1968 verskyn jou naam en dié van Breyten en Ingrid Jonker saam met Boerneef en DPM Botes op die kortlys vir die Hertzogprys. Ek dink die ander digter was MM Walters, maar ek is nie seker nie. Sover ek nou kon vasstel, was die algemene gevoel dat die prys Breyten toegekom het. Dit klink my hy was toe al ’n omstrede politieke figuur, en om die politieke  tameletjie te vermy, het die komitee die prys toe postuum toegeken aan Boerneef, skynbaar met taamlike kommentaar van ontevrede letterkundiges. Nou, in retrospek, is dit in elk geval ’n belaglike redenasie dat die prys nie suiwer op meriete toegeken is nie.  

Toe volg daar nog gerugte. Eerstens dat DPM Botes se bundel Klein grys telegramme van die wêreld uit plagiaat ontstaan het. Hier kan Joan Lötter dalk die ware feite gee, want sy was mos self ’n digter van julle Sestigergroep.

En op ’n dag loop ek vir Freda Linde hier in Kloofnekweg raak, en sy loer so skeefweg vir my van onder een van daardie kenmerkende groot paprandhoede waarmee sy graag rondgeloop het. Sy vertel my toe heel oortuigend dat die prys toegeken is aan ’n digter wat later aan plagiaat skuldig bevind is en dat die prys weggeneem is. En toe beweer sy dat jy tweede op die ranglys was en dat die prys jou toegekom het. Wel, sover dit vir my wou lyk, was sy dalk die kluts totaal kwyt en het sy haar feite dalk verkeerd gehad.

Tot ek nou net met jou vriendin, wat amper altyd die korrekte inligting oor letterkundige aangeleenthede het, gesels het. Sy onthou – nou verkeerdelik – dat DPM Botes in 1971 wel die Hertzogprys ontvang het vir Klein grys telegramme van die wêreld en dat sy plagiaat hierna ontbloot is en die prys van hom weggeneem is. Om uit te vind of jy toe tweede op die ranglys was, want toe het jou tweede bundel, Mure van mos, ook reeds in 1970 verskyn, het sy my die Akademie se telefoonnommer in Pretoria gegee. Sy onthou ook dat Elize Botha vir ’n lang tyd die voorsitter van die komitee was tot en met haar dood in 2007. Sommer so ’n ander stukkie nuus uit daardie tyd is nou net deur Joan aan my gegee: dat Anton Loubser nou glo die Erekonsul van Moritanië is, ’n klein landjie êrens in Afrika, al is daar skynbaar net een familie Moritaniërs in Suid-Afrika.

Toe nou net laat vanmiddag by die Akademie uitgevind dat die argiefmateriaal in Bloemfontein bewaar word en dat professor Pieter Kapp van Stellenbosch tans besig is om dit te orden. Ongelukkig is daar glo nie altyd notules gehou oor die komitee se besluitnemingsvergaderings nie. Die argument was dat dit vertroulik was en dus nie vir latere ontleding, en miskien argumente deur persone op die kortlys self, beskikbaar moes wees nie.

Vandag met Louise Viljoen gesels en my opinie uitgespreek dat die vergaderings en besprekings tog duidelik literêr-histories van belang is en dat ’n tyds-embargo mos daarop geplaas kan word.

Daar is skynbaar wel uitvoerige notules gehou  toe besluit moes word oor die toekenning tussen Breyten en Karel Schoeman op ’n later stadium. Professor Kapp kon nou tog vasstel dat die prys wel in 1968 postuum aan Boerneef toegeken is vir sy totale oeuvre, in 1971 aan Elizabeth Eybers vir haar bundel Onder dak, en in 1974, die jaar van jou dood, aan Uys Krige.

Professor Kapp bevestig egter wel dat slegs bundels wat in die vorige drie jaar verskyn het, vir die prys in aanmerking geneem kan word. Indien jy dus wel in 1971 op die kortlys was, moes dit vir Mure van mos van 1970 gewees het. Ek gaan nog inligting daaroor probeer verkry uit die argief in Bloemfontein.

Die storie van DPM Botes bly dus obskuur, maar daar moet waarheid in steek en ek sal aanhou rondsnuffel tot ek die verklaring vind. Dit herinner my aan die kinderspel van almal in ’n sirkel en iets word in die eerste oor gefluister, dan in die volgende en uiteindelik tot by die laaste, en dan word met groot gelag uitgevind hoe die oorspronklike woorde totaal verdraai is. So ook nou hier: Freda Linde se bewering, Joan Lötter se vaste herinnering dat DPM die prys gekry het, en nou geen bevestiging daarvoor nie.

Interessant dat dit in 1984 was dat Breyten om politieke beweegredes besluit het om nie die prys te aanvaar nie, en dit is met groot fanfare in die media aangekondig en bespreek.

In 1999 ontvang Breyten weereens die prys, hierdie keer vir drie bundels: Oorblyfsels, Roudig en Papierblom. En nou, in 2008, word dit aan hom toegeken vir sy bundel Windvanger. ’n Berig in een van die dagblaaie het Yolande aangehaal waar sy Breyten sou gevra het om nie weer onvriendelik (of ’n dergelike woord) teenoor die komitee te wees nie.

Weereens was daar volgens professor Kapp tog ’n klein relletjie. Breyten wou glo weier om die prys op Stellenbosch in ontvangs te neem, want “hy haat glo Stellenbosch”. Weens ander verpligtinge kan hy egter skynbaar nie Potchefstroom toe gaan vir die seremonie nie en het hy toe tog ingestem om dit op Stellenbosch te ontvang. Heel gemoedelik en ligweg is deur Kapp opgemerk dat Breyten skynbaar kontroversie nodig het om goed te funksioneer.

Nou ja, wat maak dit eintlik saak? Breyten het volgens ’n onlangse koerantberig tydens ’n onderhoud met Ampie Coetzee by die Universiteit van Wes-Kaapland gesê hy het “’n kleintjie dood aan literêre pryse”.

Die feit dat jy wel in 1968 die kortlys gehaal het, bly nogtans ’n prestasie. Ek gaan een van die dae vir John Kannemeyer, dié Afrikaanse literêre historikus, skakel om meer korrekte gegewens te probeer kry.

Deon

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<