Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Rubrieke | Columns > NetZen

'n Sterk ego?


Johann Rossouw - 2006-10-31

deur Johann Sôhô Rossouw, Zen-monnik en dissipel van meester Roland Yuno Rech

Nadat hy die vorige aflewering van NetZen gelees het, sê 'n vriend 'n waardevolle ding. Hy skryf dat hoewel hy dit baie geniet het, hy tog met een ding sukkel: “Jy is een van die mense met die sterkste ego’s wat ek ken. Hoe rym dit dan met jou praktyk van Zen?”

Uit hierdie vraag spreek moontlik twee versweë aannames: (1) dat mense wat die Weg van die Boeddha beoefen, nie ego’s het nie, of minstens swakker ego’s het as die res van die mensdom; en (2) dat die ego eintlik nie 'n baie goeie ding is nie.

Wat die tweede aanname betref: die ego is een van daardie sleutelelemente van die beoefening van die Weg waarvan 'n mens baie hoor, maar wat jy hoor, spreek nie noodwendig van insig nie. 'n Mens hoor byvoorbeeld: “Daai ou het 'n reuse-ego”, of “Hulle vorder nie, want dit gaan net oor hulle ego’s.” Hierdie stellings gaan ook altyd met 'n tikkie veroordeling gepaard, so asof die een wat dit maak, nie self 'n ego het nie.

Natuurlik is dit so dat ego by mense alomteenwoordig is: dit is in sigself nie 'n slegte ding nie. Om die waarheid te sê, hoe kan 'n mens die ego aflê as jy nie een het nie, en as jy nie 'n ego het nie, beteken dit dikwels ernstige sielkundige probleme.

'n Mens kan ook nie die Weg beoefen as jy sonder jou ego begin nie, as jy byvoorbeeld sê: “Ek wil ophou ly”, of “Ek wil nie langer die slaaf van my begeertes wees nie”, of “Ek wil kalmer wees.” Nie een van hierdie voornemens gaan uiteindelik oor die Weg nie, maar dit is uitstekende vertrekpunte! Sonder die wil tot verligting sal baie min mense dit ooit bereik.

Die ego raak egter wel problematies wanneer 'n mens jou daaraan verknog. Hierdie verknogtheid manifesteer veral deurdat 'n mens sekere vaste idees oor jouself vorm – en dan verwag dat wat met jou gebeur of wat van jou word, hierdie idees moet bevestig. Wanneer 'n mens so begin optree, is jy gedoem tot lyding, want jy verander 'n proses – jou ego – in 'n vaste gegewe, soos om 'n rivier 'n dam te probeer maak. Jy kan byvoorbeeld glo dat jy jou rol kan speel net as jy eers 'n sekere werk kry, en nooit al die ander maniere sien waarop jy wel jou bydrae kan lewer nie. As jy dan nie die werk kry nie, gaan jy noodwendig misken voel en sterk, negatiewe emosies van teleurstelling, verwyt, en so meer beleef. Dit mag selfs daartoe lei dat jy, omdat jy vanuit jou ego handel, besluit om jou nog meer vasberade toe te lê op die verkryging van die werk by die volgende geleentheid wat so 'n pos oopgaan – en net weer die negatiewe siklus herhaal: alles omdat jy nie die werklikheid kan sien vir wat dit ís nie, maar wil sien soos jy dínk dit moet lyk. Dit is nie “verkeerd” of “sleg” in 'n morele of veroordeelbare sin nie, dit is bloot haaks op die werklikheid – wat beteken jy gaan seerkry.

Hoe gemaak om uit hierdie siklus te kom? Om krities te dink, om met vriende te gesels – hierdie dinge kan baie help. Maar die kragtigste en sekerste manier om die siklus te verbreek, is om in zazen op 'n zafu (meditasiekussing) te gaan sit. Zazen is die kragtigste manier om jou onmiddellik in lyn te bring met die werklikheid, hier en nou. As jy volkome een met jou asemhaling en jou postuur is, as jy die gegewe eenheid van gees en liggaam kan beleef, kan jy ook mettertyd die fyn oordeelsvermoë kultiveer wat deur die volgehoue konsentrasie en waarneming van zazen kom om die illusies wat jy oor jouself vorm, te deurskou en te laat gaan. Meer nog, jy ontwikkel 'n aanvoeling vir hoe dikwels jy weer en weer nuwe illusies oor jouself (en ander) vorm wat jy tot die werklikheid verhef, en wat jy opnuut kan deurbreek deur bloot te gaan sit.

En dit bring ons by die tweede aanname van hier bo: mense wat die Weg beoefen, is nie “egoloos” nie. Selfs mense wat al dertig of veertig jaar op 'n zafu sit, tree soms nog op uit die ego, eerder as uit die vryheid anderkant die ego. 'n Ou meester het daarom gesê dat al wat zazen doen, is om jou voortdurend van jou illusies bewus te maak!

Nou kan 'n mens vra: Maar waarvoor dan nog gaan sit? Waaroor al die ure en ure van stilte as dit tog maar steeds by illusies bly?

Hoe kan 'n mens die nutteloosheid van hierdie vrae verstaan? Slegs deur in zazen te sit!

* Zazen vind van Maandag tot Vrydag van 07h30 tot 08h30 en Saterdag van 07h30 tot 09h00 plaas in die Durbanville Zen-dojo by Berghshoop 27, Langebergweg 60, Durbanville. Inleiding tot zazen is Saterdagoggende om 07h00 en almal is welkom. Vir meer inligting kontak Johann by soho2@lantic.net of by 083 459 6364.