Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Brief aan Wilhelm: Verdere herinneringe aan die vriendskap tussen jou en Breyten B en my eie konneksies met hom


Deon Knobel - 2008-08-12

22/23 April

Liewe Wilhelm

Ek kom nou net weer terug van die tarentaalveld, waar ek hulle gevoer en my drie honde op hulle daaglikse wandeling geneem het.

Ek wou jou al vertel van die treurige nuus dat ou tant Sarah nou al vir drie weke na mekaar nie haar verskyning gemaak het nie. Sy is óf dood aan die onderliggende toestand wat die geswel veroorsaak het, óf is dalk deur een of ander roofdier of huiskat gevang omdat sy nie meer so goed kon beweeg en vlieg nie. Ek hoop maar nie dis Rachel se kat, Velvet, wat ek geërf het nie. Dié het juis die laaste paar weke so lyf aangesit, en kom nou al glad die kombuis binne op soek na kos.

Dat tant Sarah sodanig kon herstel en die geswel verdwyn het sodat sy nou onherkenbaar is tussen die res van die swerm van 45 is onwaarskynlik. Ek mis tog haar dubbelgewrignek en die kop eers hierdie kant toe, dan daardie kant toe, so half “een vir jou, dan een vir my”. Dan het ek altyd met haar gepraat en vir haar vertel dat jy net sulke duime soos haar nek gehad het.

Ek het destyds geen persoonlike kennis van of kontak met Breyten gehad nie, maar vermoed dat julle ontmoet het deur julle gemeenskaplike vriendskappe met Jan en Marjorie Rabie, Uys Krige, Claude Boucherain en Erik Laubscher. Jan- en Erik-hulle het mos in Cheviot Place in Groenpunt gewoon en jy gedurende 1960 in jou agterplaaswoonstel van tannie Vos in Mouille Punt terwyl jy vir Longman’s Cape gewerk het.

Dit kon ook seker nie ’n langdurige vriendskap met Breyten gewees het nie, want hy is in 1960 oorsee om hom in Parys te gaan vestig. En toe tree hy weer prominent op die voorgrond toe jy in 1961 in Parys siek geword het. Dit was hy wat by Anton Loubser van die Suid-Afrikaanse ambassade gaan aanklop het en gerapporteer het dat jy baie siek is en dringend behandeling nodig het. Ek is op ’n keer meegedeel dat hy ook die belangrike rol van tussenganger en bemiddelaar gespeel het toe Ingrid self enkele jare tevore in Parys siek geword het.

Ek het jou in Desember 1961 kom besoek om jou toestand vas te stel en te besluit of jy kon aanbly en met jou studies kon voortgaan. Ek kan my glad nie veel aan ’n ontmoeting met Breyten herinner nie. Ek kan wel onthou dat ek hom en Yolande, aan wie hy toe verloof was, by geleentheid ontmoet het en dalk saam tee gedrink het.

Wat Anton Loubser en Breyten betref, was dit Anton se onbenydenswaardige taak om Breyten te oorreed om van Yolande as sy toekomstige vrou af te sien, aangesien hy nooit weer in Suid-Afrika toegelaat sou word nie. Hierdie storie en die gevolge daarvan is oorbekend, en voor jou dood in 1974 moes jy wel van sekere politieke woelinge bewus geword het.

Ek self het in daardie vroeë dae nie juis veel aandag gegee aan poësie nie, en Die ysterkoei moet sweet was eintlik bokant my vuurmaakplek. Selfs jou bundel Bloedsteen sou ek eers baie jare later, met my aftrede in 2004, herontdek en leer waardeer.

Dan tree Breyten weer vir ons familie sterk op die voorgrond ná jou dood op 4 Januarie 1974 met sy aandoenlike huldigingsgedig in Rapport, “Die een se dood, vir Wilhelm, vir oulaas”.

Hierdie gedig is vir my persoonlik geweldig aangrypend en ook uit ’n medies-sielkundige oogpunt uiters interessant. As regsgeneeskundige patoloog het ek deur die jare, uit die aard van my werk, dikwels en onvermydelik betrokke geraak by die treurende familielede wie se geliefdes gesterf het. So het ek begin belangstel in die droefheidsproses, en aanvanklik met Kübbler-Ross se boeke en teorieë kennis gemaak.

Gaandeweg het my kennis en kundigheid oor die droefheidsproses toegeneem sodat ek vandag in my aftrede dikwels gevra word om lesings oor die onderwerp te gee. Ek het Breyten se gedig vir dié doel en vir my eie bevrediging geanaliseer, en vind daarin die meeste van die aspekte van die droefheidsproses.

Die een se dood
vir Wilhelm, vir oulaas

Eers die slegte nuus:“Ek bel net om te sê dat Wilhelm dood is”

Dan die skok en ongeloof: “Nee, God! hoe dan?”

Dan bevestiging:

“Ek weet nie; hier staan alleen: een van Suid-Afrika
se mees begaafde intellektuele … die eerste Vrydagoggend
na die Nuwejaar … in sy slaap oorlede ... verpleeginrigting in die Kaap …”

Dan die sprong om die rede vir sy dood te verklaar – dalk sy vermoede dat dit selfmoord was:

“in sy slaap oorlede – ’n eufemisme, maar dit neem
tog die meswit glimlag uit die dood se mond:
uit slaap het hy oorgegaan in ’n dieper slaap”

Die belangrikheid om humor te behou, hoe moeilik ook al, word in my lesings* beklemtoon: “Leer om weer saam met en vir die oorledene te lag!”
“Om die dood só by die fyndraai te verkul” is tog so ’n unieke en raak, byna komiese, gesegde in Afrikaans.

Dan volg die belangrike deel van die suksesvolle droefheidsproses en dit is om herinneringe, beide die goeie en die minder aangenames, op te roep:

“Herinneringe, Wilhelm, word nou soos ’n vrug
afgedryf, word uitgeskeur voordat dit
tot voltooiing kon kom –”

Die “vrug” herinner my weer aan jou gedig “Sprokie”,wat die herhalende verskeuring  beskryf as “iewers in ’n bos hang ’n ryp rooi vrug”, telkens herhaal deur die “sluwe voël” wat opstyg uit die see. Die vrug wat afgedryf en uitgeskeur word, sou dalk kon verwys na ’n kort gedig van jou, Wilhelm:

“Ek soek nie woorde wat sê
 de dag gaat oop als een goude roos
 nie, maar gepynigde hoekige
 woorde
 wat rou
 kragtig
 soos ’n vul uit ’n merrie
 uit ’n nag naar van nageboorte
 skeur.”

Dalk wou hy ook in ’n mate apologie vra vir sensitiewe sake wat aangeraak mag word. Dalk die afwesige en slegte tande, waaroor Aggie tog so sensitief voel:

“jy was ’n digter, jy sal vergewe en verstaan
dat alles opgetel en ingesluk word in ’n gedig.”

Breyten het persoonlik aan my verduidelik dat jy gedurende hierdie aanval in Parys hiperreligieus was, vandaar “ek onthou vyf spykers, Wilhelm” en kort daarna “dat die sneeu iewers val” …

Hierdie verwysing na die sneeu wat val herinner my weereens sterk aan die eerste gedig wat hy aan jou opgedra het en wat in Die ysterkoei moet sweet verskyn het, kort voor sy “voorlopige vervulling”met sy siening: “dan kom die gekheid soos ’n gewapende man”. Ek haal aan uit sy “vir Wilhelm” van 1964: 

“waar so word dit vertel
die bergpad wol en wit is val
eenstryk val val die sneeu …”

en dan later                   “want êrens êrens is dit lente”

en nog verder             

“waar so sê die mense
god sy lakens neerlê om te bleik
bloei die wit sneeu aan die bome.”

Jy kan my sê wat jy dink, maar vir my is dit al asof Breyten deur ná jou dood weer na die sneeu te verwys, iets sags en skoons in jou dood wou sien. Dit sou na my mening ook uiters gepas wees, want jy self het immers mos geskryf dat dit eers is as jy die skoonheid in die dood kan vind dat jy dit kan aanvaar. In sy vroeë kort gedig aan jou kom hy uiteindelik uit by die pragtige reël “want iewers ver beef die lente”.

Wilhelm, die herinneringe aan jou en jou eienskappe het duidelik baie sterk op Breyten ingewerk en selfs jou byna onleesbare handskrif word pragtig beskryf:

“ek onthou die poterige maar leesbare
spinnekoppe wat uit jou vingers oor papier
vergruis is …”

Jou soms effense, byna kinderlike naïwiteit waaraan ons as vriende en familie gewoond was, word uitgebeeld deurdat jy die horlosie van die Senaat in rue Tournon vir die maan aangesien het. Ek kan amper hoor hoe jy verras sou uitgeroep het: “Haai! Kyk net die maan!” Dit moes gebeur het toe jy reeds ernstig siek was en Breyten jou terug na jou koshuis vergesel het, en voordat hy jou toestand by die ambassade aangemeld het.

“… –  en met skuiwende wysters
en ’n eensame geklok het dit sedertdien
maan gebly”

Deel van die proses is dikwels die blaam wat op die self en ander geplaas word. Duidelik was Breyten teenwoordig met Wilhelm se toelating tot die Ste Anne Hospitaal in Parys en moes hy geskok gewees het deur iets wat die geneesheer gesê het voordat Wilhelm elektrokonvulsiewe behandeling toegedien is:

“ek onthou wat ’n vark gesê het, in ’n wit kamer
toe ons geweet het hoe bang jy vir
die elektriese behandeling was, hoe die pyn
jou iedere sel uit kom soek en verkrag”

In die volgende reëls is dit duidelik hoeveel meelewing Breyten met jou gehad het, Wilhelm, in jou uiters verwondbare toestand. En as ek sulke reëls in sy gedigte raakloop, weet ek dat die kwaai en soms selfs aggressiewe houding wat hy aan die buitewêreld en veral sy kritici toon, dalk net ’n skerm is om sy eie sensitiwiteit en verwondbaarheid te verberg:

“– jy, ’n man van piano’s, van wind, van vertalings uit die Frans –
dat ’n stukkende horlosie dalk nét weer
aan die loop kan gaan
as jy hom ’n paar keer teen die muur geslaan het.”

Jou eie skets,“Le théatre”,wat jy in Ste Anne gemaak het, wys duidelik die koue atmosfeer van die kamer waar behandelinge gegee is, met net ’n enkele kaal gloeilamp wat van die dak hang.

Die koerantfoto waarna Breyten nou verwys, is van julle groep Sestigers by die 1973-Somerskool van die Universiteit van Kaapstad, waartydens in diepte gekyk is na die skrywers van die Sestigerbeweging. Hoe noukeurig moes hy weer na die foto gaan kyk het om in retrospek dalk te besef hoe eenkant en selfs eensaam jy moes gevoel het, so asof jy nie daar gehoort het nie:

“ek onthou die koerantfoto by die saamtrek
van skrywers – wie het toe selfs geweet
jy was daar? wie was jy? en hoe jy
onaanwesig en amper reeds gees
apart en dringend op die voorgrond staan
en eerste aan die pen.”

Vervolgens herinneringe wat dalk minder aangenaam is en duidelik ook die tipiese skuldgevoelens uitbeeld wat feitlik altyd deel uitmaak van die proses:  

“en ek onthou my verraad, dae later, in
’n eetplekkie in Langstraat …
en die telefoonnommer wat jy my bied
op ’n vlekkie papier, die telefoonnommer
waarvan ek nooit gebruik sou maak nie –

een van jou voortande het makeer en ’n ander een was sleg –
ek het gehoor dat jy in die Tuine woon
om naby die berg te wees
in ’n ander wêreld –
ek sien blare en mos:
dit was toe ook nie ver van die Tuine af grond toe nie.”

Dis oor hierdie verwysing na die een afwesige en een slegte tand dat jou vriendin Aggie nie gelukkig is nie, so asof Breyten disrespekvol was teenoor jou. Ek het haar verseker dat ons as familie sy gedig geweldig waardeer het en ook vertroostend gevind het, veral oor die absolute eerlikheid daarvan sonder die gebruiklike “Calvinistiese” verberging van minder aangename aspekte, en inderdaad van die dood self.
 
“Blare en mos” kon seker ook verwys het na jou eie bundel Mure van mos en “ook nie ver van die Tuine af grond toe nie” na jou dood, wat binne ’n jaar sou plaasvind.

Die volgende beeld van die winter wat die kraai na Parys laat vlug, skep vir my ’n beeld van intense verlatenheid terwyl die deurtrek van jou adres ’n soort finaliteit bring aan die proses – sy aanvaarding van jou dood:

 “Wilhelm, die winter op die land
het ’n kraai na Parys laat vlug
om nou krysend te vlieg oor die grys
ongenaakbaarheid,

ek sal ’n streep moet steek deur die spinnekoppe
in my adresboekie
toe pos vir jou
aangestuur moes word na Bethlehem
in die Vrystaat”

Dan sluit hy af met van die mooiste reëls van vaarwel wat ek ken. Die wens aan jou “vergaan so suutjies dat niemand iets merk” is weereens ’n  voorbeeld van Breyten se sagter emosies, verder so mooi uitgedruk in die hoop dat jy as dapper eenloper rustig moet slaap, sonder om te droom, omdat jou seerkry nou tog verby is:  

“ons sal jou onthou
en dan sal ons vergeet

Slaap rustig dapper eenloper,
moenie droom nie,
vergaan so suutjies dat niemand iets merk,
jou seerkry is nou tog verby.”  
 Breyten Breytenbach, Rapport, 3 Maart 1974

En daarmee lyk dit of Breyten sy hele proses van verlies van ’n vriend binne een gedig voltooi het. Dit het sekerlik dalk langer geneem om te skryf as wat dit ons nou neem om die gedig te lees. In die verlede, Wilhelm, het ek self treurendes aangeraai om hulle gevoelens neer te skryf, in prosa of poësie, enigiets om net aan die binneste gevoelens uiting te gee. Dis tog soveel beter as die “sterk wees!”-benadering van baie Calviniste. En so dikwels word hierdie gevoelens selfs vir dekades ná die dood van ’n geliefde opgekrop, ontken en nooit verwoord nie en lei dit soms tot allerlei psigiese en psigosomatiese probleme.

Nog ’n keer word in die mid-1970’s kontak gemaak met Breyten en Yolande in Parys. Ek dink dit sou so teen 1975/76 gewees het.

Ek en Roy was op een van ons tweejaarlikse Europese vakansies en in Parys het ek naarstiglik met Breyten probeer kontak maak. Ek wou graag meer by hom probeer uitvind oor jou siekte en die beelde wat hy in sy gedig gebruik.

Dit was tevergeefs en een na die ander telefoonboodskap wat ek gelos het, is onbeantwoord gelaat. Na drie dae van oorbly in Parys net om hom en Yolande te kon ontmoet, het ek hoogs geïrriteerd gevra dat aan Breyten oorgedra moes word dat indien hy ons nie wou sien nie, hy asseblief tog net so moes sê, want anders mors hy net ons tyd en bly ons onnodig langer in Parys aan.

Wonder bo wonder het die oproep toe gekom en is gereël dat ons vir ete sou uitgaan na ’n restourant. Ons het mekaar ontmoet, seker in die Marais-distrik omdat Breyten-hulle se adres al die jare in rue Malebranche was, as ek nou reg onthou! Op Yolande se versoek en aanbeveling is ons na ’n tipiese Viëtnamese restourant. Ek en Roy het ewe naïef vir Drée de Villiers, die dogter van Justa, ’n ou vriendin van Roy, saamgenooi. Drée was ’n amptenaar by die Suid-Afrikaanse ambassade en is ná die ontmoeting met Breyten streng oor die kole gehaal omdat sy sosiaal verkeer het met ’n anti-Suid-Afrikaanse politieke aktivis. Kan jy glo!
 
Tydens die ete het ons oor alles en nog wat gesels en dit was onvermydelik dat die bespreking toe ook oor politieke toestande in Suid-Afrika en die Apartheidsbeleid gegaan het. Vaagweg, Wilhelm, onthou ek dat ek toe vir Breyten gekonfronteer het met die feit dat ons in Suid-Afrika aanbly en van binne sou probeer om die beleid te verander, terwyl hy veilig in Parys sit. Natuurlik was dit ongevraagd van my, want al wou hy in Suid-Afrika kom woon het, kon hy nie, omdat hy deur die wet verbied is om dit te doen. Breyten het toe effens geheimsinnig laat val dat hy wel met sy eie dinge besig is.

Op pad terug na hulle woning was daar skielik ’n geweldige slag, soos ’n ontploffing, en al vyf van ons het gewip soos ons skrik, gedagtig aan die bespreking oor Suid-Afrika se politiek. Breyten en Yolande het daarna verwys as “weer een of ander studente-oproer”.

Min het ek toe geweet dat Breyten reeds met sy planne besig was om Suid-Afrika binne te kom met die doel om politieke onrus aan te wakker en dit selfs deur wapengeweld sou doen.

Hy is later gearresteer en gevangenisstraf opgelê. Daar was een of ander tyd ’n ontsnapping nadat ’n jong bewaarder na bewering omgekoop of oorreed is om hom te help, en dan weer ’n herarrestasie, die hofsaak en sy gevangenisstraf van 12 jaar. Op daardie stadium in Suid-Afrika se geskiedenis was die doodstraf steeds geldig, onder andere vir moord, verkragting met verswarende omstandighede en hoogverraad. Teoreties kon hy vir hoogverraad tereggestel word, net soos met Mandela en sy medeaangeklaagdes die geval was. Gelukkig het dit nie gebeur nie.

My volgende ontmoeting met Breyten was toe hy sy gevangenisstraf in Pollsmoorgevangenis uitgedien het. Weens my posisie en invloed het ek dit reggekry om toestemming van die Kommissaris van Gevangeniswese te verkry om Breyten te gaan besoek. Naïef soos ek was, het ek my afgevra wat ek graag sou wou ontvang as ek in die tronk was. En my eie keuse sou wees biltong, droëwors, droëvrugte en ’n lekker vrugtekoek, omdat Kersfees net ’n week of twee later sou wees.

Wel, Wilhelm, soos jy dalk sou kon raai, is ek nie toegelaat om enige pakkie vir Breyten in te neem nie. Ek het ook nie vir hom vertel van alles wat ek in die motor moes agterlaat nie, want dit sou sy verlange na die lekker eetgoed net groter gemaak het. En vir ’n hele uur is ons toegelaat om te gesels, met slegs een jong bewaarder eenkant in die hoek om toe te sien dat ons nie iets onverwags en onwettigs sou probeer nie. En so het ons toe nou maar oor alles en nog wat gesels en ek het probeer om hom nuus te vertel oor wat in die Afrikaanse letterkunde aangaan en oor gemeenskaplike vriende, en het versigtig uitgevra oor Yolande en hoe dikwels hy haar mag sien, indien wel. Sover ek kan onthou, is Breyten se moeder oorlede terwyl hy in die tronk was en die Minister wou nie toestemming gee dat hy begrafnis toe mag gaan nie. Baie hartseer.

Gelukkig is Breyten toe voor die totale uitdien van sy straf vrygelaat. Uit sy tronkervaringe het goeie gedigte en publikasies gekom.

En dít, Wilhelm, is min of meer die totale aantal kere wat ons ontmoet en herontmoet het tot in 2007 met die opening van die Breytenbachsentrum op Wellington en in 2008 toe sy nuutste boek bekendgestel is en Breyten in Stellenbosch se Protea Boekhuis in gesprek was met Ampie Coetzee. Daar het ek taamlik aantekeninge gemaak van Breyten se interessante antwoorde en veral die wyse waarop hy meermale sy eie gedagtes vrye teuels gegee het.

Goeienag.

Deon

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<