Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Die toekoms van Afrikaans


Michael le Cordeur - 2006-10-31

"Die rol van Afrikaans as ’n instrument van nasiebou wat oor ’n diverse platform van verskillende rasse, kulture en gelowe strek, word onderskat. Van ’n taal van verdrukking is die uitdaging nou dat Afrikaans sy rol as taal van bevryding voluit moet speel. En dit vind nie genoeg plaas nie."

So praat die voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee, dr Michael le Cordeur, na afloop van die Konferensie oor Afrikaans wat die WKTK verlede Saterdag (21 Oktober)  in Seepunt, Kaapstad onder die vaandel van die Departement Kultuursake en Sport gehou het en wat deur 80 Afrikaanse en kultuurorganisasies bygewoon is.

Volgens die Wes-Kaapse premier, mnr Ebrahim Rasool, wat ook die konferensie bygewoon het, sal Afrikaans bly bestaan as sy eienaarskap uitbrei. Waar dit eers ’n taal was wat deur doelbewuste bevoorregting bo ander tale gestel is, is dit nou ’n taal wat ontwikkel in ’n konteks van gelyke status. Daarom hang die toekoms van Afrikaans nie van die aantal sprekers af wat hom praat nie, waar van sy gelyke waarde met ander tale in Suid-Afrika. Volgens hom moet ons daarna streef om Afrikaans ’n taal te maak wat maklik vloei uit die are van mense sonder dat dit ’n strydbyl word vir politici, of nog erger, sonder dat dit ’n geheime agenda word vir diegene wat hunker na die ou Suid-Afrika en die taal wil kaap as meganisme om hul eie kultuur (lees apartheid) te wil beoefen.

Groot klem is op die gelykheid van tale en die inklusiwiteit van Afrikaans geplaas. Daar is ook baie hard gepraat en sonder handskoene baklei, en veral die Wes-Kaapse premier het beïndruk met sy standpunt dat die Afrikaans wat ons praat, nie ’n smeltkroes is nie, maar diversiteit verteenwoordig. Afrikaans beklemtoon die raakpunte tussen verskillende rasse, kulture en groepe.

Dr Michael le Cordeur het op sy beurt beklemtoon dat die ontwikkeling van Afrikaans nie in afsondering mag plaasvind nie. Wat ons vir Afrikaans wil opeis, moet ons ook gun vir ander tale. Die fokus moet nie op ’n stryd tussen die verskillende tale wees nie, maar eerder op wedersydse begrip. In die Wes-Kaap is isiXhosa die sustertaal van Afrikaans. Dis in die belang van almal wat Afrikaans ter wille is, dat isiXhosa ook maksimaal moet ontwikkel. Juis daarom organiseer die Wes-Kaapse Taalkomitee ’n week lange fees vir Xhosa (van 13 tot 19 November) in Langa en Gugulethu en in die Kunstekaap. Want die hooffokus van die WKTK is juis die gelyke status van al die amptelike tale.

Dr Michael le Cordeur het hom as volg op die konferensie oor Afrikaans uitgespreek:

"Ek self sien ’n blink toekoms vir Afrikaans, maar dit sal afhang van die mate waarin Afrikaans inklusief na al sy sprekers omsien. Hoe wys is dit byvoorbeeld om ’n Afrikaanse Idols slegs op KykNet aan te bied? Is dit ’n opsetlike poging om 55 persent van die Wes-Kaapse bevolking, wat toevallig almal Afrikaanssprekend is, uit te sluit? Ek sou argumenteer dat dit juis tot vervreemding lei tussen die taal en daardie mense wat ons op ander forums voorhou as die verloorders van Afrikaans. Hoe rym dit dat ons kwansuis die sprekers van die Kaapse Vlakte, die Weskus en die Boland as rede voorhou waarom die onderrigtaal van die Stellenbosch Universiteit Afrikaans moet wees, maar hulle dan uit te sluit as Alzona van Groot Brak haar ongelooflike sangtalent in spontane, perfekte Afrikaans uitvoer? Was dit ’n wonder dat sy nie die kompetisie gewen het nie (terwyl sy loshande die beste sangeres was)? Dit is hierdie eksklusiwiteit wat mense met wantroue na die taal laat kyk, en dis waarna mnr Rasool en dr Johan Rupert verwys as hulle praat van die kwaad wat die eksklusiwiteit van Afrikaans aanrig.

"Van die ander punte wat by die beraad sterk na vore gekom het, was onder meer die gevoel dat meer gedoen moet word om die jeug by die debat oor Afrikaans te betrek: "Ons praat so dikwels oor wat ons dink is goed vir die jeug; dat ons sus en so moet doen ter wille van die jeug … Ons praat so baie óór die jeug, maar so selde mét die jeug.

"Daar is ’n sterk gevoel uitgespreek oor die rol wat die bemagtiging wat Afrikaans kan speel, byvoorbeeld met betrekking tot geletterdheid en die gebruik van Afrikaans as wetenskapstaal. Die een veronderstel die ander. Dit baat veel om te baklei vir Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal (wat die taal wel is) as die toekomstige potensiële gebruikers van Afrikaans ongeletterd is. Dit geld vir volwassenes sowel as leerders.

"Meer aandag moet ook gegee word aan veeltaligheid en veral die funksie van gebaretaal. Dit behoort ’n baie goeie belegging in die mense van ons land, en spesifiek die dowe gemeenskap, te wees as ons eerstens vir belangrike gebeure soos tydens die TV-nuus, en selfs sekere TV-reekse, ook ’n gebaretaal-tolk beskikbaar kan hê. Dit behoort ook nie te moeilik te wees om sekere basiese begrippe in gebaretaal en isiXhosa, ens deur middel van die dagblaaie aan lesers te kan deurgee nie. Om dowes of Xhosas in hul eie taal te bedank, kos baie min, terwyl ons baie daardeur kan wen.

"In hierdie verband wil ek graag my waardering teenoor Die Burger en ander koerante uitspreek vir die baie insiggewende en nuttige inligting oor die kultuur van die Moslems en die gebeure rondom Ramadaan en Eid-ul-fitr. Glo my: dit het baie, baie stemme vir Afrikaans gewen. En al wat nodig was, was net ’n "change of heart", want dit gee aan ’n groot groep Afrikaanssprekendes die gevoel dat hulle behóórt.

Net so behoort Afrikaans meer te doen vir die Afrikaanse sokkergemeenskap. Hier by my in Stellenbosch is daar byvoorbeeld meer Afrikaanse seuns wat sokker speel as rugby. Tog word daar baie selde oor hulle lieflingsport in hulle moedertaal geskryf, met die gevolg dat hulle hul moet wend tot Engelse koerante.

"Dan moet daar weer ’n slag opnuut na die bemarking van Afrikaans gekyk word. Maar op ’n mooi en positiewe manier. Die tipe T-hemp-boodskappe wat deesdae by sommige “Afrikaanse feeste” gesien word, is, om die minste te sê, banaal en eerder ’n nadeel vir Afrikaans – dit skrik mense af, jaag vriende van Afrikaans weg en vervreem die sprekers van hulle taal, want, sal hulle argumenteer: as dit is hoe Afrikaans vertoon, is dit nie iets waarmee ek my of my kinders wil identifiseer nie.

"Van feeste gepraat: die organiseerders hiervan sal baie mooi moet dink wie hulle in die toekoms as kunstenaars na hierdie feeste nooi. Onthou weer die punt van inklusiwiteit. Die mense van Klein Nederburg (waar die meeste Afrikaanse mense in die Paarl woon), sal nie die Cultivaria of enige ander fees bywoon as dit week na week dieselfde (wit) gesigte is wat daar optree nie. Want dan verteenwoordig die fees slegs een segment van die Afrikaanse gemeenskap en kan dit nouliks as ’n Afrikaanse Fees kwalifiseer. In hierdie opsig sal vennootskappe en die daarstelling van ’n kragtige tegnologiese netwerk as meganisme om Afrikaans te bevorder, aandag geniet.

"Die WKTK stel hom verder ten doel om sy rol as moniteerder van die Wes-Kaapse taalbeleid nougeset na te kom, deur veral munisipaliteite en regeringsinstansies soos hospitale en polisiestasies wat versuim om die publiek in al drie amptelike tale te bedien, vas te vat. Want as dit nie krimineel is om iemand ’n nag in die tronk te laat slaap, of ’n pasiënt nie te kan behandel nie, net omdat ’n tolk nie beskikbaar is nie, wat is dan krimineel? En hoeveel mense weet dat by die Worcesterse Munisipaliteit wat meer as 1300 dowe gesinne moet bedien, daar nie een enkele tolk vir die dowe gemeenskap is nie?"

Dr Michael le Cordeur is die voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee, en die kringbestuurder van Onderwys in Stellenbosch.