Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Die laaste basuin


Fanus Rautenbach - 2006-10-31

Daar is baie legendes oor “die laaste basuin” wat gaan blaas: legendes en ook die waarheid in die Bybel. Dit staan oa in 1 Kor 15:52: "In ’n oomblik, in ’n oogwenk, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word." En in Mattheus 24:31 verander die laaste basuin na trompetgeluid: "En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke van een einde van die hemele af tot aan die ander einde …”

As ons nou onthou dat wát gebeur het, wél gebeur hét, in die nag van 9/11/2006, vyf jaar nadat Bin Laden, of wie ook al, die twee torings in New York vernietig het en almal gedink dit is die einde van die wêreld, sal ons verstaan dat wat gebeur het, moontlik waar kan wees.

Een legende (urban legend – Afrikaans: word-vertel-virrie-waarheid) lui soos volg: Piet Willemse van Piketberg was baie lief vir sy dop. Hy kom een oggend sleg babbelas in die kerk. Dominee preek daardie oggend oor die laaste basuin en sê ten slotte: "Daar sal ’n geween wees en ’n gekners van tande. Geagte gemeente, nou wil ek u vra: As die laaste basuin blaas, is u gereed om Hom te ontmoet? Sal diegene wat bereid is om Hom te ontmoet, asseblief opstaan? Maar ons sing eers 'Staan op, staan op, vir Jesus!' Almal staan op en sing, en na die lied gaan almal weer sit, net nie Dominee en Piet Willemse nie. Iewers in sy agterkop is nog altyd die woorde van Dominee: “Dié wat gereed is om hom te ontmoet, staan op!” Nou kyk Piet Willemse vir homself en Dominee – net hulle twee wat staan – en hy sê: “Net twee regverdiges in hierdie gemeinte? Swak Piketberg!”

Nou kry ek ’n plaat persent. Dit is 10 000 Stemme. Op die plaat sing 196 kore bestaande uit 10 000 stemme; hulle noem dit "The World Choir … Director: Owain Arwel Hughes, recorded at Cardiff Arms Park in Wales. Glory, glory, hallelujah, his truth is marching on!" Daardie aand van 10 September luister ek na 10 000 Stemme. Ek raak aan die slaap … en sonder my wete haak die stukkende CD-speler vas   – om 4.00 vm van 11 September skielik weer hard en duidelik los te trek, en die 10 000 Walliese stemme sing uit volle bors:

Glory, glory, hallelujah Glory, glory, halleluja Glory, glory, hallelujah His truth is marching on!

Nou vertel Jessica Jackson, 79 jaar oud, van Kamer 278 dat sy net gesien het hoe die ligte aangeskakel word, die deure oopklap … die pantoffels in die ouetehuis se gange afslof. En hoor sy snikkende gefluister, die hele voorportaal vol, wagtend op die laaste basuin. ’n Paar wonder of daar tyd is om die warmfles vol rooibos te maak … Oom Piet Willemse (ja, die einste hy, voorheen van Piketberg) had nog genoeg tyd om sy vuurwarm amiejas, met genoeg padkos vir die "Pelgrim se Reis Naar Het Euwigheid" in die vorm van ’n halfbotteltjie Huisvriend (sjonder ysj!) in sy binnesak, aan te trek en uit te storm, toe tant Duifie van Duivelskloof vir hom sis: “Piet Willemse, trek uit jou warm jas – waar jy heengaan, gaan jy dit nie nodig kry nie – dit is helwarm daar … daai plek is klaar warm!”

Ook nog net dit: by die ouetehuis-hysbak is daar ’n kennisgewing: “In geval van brand moenie die hysbak gebruik nie. Maar wees altyd gereed vir enige gebeure. Hou altyd by u: u paspoort, of ID-boekie, ’n fles vol water, warm klere." ’n Grapmaker het bygeskryf: NAT SAKKE WERK BETER!