Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wyndagboek

Kom Paarl toe vir ‘n vuurwarm Persiese fees


Johann H Crafford - 2008-08-07

Verruil die winterbloutes vir ‘n purperwarm wyn-en-kos-ervaring by die Persië tot Paarl-fees op 16 Augustus 2008 by die bekende Nederburg-wynlandgoed buite die Paarl. Hierdie fees, met sy ryk Persiese atmosfeer, ontleen sy tema aan die legende wat te vertel het dat die shiraz-druif (ook bekend as syrah) sy oorsprong in antieke Iran gehad het sowat 7 000 jaar gelede.


Getrou aan beelde van die lewe in antieke Persië sal die streek se keurigste wyne en voedsel te proe wees. Besoekers sal ‘n wandeling deur die mark met sy Midde-Oosterse ware en plaaslike handwerk die moeite werd vind, terwyl verskeie kreatiewe kundiges hul vaardighede met leergieriges sal deel. ‘n Persiese parade deur die lede van Paarl Wijnbouers, buikdanseresse en puik musiek voltooi die prentjie. Getroue rugby-ondersteuners hoef ook nie weg te bly nie, want hulle sal die Springbokke op die groot skerm kan sien uitdraf.

“Ons vier jaarliks die shiraz-kultivar se spesiale verhouding met die terroir van die Paarl – ‘n eenheid wat wêreldklas wyne te voorskyn bring,” sê Sandra Lotz, Paarl Wijnbouers se uitvoerende hoofbeampte. “En buitendien, die fees bied die ideale alternatief vir ‘n koue Jan Tuisbly se karretjie in die hartjie van die winter.”

Merk dus 16 Augustus van 11:00 tot 21:00 in jou dagboek en kom geniet die oorvloed wat die Paarl het om te bied.

Kaartjies is vooraf teen ‘n afslagprys van R55 by alle deelnemende wynkelders of die Paarl-Toerismekantoor beskikbaar, of teen R65 by die hekke. Die prys sluit ‘n verrassingspakkie in met ‘n wynglas en ander promosie-artikels. Kinders jonger as 18 jaar kry gratis toegang, maar vermaak in Aladdin se Hoek kos R20 en ‘n betroubare kinderoppasdiens is beskikbaar teen R25 per uur.

Om Nederburg vanaf die N1 te bereik, draai wes op die Sonstraalpad en volg die pad vir sowat 3 km. Kontak Paarl Wijnbouers by (021) 863-4886, stuur ‘n epos of besoek die webwerf vir verdere inligting.