Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Krisis in die Afrikaanse literatuur?


JB Roux - 2008-08-06

In By van 2 Februarie hef Joan Hambidge ’n klaaglied op oor “middelmatigheid” in die Afrikaanse letterkunde, wat inhoud sowel as omslae betref, en vergelyk sy die standaard van onlangse uitreikings met die kragvoorsieningskrisis.

Soms verskyn daar boeke wat moes gebly het, maar is dit billik om te impliseer dat die Afrikaanse letterkunde ’n krisis beleef?

Dis tyd vir bestekopname: om kers op te steek by rolspelers op alle vlakke van die bedryf. ’n Goeie invalshoek is om by Hambidge te hoor of sy haar nie bedink het en sal toegee dat haar stellings oordrewe was nie. Maar professor Hambidge beantwoord nie haar telefoon nie.

Op ’n loom Vrydagoggend in die Kaapse middestad soek ek skaduwee in die Tuine, en besluit om nog een keer Hambidge se selnommer te skakel. Hierdie keer ís daar reaksie: “Dis mos jy wat sê ek is seksueel gefrustreerd,” sê ’n vrouestem, waarna die selfoon aan die ander kant summier doodgedruk word.

Of dalk is ons afgesny? Ek bel weer: êrens is daar ’n misverstand wat reggestel moet word.

Die professor beantwoord weer nie haar selfoon nie, maar oomblikke later vibreer die instrumentjie in my hempsak.

“Is dit jy met wie ek netnou gepraat het?” vra dieselfde stem.

Ek voer ’n sigaretstompie aan ’n honger eekhoring en wonder of dit veilig sal wees om dit te bevestig. Wat volg, is ’n histeriese tirade waarin ek nie geleentheid kry om self iets te sê nie.

Natuurlik het ek die professor se nommer verkeerd gehad. Wie ook al teen my uitgevaar het: ek gun haar die emosionele ontploffinkie. Enige skerpioen sal jou sê dis goed om soms jou humeur te verloor en die gif uit jou gestel te kry. Maar wat nou van die stand van die Afrikaanse letterkunde?

’n Ander invalshoek is om na die direkte reaksie op Hambidge se artikel te kyk. Danie Botha, keurder en redigeerder van Oop Kaarte (die roman wat Hambidge voorhou as bewys van die bedenklike toestand van die Afrikaanse literatuur), sê Afrikaans het sulke boeke nodig. ’n Resensent wat deur Hambidge aangehaal word, oorskry die grense van vermetelheid deur te sê Hambidge weet nie waarvan sy praat nie. Annemari Coetser sê op LitNet haar doel met Oop Kaarte was bloot om ’n storie te vertel wat hopelik geniet sal word.

Maar wat sê die uitgewers?

Gerhard Greyvenstein, bemarker by NB-Uitgewers, wys na opwindende nuwe skrywers wat siniese letterkundiges in hul gal sal laat stik. Willem Anker se Siegfried is byvoorbeeld goed ontvang.

Jeanette Ferreira, skrywer en uitgeweryhoof by Protea Boekhuis, sê Oop Kaarte moet beslis as “chick lit” gesien word: dit kan nie dien as ’n maatstaf vir ernstige letterkunde nie. Sy gee toe dat min uitsoekliteratuur gedruk word. “Weens ekonomiese en ander omstandighede is dit moeilik om die letterkunde lewendig te hou.”

“Die boekemark is onder druk”, aldus Frederik de Jager van Umuzi-uitgewers. “As die aanvraag na énige produk daal, word dit meer populêr aangebied sodat die bedryf nie ondergaan nie Dit verklaar dalk die indruk dat gehalte vir uitgewers opsioneel geword het.

“Afrikaanse skrywers se debute verskyn daarby toenemend in Engels. Baie skrywers bevind hulle in die buiteland; hul nuwe leefwêreld is Engels. Die ‘diaspora’ veroorsaak dat energie weggetrek word van Afrikaans. Afrikaans het nie meer soveel ‘literêre reuse’ nie; die letterkunde geniet ook nie die meer die beskerming van voorheen nie.”

Wat omslae betref, sê De Jager ’n omslag moet ’n boek effektief verkoop. Die oorgang na kopersvriendelike omslae is nog nie afgehandel wat Afrikaanse vrystellings betref nie.

Volgens Linda Nell van Exclusive Books is daar meer Afrikaanse “lekkerleesboeke” beskikbaar. Uitgewers het dinamies geraak en waag met titels wat voorheen dalk nie gepubliseer sou gewees het nie. Wat omslae betref, beweeg uitgewers in die regte rigting, veral NB-Uitgewers, en spesifiek Kwela. Kleiner uitgewers het ’n lang pad om te loop.

“Intellektuele meriete en middelmatigheid is relatief,” sê resensent Marius Crous. “Hambidge mag byvoorbeeld dink haar digbundel Dad het intellektuele meriete, maar die tematiek, die foto voorop en die stroperige verse oor oorle Pappie definieer middelmatigheid.”

“Ek kan nie byhou met die gehalte-publikasies wat op verskeie uitgewershuise se voerbande verbystroom nie,” sê Melt Myburgh, resensent en inhoudsbestuurder by LitNet. “Ek dink waarteen Hambidge dit het, is jong clutch-koppe in die uitgewersbedryf se onvermoë om die grense tussen intellektuele spel en ontspanningsliteratuur te respekteer. Die grootste ‘krisis’ is die onwilligheid van die leserspubliek om ernstige tekste behoorlik te ondersteun.”

“Terwyl ek grootgeword het, het ek gedink Afrikaans het ’n klomp belangrike boeke en nie genoeg lekkeres nie,” sê Francois Bloemhof, skrywer en resensent. “Met Engelse boeke kon jy ontspan. As verhaleredakteur by ’n tydskrif het ek ook ervaar hoe gou sommige mense neersien op iets wat ‘niks meer as ’n storie’ is nie, veral dié wat dit vir ’n ekstra geldjie probeer skryf het en nie kon nie.”

Rachelle Greeff, skrywer (van wie Alles behalwe die geheim van my whisky onlangs verskyn het) en boekeredakteur van Rapport, sê: “Die woord ‘gehalte’ is wyd, en relatief. Wat redaksionele leiding en insette sowel as moeite met omslae betref, verdien Kwela en Human & Rousseau, uitgewers van my jongste publikasies, groot lof: oor gehalte kan ek as skrywer nie kla nie.

"Maar om te sê gehalte het ‘klaarblyklik’ vrye keuse geword, klink gevaarlik, verkeerd en veralgemenend. Uitgewers soek nuwe markte, soos hulle veronderstel is om te doen. Markte is aan die verander en in die lig hiervan sal bepaalde kringe kla oor vervlakking en fokus op die laagste gemene deler. Ek self begryp, en aanvaar, dit binne die massale verskuiwings op sosiale en politieke front. Om van die verslawende impak van snerttelevisie en –film en rekenaarspeletjies nie te praat nie.

“Daar ís genoeg Afrikaanse werk met intellektuele meriete. Kyk jy boonop na, byvoorbeeld, poësieverkope, wonder ’n mens hoe groot (hoe klein!) hierdie intellektuele mark werklik is. Wanneer Rapport gratis boeke weggee, is ligter leesstof baie, baie gewilder as enigiets met ʼn geurtjie intellek. Die Afrikaanse letterkunde (nie die boekebedryf in die algemeen nie) het lank ʼn onaantasbare status gehandhaaf. Wanneer bepaalde lesers én skrywers hierna wil teruggryp, loop gemoedere maklik hoog en hang persoonlike onderrokke uit.

“Waaroor ons móét wakker lê, is die afwesigheid van ’n leeskultuur; of ons onderwysstelsel ’n nuwe leserskorps kan ontwikkel; en waarom iemand ʼn boek sou koop as hulle nie kan lees nie of skaars ʼn brood kan bekostig.”

“Hoekom kan ons nie aanvaar leessmake verskil, en dat die skeidslyn tussen letterkunde en lekkerkunde soms baie fyn is nie?” vra Maritha Snyman van Lapa. “Ruth Rendell wen byvoorbeeld die London Times Literary Award vir een van haar Wexford-speurverhale, én ’n prys vir genre-fiksie vir ’n titel van dieselfde reeks. Die meeste mense lees buitendien boeke van verskillende genres en vlakke, afhangend van hul behoefte op ’n bepaalde tyd. Uitgewers fouteer soms deur ontspanningsfiksie in te skryf vir pryse wat vir ernstige letterkunde gereserveer word, miskien omdat ons nie pryse vir genre-fiksie het nie.”

Of oor uitgewers tydens ’n tekort aan gehalte-manuskripte publikasielyste inkort of eerder manuskripte publiseer wat andersins nooit die lig sou sien nie, sê sy:

“Lapa doen moeite om manuskripte wat nie op peil is nie te ontwikkel, en skrywers op te lei sodat hulle goeie manuskripte kan lewer. Ons probeer om aan al ons lesers produkte van die hoogste kwaliteit te lewer.”

Die laaste woord gaan aan Eloïse Wessels, uitvoerende hoof van NB-uitgewers: “NB-Uitgewers publiseer jaarliks ’n groeiende, gebalanseerde publikasielys. Verder belê die uitgewery deurlopend daarin om van ons beste literêre skrywers se werke in Engels te vertaal om die skrywers groter blootstelling (ook internasionaal) te gee. Dis ’n bloeitydperk vir Afrikaanse letterkunde.”

’n Mens wonder of uitgewers hierdie oplewing benut deur meer boeke te publiseer, pleks daarvan om die room af te skep en dié boeke beter te bemark?

“Enige regdenkende sakepersoon sal ’n toename in vraag benut, maar nie kwaliteit inboet nie, want dít doen die saak skade aan. Ons boeke ondergaan ’n streng keuringsproses en intensiewe redaksionele versorging. Bemarking het die afgelope jare dramaties verbeter en verkope het dramaties toegeneem.”

Daar verskyn gereeld heruitgawes by NB-Uitgewers. Moet die geld wat in dié boeke belê word, nie eerder gebruik word om debuutwerke uit te gee en vernuwing te verseker nie?

“NB-Uitgewers gee deurlopend nuwe skrywers uit," sê Wessels. “Ons is deel van ’n mediagroep wat dié uitgewery toelaat om te belê in die herpubliseer en in-druk-hou van ouer en klassieke titels, én in die eksperimenteer met nuwe skrywers. Sonder balans is daar geen uitgewery nie en is daar voorwaar ’n krisis in die Afrikaanse letterkunde.'

Die slotsom?

Die Afrikaanse boeketoneel hét ’n verandering ondergaan, en die proses is nie voltooi nie. Uitgewers gee meer populêre tekste uit as voorheen, maar nie ten koste van ernstiger werk nie. Populêre tekste maak dit moontlik om goeie letterkunde te publiseer wanneer sulke manuskripte hulleself aanmeld. Hoewel enkele letterkundige titels nie aan die verwagtinge voldoen nie, kan heelwat onlangse werke uitgesonder word vir hul uitnemendheid.

Wat verpakking betref: om saam te leef met die “aaklige” en “misleidende” omslae van boeke soos Die hemelklip en Die wind staan oos, is ’n geringe prys vir die voorreg om dié boeke op jou rak te kan hê. Dis so eenvoudig: selfs die domstes onder ons kan dit begryp.