Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

The good, the bad and the ugly


Fanus Rautenbach - 2008-08-05

Wat is dit op Afrikaans? Ek dink: Die goeie, die gawe en die gagga!

Daar word altyd neerhalend na Benoni, die dorp aan die Oosrand, verwys, maar daar was darem al ‘n paar regverdiges in die stad Nineve. Behalwe dié wat ek hier onder noem, was daar ook nog Flinkveria se assistentpresident en die limeriekkoning van die Republiek, Engeltjie Engelbrecht, wat in Leeudoringstad gaan aftree het, nou oorlede is, maar sy hele lewe lank in Benoni skoolgehou het en later hoof van Benoni Laerskool geword het. Ek plaas hier en daar van sy limerieke, waarvan hy deur die jare 365 gemaak het! As hy nog geleef het, sou hy geweet het dat die bouler André Nel, se naam, wanneer hy so kwaad geword het, verander het na Gunter! Ja, Gunter is André se kloon, soos Sebastian Fanus se kloon is. (Ek dink nou net daaraan: dit is heel moontlik dat mnr Gideon Engelbrecht vir André en Gunter Nel kon skool gehou het.)

Uit Benoni drie ouens om oor te lagga
Dit gaan oor ‘n goeie, ‘n gawe en ‘n gagga
Die goeie is Charlize Theron
Die gawe, Albert van den Berg, Springbokbom
En die gagga is Gunter Nel en Fanus Rautenbacha!

Verkeerd is verkeerd en recht is recht
En goeie mense is meestal oprecht
Hy was die skool se hoof
En vandag wil ek hom loof:
Die limeriekmeester, Engeltjie Engelbrecht!

Wat is ‘n limeriek? Ek en Engeltjie was die eerste Afrikaanses wat dié versvorm sonder die c gespeel het, met ander woorde limeriek in plaas van limerick! Wat is ‘n limeriek dan?

Die limeriek het vyf reëls, nie ses,
Nie te verwar met versvoet-res
Nie ‘n daktiel nie
Of ‘n kwadriel nie :
Ligsinnige nonsies het die anapes!

Engeltjie skryf: "Hierdie inligting kom uit Die Amptelike Ierse Grapboek, gedateer 31 Februarie 1898. Met die datumstempel. Limerick, maar net die boonste gedeelte, die res is alles geboortetjies uit my eie vrugbare holte, waar voorheen my brein was.

Die volgende een was aanvanklik my seun, Gerrit (bynaam: Gegga!) se idee: om Langenhoven se swaarkry te verander na: “Jy moet jou lekkerkry met lekkerkry klaarkry!”

Langenhoven sê van swaarkry:
"Jy moet jou swaarkry met lekkerkry klaarkry.”
Maar ek, beterweter,
Wil dit vermetel verbeter:
“Jy moet jou lekkerkry met lekkerkry klaarkry!”